Psalm 35(5)
In the Western world, the suffering that seems to be the most painful is that of feeling rejected, ignored, despised and left alone – Henri Nouwen
Psalm 35(5)
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
Teologiese Implikasies
Die psalm fokus veral op die gebed teen die psalmis se aanvallers. Dit begin deur die Here te vra om te veg vir diegene wat nie self kan veg nie. Daarna word vir ’n rampspoedige omkeer vir die aanvallers gevra. Die psalmis kyk vooruit om die Here daarvoor te dank. Dit stel ook die psalmis se gedrag in die verlede teenoor dié van die aanvallers tans. Die psalmis maak ‘n oproep vir redding en sien uit om van hierdie redding te getuig. Hy vra die Here om wakker te word en so op te tree dat sy aanvallers beskaamd sal staan.` Daarna sal hy die Here loof.
Baie van die psalm se motiewe kry ons ook in Jeremia. Dit wys hoe die psalms Jeremia se geestelikheid en teologie gevorm het. Jesus gebruik eksplisiet hierdie psalm om te wys dat Hy met die posisie van die psalmis identifiseer: Hulle het My sonder rede gehaat (Johannes 15:25).
Moderne mense is ongemaklik met hierdie psalm. Hulle glo dat die psalmis se gesindheid verskil van Jesus se ideale. Hulle skerm dan deur te sê dat ons moet onthou dat die psalmis in die tyd voor Christus geleef het. Maar Jesus is nie verleë oor hierdie psalm nie. Hy wil dit nie vervang of verplaas nie. Hierdie psalm word gereeld in genesingsrituele in Kenia gebruik.
Ons moenie die aanmoediging wat die psalm gee aan mense om hulle begeertes om aanvallers te beskaam reduseer nie. Hierdie psalm is ’n uitdrukking van vrees en woede wat God aanmoedig om die oorsake van hierdie vrees en woede te verwyder. Ons is meer geneë om die Here te vra om die vrees en woede uit ons harte weg te neem. Ons moenie hierdie vrees en woede probeer ontwyk nie, maar ons moet dit hanteer. Dit beteken nie dat die mense wat aangeval word tot optrede gedryf moet word nie, maar wel tot gebed.
Psal 35 verplig ons om na twee stelle feite te kyk:
- Gewelddadige aanvalle en ernstige gevaar
- Die Here is ‘n magtige God wat verlos. Hy sal optree teen die aanvallers.
Daar is geen teken van wanhoop in hierdie psalm nie. Die oomblik om God te loof lê in die toekoms. Lof is ‘n aanduiding dat die Here opgetree het. Op die huidige het die Here nog nie opgetree nie Die huidige is ‘n tyd vir protes – die tyd vir lof sal kom.
Ons moenie hierdie vorm van gebed verwerp nie. Daar is baie mense in die wêreld wat in ‘n baie ongunstige posisie verkeer. Ons word nie aangeval nie en daarom moedig hierdie psalm ons aan om onsself in die posisie van diegene wat aangeval word, te plaas. Die psalm impliseer dat as ons nie kwaad word vir vervolging en onderdrukking nie en nie vir God wil aanmoedig om met die aanvallers af te reken nie, is daar fout met ons.
Psalm 35 beklemtoon twee sake:
- Ek kan na God gaan met al my nood. Hy verduur nie onreg nie; Hy hoor en help as sy kinders na Hom roep.
- Ek moet gedurig my lewe krities ondersoek. Watter invloed het ek op die lewe van ander? Ervaar my geloofsgenote nie dat ek ‘n vyand is wat hulle ondergang soek nie? Is ek deel van die kring geloofsgenote wat die geledere sluit om ‘n gelowige wat swaarkry en so help om hom regop te hou? Of praat ek maar saam met ander wat hom onskuldig belaster.
Dwarsdeur hierdie psalm hoor ek ‘n lied van hoop, want die digter glo in God al het Hy hom nog nie gered nie.