Hoekom verskil Christene?

Our tongues were made to bless the Lord – Isaac Watts

Hoekom verskil Christene?

Ons glo dieselfde Bybel; dieselfde Heilige Gees woon in ons; ons is almal na die beeld van God gemaak. Hoekom verskil ons dan?

Hierdie vraag is aan R. C. Sproul gerig. Hy antwoord soos volg:

Die kort antwoord is sonde.  Alhoewel ons sonde vergewe is en alhoewel die sonde nie meer oor ons heers nie, bly dit steeds en het krag. Dit lei tot verskille – ons onderwerp ons nie ten volle aan die woord van God en wat dit ons leer nie. Maar hoe kan sonde maak dat Christene van mekaar verskil?

Hier is ‘n paar moontlikhede:

  • Ons fouteer as gevolg van selfbelang. Ons kies ons oortuigings, nie op grond van die argumente wat dit ondersteun nie, maar oor wat die oortuigings vir ons inhou.
  • Ons fouteer as gevolg van trots. Ons kies ons oortuigings op grond van hoe hulle ons laat voel oor onsself.
  • Ons fouteer as gevolg van luiheid. Ons kies ons oortuigings gebaseer op die pad van minste weerstand. Dit is meestal makliker om ons ou oortuigings te behou as om hulle te verander. Dit is makliker om ‘n saak nie te bestudeer nie as om dit te bestudeer.
  • Ons fouteer as gevolg van slordige denke. Soos ons liggame soms struikel, struikel ons denke ook soms.
  • Ons fouteer as gevolg van misplaaste lojaliteit. Ons glo wat ons glo omdat ons die persoon wat dit sê, liefhet. Ons wil nie mense teleurstel deur van hulle te verskil nie.

Ons maak foute; ons sal weer foute maak. Ons het ‘n volmaakte boek; die Heilige Gees woon inderdaad in ons, Dit moet ons baie dankbaar maak. Ons moet bid dat ons God se woord beter sal glo sodat ons beter sy Seun kan weerspieël.

 




Moet ek deel wees van die geloofsgemeenskap?

To achieve great things, two things are needed: a plan and not quite enough time – Leonard Bernstein

Moet ek deel wees van die geloofsgemeenskap?

Afgesien van die Bybelse redes is daar ook praktiese redes om deel van die geloofsgemeenskap te wees. Hier is ‘n paar:

  • Om jouself aan die geloofsgemeenskap toe te wy, is ‘n kragtige stelling in ‘n kultuur van lae toewyding. Sekere rolbalklubs verwag meer van hulle lede as die kerk. Ons woon in ‘n verbruikerskultuur waarin alles ingestel is om in jou behoeftes te voorsien en aan jou voorkeure te voldoen. As daar nie aan ons behoeftes voldoen word nie beweeg ons aan na die volgende produk of werk … Om in hierdie omgewing aan te sluit is teen die kultuur: I am committed to this group of people and they are committed to me. I am here to give, more than get’” (Kevin DeYoung). Hy gaan dan verder:  “We prefer to date the church – have her around for special events, take her out when life feels lonely, and keep her around for a rainy day. Membership is one way to stop dating churches, and marry one.”
  • As ek lid van die geloofsgemeenskap is, vermy ek die versoeking – wat almal van ons gereeld ondervind – om té onafhanklik te wil wees. Onafhanklikheid is iets waarvoor ons dankbaar moet wees. Die kerk is egter ook kommunaal. Ons leef hier in wedersydse ondersteunende verhoudings met mekaar – verhoudings waarin ons mekaar aanmoedig en aanspreeklik hou. Ons leef is ‘n samelewing waarin alles oor self gaan – selfbevordering, selfbelang … Die kerk gaan egter oor wedersydse onderwerping aan mekaar; oor die bevordering van ander se behoeftes.
  • As ek lid van die geloofsgemeenskap is, fasiliteer dit aanspreeklikheid. As ek deel word van die geloofsgemeenskap offer ons ons aan mekaar om bemoedig en tereggewys te word en om mekaar te dien. Ons stel onsself onder leiers: Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het (Hebreërs 13:7).

Om lid van die geloofsgemeenskap te wees is ‘n voorreg, maar ook ‘n verantwoordelikheid.

 




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 38

It is almost as presumptuous to think you can do nothing as to think you can do everything. —Phillips Brooks

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 38

Vraag:

Wat is gebed?

