Het die Ou Testament nog iets te sê vir ons kultuur?

The sun had never risen in China without finding me on my knees – Hudson Taylor, sendeling in China, wat elke oggend om 5 uur vir twee uur lank gebid het.

Het die Ou Testament nog iets te sê vir ons kultuur?

Kan die Ou Testament nog iets vir ons sê? Dit is tog duisende jare verwyder van ons tyd en ons probleme, Die Ou Testament kan tog nie hedendaagse probleme soos globalisering, die digitale revolusie, kloning, ens hanteer nie.

 Ons moet vir geen oomblik dink dit is maklik om die Ou Testament te lees en sy wyshede te ontdek nie. Tog met toegewyde studie en gebed kan ons baie wys word.

Die Hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat ‘n man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17). Waarvan praat Paulus hier? Hy praat van die Ou Testament, want dit is al wat hy gehad het.

 Daar is verskeie maniere waarop die Ou Testament met vrug met ons praat – vandag.

  • Dit verduidelik ons kultuur

As jy tydens die pouse instap by ‘n toneelstuk kan jy nie verwag om te verstaan wat daar aangaan nie. Jy sal allerhande verkeerde gevolgtrekkings maak oor wat daar aangaan. As ons net die Nuwe Testament lees, kom ons in die middel van die verhaal daar aan. Ons kan nie verwag om te weet waaroor die verhaal tot dusver gegaan het nie. Die Ou Testament ontvou hierdie drama beginnende by ‘n goeie en mooi skepping. Daarna volg die mense se tragiese val in sonde. In Genesis 3 begin toneel 3 van die verhaal: die hoop op verlossing. Toneel 4 is dan waar alles nuut gemaak word – die klimaks van die verhaal. Ons sal nie in staat wees om ons kultuur te beskrywe sonder dat ons die hele drama gesien het nie.

  • Dit verskaf morele standaarde vir ons kultuur.

In die Ou Testament kry ons seremoniële wette wat net tydelik was, maar tog die komende Messias uitgebeeld het en na Hom verwys het. Met sy koms het hierdie wette verval. Ons kry ook siviele/burgerlike wette Hulle is daar vir die spesifieke geskiedkundige tyd waarin Israel geleef het. Hulle doel was om die volk te beskerm te midde van vyandige bedreigings. Daar is sekere permanente beginsel in hierdie wette, maar die toepassing en strawwe word tot Ou Israel beperk – tot sy vernietiging deur die Romeine in die jaar 70 nC. Maar derdens het God sy permanente, onveranderlike morele wette, soos saamgevat in die tien gebooie,  aan ons gegee. Hierdie wette word in die Nuwe Testament bevestig. Dit is baie maklik om die beginsels in hulle te ontdek – beginsels wat vandag steeds geld en toegepas moet word.

  • Dit gee hoop vir ons kultuur.

God gee vir ons die wet om ons lewens te orden, maar gereeld verbreek ons hulle. Dit lei tot persoonlike, ekonomiese, sosiale, morele en geestelike gevolge – net soos met Israel die geval was. Dink maar aan Noag se tyd, die toring van Babel, die tye van die rigters … Die Ou Testament teken ‘n donker prentjie van die sonde, maar elke keer kom die Here en ons kry nuwe leiers wat Hom gehoorsaam Elke keer word die herskep. Watter hoop bied dit nie vir ons vandag nie.

  • Dit fokus ons kultuur op Jesus Christus

Die Ou Testament bevat tussen 300 en 400 profesieë oor Jesus Christus Vanaf Genesis 3:15 is die hoop van Israel op die beloofde Messias – ‘n Verlosser wat sal kom en die bose sal oorwin.  Aan die Emmausgangers verduidelik Jesus die Skrif – en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het (Lukas 24:27). Hy sê vir die Fariseërs: As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe (Johannes 5:46). Ons kan nog verder teruggaan: Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien (Johannes 8:56). Jesus Christus is God se boodskap van hoop en hernuwing aan die wêreld Ons moet beide Testamente gebruik om die kollig op Hom te skyn – die enigste Verlosser.

  • Dit roep ons op om ons kultuur te evangeliseer

Ons kry die gevoel dat God in die Ou Testament al sy aandag op Israel, ‘n klein volkie, fokus. Hy het vir Abraham en Israel gekies om deur hulle sy plan uit te voer. Maar sy uiteindelik doel was om deur Abraham en al sy nakomelinge al die nasies van die aarde te seën. Ons kry dieselfde in Jesus se groot opdrag aan sy dissipels: Gaan dan na al die nasies toe (Matteus 28:19).

