‘n Vrou met gesinsprobleme!

The hallmark of logical inconsistency clings to all genuine pronouncements of faith – Emil Brunner

 ‘n Vrou met gesinsprobleme!

Die boek 1  Samuel begin met ‘n vrou met moeilike gesinsprobleme en ‘n desperate begeerte vir ‘n kindjie. In die geskiedenis gebruik  God dikwels vroue op ‘n betekenisvolle manier. Vroue kan en behoort ‘n belangrike rol in die uitbreiding van die koninkryk van God te speel.

 

  • God gee om vir diegene wat deur ander verag word

Hanna was kinderloos. Dan het die ander vrou haar  baie gespot en verneder. Haar man verstaan ook nie mooi haar begeerte nie: Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?  Om haar nog verder te beledig vra Eli vir haar: Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!  Ander mense kan soms ongelooflik wreed en onsensitief wees. Mans verstaan nie dat probleme soms nie so maklik is om op te los en dat meer deernis nodig is nie. Ek dink nie Elkana, Hanna se man, was so onbehulpsaam as wat hy oorkom nie.

  • Dringende gebede lyk soms snaaks

Hanna word daarvan beskuldig dat sy dronk is – en dit nogal deur die priester. Hoekom? Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil … Eli kon nie haar stem hoor nie en daarom het hy gedink sy is dronk. Maak nie saak of ons dink dit is snaaks nie, maar ons mag nooit iemand wat dringend bid veroordeel nie.

  • Desperate gebede trek God se aandag

Hanna moes desperaat gewees het as sy bereid was om haar seun aan God terug te gee: Wanneer die seun gespeen is, sal ek hom wegbring dat hy voor die Here verskyn en altyd daar bly. Is enige van ons so desperaat en dankbaar teenoor God soos Hanna was?

Uit die verhaal van Hanna Kan ons baie lesse leer. Hier het ons na drie gekyk.




Is jy blind vir God se liefde?

Prayer and praise are the oars by which a man may row his boat into the deep waters of the knowledge of Christ. —C.H. Spurgeon

 

Is jy blind vir God se liefde?

Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien (2 Konings 6:17)

In 2 Konings 6 lees ons ‘n baie interessante verhaal. Die Arameërs was in ‘n oorlog met Israel gewikkel. Elisa waarsku elke keer die koning van Israel waarheen die Arameërs trek. Israel was dus voorbereid vir elke beweging van die Arameërs. Die Arameërs hoor dat Elisa in Dotan is. In die nag trek hulle op en omsingel die stad. Toe Elisa se slaaf die môre opstaan sien hy dat die Arameërs Dotan omsingel het. Na Elisa se gebed gaan die slaaf se oë oop en hy sien perde en strydwaens van vuur om die stad. Toe die Arameërs op Elisa afstorm, bid hy: Slaan tog hierdie mense met blindheid.

 Hier sien ons die probleem van gelowiges en ongelowiges – blindheid.

 

  • Die blindheid van die gelowige

Gelowiges is net so vatbaar vir geestelike blindheid as ongelowiges. Toe Elisa se slaaf die leër van die Arameërs om die stad sien, raak hy paniekerig. Hy sien glad nie die teenwoordigheid van God wat vir hom veg raak nie . Waarvoor hierdie slaaf blind was, was die goedheid van God. Hy mag vantevore gesê het dat God magtig is om te red, maar toe hy in die nood is, vergeet hy daarvan. In plaas daarvan dat Elisa vir krag bid, bid hy vir visie: Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur. Die slaaf sien die leër van God se liefde wat die moorddadige Arameërs omring.

 As jy bang is, het jy duideliker visie nodig. Dit is wat Paulus vir die Efesiërs bid: Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God (Efesiërs 3:18 – 19). Die liefde van God is so oorweldigend dat Paulus dit nie kan begryp nie. Daarom bid hy dat God sy oë sal open sodat hy hierdie liefde van God kan raaksien – wyd, ver, hoog, diep.

