Kan die moderne kerk by die vroeë kerk leer?

The two most important days in your life is the day you are born and the day you find out why – Mark Twain

 

Kan die moderne kerk by die vroeë kerk leer?

Hoe het 120 Joodse volgelinge van Jesus die kerk in ‘n multi-etniese beweging met 33 miljoen volgelinge teen die jaar 350 verander? Rodney Stark (The Rise of Christianity) identifiseer veral drie dinge wat die vroeë kerk gedoen het. Dit is dinge wat die kerk vandag steeds met groot vrug kan doen.

  • Die vroeë kerk het die siekes en armes versorg

Aaansteeklike siektes in die eerste twee eeue nC het katastrofiese gevolge gehad. Marcus Aurelius, keiser van 161 – 180, het gesê: So many people died that cities and villages in Italy and in the provinces were abandoned and fell into ruin.” Dionysius, die Biskop van Aleksandrië,  vertel dat die geloofsgemeenskap die evangelie uitgeleef  het deur die siekes te verpleeg – ten spyte daarvan dat ons hier met hoogs aansteeklike siektes te doen gehad het. Dit het gebeur terwyl die heidene hulle siekes aan hulleself oorgelaat het – om die waarheid te sê hulle het hulle siekes in die straat uitgegooi nog voor hulle dood was. Het ons gemeentes ‘n strategie om die armes en siekes te versorg? Moet ons nie weer soos die vroeë kerk weer liefde op armes en siekes uitstort nie?

 

  • Die vroeë kerk het vrouens geëer en met waardigheid hanteer

In Atene is vrouens as kinders geklassifiseer – maak nie saak wat hulle ouderdom was nie. Mans kon van hulle vrouens skei bloot deur hulle uit die huis weg te jaag. In die Grieks-Romeinse wêreld is vroulike babas dikwels doodgemaak. Min gesinne het meer as een dogter gehad. Vroue reageer op die evangelie in groot getalle, want vir die eerste keer hoor hulle dat ook vroue na die beeld van God gemaak is en dat hulle gelyk aan die man was. Hulle was verbaas om te hoor dat mans hulle vrouens moes liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het (Efesiërs 5:25). Hulle was verbaas dat hulle in leierskapsposisies gebruik kon word – soos Febe wat ‘n diaken was (Romeine 16:1 – 2). Het die kerk ‘n strategie in plek om die leierskapsvermoëns van vroue te ontgin?

 

  • Die vroeë kerk was ‘n multi-etniese, plaaslike beweging

Grieks-Romeinse stede was etnies divers. So byvoorbeeld was Antiogië uitgelê in twee primêre gedeeltes: een vir die Siriërs en een vir die Grieke. Hierdie gedeeltes was met ‘n muur van mekaar geskei. As gevolg van die etniese verskeidenheid was sosiale integrasie baie moeilik – geen wonder opstande het gereeld plaasgevind nie. Juis in Antiogië was Jesus se volgelinge vir die eerste keer Christene genoem (Handelinge 11:19 – 26). In Antiogië verander Jesus se kerk van ‘n homogene groep Jode na ‘n multi-etniese groep – Jode en nie-Jode. Dit was juis hierdie multi-etniese, plaaslike kerk in Antiogië wat die evangelie van Jesus Christus dwarsdeur die wêreld uitgedra het – nie die homogene kerk in Jerusalem nie. Dit was Antiogië se kerk wat Barnabas en Saulus afgesonder het en uitgestuur  het (Handelinge 13:1 – 3). Christus is ons vrede, Hy wat die twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het … deur sy dood aan die kruis het Hy ‘n einde gemaak aan die vyandskap en die twee met God versoen en tot een liggaam verenig (Efesiërs 2:14 – 16). Dit is een van die oorheersende temas in Paulus se briewe: die evangelie breek grense af en skep nuwe mense in Christus wat leef vir die koninkryk van God en mekaar liefhet. Net 13% van alle gemeentes in die VSA is multi-etnies. Het ons ‘n plan om multi-etniese gemeentes tot stand te bring?

