Vier stukkende verhoudings

 

Vier stukkende verhoudings

Die tuin van Eden. Wat ‘n idilliese bestaan vir God en die mens. God het daarvan gehou om saam met Adam en Eva in die tuin te loop. Vra maar vir enige tuinier wat die beste tyd is om in sy tuin te loop – soggens vroeg as die dou nog op die plante is en saans. Dit is ook die tyd wat Jesus dikwels gebruik het om te bid. Gebed is om saam met God in die tuin te loop.

 

Een middag teen die tyd wat die aandwind opkom, wandel God in die tuin. Adam en Eva is nêrens te sien nie – die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip … Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”  Hier is die eerste gebroke verhouding van die mens: met God. Is ons nie maar almal op een of ander manier aan die wegkruip vir God nie?

Hoekom kruip Adam en Eva weg? Hulle is naak. Hier is die twee stukkende verhouding van die mens: met onsself. Dra ons nie maar almal maskers nie – ons probeer iemand anders wees as die mens wat God gemaak het.

God wil toe weet hoe die mens geweet het dat hulle kaal was: Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie? Nou volg ‘n interessante gesprek:

Adam: Die vrou het dit vir my gegee en ek het geëet.

Eva: Die slang het my mislei.

Hier is die derde stukkende verhouding: ons verhouding met mekaar, met diegene wat God vir ons gegee het as metgeselle. Die groot vraag vir die mens bly steeds: Hoe kom ons met mekaar oor die weg?

Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit. Hier is ons vierde stukkende verhouding: die verhouding tussen die mens en die skepping

Jesus Christus het mens geword ook om hierdie vier verhoudings weer te herstel.

[Hierdie kom uit Leonard Sweet en Frank Viola se boek: Jesus: A Theography]




Genees om te dien: Petrus se skoonmoeder

I understand God’s patience with the wicked, but I do wonder how He can be so patient with the pious – George MacDonald

Genees om te dien: Petrus se skoonmoeder

Mense wat met Jesus in aanraking gekom het, is verlos van sonde, siekte en gestremdhede. Vroeg in sy bediening toe Hy sy dissipels geroep en met sy genesingswerk begin het, het  die woord oor Hom vinnig versprei. Toe Jesus en sy dissipels by die huis van Simon en Andreas aankom, kry hulle vir Simon se skoonmoeder met ‘n hoë koors. Jesus gaan na haar, vat haar hand en help haar om regop te kom. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien (Markus 1:29 – 31).

 

Petrus se skoonmoeder word genees om te dien. Gesond kon sy nou ander met fisiese of geestelike behoeftes dien. Soos Hy met so baie ander mense met stukkende harte en liggame gedoen het, plaas Jesus haar terug in verhouding met ander.

As ek deur Jesus gered word, behoort dit nie net vir my te beïnvloed nie,maar ook vir diegene om my.

Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien (Matteus 20:28).

 

 

 




“Ek is” in die Johannes evangelie

 

“Ek is” in die Johannes evangelie

Sweet en Viola (Jesus: A Theography) sê dat Jesus se geboorteverhaal in die Johannes-evangelie gestruktureer is in die teken van sewe “Ek is” beelde. Johannes vertel in werklikheid nie ‘n storie nie – geen herberg, geen krip nie. In wese is dit meer filosofie as storie: In die begin was die Woord daar, en die woord was by God, en die Woord was self God … Die Woord het mens geword en onder ons kom woon Johannes 1:1, 14).

 

Elkeen van hierdie sewe  “Ek is” stellings oor Jesus in die evangelie kom ooreen met omstandighede in Jesus se geboorteverhaal:

  • Ek is die brood wat lewe gee (Johannes 6:35). Jesus is in Betlehem gebore. Betlehem beteken “huis van brood.”
  • Ek is die lig vir die wêreld (Johannes 8:12). Die sterrekykers uit die ooste word bewus van Jesus se geboorte, want hulle het ‘n ster gevolg – die ster van Betlehem.
  • Ek is die ingang vir die skape (Johannes 10:7). Die deure na die herberg was toe vir Josef en Maria, maar die deur na die stal was oop (Lukas 2:7).
  • Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape (Johannes 10:11). Die skaapwagters soek die baba Jesus wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.
  • Ek is die opstanding en die lewe (Johannes 11:25). Jesus oorleef Herodes se bevel dat alle seuntjies van twee jaar en jonger doodgemaak moet word (Matteus 2:16 – 18).
  • Ek is die weg en die waarheid en die lewe (Johannes 14:6). Die sterrekykers uit die ooste kry vir Jesus. Hulle besef onmiddellik wie Hy was:Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is … ons het gekom om aan Hom hulde te bring (Matteus 2:2). Hulle ignoreer Herodes se komplot en gaan met ‘n ander pad huis toe.
  • Ek is die ware wingerdstok (Johannes 15:1). Jesus is in Betlehem Effrata wat “vrugbaar” beteken gebore.

 Hierdie is ‘n interessante siening. Ek het nog nooit so daaraan gedink nie.




Jesus se geslagsregister

Little is large if God is in it – Leonard Sweet en Frank Viola

Jesus se geslagsregister

‘n Geslagsregister was ‘n belangrike regsdokument. Dit is dikwels so saamgestel dat dit maklik gememoriseer kan word. As ons na Jesus se geslagsregister in Lukas en Matteus kyk, sien ons dat God van die slegste voorbeelde in die geskiedenis gekies het om bloedfamilie van sy Seun te wees. Kom ons kyk na ‘n paar:

 

  • Juda – hy het gemeenskap met sy skoondogter gehad – hy het gedink sy is ‘n prostituut.
  • Tamar – ‘n heiden wat twee buite-egtelike kinders gehad het.
  • Ragab – ‘n Kanaänitiese prostituut.
  • Rut – ‘n Moabiet.
  • Dawid – ‘n koning wat owerspel gepleeg en ‘n man vermoor het om sy daad te probeer verdoesel.
  • Batseba – ‘n vrou wat owerspel gepleeg het

Is dit nie ‘n bietjie van ‘n verleentheid nie? Tog was dit die keuse van die soewereine God – Hy het gekies dat elkeen van hierdie mense bloedverwante van sy eie Seun moet wees. Nee. Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie (Hebreërs 2:11).

Hierdie is baie goeie nuus vir ons: Jesus was gewillig om uit hierdie nederige geslagslyn wat sy Vader vir Hom bepaal het, te kom. Hiermee wys Hy vir ons dat geen verlede so skandelik is dat God dit nie mooi kan maak nie. Maak nie saak wat jy in die verlede gedoen het nie, Jesus is nie skaam om jou sy broer/suster te noem nie.

Hy kom die wêreld binne op die nederigste plek denkbaar – ‘n krip. Dit was nie benede sy waardigheid nie. Hy kom in die wêreld sonder ‘n behoorlike bed of skuiling; geen koningsklede of koetse nie. Sy ouers was so arm dat hulle by sy besnydenis nie eers ‘n lam kon offer nie: ‘n paat tortelduiwe of twee jong duiwe (Lukas 2:24).

Jesus kom die wêreld binne op die mees onverwagte plek en deur die mees onverwagte mense. Die omstandighede van Jesus se geboorte wys vir ons dat niemand en geen plek benede sy waardigheid en buite sy bereik is nie. Sy teenwoordigheid heilig alle plekke en alle mense.