 Hoe ver is God se liefde? So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees (Efesiërs 1:4). Daar was nooit ‘n tyd waar God jou nie geken en liefgehad het nie. Voor jy nog gebore is, het Hy bepaal dat Hy jou gaan liefhê. Hy het ons gekies nie omdat ons mooi en goed was nie – ons is goed en mooi omdat Hy ons gekies het.

Hoe hoog is God se liefde? Want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien (Psalm 103:11). Kyk net hoe ver is die sterre. Volgens astrofisici is die buiterand van die heelal 15,5 biljoen ligjare weg. Ons kan dit nie verstaan nie. God se liefde is hoog.

Hoe wyd is God se liefde?  Wyd genoeg om alles te beheer. Volgens die verhaal in 2 Konings 6 was die berge vol van God se engele.

Hoe diep is God se liefde. Diep genoeg om ons uit die diepste put te red.  Paulus sê dat ‘n mens nie sommer jou lewe prys nie – selfs nie vir ‘n regverdige mens nie. God wys sy liefde vir ons deurdat Christus gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:6 – 8)

Soms is dit moeilik om God se liefde te sien. Calvyn sê dat die kruis ons bril van geloof is – vae situasies kom in die skerp fokus van God se liefde.

 

  • Die blindheid van ongelowiges

Elisa bid dat die Aramese soldate met blindheid geslaan sal word. Alhoewel hulle blind is, gaan hulle voort. Hulle is totaal mislei. Hulle glo dat God hulle vyand is en as hulle net sy profeet kan vang, is al hulle probleme verby. Elisa lei hulle egter na waar hulle totaal kwesbaar is – binne-in Samaria, Israel se hoofstad. Dan gebeur iets verbasend – hy beveel dat die Israeliete vir hulle eet- en drinkgoed moet gee en daarna vrylaat. Hulle verwag oordeel en kry ‘n fees van genade.

 

Baie mense glo steeds dat God hulle vyand is; dat sy reëls sleg en beperkend is; dat Hy nie vir hulle omgee nie. Hulle dink hulle visie is 100%. Hulle sien nie dat God graag genade aan hulle wil bewys nie. Ons probeer ook sekere aardse dinge vasvang: werk, geld, verhoudings, ens. Soos die Aramese gaan ons net kry waarvoor ons soek as ons deur God gevange geneem word.

 Gelowiges en ongelowiges sien tekens van God se liefde. Mag God ons oë open sodat ons die genadefees wat Hy vir ons voorberei het, kan sien – ‘n fees van sy liggaam en bloed.

 

 




Christelike vryheid – sekere beginsels

 

Christelike vryheid – sekere beginsels

Sinclair Ferguson het ‘n interessante artikel oor die uitleef van ons Christelike vryheid geskryf. Is dit sonde as die Duitsers bloedwors eet? Levitikus 17:10 – 16 verbied tog uitdruklik die eet van bloed. Sulke debatte bring basiese teologiese sake na vore:

  • Wat is die verband tussen Ou en Nuwe Testamente?
  • Wat is die verband tussen die wet van Moses en die evangelie van Jesus Christus?
  • Hoe moet ‘n Christen sy vryheid in Jesus Christus uitleef?

Die vergadering in Jerusalem (Handelinge 15) het hierdie soort praktiese vrae probeer beantwoord. Paulus gee baie aandag aan hierdie soort vrae – hy was immers een van die mense wat die besluite van hierdie vergadering moes uitdra en die brief wat die vergadering opgestel het aan die mense verduidelik. Die gemeente in Rome vra dieselfde vrae. Hy gee aan hulle ‘n stel beginsels wat vandag nog net so geldig is (Romeine 14:1 – 15:13). Hier gee hy vir ons noodsaaklike riglyne vir die beoefening van Christelike vryheid. Hier is vier sulke riglyne:

Riglyn #1: Christelike vryheid moet nooit vertoon word nie. Laat jou oortuiging hieroor ‘n saak tussen jou en God wees (14:22). Ons is vry van die dieetwette van Moses – Jesus het alle voedsel rein verklaar  (Markus 7:18 – 19). Ons kan maar bloedwors eet. Maar jy hoef nie jou vryheid uit te oefen om dit te geniet nie. Paulus vra deurdringende vrae  oor diegene wat daarop aandring om onder alle omstandighede hulle vryheid uit te oefen. Bou dit nou werklik ander op? Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder (14:19).