 

Het ons gemeentes wat die nuwe hemel en nuwe aarde  van Openbaring reeds hier op aarde weerspieël?




Plant diep wortels

Too many of us are not living our dreams because we are living our fears – Les Brown

 

Plant diep wortels

Ons leef in ‘n tyd waar mense baie suspisieus oor instellings is. Daar is frustrasie met instellings en die leierskap by instellings – hulle het ‘n verkalkte burokrasie wat die lewe van sy inwoners uitsuig, ontwikkel. Is dit waar?

 

 

Wat is ‘n instelling?  Andy Crouch sê ‘n instelling is ‘n kulturele patroon van reëls en rolle en arenas vir menslike kreatiwiteit en optrede wat van die een geslag na die ander oorgedra word. Kultuurgroei kan net groei en bly voortbestaan as dit deel van ‘n instelling is – dit moet deel van die materiaal van die lewe word deur ‘n stel patrone wat aangeleer en herhaal kan word. Dit moet van een geslag na ‘n ander oorgedra kan word. Daarom lees ons so dikwels in die Ou Testament dat die Israeliete ook as die kinders van Abraham, Isak en Jakob bekend staan. Ware kultuurverandering is ‘n langsame proses.

 

Ons is sinies oor instellings want ons het ‘n beperkte siening van wat instellings is en hoe hulle werk. Goeie instellings maak plek vir diversiteit. Soos in ‘n rugbyspan is daar verskillende posisies. Elke posisie vereis en beloon ‘n verskillende stel vermoëns. Die gevolg is die oorvloed en verskeidenheid wat God vir die wêreld beplan het.

 

Daar is egter ‘n probleem: institusionalisme. Nou bestaan die instelling net om sy voortbestaan te verseker. Nou gebruik hulle nie meer hulle bates in diens van vooruitgang nie, maar net vir hulleself. Instellings kan dan teen die doel van God vir die wêreld werk.

 

Die alternatiewe het ook maar hulle probleme. Bewegings wat nie mettertyd ‘n instelling word nie, is soos ‘n saad wat vinnig ontkiem, maar geen wortels ontwikkel nie – dit verdor vinnig.

 

Wat ons nodig het, is instellings wat mense se lojaliteit werd is. Dit beteken nie die sieldodende burokrasie wat ons almal vrees nie; dit is ook nie die anargie waarvan  radikale jongmense droom nie. As ons iets wil bou wat voortbestaan, het ons ‘n instelling nodig.

 

 




Geskiedenis en dit wat nuut is

The only way to do great work is to love what you do – Steve Jobs

 

Geskiedenis en dit wat nuut is

Gemeentes soek altyd na dit wat nuut is, want ons wil relevant wees. Ons volg ook graag sterk leiers al is hulle teologie maar oppervlakkig. Alister McGrath gee die volgende oplossing hiervoor: Rediscovering the corporate and historic nature of the Christian faith reduces the danger that entire communties of faith being misled by charismatic individuals and affirms the ongoing importance of the Christian past as a stabilizing influence in potentially turbulent times.

 

Maar wat doen ons? Ons kom na vore met snaakse leerstellings soos die voorspoedteologie en water bestaande leerstellings – soos berou oor sonde – af. McGrath glo dat tradisie ‘n filter is – dit laat ons toe om onmiddellik dwaalleer te herken. Om te sê: Ons het dit nog nooit geglo nie, beteken nie dat die onderrig verkeerd is nie, Dit plaas wel ‘n fundamentele vraag op die tafel: Hoekom het Christene dit nog nooit vantevore geglo nie? Verdere ondersoek is nodig en dikwels is daar ‘n goeie rede waarom dit nog nooit vantevore aanvaar is nie. Die verlede is beide ‘n hulpbron en veiligheidsnet om ongesonde leer uit die kerk te weer. Dit verplig die ondersteuners  van hierdie leer om dit te verduidelik.




