Die interpretasie van die Skrif (2)

– Dante Alighieri

Die interpretasie van die Skrif (2)

Ons is besig om na ‘n eenvoudiger manier om die Skrif te interpreteer te kyk. Dit begin met die lees van ‘n langer gedeelte om die groter prentjie te verstaan. Daarna gaan ons na die korter stukkie wat ons wil interpreteer. Die eerste vraag waarvoor ons te staan kom, is: Wat het hierdie teks vir sy oorspronklike gehoor beteken? Om hierdie vraag te beantwoord moet ons na twee sake kyk: konteks en inhoud.

 

  • Konteks

Daar is twee tipes kontekste wat ons moet oorweeg: literêr en histories-kultureel. Literêre konteks sluit in die literêre vorm (verhaal, wet, profesie, gedig, evangelie, brief, ens) en die omliggende konteks (wat kom voor en na die gedeelte). [In al die blogs gaan ons Hebreërs 12:1 – 3 as voorbeeld gebruik.] Hierdie gedeelte is deel van ‘n Nuwe Testamentiese brief en daarom benader ons hierdie gedeelte met die reëls vir interpretasie van briewe.

Nou kyk ons na die omliggende konteks. Hoofstuk 11 is ‘n galery van geloofshelde – ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons (12:1). As ons na hulle kyk, word ons aangemoedig om soos hulle vas te staan in die geloof. Hebreërs 12:4 – 13 praat van die Here se tug Ons verduur die Here se liefdevolle tug/dissipline  wetende dat Hy dit toelaat vir ons beswil. Later besef ons dat ons daardeur gevorm word (vers 11). Uit die konteks kan ons aflei dat 12:1 – 3 te doen het met hoe om moeilike omstandighede in geloof te verdra.

Histories-kulturele of agtergrondskonteks – hier kyk ons nou buite die teks na agtergrondinligting wat ons nodig het om sin van die gedeelte te maak. Ons wil weet van die skrywer van die boek, sy verhouding met die gehoor en hoekom hy hierdie brief geskryf het. Ons wil ook meer weet van die sake wat in hierdie gedeelte genoem word. In hierdie geval weet ons nie wie die skrywer is nie, maar ons weet hoekom hy skryf. Die gehoor is waarskynlik ‘n huiskerk in of naby Rome. Hulle oorweeg dit om die Christelike kerk te verlaat en na Judaïsme terug te keer om sodoende vervolging vry te spring. Die boek is geskryf om gelowiges te waarsku oor die gevare van wegdryf van die ware geloof – om hulle aan te moedig om vas te staan in hulle toewyding aan Christus.  Die skrywer gebruik hier die beeld van  ‘n wedloop om sy lesers aan te moedig om te volhard.

 Ons moet die histories-kulturele konteks bestudeer, want God het verkies om eerstens met  antieke mense wat in kulture wat radikaal van ons s’n verskil het, te praat. As ons die oorspronklike konteks verstaan, sal ons die betekenis van die gedeelte verstaan; ons sal in staat wees om die gedeelte op ons lewens toe te pas.

Nadat ons die konteks van die gedeelte vasgestel het, moet ons na die inhoud kyk. Daarna gaan ons volgende keer kyk.




Psalm 119:52

. —Vance Havner

Psalm 119:52

Ek onderhou u bepalings van altyd af, Here: dit gee my vertroue (NAV)

Ek het gedink, o Here, aan u oordele van ouds af, en ek het my getroos (OAV)

Ek sien baie uit na die dag wat U u belofte waar maak. Elke dag vra ek: “Hoe lank nog voordat U my kom help?” (Die Boodskap)

Wat doen jy as jy troos nodig het? Eet? Soek plesier? Onderhou reëls?

Kan kos jou troos? Soms, maar hierdie troos is van korte duur. Plesier? Om ‘n rolprent of TV te kyk, is soms snaaks, maar dikwels meer ontstellend as vertroostend. Is daar ‘n vriend met wie jy kan praat as jy troos nodig het? Natuurlik is vriende wonderlik en kan jou werklik bemoedig, maar vriende is nie altyd daar nie.

Die psalmis vind vertroosting in reëls!  Meeste van ons sou sê: Onmoontlik. Maar in vers 50 sê hy: Dit is my troos in my ellende: dat u belofte my in die lewe hou. Die psalmis het troos in sy ellende nodig en vind dit in God se beloftes wat hom in die lewe hou.