Antwoord:

Gebed  is om ons harte in lof, belydenis van sonde, smeking en danksegging voor God uit te stort. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

Skrifgedeelte:

Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ‘n toevlug (Psalm 62:9).

Kommentaar:

Die vyande van ons siel is diepgewortel, subtiel en magtig,  en ons geestelike raamwerk veranderlik – daarom is dit noodsaaklik dat ons gedurig hieraan herinner moet word. Wat is meer raadsaam, wat is meer noodsaaklik vir jou as om omsigtig te loop; om waaksaam te wees en te bid anders sal jy in die versoeking val. Kennis van jou eie swakheid en onvoldoendenheid mag nie jou denke oorheers of jou optrede bepaal nie.  Die bedorwenheid van jou natuur is ‘n vyand wat altyd naby aan jou is, altyd in jou in hierdie wêreld is. Dit versterk elke versoeking van buite. Daarom moet jy jou hart met groot toewyding bewaar. Waak met toewyding oor al die neigings van jou hart. Maak seker van hulle oorsprong en waarheen hulle neig voordat jy iets daaromtrent doen … Hierdie oorweging moet verseker dat elke kind van God sy knie gereeld, nederig en met ywer  in smeking buig, Jy moet as ‘t ware by die genadetroon leef. Jy moenie van die genadetroon weggaan voor die gevaar verby is nie. Hoe meer ons van die krag van ons vyande sien en van die gevaar waarin ons verkeer, hoe meer sal ons onsself oefen is ernstige gebed – kan jy as Christen ongeërg en onverskillig wees as die wêreld, die begeertes en die duiwel jou onversetlike vyande is wat nie moeg word nie?

 

 Booth’s Select Works (London: Chidley, 1839), 187–188.

 

Verdere leesstof:

“Prayer” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

Laat ons daagliks bid: “Here, vergroot my geloof.” Laat ons dan nie twyfel dat as God ‘n ding sê, daardie ding vervul sal word nie.

 

Luke by J. C. Ryle, reeks redakteur Alister E. McGrath (Wheaton: Crossway, 1997), 24.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Afsluiting

Bybelverse wat verkeerd gebruik word:  Afsluiting

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

Paulus gee raad aan sy jong leerling, Timoteus: Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie wat aan my toevertrou is, die evangelie van die heerlikheid van die goeie God (1 Timoteus 1:11). Paulus vertel hom van die inherente krag van die woord van God: Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17). Paulus dring daarop aan dat Timoteus die woord versigtig moet hanteer, want dit is ‘n kragtige wapen.

Hebreërs 4:12 bevestig dit: Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Paulus verlang dat Timoteus vol ywer moet wees, wat hom nie vir sy werk hoef te skaam nie en wat die woord van die waarheid suiwer verkondig (2 Timoteus 2:15). Ons moet die woord van God reg lees, verstaan, interpreteer en toepas.

Daar is egter sekere foute wat lei tot wangebruik. Ons kan nie net oppervlakkig lees nie; ons kan nie net ‘n versie lees sonder om die konteks in ag te neem nie; ons moet die Skrif gebruik om die Skrif te interpreteer, want God se woord weerspreek hom nooit nie. ‘n Groot gevaar is dat ons graag wil hê ‘n gedeelte moet by ons siening inpas – al moet ons dit forseer.

Daar is net een regte interpretasie van die teks – daar mag wel verskeie toepassings wees. Voordat ons hierdie toepassings kan maak, moet ons eers seker maak presies wat die gedeelte beteken – wat wou die oorspronklike skrywer sê. Ongelukkig benader ons die Skrif met sekere aannames en vooroordele wat dien as filter as ons die teks interpreteer.

Daar is baie hulpmiddels om ons te help – studiebybels, woordeboeke, kommentare ens. Selfs op die Internet is daar uitstekende hulpmiddels. Maar die heel belangrikste is die Heilige Gees: Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die waarheid lei (Johannes 16:13). Ons nederige afhanklikheid van die Heilige Gees is ‘n noodsaaklike komponent om die Skrif reg te lees en te verstaan.

Luister na Jesus se wil vir ons: As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak (Johannes 8:31 – 32). Belangrik vir die verstaan van die woord is medegelowiges wat gereeld saam met ons die Skrif lees, bestudeer en toepas – die geloofsgemeenskap.

Jesus bid vir sy dissipels voor sy kruisdood. Hy bid onder andere: Laat hulle aan U toegewys wees deur die waarheid. U woord is die waarheid (Johannes 17:17)