Ek wil mense oorreed

No man ruleth safely but he that is  willingly ruled – Thomas a Kempis

 

Ek wil mense oorreed

In hierdie tydperk van die wetenskap en tegniek is alles wetenskap en tegniek en kan alles deur wetenskap en tegniek opgelos word. Ons het by geleerdes gehoor dat ons alle absolutes en sekerhede moet vermy – ons moet oor alles skepties wees. Maar dan draai hulle om en sê ons moet onbevraagtekende vertroue in kundiges, spesialiste en gesaghebbendes hê. Die belofte is dat die volgende nuwe ding die beste ooit sal wees. Die versoeking is dat ons oorreding kan bemeester en dit reduseer tot ‘n tegniek en dit bemark as iets wat die wêreld teen môremiddag sal oorwin. Daar is geen McTeorie as dit by oorreding kom nie.  Om oorreding weer terug te kry, sal nie maklik wees nie. As ons wil slaag, moet ons ons ore vir tegniek sluit. Daar is drie dinge wat noodsaaklik is.

 

  1. Nie net een pad nie

Vir alles wat die moeite werd in die lewe is, is daar baie selde net een pad om dit te doen. Daar is nie net een regte manier om oorreding te doen nie. Daar is nie een benadering wat vir almal werk nie. Die rede is eenvoudig: die lewe is meer as rede en daarom kan dit nooit deur rede alleen verduidelik word nie. Rede is belangrik en waardevol, maar daar sal altyd dinge wees wat jy nie kan verduidelik nie – al probeer ons hoe hard om alles te laat inpas.

 

Dieselfde geld vir apologetiek – geen enkele metode sal almal pas nie, want elke persoon is anders en elke metode sal iets mis. Jesus het nooit met twee mense op dieselfde manier gepraat nie – en ons moet dit ook nie doen nie. Elke persoon is uniek en verdien ‘n benadering wat sy uniekheid respekteer.

 

  1. ‘n Kuns, nie ‘n wetenskap nie

Ooreding het meer met teologie as tegnologie te doen.

  • Kreatiewe oorreding beteken ek is Bybels en nie modern of postmodern nie. Die Bybel is dié storie. Dit heg waarde aan die waarheid en rede sonder om modernisties te wees; dit waardeer al die stories binne die groot oorkoepelende storie sonder om postmodern te wees. Egte Bybelse argumente werk in elke ouderdom en persoon. Modernisme en postmodernisme het beide voor- en nadele. Christelike oorreding moet te alle tye Bybels en holisties wees – getrou. Die Bybel heg baie waarde aan die waarheid en argumente sowel as aan stories, drama, gelykenisse en gedigte. Dink maar net aan Romeine, die psalms en Jesus se gelykenisse. Stories is die kern van die Bybelse siening van kreatiewe oorreding, maar nie ten koste van die rede of argument nie. Die diepe logika van God se waarheid kan in beide stories en argumente, deur rede en verbeelding, deur die vier evangelies en Romeine uitgedruk word. Daar is ‘n tyd vir stories en ‘n tyd vir rasionele argumente. Ons moet weet wat om wanneer te gebruik.
  • Kreatiewe oorreding is die kuns van die waarheid, die kuns wat die waarheid inspireer. As iemand net vir tegnieke, resepte, hoe-om-te metodes soek om iemand te oorreed, sal hy teleurgesteld wees. Daar is nie so iets nie. Die soeke na so iets is verstaanbaar. Daar is mense vir wie geen hoeveelheid bewyse enige aanspraak sal bewys as hulle vasberade is om die aanspraak te ontken nie. Metodes wat dwingbaar is, is gevaarlik, want hulle werk op die wil sonder om die denke te oortuig. Breinspoeling is ‘n voorbeeld van ‘n dwingbare metode. Die tyd van tegnologie en tegniek is die tyd van eindelose metodes, formules, resepte, seminare, twaalf-stap programme en die gedurige aanloklikheid van doeltreffendheid. Ons kan nie oorreding deur tegnieke leer nie, want dan val ons in die lokval van oorreding te reduseer tot rede.