 Die subtiele waarheid is dat die Christen wat sy vryheid moet uitoefen in werklikheid ‘n slaaf van daardie ding waarop hy aandring, is. Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie (14:17) – as jy dit dink, verstaan jy nie die evangelie en die vryheid van die Gees nie.

 Riglyn #2: Christelike vryheid beteken nie dat jy jou mede-Christene eers verwelkom nadat jy hulle siening oor X en Y ondersoek het. God het hulle in Christus verwelkom net soos hulle is – en ons moet dieselfde doen. Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil … Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem (14:1, 3). Natuurlik sal God hulle nie los soos hulle is nie, maar hulle patroon van optrede  is nie die basis vir Jesus verwelkoming van hulle nie. Ons moet dit ook nie doen nie.

 Ons het baie verantwoordelikhede teenoor ons naaste, maar om hulle te oordeel is nie een van hulle nie. Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee (14:12). Oppas vir ‘n gees van veroordeling. Met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word (Matteus 7:2).

 Riglyn #3: Christelike vryheid mag nooit so gebruik word dat dit ‘n struikelblok vir ander word nie. Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem jou liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot ‘n val kan bring nie (14:13). Dit moet deel van ons denkwyse word en ons gedrag beïnvloed. Ons het vryheid in Christus sodat ons ander kan dien en nie om ons aan ons eie voorkeure oor te gee nie.

 Riglyn #4: Christelike vryheid vereis dat ons die beginsel van Christelike balans uitleef: Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou.  Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie (15:1 – 3). Dit reduseer die saak tot die basiese vrae van liefde vir Jesus Christus en ‘n begeerte om Hom na te boots, want sy Gees bly in ons om ons meer en meer soos Hom te maak.

 Ware Christelike vryheid beteken nie dat ons op ons regte aanspraak maak nie. Die Christen besef dat voor God hy geen regte het nie – in ons sondigheid het ons al ons regte verloor. As ons besef dat ons nie ons regte verdien nie, kan ons hulle as voorregte beoefen. As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie … Moenie oor kos afbreuk doen aan die werk van God nie (14:15, 20).

 In Christus is ons vry, maar ons leef in ‘n wêreld wat nie ons vryheid kan hanteer nie. Die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê (Romeine 8:21).

 ‘n Christen is die vryste mens van almal, en aan niemand onderworpe nie; ‘n Christen is die mees pligsgetroue dienaar en onderworpe aan almal (Martin Luther)

 




Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Ek is tot alles in staat

We need the whole Jesus. The complete Jesus. Everything he said. Every detail of what he did – Eugene Peterson

Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Ek is tot alles in staat

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee – Filippense 4:13

As ons ‘n vers uit konteks neem en probeer om die Bybel te gebruik soos ons dit graag wil hê, kan ons baie maklik probleme kry. Ons kan maklik ontnugter word met God, want hy voldoen nie aan ons verwagtings nie! Hy het belowe Hy sal dit doen en nou doen Hy dit nie. Nou begin ons aan die Bybel se integriteit en God se vermoë om te doen wat Hy belowe het, te twyfel. Die vraag: Wat presies sê Paulus vir ons in hierdie vers? Praat ons hier van fisies of geestelike of emosionele of al drie soorte krag?  Wat beteken alles?