Amos

 

What lies behind us and what lies before us are tiny matters compared to what lies within us – Ralph Waldo Emerson

 Amos

Wanneer laas het jy ‘n preek uit Amos gehoor? John C. Holbert wil weet waarom leraars nie graag oor Amos preek nie. Amos is reguit; Amos sê dinge wat sy tydgenote nie wou hoor nie … en ons ook nie.

Amos word in die middel van die 8ste eeu vC deur die Here as profeet geroep. Wat egter meer belangrik is as die datum is die soort gemeenskap waarna Amos geroep word. Sy primêre bekommernis is geregtigheid

‘n Paar ryk mense het ryk geword ten koste van ‘n toenemende getal armes. Hy beklemtoon hierdie probleem herhaaldelik: Julle haat dié wat vir die reg opkom in die howe, julle verafsku dié wat die waarheid praat. Omdat julle die arm mens vertrap en van hom koring afpers, sal julle nie woon in die huise van gekapte klip wat julle bou nie en julle sal nie die wyn drink van die pragtige wingerde wat julle plant nie. Ek weet hoe baie julle oortredings is, hoe groot julle sondes is, julle wat die vyand is van dié wat reg doen, julle wat julle laat omkoop en nie aan die armes reg laat geskied nie (5:10 – 12). Hy gaan verder: Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ‘n standhoudende stroom (5:24). Reg en geregtigheid eerder as feeste, offers, gesang en harpmusiek.

In Amos 7:7 – 17 praat Amos oor die verhouding tussen kerk en staat. In verse 7 – 10 gebruik hy die beeld van ‘n skietlood:  Ek (die Here) gaan ‘n skietlood aanlê in my volk Israel. Ek gaan hom nie meer spaar nie. Die Here gaan nou die hoogtes van Isak verwoes  en die heilidomme van Israel  in puin lê. Omdat hulle reg en geregtigheid geïgnoreer het, omdat hulle die armes uitgebuit het, gaan die Here hulle verwerp.

Dit word gevolg deur ‘n toneel waarin Amasia, die priester van Bet-El ‘n groot rol speel. Amasia het gehoor van Amos se prediking en waarsku die koning: Amos is besig om hier in Israel ‘n komplot teen u te smee.  Die land kan nie uithou met alles wat hy sê nie.  Omdat Amasia vir Amos as ‘n bedreiging sien, konfronteer hy hom: Maak dat jy wegkom, siener,  gaan na Juda toe en verdien jou brood daar, tree daar as profeet op! In Bet-El mag jy nie meer as profeet optree nie, want dit is die  koninklike heiligdom, die staatstempel.

Amasia maak dit baie duidelik dat die heiligdom bitter min met die Here te doen het, maar alles met die koning. Die kerk het ‘n rubberstempel vir die staat geword. Amos antwoord:  Ek is nie so ‘n profeet nie en ek behoort nie tot die profetekring nie, ek boer met vee en kweek wildevye. Maar die Here het my agter die kleinvee weggevat en Hy het vir my gesê: Gaan tree as profeet op teen my volk Israel. Amos verwerp Amasia se aanklagte oor sy status. Dan volg ‘n persoonlike aanval op Amasia: Jou vrou sal ‘n prostituut word in die stad, jou seuns en jou dogters sal met die swaard afgemaai word, jou grond sal tussen ander verdeel word, jy sal in ‘n onrein land sterf. Vreeslike en wrede woorde.

 Hoekom is Amos so stil op ons preekstoele? Ons leef in ‘n tyd waarin ons graag wil hoor dat ‘n liefdevolle God ons liefhet en versorg. Amos pas glad nie hierby in nie. Maar ons moet vir hom plek maak. Sy onversetlik eis vir geregtigheid, sy onwilligheid om toe te laat dat leë aanbidding ons onwilligheid om vir die armes te sorg, bedek; sy aanhoudende oproep om na diegene in nood om te sien, sy verwerping van die vermenging van staat en kerk – alles temas wat steeds geldig is. Dit is temas wat ons moet hoor en waarop ons moet reageer. As ons hierdie temas ignoreer, verkondig ons nie die hele evangelie nie.