 God gee die Ou Testament aan spesifieke mense op ‘n spesifieke tyd op ‘n spesifieke manier – Hy doen dit op so ‘n manier dat dit steeds kragtig en relevant vir ons in 2013 is.




Christelike vryheid volgens Martin Luther

I never saw a useful Christian who is not a student of the Bible – D. L. Moody

Christelike vryheid volgens Martin Luther

A Christian man is the most free lord of all, and subject to none; a Christian man is the most dutiful servant of all, and subject to every one.

Martin Luther het ‘n brief aan Pous Leo X geskryf waarby hy ‘n verhandeling oor Christelike vryheid aangeheg het. Hierdie aanhaling kom uit daardie verhandeling. My onmiddellike reaksie was dat hierdie twee stellings mekaar weerspreek. 

Luther wys daarop dat die basis van hierdie twee stellings eintlik van Paulus kom:

  • Ek is met ander woorde nie afhanklik van enige gemeente nie, maar is vry om te doen wat ek dink die beste is. Ek wil graag alle mense help om die Here te leer ken. Ek wil nie net aan een groep mense gebind wees nie. Ek wil in elke geval vry wees om te doen wat in ‘n betrokke situasie die beste is om mense na die Here toe te lei (1 Korintiërs 9:19).
  • Betaal jou skuld! Moet niks aan ander mense skuld nie, behalwe om absoluut lojaal en vol liefde teenoor hulle te wees. As jy ander mense liefhet, het jy die hele wet nagekom (Romeine 13:8)

[Beide aanhalings kom uit Die Boodskap.]

 Dit is die paradoks in die lewe van ‘n Christen: aan die een kant is ons vry, maar vry om te dien




Belofte of Werklikheid

I have met the enemy and he is us – Walt Kelly.

Belofte of Werklikheid

G. Campbell Morgan preek in ‘n aftreeoord. Sy teks was Matteus 28:18 – 20: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

 

Hy staan so ‘n oomblik stil en sê toe: “Ek is altyd by julle – is dit nie ‘n wonderlike belofte nie?”

In die voorste ry sit ‘n ou dame: “Nee, dit is nie ‘n wonderlike belofte nie.”

Doodse stilte. Morgan is vir ‘n oomblik uit die veld geslaan. Dan gaan die ou dame voort: “Dit is nie ‘n wonderlike belofte nie … dit is ‘n wonderlike werklikheid.”

Hierdie dame verstaan dat God belowe het dat Hy by haar teenwoordig sal wees, maar sy verstaan ook dat Hy op daardie stadium by haar teenwoordig is.

 Dit is wonderlik as ons God se beloftes oor sy teenwoordigheid nie net wegbêre nie, maar as dit ‘n werklikheid in ons lewens word.




Is kennis belangrik?

There can be nothing in the universe that fails to express, to incarnate the revelation of the thought of God – Abraham Kuyper.

Is kennis belangrik?

Ons kry nogal ‘n hele paar verse in die Bybel wat die waarde van kennis bevraagteken. Hier is ‘n paar voorbeelde:

  • Baie wysheid stel hoë eise, wie kennis versamel, versamel smart (Prediker 1:18).
  • Jou wysheid en jou kennis het jou mislei (Jesaja 47:10).
  • Want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan tog geskrywe: :Hy vang die slimmes met hulle eie slinkse planne (1 Korintiërs 3:190.

Beteken dit nou dat die Bybel geen respek vir kennis het nie?

 Dieselfde Prediker wat ek daarbo aangehaal het, sê ook: Kennis en wysheid verryk die lewe van hom wat dit besit (7:12). Hoe nou gemaak? Kry ons teenstrydige uitsprake oor kennis in die Bybel? Nee. Paulus in sy skrywe aan sy jong leerling los ons probleem op: Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die “kennis”, soos die verkeerdelik genoem word (1 Timoteus 6:20). Is die Bybel teen kennis? Nee. Wat die Bybel wel doen, is om tussen ware en vals kennis te onderskei. Ons moet altyd hierdie onderskeid in gedagte hou.

 Opsommend:

  • Die Bybel inspireer respek vir ware kennis.
  • Die Bybel waarsku ons teen vals kennis.

Hoe kan ons tussen ware en vals kennis onderskei? Kennis begin met die dien van die Here (Spreuke 1:7).