My roeping en lewensdoel (1)

If we only spent more of our time in looking at Him we should soon forget ourselves. —Martyn Lloyd-Jones

My roeping en lewensdoel (1)

Elkeen van ons soek ‘n doel vir ons lewe – ‘n doel wat groot genoeg is om ons aandag vas te gryp; wat langdurig genoeg is om ons tot die einde van ons lewens te inspireer. Daar is baie antwoorde beskikbaar – almal het vandag missiestellings; almal het meetbare uitkomste. Daar is honderde verskillende benaderings. Die vraag: Hoe kies ek tussen al hierdie benaderings? Is dit belangrik watter keuse ek maak?

 

 Die moderne mens glo dat daar geen regte of verkeerde antwoord is nie; geen goeie of slegte benaderings nie. Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie. Daar is groot verskille tussen die verskillende benaderings en hierdie verskille is belangrik.

 Om dit baie te vereenvoudig is daar basies drie opsies.

  • Die benadering in die Ooste soos ons by die Boeddhisme en Hindoeïsme kry.
  • Die sekulêre benadering – elkeen besluit self oor sy doel in die lewe en moet dit self bereik. Ons ontdek nie ons roeping nie – ons besluit self wat ons roeping is.
  • Die Bybelse benadering. Hier speel toeval geen rol nie. Twee aspekte is van deurslaggewende belang:
  1. oGod het ons na sy beeld gemaak, maar waarvoor het Hy ons gemaak? Wie is ons gemaak om te wees?
  2. oHierdie God is ‘n persoonlike God. Hy roep ons om in ‘n persoonlike verhouding met Hom te staan. Waarvoor het Hy ons geroep en wie is ons geroep om te wees?

 

Daar is geen roeping sonder ‘n Roeper nie. Kyk na die mense om jou. Dit is ‘n rustelose soeke na hulle lewensdoel en die vervulling van hierdie doel. Dit is duidelik dat die antwoorde wat hulle op hulle soeke gekry het onvoldoende is. As ons antwoord op God se roepstem, is ons op pad om ons lewensdoel te ontdek en te vervul.

 

Volgende keer kyk ons verder na my lewensdoel en roeping.




My bediening druk my plat

Christian love is not the victim of our emotions but the servant of our will. —John Stott

My bediening druk my plat

Kerkleiers kan nie ontmoediging, teleurstelling en seerkry vermy nie. Leiers word soms geïgnoreer, sleg behandel, beskinder, misverstaan … Hoe kan jy nou onder sulke omstandighede vorentoe beweeg?

 

As ons in bediening ontmoedig is wat moet ons doen?

  • Erken jou pyn en emosie aan die Here, maar moenie daarin rondploeter nie.
  • Skryf jou gedagtes neer. As ek dit neerskryf, sal ek die neiging om voortdurend daaroor te tob, verhoed.
  • Lees jou Bybel. Daar is baie verse wat van hoop en oorwinning praat.
  • Doen iets pro-aktief – beweeg vorentoe. Dawid tree op om die probleem op te los – hy agtervolg die Amalekiete.
  • Hou op om jouself te veroordeel. Onthou jy is ‘n kind van God en dat Hy jou liefhet. Vir hom is jy waardevol al behandel mense jou nie met respek nie.
  • Bid vir diegene wat jou seergemaak het. Jy sal verbaas wees oor hoe gou God die bitterheid uit jou hart verwyder.

As jy neergeslaan word, volg Dawid se voorbeeld: En toe het Dawid hulp gevra by die Here sy God.

 




John Coltrane

A person can study for seventy years and at the end die a fool.” ~ Joodse Spreekwoord 

John Coltrane

Min mense ken die naam. Hy was die saksofoonspeler saam met Dizzie Gillespie en ook Miles Davis. In die 1950’s sterf hy amper as gevolg van die oormatige gebruik van dwelms en alkohol. Hy herstel en kom tot bekering – geen dwelms en alkohol meer nie. Hy plaas sy geloof in God.

 

Van sy beste musiek skryf hy na sy bekering. Dit sluit in A Love Supreme – ‘n 32 minute uitstorting van dank aan God vir sy seën. Hy wy daarin ook sy lewe aan God.

Een aand na ‘n buitengewone uitvoering van A Love Supreme kom hy terug op die verhoog. Hy voel hy sou hierdie stuk nooit beter kon speel nie. Hy sit die saksofoon op die verhoog neer en sê: Nunc Dimittus. Dit is die eerste woorde wat Simeon gesê het nadat hy vir Jesus in sy arms geneem het:

Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord,

Omdat my oë u verlossing gesien het

Wat U gereed gemaak her voor die oë van al die volke:

‘n lig tot verligting van die nasies en tot eer van u volk Israel.

Lukas 2:29 – 32.

John Coltrane was gereed om te gaan.




Spurgeon

If we choose a false way of worship we shall, ere long, choose to worship a false God – C.H. Spurgeon

 Spurgeon

Luister na wat Justin Taylor oor Spurgeon, waarskynlik die grootste prediker in die geskiedenis van die kerk, sê:

Hy werk 18 uur ‘n dag. Sy versamelde preke vul 63 volumes (die grootste stel deur ‘n enkele outeur in die geskiedenis van die kerk). Hy lees ses boeke per week en onthou hulle inhoud.

Hy lees The Pilgrim’s Progress meer as ‘n 100 maal deur.  14460 lidmate word by sy gemeente gevoeg en hy doen meeste van die onderhoude vir lidmaatskap self. Hy onderrig 900 mense vir die pastoraat. Hy vestig ‘n weeshuis; hy was redakteur van ‘n tydskrif; hy skryf meer as 140 boeke; hy reageer op 500 briewe per week. Meer as 25 000 kopieë van sy preke is elke week gepubliseer. Hy preek dikwels tien maal in verskillende kerke gedurende ‘n week. Dit doen hy alles terwyl hy ly aan jig, rumatiek en Bright se siekte (‘n chroniese niersiekte). Hy leef net tot 57 jaar ouderdom. Sy vrou was ook sieklik. Hoe is dit alles moontlik, selfs vir iemand wat persoonlik gesond is? Was hy ‘n werkoholis?