Paulus se gebed

We do not err because truth is difficult to see. It is visible at a glance. We err because this is more comfortable. -Alexander Solzhenitsyn (1918-2008)

Paulus se gebed

God, wat ek met hart en siel dien deur die evangelie van sy Seun te verkondig, is my getuie dat ek gedurig in my gebede aan julle dink. Elke keer as ek bid,  vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie (Romeine 1:9 – 10).

Hier is ‘n mate van spanning:

 

  • Paulus sê dat hy in sy gebede gedurig aan die gelowiges in Rome dink,  en dat hy God gedurig vra om dit moontlik te maak om hulle te besoek.
  • Paulus besef dat wat hom keer God se wil is.

Hierdie gedeelte sê vir ons baie van gebed. Aan die een kant is gebed belangrik en ons moet aanhou bid vir sekere dinge – dikwels oor ‘n lang tydperk. Aan die ander kant moet ons onthou dat God God bly en dat dit sy reg is om iets toe te laat of te verhoed.

 

Hieruit kan ons twee moontlike gevolgtrekkings maak:

  • Gebed is nie belangrik nie – gebed gaan nie vir God verander nie; of
  • Gebed beheer God se wil.

 Ons kan baie spekuleer, maar dit help ons nie eintlik nie. Wat Paulus glo, is dat God luister, maar dit beteken nie Hy gaan doen wat ons wil hê Hy moet doen nie. Hou aan bid, maar onthou altyd dat God God is.

 

 




‘n Vaste Burg is onse God

The grace we receive in forgiveness gives the grace to be forgiving. —Philip Ryken

‘n Vaste Burg is onse God

Martin Luther, die groot hervormer, het ongeveer 36 liedere geskryf. Die bekendste hiervan is sy verwerking van Psalm 46: ‘n Vaste Burg is onse God. Hierdie lied is ‘n viering van die soewereine mag van God oor alle aardse en geestelike magte en dat ons op Hom kan vertrou. Hierdie lied was baie gewild in Europa na die hervorming.

 

Dit is al die Marseillaise van die Hervorming genoem. Dit was by Augsburg tydens die Ryksdag gesing en in al die kerke in Neder-Sakse  – dikwels ten spyte van die priester se besware. Dit is selfs op die strate gesing en vertroos die harte van Melanchton en ander nadat hulle in 1547 uit Wittenberg geban is. Dit is deur arm Protestante op pad na ballingskap  en deur martelare voor hulle teregstelling, gesing. Dit word die nasionale lofsang van Protestante Duitsland.

Die lied word nou met Luther self verbind, want in die woorde en melodie kry ons so baie van die karakter van Luther – moedig, sterk, vol vertroue en onbeweeglik as teenstand dreig. Ons kry hierdie verband op ‘n standbeeld van Luther in Wittenberg waar die eerste reël van die lied uitgebeitel is.

Daar is baie geskryf oor wanneer en onder watter omstandighede die lied geskryf is. Die waarskynlikste is dat dit in 1527 geskryf is toe die pessiekte nader aan Duitsland gekom het. Daar is ook heelwat teorieë oor die oorsprong van die melodie. Waarskynlik het Luther dit self geskryf. Die storie dat die melodie se oorsprong ‘n gewilde lied gesing in tavernes was, berus op ‘n misverstand.

 Kom ons kyk na hierdie lied:

1. ‘n Vaste burg is onse God,   ons skuil in Hom, die sterke.      

    Hy is ‘n vesting in die nood –  vir ewig staan sy werke.           

   Al kom die bose aan  in sy oorwinnaarswaan,              

   ons weet by al sy lis,  sy lot is reeds beslis –            

   God self stel aan hom perke.        

2. Gord ons met eie krag ons aan dan is die stryd verlore;           

   net een kan satansmag weerstaan, deur God daartoe verkore.           

   vra u sy Naam, so weet  dat hy die Christus heet;           

   gaan Hy voor in gevaar,   Heer van sy eng’leskaar,            

   nooit is die stryd verlore !        

3. Al storm hul ook van elke kant,  die hel se leërmagte,               

   die Een wat sterker is, hou stand, Hy sterk ons swakke kragte.         

