Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Nie bo jou kragte nie

“As long as we think we own anything,that thing owns us. As soon as we know that we own nothing,then God owns us” — AW Tozer

Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Nie bo jou kragte nie

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

 

Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan (1 Korintiërs 10:13)

 

As die pad moeilik word, is ons geneig om hierdie vers as bemoediging te gebruik. Soms vind ons dat hierdie vertroosting nie werk nie. Paulus se lewe was nie maklik nie. As sendeling moes hy dikwels deur gevaarlike terrein reis. Lees net 2 Korintiërs 6:4 – 10 om van al sy ontberings te hoor. Het dit vir Paulus oorval? Vroeër in die brief skryf hy: Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is (2 Korintiërs 1:8 – 9). Dit lyk asof God vir Paulus hier meer gegee het as wat hy kan hanteer. Hoekom het God dit gedoen? Lees net vers 9 klaar: Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.

God gee ons soms meer as wat ons kan hanteer, sodat, wanneer ons aan die einde van ons kragte kom, ons besef dat ons lewe en krag van God kom. Sonder My kan julle niks doen nie (Johannes 15:5).

Paulus praat nie hier oor die swaarkry van die lewe nie – hy praat spesifiek oor versoeking. Hy is besig om die gelowiges in Korinte te waarsku teen trots en ‘n oormaat vertroue in hulle vermoë om versoeking te weerstaan. Voor hulle tot geloof in Christus gekom het, het hulle afgode aanbid. Hulle het gereeld feeste in die heidense tempels bygewoon; hulle was deel van die onsedelikheid wat in Korinte geheers het. Nou dat hulle Christene is, het hulle nie meer afgode aanbid nie, maar wou nog die feeste bygewoon het – hulle wou steeds deel van die sosiale lewe gewees het. Solank as wat hulle die regte perspektief op afgode gehad het, was hulle vry om aan al die sosiale aktiwiteite deel te neem – hulle moes net nie aan versoeking toegee nie. Nou speel hulle met vuur en Paulus besef dit. 1 Korintiërs 8 – 10 was Paulus se antwoord op hulle “vryheid in Christus.”

Paulus begin met ‘n ernstige waarskuwing: hulle mag inderdaad vryheid in Christus hê, maar hulle moet versigtig wees om dit nie so te gebruik dat ander in sonde verval nie. Dit is nie goed om hierdie vryheid uit te oefen in die teenwoordigheid van ander Christene wat swakker was en nie die versoeking so kon weerstaan nie. Daarom vra Paulus hulle om hulle vryheid in te perk. Dan gebruik hy sy eie lewe as voorbeeld. Hy het ook soms sy eie regte en voorregte ingeperk (9:14). Maar die Korintiërs was trots en wou hulle vryheid se perke tot die uiterste druk – hulle glo dat hulle volwasse genoeg is om die versoeking te weerstaan. Paulus gebruik sekere Ou Testamentiese  voorbeelde van hoe Israel voortdurend aan die versoeking toegegee het. Daarna waarsku hy die Korintiërs dat te veel vertroue tot hulle ondergang kan lei: Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie (10:12)

Daarna praat Paulus oor versoeking in die algemeen. Hy waarsku en volg dit met woorde van aanmoediging en insig op. Dit is nou ons vers. Hy het begin deur te sê dat niemand versoeking vryspring nie. Die goeie nuus: ons hoef nie toe te gee nie. Niemand mag ooit sê dat hy geen keuse gehad het nie en moes toegee. God gee aan ons die vermoë om te weerstaan – ons moet net na God opkyk. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Hebreërs 2:18).

Ons het ‘n  advokaat en helper in Jesus Christus. As ons na Jesus se eie versoeking in die woestyn kyk, is die beste wapen teen versoeking God se woord. Elke keer as Satan vir Jesus versoek het, gaan Jesus na die woord vir ‘n antwoord. Dit is die riglyn wat ons moet volg as ons versoek word.

Volgende keer kyk ons na Spreuke 22:6.




