Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (3)

If you do not die to sin, you shall die for sin. If you do not slay sin, sin will slay you. —C.H. Spurgeon

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens  (3)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia’s  School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

Om geestelik te groei het ons voorbereiding en oefening nodig. Dit gebeur nie outomaties nie. Jesus Christus het dit verstaan en sy lewe daarvolgens ingerig.

Al was Hy die Seun van God het dit Hom nie van ‘n lewe van voorbereiding vrygestel nie. Na sy doop deur Johannes die Doper gaan Hy na die woestyn waar Hy vir veertig dae en veertig nagte niks geëet het nie. Daarna lees ons dikwels dat Jesus Hom die hele nag afgesonder het om te bid. As gevolg van hierdie voorbereiding kon Hy ‘n lewe van diens, genesing en onderrig leef.

Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig (Matteus 11:29 – 30). Is sy juk sag en sy las lig? Ja, maar daar is ‘n voorwaarde: Ons moet in Jesus Christus se spore volg. Dit beteken die hele tyd en nie net wanneer ons ‘n krisis beleef nie. Ons glo ons volg Jesus as ons ons vyande liefhet, as ons die ander wang draai, as ons geduldig ly, maar die res van ons lewens kan ons maar leef soos almal om ons. Dit gaan nie werk nie; al wat gaan gebeur is dat ons gefrustreerd raak. Ons wil hê wat reg en belangrik is, maar ons leef nie ‘n lewe wat daartoe lei nie. Ons probeer alle pyn en dissipline vermy. Ons probeer om Christene te wees sonder die nodige insig en krag wat net dissipline vir ons kan gee. Die gevolg is dat ons juk nie sag en ons las nie lig is nie, want ons het nie die nodige voorbereiding gedoen nie.

Verwag Jesus Christus van ons om eenvoudig ons vyande lief te hê en om die ander wang te draai? Is dit wat Jesus van ons as nuwe mense wat sy voorbeeld navolg, verwag? Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee (Matteus 6:33). Jesus Christus nooi mense uit om Hom te volg en so te leef dat om jou vyande lief te hê die enigste sinvolle ding is om te doen. As ons Hom wil volg moet ons sy lewenswyse as ons eie aanvaar. Om te vra: Wat sou Jesus gedoen het, is onvoldoende voorbereiding om te leef soos Hy geleef het. Dit skep net spanning.

Hoe kan ons verseker dat ons juk sag en ons las lig is? Deur van Jesus Christus te leer hoe om ons totale lewens te leef; om ons tyd en energie te bestee soos Hy dit gedoen het; ons moet leer om sy voorbereiding – die dissiplines vir geestelike groei – na te volg. Doen ons dit weet ons dat die Vader by ons sal wees. Kom ons maak dit eenvoudig: as jy jou kruis wil opneem en Jesus volg, is voorbereiding noodsaaklik.

Maar is dit moontlik? Daarna kyk ons volgende keer.




Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (2)

The arrow has to draw back to fly ahead. – Spreekwoord

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (2)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia’s School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

Na ‘n algemene inleiding het ons die vraag gevra: Is hierdie las om meer en meer soos Jesus Christus te wees, nie te swaar vir ons om te dra nie?

Wat sê die Bybel. Hier is twee verse in hierdie verband:

  • Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig (Matteus 11:29 – 30)
  • Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie (1 Johannes 5:1).

Maar feitlik almal glo dat dit moeilik is om werklik ‘n Christen te wees. Maar ons moet vra wat die koste is om nie ‘n volgeling van Jesus Christus te wees nie. It costs a man just as much or even more to go to hell than to come to heaven (Soren Kierkegaard). Om van die pad van geregtigheid af te dwaal, is om ‘n lewe van swaar laste, mislukkings, teleurstellings, eindelose probleme wat nooit opgelos word nie, te kies. Die koste van dissipelskap – al vra dit alles van ons – is klein in vergelyking hiermee.