Hoe kan reëls ons vertroos? Reëls bring struktuur wat goed is Reëls stel grense wat almal van ons nodig het. Die doel van God se reëls is primêr om ons nader aan God te bring. Ons mag nie altyd ‘n vriend byderhand hê om mee te praat nie, maar God is altyd beskikbaar. Dit is vertroostend.

Maar hoe bring God se reëls ons nader aan God? Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag (Deuteronomium 6:5). Dit is duidelik dat hierdie reël ons nader aan God sal bring. Om op die Sabbat te rus (Deuteronomium 5:12 – 15), dwing jou  om ‘n stadiger pas te handhaaf; om te rus en om plek vir God in ons lewens te maak. Ander reëls maak ons van God afhanklik – hopelik bid ons vir goddelike bystand om hierdie reëls te gehoorsaam.

Dit is interessant dat die psalmis nie sommer deur enige reëls vertroos word nie, maar deur ou reëls. Is dit nie altyd die geval nie – die ou reëls is die beste as jy vertroos moet word.

 




IS JY DEEL VAN ‘N ONGESONDE GEMEENTE?

Pray for revival? Yes, go on, but do not try to create it, do not attempt to produce it; it is only given by Christ himself. The last church to be visited by a revival is the church trying to make it. – Dr Martyn Lloyd-Jones

 

Is jy deel van ‘n ongesonde gemeente?

Daar is nie so iets soos ‘n volmaakte gemeente nie. Daar sal nooit ‘n volmaakte gemeente wees nie, want die mense in die gemeente is nie volmaak nie. Al wat volmaak in die gemeente is, is die boodskap en suiwerheid van die evangelie. Daar is wel gesonde en ongesonde gemeentes. Daar is vyf tekens wat daarop mag dui dat jy deel van ‘n ongesonde gemeente is.

 

  • Die leierskap het geen duidelike visie nie

Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder die volk (Spreuke 29:18). [Die Engelse vertaling is:Where there is no vision, the people perish.] ‘n Gemeente wie se leierskap geen visie geformuleer of verduidelik het wat sê: “Dit is wie ons is; dit is waarheen ons op pad is; dit is hoe ons daar gaan uitkom,” nie, is ‘n ongesonde gemeente. Hoe kan ‘n gemeente, of enige organisasie funksioneer sonder ‘n visie? Jesus het sy visie gestel van hoe die kerk moet lyk, maar ook die rol en doel van die kerk. Daar is gemeentes sonder ‘n visie en die Spreukeskrywer is 100% reg – the people perish. As jy nie weet wat die visie vir jou gemeente is nie, is jy waarskynlik in ‘n ongesonde gemeente. Maar, as jou gemeente ‘n visiestelling het en jy sien nie dat dit uitgevoer word in die gemeente se organisasiestruktuur, programme of bedienings nie, is jy in ‘n ongesonde gemeente.

  • Die leierskap mag nie uitgedaag word nie

As jy in ‘n gemeente is waar die leierskap nie bevraagteken of uitgedaag kan word nie, hardloop. Kerkleiers is daar om die visie te bepaal en die gemeente te lei in die rigting waarin God hulle lei. Hulle is nie/mag nie diktators wees nie. Lidmate moet nooit bang wees om ‘n vraag te vra nie of van die leierskap te verskil en die rigting waarin hulle die gemeente lei, te bevraagteken nie. Natuurlik verdien die leiers ‘n mate van respek – ook as jy hulle bevraagteken. Die sleutel is eenvoudig: wees bekommerd, maar moenie konfronteer nie. Jy moet sonder vrees vrae kan vra oor die rigting waarin die gemeente beweeg.

  • Jy is gemaklik en nog nooit oortuig nie

Dit is baie gevaarlik as die gemeente se prediking en onderrig altyd net blydskap, blydskap is – nooit boodskappe wat mense oortuig en uitdaag nie. Die gemeente is nie daar om jou binneste warm te laat voel nie; die gemeente is daar om jou deur die woord van God te oortuig om jou lewenswyse reg te stel. As die gemeente se onderrig nie gebalanseerd is nie, word jou geestelike groei afgestomp. Soos met ‘n fisiese siekte gaan die geestelike genesingsproses meesal met pyn gepaard. In die gemeente is die genesingsproses nie altyd maklik en pynloos nie – daar is pyn by betrokke. Daar is en moet tye wees wat jy gebroke is – oortuig is van jou sonde.

