Levitikus: Moet ons die boek nog lees? (3)

. —Thomas Brooks

Levitikus: Moet ons die boek nog lees?  (3)

In die vorige blog het ons gekyk na hoekom die Ou Testamentiese wette daar is. Ons gaan nou verder met ‘n volgende vraag: Die Ou Testamentiese wet: Wat kry ons daarin? 

Elke samelewing volg verskillende tipes wette – grondwetlik, krimineel, siviel, ens. Dit geld ook vir Israel in die Ou Testament. Daar is ‘n ou tradisie wat die Ou Testamentiese wette in  drie kategorieë verdeel: moreel, siviel en seremonieel. Nou sê mense dat hulle net die morele wet hoef te gehoorsaam – die ander kan hulle maar ignoreer.

Maar Paulus sê: Die hele Skrif is deur God geïnspireer (2 Timoteus 3:16). Pas dit in?

Die antieke Israeliete het ten minste die volgende soort wette gehad:

  • Kriminele wette. Hierdie is oortredings teen die basis van die samelewing self – en dus ook teen God en die verbond. Vir meeste van hulle word die doodstraf voorgeskryf. Dit wys net Israel was ernstig oor enige gedrag wat die volk se verhouding met God bedreig het. Hierdie oortredings word direk of indirek aan die tien gebooie verbind.
  • Siviele wette. Dit sluit in dispute tussen burgers oor land, besittings, skade, diere, ens.
  • Familiewette. Ouers, eerder as die howe, het hierdie sake hanteer. Dit gaan oor erflating, huwelike en egskeiding. Slegs as iets buite die vermoë van die ouers om dit te hanteer, gegaan het, het die oudstes dit hanteer.
  • Godsdienstige en kultiese wette. Al die regulasies oor offers, die priesteramp, die feeste, reinheid en onreinheid, ens val in hierdie kategorie.
  • Deerniswette. Hulle is nie werklik wette nie, maar ons kry baie hiervan in die tora – hoe om armes en behoeftiges, die haweloses, diegene sonder familie en eiendom, skuldenaars, etniese minderhede en vreemdelinge te hanteer.

Enersyds was al hierdie wette bedoel vir Israel se samelewing en nie direk vir ons nie – hulle is kultuurspesifiek en beperk. Maar aan die ander kant sê Paulus  dat al die wette vir ons onderrig geskryf is en daarom nuttig vir ons is. Daarom moet ons nie vra: “Watter wette moet ek gehoorsaam en watter wette kan ek maar ignoreer?” nie. Die vraag wat ons eintlik moet vra, is: “Wat kan ek uit al hierdie wette leer van hoe God wil hê dat ek moet leef en hoe Hy wil hê sy mense en die samelewing moet leef?” Nie: “Watter reëls moet ek nakom?”nie, maar eerder: “Watter soort verhouding moet ek met God ontwikkel en moet ek uitleef onder ander mense?”

Dit gee onmiddellik aanleiding tot ons volgende vraag: Maar hoekom onderhou ons nie al die wette nie?




Psalm 119:51

You can’t do anything about the length of your life, but you can do something about its width and depth. -H.L. Mencken, (1880-1956)

Psalm 119:51

Ek moes die felle spot van hovaardige mense verduur, maar van u wet het ek nie afgewyk nie (NAV)

Vermeteldes het baie met my gespot; van u wet het ek nie afgewyk nie (OAV)

Selfs al spot slegte mense met my, hou ek nie op om te doen wat U sê nie (Die Boodskap)

 

Die primêre kampvegter vir die afskaffing van slawerny in Engeland was William Wilberforce. Hy het terloops die hele Psalm 119, die langste hoofstuk in die Bybel, gememoriseer. Die psalmis moes die spot van hovaardige, slegte, vermetelde mense verdra. Hoekom: Die psalmis sê nie vir ons nie. Dit lyk egter of dit verband hou met sy liefde vir God se wet. Ten spyte van die spot weier die psalmis om van God se wette af te wyk.

Daar is baie redes waarom mense gespot word as hulle aan God se wet vashou. Wilberforce is gespot, want hy het die status quo bedreig deur die afskaffing van die slawehandel te bepleit. Omdat alle mense na God se beeld gemaak is, het hy geglo dat alle mense respek in ‘n gelyke mate werd is. Sy liefde vir Psalm 119 het hom waarskynlik bemoedig om vas te staan ten spyte van sterk teenstand – veral as hy besef dat die psalmis ook teenstand en spot ondervind het.

Die slawehandel is nog nie verby nie – dit is net in nuwe vorms teenwoordig. Daar is baie sulke oortredings wat die waardigheid van mense ondermyn. Staan ons vas in sy wet? Hou ons nie op om te doen wat Hy sê nie?