Omdat meeste mense God se opdragte as ‘n swaar las sien, sien ons dit wat Hy vir ons geleer het as die ideaal: iets om na te mik al weet ons ons gaan dit nie bereik nie. Luister net na die argumente: Ons is tog net mense en mense maak foute; Jesus sou nooit so ‘n swaar las op ons gelaai het nie; dit geld nie meer vir vandag nie; ons leef in ‘n tyd van genade en daarom is gehoorsaamheid nie werklik meer nodig nie; ens. Die probleem is dat Jesus Christus ons roep om Hom te volg – vandag en nie eers na ons dood nie.

Almal gee toe dat die wêreld ‘n beter plek sou wees as ons na Jesus Christus se onderrig sou luister. Maar wat ons nie kan aanvaar in ‘n wêreld vol probleme nie, is dat sy las lig is. Tog is sy las lig. Wat is die geheim? Dink aan jong mense met ‘n rugbyspeler as held. As hulle in ‘n wedstryd speel, doen hulle alles in hulle vermoë om te doen wat hulle held doen: koop dieselfde soort stewels, ens. Sal hulle soos hulle held kan speel? Nee. Hoekom speel hulle nie soos hulle held nie? Hy het sy hele lewe lank daarvoor voorberei – nie net tydens wedstryde nie. Dit is sy daaglikse roetine wat bepaal hoe goed hy speel. As hy nie sy dissiplines oefen nie, help sy talente en pogings tydens ‘n wedstryd niks nie.

Dieselfde geld vir enige menslike aktiwiteit wat betekenis aan jou lewe gee. Hierdie is ‘n algemene beginsel vir die mens se lewe. Suksesvolle prestasie in ‘n krisis berus op hoe goed jy jouself voorberei het. Dit geld byvoorbeeld vir die musikus en die chirurg. Hierdie waarheid geld ook vir ons verhouding met God. Ons is deur genade verlos, maar genade beteken nie dat ons outomaties voldoende krag en insig sal hê as ons dit nodig het nie. ‘n Christen wat soos Christus  wil optree as hy getoets word, sal sonder die toepaslike voorbereiding vir ‘n goddelike lewe nie, nie slaag nie.

Volgende keer gaan ons verder na hierdie voorbereiding kyk – ook na Jesus se voorbereiding.




Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (1)

– Martin Luther King Jr.

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (1)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia’s  School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

 ‘n Nuwe mens in ‘n nuwe wêreld – geestelike transformasie – is ‘n belangrike tema in die Bybel. Hoe kry ons dit reg? Die antwoord van baie mense vandag is deur selfvervullingstegnieke.

Maar, ten spyte van al hierdie tegnieke kry ons vandag ‘n dwelmepidemie, geweld, selfmoorde, ens. Mense kla van ‘n gevoel van leegheid. Onderliggend tot al hierdie probleme is ons onvermoë om langdurige en betekenisvolle persoonlike verhoudings aan te gaan en te onderhou.

Die probleem is geestelik en daarom moet die oplossing ook geestelik wees. As die oplossing geestelik is, moet ons onmiddellik vra: Waar pas die Christelike geloof in? Die kerk pas nie eintlik in nie. Ons vind dat Christene in werklikheid deel van hierdie epidemie is. Moderne mense glo dikwels dat die Christelike geloof  kragteloos is of ten minste nie ter sake is nie.

Ten spyte van hierdie negatiewe siening bied die kerk steeds die enigste antwoord. Wat hou die kerk terug sodat hy nie sy verwagte rol kan vervul nie?

  • Die kerk moet die behoefte aan transformasie – ‘n nuwe mens – weer ernstig opneem. Ons kan met reg sê dat geestelike transformasie nie vir die moderne kerk ‘n ernstige en praktiese saak is nie – die kerk is nie meer getrou aan sy eie boodskap nie.
  • Die kerk moet realistiese metodes vir transformasie verduidelik en modelleer. Die vraag wat die kerk moet beantwoord, is: Hoe kan gewone mense, deur die genade van God, ‘n liefdevolle, doeltreffende en kragtige geloofsgemeenskap word? Die groot gevaar is dat die kerk te laag mik met sy boodskap.