 

Paulus skryf hierdie brief terwyl hy onder huisarres verkeer. Hy weet nie of die Romeine hom nie dalk gaan teregstel nie Hy skryf ‘n brief aan die eerste gemeente wat hy in Griekeland gevestig het. Die eerste bekeerling in die stad was ‘n vrou – Lidia. Kort hierna word hy en Silas in die tronk gegooi, want hulle het die plaaslike handel belemmer deur demone uit ‘n slawemeisie uit te dryf.

Onder Paulus se invloed groei die gemeente in Filippi. Hulle ondersteun hom dikwels finansieel. Deels skryf hy hierdie brief om hulle vir hulle ondersteuning te bedank. Die hoofrede vir hierdie skrywe was sy begeerte om te sien dat die gemeente geestelik groei en God getrou dien. Hulle het God liefgehad, maar vertrou ook op hulle eie vermoë om die Christelike lewe uit te leef. Gevolglik  word hulle bekommerd en oënskynlik geïrriteerd met mekaar. Dit klink nie veel anders as vandag nie. Ons is nog steeds oor baie dinge bekommerd. Die probleem is dat ons so in die wêreldse dinge vasgevang is dat dit ons geestelike groei belemmer. Ons wonder hoe God gaan voorsien veral as ons geen uitweg sien nie.

Paulus se begeerte was dat die gemeente vas in die geloof moet staan. Hy moedig hulle aan om stram verhoudings vinnig reg te stel, om hulle altyd in die Here te verbly, om gereeld te bid en om op te hou om hulle te bekommer. Tot aan die einde van die brief wil hy hulle aanmoedig om hulle nie oor hulle behoeftes te bekommer nie:  En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike  rykdom in Christus Jesus (4:19). God is daar; Hy ken hulle omstandighede en behoeftes.

Om in geloof te lewe is nie altyd maklik nie, maar dit is wat God van ons verwag. God het nooit aan ons ‘n maklike lewe beloof nie. Daar is so baie om na uit te sien in ons toekomstige lewe. Ons moet God vertrou, want Hy het belowe om in ons behoeftes te voorsien. Alhoewel Paulus die Filippense daaraan herinner dat God altyd vir sy kinders voorsien, is daar nog iets: tevredenheid – maak nie saak wat die omstandighede is nie. Net voor ons by ons teks kom, lees ons: Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Paulus het hulle bydrae ontvang en hy is baie dankbaar daarvoor. Hy gebruik egter die geleentheid om ‘n bindende beginsel aan hulle oor te dra: Maak nie saak wat jou omstandighede is nie, leer om tevrede te wees. Ons vermoë om ten spyte van ons omstandighede tevrede te wees, berus op een waarheid: ek kan dit doen deur Hom wat my krag gee.  Paulus praat hier oor tevredenheid. God het aan hom die krag gegee om hom nie te bekommer nie.

Sou ons lewens nie anders gewees het as ons in die geestelike krag wat God gee, intap nie – ons sou ons nie meer bekommer het nie. Ons moet ons minder bekommer en meer verheug. Hierdie vers beteken dat ons genoeg krag sal hê om tevrede te wees as ons hulpbronne min is. Dit beteken ons het geloof in die God wat voorsien; die God wat in  beheer van ons omstandighede is; die God wat ons behoeftes raaksien.

Paulus self is ‘n goeie voorbeeld van hierdie beginsel. Hy pleit dat God ‘n doring uit sy vlees sal verwyder. God verander nie sy omstandighede nie, maar sê vir hom: My genade is vir jou genoeg (2 Korintiërs 12:9). God voorsien die krag sodat ons tevrede kan wees as die lewe nie ideaal is nie; Hy gee aan ons die genade om te volhard en te oorwin.

Ons kan tevrede wees en die krag ontvang om alle dinge te verduur, want Christus gee vir ons krag. As ons tevrede is om op Hom ten volle te vertrou, word Hy verheerlik, want sy krag is duidelik waarneembaar.

Volgende keer kyk ons na Eksodus 21:22 – 25.