 

Tegniek is gewoonlik net doeltreffend in lae vlakke van die lewe. Sodra ons in die hoër vlakke van menslike vaardigheide – soos leiding van ‘n span – kom, is die vaardighede wat vereis word meer ‘n kuns as as ‘n wetenskap. Miskies is dit waarom Jesus nooit ‘n boek geskryf het nie. Jy leer van die Meester onder sy gesag en in ondervinding langs die lewenspad. Jy leer dus beter van iemand wat alles ondervind het as uit ‘n boek. Met die dieper dinge in die lewe is daar altyd meer om te weet. Die diepste kennis word in die lewe geleer – uit ondervinding van ‘n meester. Ons beheptheid met tegniek veroordeel ons tot ‘n kultuur wat toenemend van kundiges afhanklik is. Maar in baie gebiede is daar geen kundiges nie. Wie is ‘n kundige oor lyding?

 

As dit kom by evangelisasie en oorreding moet ons baie versigtig vir formules wees. Moenie die uniekheid van mense onderskat nie.




Calvyn en voorsiening deur God

 

God does not mind your stumbling and the faltering phrases. He is not hindered by poor grammar. He is interested in your heart – Billy Graham

 

Calvyn en voorsiening deur God

Min skrywers in die geskiedenis van die kerk het meer bemoedigende woorde vir gelowiges geskryf as juis Calvyn. In sy bekendste boek, Institutes of the Christian Religion, hanteer hy die leer van die voorsiening van God in twee hoofstukke. Die woord voorsiening het feitlik uit ons woordeskat verdwyn. Ons hoor nie meer dat na God as die Voorsienigheid verwys word nie.

 

Hier is ‘n paar bemoedigende gedeeltes om die jaar mee te begin.

 

Aanhaling #1: Hy onderhou, voed en versorg alles wat Hy gemaak het, selfs die mossies.

In Matteus 10:29 sê Jesus dat geen mossie op die grond sal val sonder die wil van hulle Vader nie. Twee mossies kan jy vir ‘n sent koop. As Hy hulle versorg sal God tog sekerlik ook vir ons versorg. Ons kan op God vertrou om ons te alle tye te onderhou, te voed en te versorg.

 

Aanhaling #2: God se voorsiening soos ons dit in die Skrif kry, staan teenoor geluk en toevallige gebeure

Calvyn sê daar is nie iets soos geluk en toeval nie – dit is heidense terme wat nie in die gedagtes van gelowiges moet voorkom nie. Hy voeg by: Alle gebeure word deur God se geheime plan beheer; geen druppel val sonder God se uitdruklike bevel nie. God is nie die outeur van die bose nie, maar Hy beheer alle dinge wat oor ons pad kom – ook swaarkry en lyding. God is nie net oppermagtig nie, maar ook goed. Daarom kan ons Hom vertrou al hou ons nie van ons huidige omstandighede nie.

 

Aanhaling #3: Elke jaar, maand en dag word deur ‘n spesiale en nuwe voorsiening van God beheer.

In hierdie gedeelte beklemtoon Calvyn die son. Die son het ‘n krag heerliker as enige ander krag. Die son kom nie op of gaan onder deur blinde instink van die natuur nie. Dit is ‘n teken van God se guns teenoor ons. Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis (Matteus 6:34). Maar ons lees ook: Daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot (Klaagliedere 322 – 23). Elke dag nuwe voorsiening – goed en sleg. Maar ons kan in vrede lewe, want Hy, wat die mag het om die son te beheer, het ook die mag om jou lewe te beheer.

 

Aanhaling #4: Onkunde van voorsiening is die grootste ellende; die grootste seën is die kennis van voorsiening

Dit is waar. Hoekom probeer ons dit nie meer en beter verstaan nie.

 

Aanhaling #5: In tye van teenspoed vertroos gelowiges hulle met die wete dat hulle niks ly behalwe as God dit beveel het nie, want hulle is onder sy hand

Teenstand is iets wat alle Christene sal ondervind. Calvyn het dit goed geken.