Ek kan nie vir God manipuleer nie, maar ek kan Hom vertrou

 

The real sin against life is to abuse and destroy beauty, even one’s own – even more, one’s own, for that has been put in our care and we are responsible for its well-being – Katherine Anne Porter

Ek kan nie vir God manipuleer nie, maar ek kan Hom vertrou

In 2 Konings 4:8 – 37 lees ons van die vooraanstaande vrou wat in Sunem gewoon het. God seën haar op ‘n wonderbaarlike wyse met ‘n seun. ‘n Paar jaar later word hy skielik siek: Hy het op haar skoot gelê tot die middag, en toe is hy dood.  Sy haas haar na Elisa – die man van God.  Elisa probeer die kind uit die dood opwek – sonder sukses. Uiteindelik slaag hy. Het hy ‘n nuwe metode otdek? Nee. Nadat hy tot die Here gebid het …

 

J. D. Greear sê dat godsdiens ons altyd leer om God te nader gebaseer op formules: “As jy dit doen, sal God dat doen.”  Meganies en gewaarborg! Hierdie is geloof in ‘n formule en nie in ‘n Persoon nie. Ware geloof is geloof in ‘n Persoon – die almagtige, alwetende, deernisvolle God. As jy op Hom vertrou, kan jy dit nie tot ‘n meganiese formule verskraal nie.

Dit sou verskriklik gewees het as God volgens formules gewerk het. Hoe dikwels het jy nie al iets van God gevra nie om later te ontdek dat dit dwaas was? Wat ons nodig het, is nie ‘n formule nie, maar ‘n liefdevolle Vader wat soms nee sê op ons versoeke. Soms antwoord God ons gebede deur vir ons te gee wat ons sou gevra het as ons beter geweet het.

 We cannot make God move in our lives, but we can make room for him to move (Steven Furtick).  Ons kan nie vir God dwing om sekere dinge te doen nie. Hou op om God te probeer manipuleer om te doen wat ek dink Hy behoort te doen. Vertrou dat Hy sal optree op ‘n wyse wat ons sal laat besef: Hy weet die beste.

 

 

 

 




Positiewe denke

The birth date of our God has signaled the beginning of good news for the world – Inskripsie op klip om geboorte van Keiser Augustus aan te kondig.

Positiewe denke

Is positiewe denke en geloof dieselfde ding? Sedert die dae van Dale Carnegie word baie oor die voordele van positiewe denke geskryf. Gaan maar na jou gunsteling boekwinkel en kyk na al die boeke oor hierdie onderwerp. Is positiewe denke en geloof nie dieselfde ding nie? Beslis nie. Kom ons kyk na ‘n paar verskille tussen die twee:

 

  • Positiewe denke probeer jy jou eie krag – of dié van een of ander vae mag – gebruik om jou eie persoonlike agenda te vervul; geloof vertrou op God se krag.
  • Positiewe denke gaan oor jou agenda en jou vermoë om die omgewing te manipuleer; geloof gaan oor God se agenda en om toe te laat dat God sy wil en doel vir jou lewe vervul.
  • Positiewe denke gaan oor jouself en wat jy kan bereik; geloof gaan oor God en wat Hy deur jou kan bereik.
  • Positiewe denke is gevul met trots; geloof is gevul met nederigheid, want jy weet dat jou krag van God kom.
  • Positiewe denke gaan oor die skepping; geloof gaan oor die Skepper.
  • Positiewe denke word deur die vermoëns van die individu beperk; geloof het geen perke nie, want God het geen perke nie. Hy is immers die Skepper van alle dinge.
  • Positiewe denke begin en eindig by die denke van die mens; geloof is ‘n produk van die mens se gees.
  • Positiewe denke  soek geluk deur positiewe gedagtes te dink;  geloof gee onder alle omstandighede vreugde.
  • Positiewe denke fokus op die dink van positiewe gedagtes; geloof dink volgens God se woord.
  • Positiewe denke hoop dat hulle die dinge waaraan hulle dink, sal besit; geloof besit die regte, voorregte en voordele wat God reeds voorsien het.
  • Positiewe denke gee die krediet aan die persoon; geloof gee die heerlikheid aan God.
  • Positiewe denke streef daarna om te wen deur  ‘n positiewe gesindheid te handhaaf; geloof het reeds die oorwinning behaal en reageer deur ‘n lewe van dankbaarheid.