Levitikus: Moet ons die boek nog lees? (2)

. —John Flavel

Levitikus: Moet ons die boek nog lees?  (2)

In die vorige blog het ons na sekere misverstande oor die Bybel gepraat. Vandag kyk ons na die vraag:  Ou Testamentiese wette: Hoekom is hulle daar?

Wat ons Ou Testamentiese wette noem, beteken gewoonlik dat hulle uit die eerste vyf boeke van die Bybel kom – die tora.  Die woord tora beteken nie werklik wet nie, maar onderrig of leiding – die tora lei sy oorspronklike ontvangers. Dit lei ook vir ons, want dit plaas die wette en opdragte in die raamwerk van ‘n verhaal.

 

Voor ons by die tien gebooie kom, kry ons die verhaal van die skepping, die mens se gebrokenheid as gevolg van sonde en opstand, en die wonder van God se verlossing – die uittog uit Egipte. Die tien gebooie is gegee aan mense wat die verhaal geken het, wat die God wat agter die verhaal staan, geken het, maar wat dit ook ondervind het. God gee sy wet aan mense wat reeds sy genade, liefde en trou en sy groot verlossingsdaad ondervind het. Om die wet te gehoorsaam was nooit ‘n manier om God se verlossing te verdien nie – dit was die regte manier vir verloste mense om te reageer op God se verlossing wat hulle ondervind het.

God het aan Israel sy wet gegee om hulle in ‘n samelewing te vorm wat sy karakter en waardes te midde van al die ander nasies sou weerspieël. Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het (Deuteronomium 4:6). Mense moes die Israeliete kon onderskei,  omdat hulle God se weg geloop het – persoonlike integriteit, ekonomiese en sosiale geregtigheid en deernis vir die samelewing. Die wet was nie ‘n stel willekeurige reëls om God gelukkig te hou nie – dit was ‘n lewenswyse, ‘n kultuur in ‘n besondere tyd en plek, om te wys hoe verloste mense van God lewe.

Om “Bybels te leef” deur te probeer om soveel as moontlik antieke reëls na te kom net omdat hulle in die Bybel is, beteken dat ons die doel van die wet nie verstaan nie. Die Ou Testamentiese wette was nie net ‘n klomp reëls nie, maar gaan ook oor ‘n verhouding met God gefundeer op God se genade en verlossing en gemotiveer deur die opdrag om soos kinders van God in hierdie wêreld te leef sodat die mense die lewende God kan leer ken.

As dit dan so is: Wat kry ons in hierdie Ou Testamentiese wette? Daarna kyk ons volgende keer.




Wees sterk, werk hard, onderrig ander

. —Sinclair Ferguson

Wees sterk, werk hard, onderrig ander

(2 Timoteus 2:3)

 

Grete Waitz is die soort atleet waarna Paulus in 2 Timoteus 2:1 – 7 verwys. Hy gebruik hier beelde van ‘n soldaat, ‘n atleet en ‘n boer. Hy begin hierdie hoofstuk met: Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat ons in Christus Jesus het. Of hy nou vervolg word of dwaalleer moet bestry, moet Timoteus sterk staan in die evangelie. Hoe moet hy dit doen? Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer. Hulle sou saam met Timoteus die stryd teen die dwaalleraars voer.

Die drie illustrasies beskryf die pad van swaarkry, diens, volharding en trou wat Paulus en Timoteus gekies het om te stap. Die beeld van die soldaat (vers 3 – 4) beklemtoon doelgerigtheid. ‘n Soldaat verduur wat nodig is om sy sending suksesvol af te handel. Sy aandag word nie deur “gewone dinge” afgetrek nie, maar bly op gehoorsaamheid gefokus.

Die beeld van die atleet beklemtoon oorwinning (vers 5). ‘n Atleet oefen en neem deel met toewyding in ‘n poging om die prys te wen. Daarom moet hy volgens die reëls meeding. Dit beteken hy moet hom aan gesag onderwerp. Om die reëls van die spel te ken en te volg is ekwivalent aan gesonde leer en reg leef in die Christelike lewe.

Die beelde van ‘n soldaat, atleet en boer kry ons dwarsdeur die Bybel. Koning Dawid was ‘n soldaat en Paulus sê ons moet die wapenrusting van die soldaat aantrek (Efesiërs 6:10 – 17). Dit sal ‘n goeie oefening wees om hierdie drie beelde vir verdere Bybelstudie te gebruik.

Geestelik, wat beteken dit om ‘n soldaat, atleet of boer te wees?