  • As kind het hy swakheid ondervind wat hy nooit kon afskud nie.
  • Hy het nooit van ‘n streng kloosterregime herstel nie – hy gaan laat bed toe en staan vroeg op. Hy het min geslaap.
  • Sy oë was swak, want hy het baie by kerslig gelees.
  • Sy vrou is nege jaar na hulle huwelik oorlede. Hy het nooit weer getrou nie.
  • Sy vrou het een miskraam gehad. Sy het nooit weer kinders gehad nie.
  • Sy kritici het gesê sy vrou is dood aan verveeldheid. Hulle het hulle honde na hom vernoem.
  • Hy ly aam chroniese asma, migraine wat hom die hele nag wakker gehou het, nierstene, aambeie, erge artritis en hy het dikwels longontsteking gekry.

Boonop is hy voortdurend deur ‘n stadsraad geteister, want hulle wou die kerk beheer. Sy werklading was groot. Na sy vrou se dood sê hy: “Mag die Here Jesus Christus my ondersteun ook onder hierdie swaar hartseer wat my beslis sal oorweldig as Hy, wat dié wat geval het, optel nie, die swakkes versterk nie en die moeës verfris, nie sy hand uit die hemel na my toe uitgesteek het nie.”

 

Johannes Calvyn was ‘n invloedryke persoon, maar hy was ook beproef. Hy het beide sukses en mislukking ondervind. Die geheim van sy uithouvermoë was vertroue op God se voorsienigheid.

“U, o Here, het my gekneus. Dit is voldoende vir my om te weet dat dit u hand is.”

 

 




Psalm 34(1)

 

Our picking and choosing normally revolves around what is most comfortable – and least costly – for us in our culture – David Platt

 

Psalm 34(1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Ek sal die Here altyd weer prys!

Hierdie is ‘n wysheidspsalm. ‘n Mens voel amper die klaskamer op sekere plekke in die psalm (vs 12). Om die kinders te help om hierdie psalm maklik te leer, was dit alfabeties gekomponeer. Een van die letters word nie gebruik nie (die opskrif is later bygevoeg en pas dus nie alfabeties in nie). Vs 23 is waarskynlik ‘n koor vir almal om te sing. Wysheidsleraars het dikwels hierdie alfabetiese styl gebruik. Die gebruik van die hele alfabet simboliseer die omvattendheid van die raad wat gegee word. Verdere kenmerke van die wysheidstyl in hierdie gedig is:

  1. Die teenstelling van die regverdige en die goddelose; en
  2. Die stellings wat aan Spreuke herinner.

Die boodskap van hierdie psalm is dat God die nederiges sal red en seën, maar die goddeloses sal veroordeel. Voor die Hervorming is hierdie psalm tydens die nagmaal gebruik. Martin Luther het dit so gehou.

 

34:1: Opskrif

Van Dawid. Toe hy hom kraksinnig gehou het voor Abimeleg, dié hom weggejaag en hy toe weggegaan het

Dit is ‘n persoonlike danklied van Dawid wat deur sy opskrif verbind word aan die gebeure in 1 Samuel 21:12 – 15. Dawid dien as huursoldaat in die Filistynse stad, Gat. Dit was toe hy van Saul weggevlug het. Dawid hou hom kranksinnig en die koning jaag hom weg. Die Filistynse koning Agis se ampstitel, Abimelek, word hier genoem – iets soos die farao gebruik is vir die Egiptiese koning. Ons lees ook van Abimelek in die geskiedenis van Abraham en Isak (Genesis 20 en 26). Soos Dawid was hulle ook vir die koning bang. Hulle het hulle vrees oorwin deur die les van hierdie psalm te leer. Die psalm beklemtoon vrees/eerbied van die Here en sien dit as die sleutel vir redding uit die gevaar waarin Abraham, Isak en Dawid verkeer het. Maar soos ek die psalm lees, kom ek agter dat dit ook op ‘n latere tydsvak van toepassing is – vandag.

 

 




Oordenkings: Daar’s plek vir jou! – 1 Januarie