Wat is ons taak op aarde? Luister na Jesus se taak: Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen (Johannes 17:4). Ons taak is om God te verheerlik. Hoe? Deur die taak wat Hy aan ons toevertrou het te doen.




Onderskeidingsvermoë: Wat is dit?

When husbands and wives are well yoked, how light their load becomes. —C.H. Spurgeon

Onderskeidingsvermoë: Wat is dit?

Ons weet dat mense dikwels nie dinge duidelik sien nie en dat hulle maklik mislei word omdat hulle nie Bybels dink nie. Geld dit ook vir die geloofsgemeenskap? Sinclair Ferguson sê dat dit ongelukkig ook in die kerk gebeur. In die kerk kry ons vandag die sogenaamde lunatic fringe – ons wil beslis nie met hulle geassosieer word nie. Ons is ook baie versigtig vir dwaalleraars.

 

Alles goed en wel, maar onderskeidingsvermoë is meer as net dit. Ware onderskeidingsvermoë beteken nie net dat ek reg van verkeerd onderskei nie, maar ook primêr van sekondêr – die noodsaaklike van die onbelangrike, die permanente van die verbygaande. Dit beteken ook om tussen die goeie en die beste te onderskei.

Onderskeidingsvermoë word aan sekere mense as ‘n spesiale genadegawe gegee (1 Korintiërs 12:10). Almal van ons het ‘n mate van onderskeidingsvermoë nodig wat ons gedurig moet ontwikkel. Daarom dat die psalmis sê: Gee my goeie insig en kennis (119:66).

Maar wat is onderskeidingsvermoë. Dit is die vermoë om weldeurdagte oordele te maak; om te onderskei  tussen en om die die morele implikasies  van verskillende situasies en optredes raak te sien. Dit is ook die vermoë om die morele status van individue, groepe en bewegings te oorweeg. Jesus waarsku ons teen ‘n veroordelende gesindheid, maar sê ons moet kan onderskei anders gaan ons ons pêrels voor die varke gooi (Matteus 7:1 en 6).

‘n Merkwaardige voorbeeld van onderskeidingsvermoë kry ons in Johannes 2:24 – 25: Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie … want Hy het self geweet hoe mense is. Dit is onderskeiding sonder veroordeling. Die Christen word geroep om dieselfde onderskeidingsvermoë te ontwikkel.   Die enigste onderskeidingsvermoë wat die moeite werd is, is dit wat ons deur die Heilige Gees deur God se woord ontvang. Onderskeiding is om God se gedagtes te dink – hoe lyk dinge in die oë van God: Alles lê oop en bloot voor sy oë (Hebreërs 4:13).

Maar beïnvloed onderskeidingsvermoë die manier waarop ons lewe? Beslis.

  • Dit beskerm ons sodat ons nie geestelik mislei word nie – dat ons nie dink sekere dinge staan sentraal in die evangelie terwyl dit eintlik perifeer staan nie.
  • Dit dien as ‘n genesingsinstrument – dit stel mense in staat om die geestelike behoeftes van ander te diagnoseer wat dan genesing moontlik maak.
  • Dit is die sleutel tot Christelike vryheid. Christene wat nie die vermoë het om te onderskei nie, word aan ander en hulle idees verslaaf.
  • Dit bevorder geestelike ontwikkeling. ‘n Verstandige  mens doen maklik kennis op (Spreuke 14:6). ‘n Mens wat kan onderskei, gaan na die kern van die saak

Maar hoe kry ons hierdie onderskeidingsvermoë? Deur die Heilige Gees; deur ons verstaan van God se woord; deur die ondervinding van God se genade. Daarom moet ons bid: Ek is u dienaar: onderrig my tog in u verordeninge (Psalm 119:125) [I am your servant; give me discernment – NIV]