  • Lidmate is tevrede om net bankverwarmers te wees

Wat is ‘n bankverwarmer? Dit is iemand wat nie by die gemeente betrokke raak nie; hulle woon Sondae die eredienste by en is tevrede om net dit te doen. In ‘n gesonde gemeente is mense opgewonde om hulle gawes te gebruik om die gemeente en die liggaam van Christus op te bou. Dikwels stel mense hulle net beskikbaar as die leraar hulle skuldig laat voel. As jy deel van ‘n gesonde gemeente is, behoort skuldgevoelens nooit ‘n rol te speel om lidmate betrokke te kry nie. Hulle wil dien … nie omdat hulle skuldig voel nie, maar omdat dit hulle begeerte is.

  • Uitreik word nooit verkondig of beplan nie

‘n Gemeente wat nooit van uitreike preek of uitreike beplan nie, is ‘n ongesonde gemeente. As ‘n gemeente geen behoefte het of begeerte voel om die mense buite die vier mure van die kerkgebou te help nie, as hulle niks doen om by die gemeenskap om hulle betrokke te raak nie, is daar ‘n groot probleem. Om Sondae eredienste by te woon, is nie kerk nie – dit is ‘n byeenkoms. Die werk wat in die gemeenskap gedoen word om God se liefde vir ander te wys, is kerk Dit is maklik om kerk te praat; die is moeilik om kerk te wees. As jou gemeente nooit oor uitreike praat nie, is dit ‘n ongesonde gemeente. Ware kerk gaan oor dienslewering gewoonlik buite die kerkmure.

Daar is darem baie van hierdie punte waaroor maar net kan sê: Skuldig.




Ek word alreeds as drankoffer uitgegiet.

. —George Grant

Ek word alreeds as drankoffer uitgegiet.

Marcellus was ‘n hoofman oor honderd in die Romeinse  Ryk. Hy was pas bekeerd – ‘n jong gelowige. In 298 nC staan hy voor ‘n keuse: Moet hy as Christen die keiser se verjaardag vier? So ‘n verjaardagviering het ingesluit aanbidding van die keiser en die bring van offers aan die gode. Hy besluit dat hy dit nie gaan doen nie, want “ek dien Jesus Christus die ewige Koning.” Hy word in die tronk gegooi en later tereggestel.

 

 

Volgens tradisie is Paulus ook vir sy geloof gemartel. Hy skryf sy tweede brief aan Timoteus vanuit ‘n Romeinse tronk. Hy besef dat hy nie meer lank het om te lewe nie: “Wat my betref, ek word alreeds as dankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur” (2 Timoteus 4:6). In vers 6 – 7 gebruik hy drie beelde om sy lewe in perspektief te plaas:

  • Ø‘n Drakoffer. Tipies was dit ongeveer ‘n liter wyn wat langs die hoofoffer uitgegiet is. Dit is hoe Paulus sy lewe gesien het: ‘n lewe van aanbidding, ‘n lewende offer uitgegiet langs die eenmalige offer van sy Verlosser.
  • Ø‘n Stryd. Hy het hierdie stryd gestry, maar nou is dit amper verby.
  • Ø‘n Wedloop. Hy het die wenstreep bereik – die wedloop was klaar.

Saam is hierdie beelde van aanbidding, trou, toewyding, uithouvermoë en volharding.

Maar Paulus plaas ook sy toekoms in perspektief (vers 8). Die dood was nie die einde nie – net die vertrekpunt. Hy sê dat die oorwinnaarskroon vir hom beteken die lewe by God. Hy gaan nie alleen ‘n oorwinnaarskroon ontvang nie – die kroon is vir almal wat met verlange uitsien na sy wederkoms.

Paulus is eensaam. Probeer so gou moontlik na my toe kom, skryf hy vir Timoteus. Hy vra ook dat God diegene wat hom tydens sy eerste verhoor verlaat het, sal vergewe.

Ons kan dink dat hierdie Paulus se grafskrif is – woorde wat probeer opsom waaroor sy lewe gegaan het. Watter grafskrif sou jy graag vir jouself wou skryf?  Watter keuses maak jy om daar uit te kom?