Gelowiges het die volmaakte model: Jesus Christus. Ons lees gereeld in die Bybel dat ons meer en meer soos Jesus Christus moet word. Maar hoe doen ons dit? Ons moet leef soos Hy geleef het en die aktiwiteite beoefen wat hy beoefen het. Wat is hierdie aktiwiteite? Afsondering en stilte, gebed, ‘n eenvoudig lewe van opoffering, studie en nadenke oor God se woord en weg, diens aan ander, ens. Hierdie aktiwiteite is vir ons nog steeds belangrik, want ons behoeftes is groter.

Hierdie geloof waarvan ons hier praat, word nie vandag meer aanvaar nie. Ons glo dat geloof iets intellektueel is – alles in die verstand. Ons het ‘n muur gebou tussen geloof en genade aan die een kant en dit wat ons werklik doen aan die ander kant. Geen wonder ons sien geloof as iets wat mense se lewens moet verander … maar dit nie regkry nie.

My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie (Johannes 18:36),  sê Jesus vir Pilatus. Hoe oorbrug ons  die kloof tussen hierdie wêreld en God se koninkryk? Deur vir Jesus Christus en sy Vader te ontmoet. Hoe doen ons dit? Ons ontmoet vir Jesus Christus en sy Vader as ons die geestelike dissiplines beoefen. Hierdie dissiplines moet die middelpunt van ons lewens in Christus wees. Ons moet dit beoefen en ander uitnooi om by ons aan te sluit.

Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God (Romeine 5:2). Die geestelike dissiplines is niks anders as die wil om soos Hy te wees nie.

Maar is hierdie las nie te swaar nie? Daarna kyk ons volgende keer.




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 30

The only honest feedback a boss gets is from his calender. (We are what we do) – Tom Peters

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 30

Vraag:

Wat is geloof in Jesus Christus?

Antwoord:

Geloof is Jesus Christus is om die waarheid van alles wat God in sy Woord geopenbaar het, te erken, om op Hom te vertrou en om op Hom alleen te vertrou vir ons verlossing soos Hy in die evangelie belowe het.

 

Skrifgedeelte:

Nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof  in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê (Galasiërs 2:20).

 

Kommentaar:

Die beste en duidelikste definisie van geloof wat vryspreek, en streng volgens die Skrif is,  waaraan ek kan dink, is dit: Geloof is die siel se volkome omhelsing van die openbaring van Jesus Christus as ons Verlosser … Dit word geloof genoem, want geloof is die eerste daad van die siel om enige verhaal of openbaring te aanvaar. Aanvaarding, as ons van ‘n openbaring praat, is eerder geloof as liefde of keuse … Ons kan die definisie in hierdie woorde uitdruk: geloof is die siel wat volledig vasklou en berus in die openbaring van Jesus Christus as ons Verlosser. Of: geloof is ons siel wat die waarheid van God wat Jesus Christus as ons Verlosser openbaar, aanvaar en daarop vertrou. Dit is die hele siel wat hierdie waarheid aanvaar. Dit is die volkome oorgawe van die denke en hart aan die openbaring en om daaraan vas te hou in geloof en liefde.

 

Hy sterf as gevolg van ‘n inenting teen pokke kort nadat hy die president van die College of New Jersey (later Princeton Universiteit) geword het.

 The Works of Jonathan Edwards, Volume 2 (London: Ball, 1839), 580.

 

Verdere leesstof:

 “What is Faith?” in A Faith to Live By, by Donald Macleod.
“Knowledge” in Concise Theology, by J. I. Packer.

Gebed:

Laat ons saam met die dissipels bid: “Vader vermeerder ons geloof,” en met die arme man in die evangelie: “Here, ek glo; help my in my ongeloof.”

Hierdie gebed is deur Richard Sibbes (1577 – 1635), ‘n Engelse Puriteinse teoloog, geskrywe. In die vroeë 17de eeu staan hy in Londen bekend as the Heavenly Doctor Sibbes. Hy was die leraar by Gray’ Inn in Londen en Hoof van Catherine Hall in Cambridge. Sy bekendste werk was The Bruised Reed and Smoking Flax.

Hierdie gebed kom uit sy preek “Fountain Opened: or The Mystery of Godliness Revealed” in The Works of the Reverend Richard Sibbes, Volume 1 (Aberdeen: Chalmers & Co., 1809), 213.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.