   Veg met geweld en lis   die vors van duisternis –           

   ons vrees geen dood of hel;   sy vonnis is gevel,                 

   ons is sy val te wagte.             

4. Gods woord hou stand in ewigheid,  geen mag kan dit laat wyk nie !     

   Beef, Satan, God voer hier ons stryd; sy trou sal nooit beswyk nie !      

   Al eis jy dan ons goed,   ons dierbares, ons bloed:           

   dit bring jou geen gewin –   ons gaan die hemel in,              

   jy roof ons nooit Gods ryk nie.     




Maak ‘n verskil

. —Thomas Brooks

Maak ‘n verskil

Weer een van Bill Easum se stukkies.

Die wêreld is vol kerkleiers wat van dag tot dag voortploeter sonder enige idee oor hoe om die wêreld ‘n beter plek te maak. Hulle doen wat ander wil hê hulle moet doen – asof dit is waarvoor God hulle daar geplaas het. Dit is nie God se plan nie. God roep ons en gee aan ons ‘n rol om in sy koninkryk te speel.

Die probleem is ons siening van ons roeping. Leiers sê dikwels dat hulle geroep is. Vra jy hulle waarvoor hulle geroep is, antwoord hulle: Om ‘n leier te wees. Dit is nie goed genoeg nie.

Elke wettige roeping kom met ‘n spesifieke missie. Van Abraham tot by die apostels tot by ons vandag roep God ons om iets spesifiek te doen. As jy die wêreld ‘n beter plek wil maak en as jy nie net gemiddeld wil wees nie, dink diep oor jou roeping. Hoekom het God jou in die eerste plek geroep? Dit sal jou lewe verander. Mark Driscoll beskryf sy roeping soos volg: I was called to plant a thousand churches in my life time.

Moenie tevrede wees met wie en waar jy in die lewe is nie. Elkeen kan meer wees as wat hy is en kan meer bereik as wat hulle dink hulle kan. Maar waar begin ons? Maak seker van jou roeping.




Pous Franciskus se pouslike sendbrief

The words a father speaks to his children in the privacy of the home are not overheard at the time, but, as in whispering galleries, they will be clearly heard at the end and by posterity. –Jean Paul Richter, skrywer (1763-1825)

Pous Franciskus se pouslike sendbrief

Pous Franciskus het sy eerste sendbrief vrygestel: Lumen fidei (Die lig van Geloof). Hierin argumenteer hy  dat geloof sonder die waarheid ‘n illusie is en die waarheid sonder liefde koud en teneerdrukkend is. Hierdie is die derde van ‘n trilogie van leerstellings wat deur Pous Emeritus Benedictus XVI begin is.

 

Hierdie sendbrief is in vier hoofstukke verdeel. Die doel is om te wys hoe geloof in die opgestane Christus ons buite die perke van ‘n individuele bestaan kan lei na ‘n alles insluitende gemeenskap van God se liefde. Geloof word dan ‘n lig wat al ons verhoudings in die gemeenskap kan verlig. Enige gemeenskap sonder verwysing na ‘n Vader as sy fondament,  kan nie onbeperk voortbestaan nie.

Die dokument gee talle voorbeelde uit beide die Ou en die Nuwe Testament om te wys hoe belangrik geloof deur die eeue vir Bybelse figure was. Hoofstuk 1 begin met die verhaal van Abraham, die geskiedenis van Israel  en die hoogtepunt van God se liefde vir die mensdom – die offer van Jesus aan die kruis.

Daarna ondersoek die dokument die band tussen geloof en waarheid en sê dat sonder waarheid geloof  Daar word ook baie geskryf oor die oordra van geloof van die een geslag na die ander en hoe geloof vrede en versoening kan bevorder en ook respek vir God se skepping.

Die pous sê dat geloof nie die swaarkry van die wêreld kan uitskakel nie, maar dit kan hoop vir mense bring en hulle aan God se liefde herinner. As geloof verswak word, word die fondamente van die mensdom ook verswak.

[Die volle teks van die sendbrief kan op die Vatikaan se amptelike webblad in verskeie tale, insluitend Engels, gekry word.]

Ek skryf hierdie, want ek glo dat baie mense belangstel in die nuwe pous. Ek moet sê dat my eerste indrukke baie positief is.