Die gevaar van sukses

. —William Gouge

Die gevaar van sukses

In die tweede helfte van Deuteronomium praat Moses met die volk en waarsku hulle oor die gevare van sukses. Sukses is soms gevaarliker as mislukking. Hoekom? Want in ons najaag van sukses is dit baie maklik om van die Here te vergeet – ons dink ons het alles op ons eie reggekry.

 

As ons kyk wat ons bereik het en as ons kyk na ons besige skedules sê ons ook soms: My krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf (Deuteronomium 8:17). Die groot gevaar van sukses is trots. Ons vergeet so maklik dat dit God se genade is wat al hierdie dinge moontlik maak.

God toets ons vandag op verskillende maniere – bevordering, wen van belangrike pryse, suksesvolle beleggings op die aandelebeurs, ens. God toets ons – gaan ons Hom loof vir die verstand en vaardighede wat Hy aan ons gegee het? Of gaan ons sê: My krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf (Deuteronomium 8:17). Ons dink so dikwels dat God ons net in moeilike tye toets. Verkeerd. Ons word ook getoets as alles volgens plan verloop en ons suksesvol is. Hoe meer suksesvol ons is, hoe moeiliker is die toets en hoe meer rede het ons om God te dank.

Hierdie vers word gevolg deur ‘n waarskuwing: Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf.  As ons lewens deur die waardes van die wêreld beheer word, haal ons vir onsself die toorn van die Here op die hals. Baie glo dat as ons figuurlik deur die Rooisee getrek het, die sondaar se gebed opgesê het en gedoop is alles tussen ons en God reg is – vir ewig. God is nou verplig om vir ons voorspoed te gee. Intussen vergeet ons van die God wat ons verlos het en aan ons die gawes en vaardighede gegee het – en die geleenthede om te slaag. As ons God nie eer as ons suksesvol is nie, is ons soos die Kanaäniete in Moses se verhaal. Niks ontlok God se toorn soos ondankbaarheid vir sy genade nie.

 




Voorwaarts Christen stryders

 —C.H. Spurgeon

Voorwaarts Christen stryders

Eerwaarde Sabine Baring-Gould was die hulp-predikant van ‘n gemeente in Yorkshire in die noorde van Engeland. Dit was Paasmaandag, ‘n groot dag vir skoolfeeste in Yorkshire. Die plaaslike skool sou kragte met ‘n naburige skool saamsnoer. Die eerwaarde wou hê dat die kinders iets moes sing soos hulle van die een dorpie na die ander gestap het. Daardie nag bly hy wakker en skryf – Voorwaarts Christenstryders was die resultaat.

 

Dit was nooit vir publikasie bedoel nie, maar word gou in Engelse liedboeke ingesluit. In die VSA was dit besonder gewild, want dit was net na die Amerikaanse Burgeroorlog. In 1871 skryf Arthur Sullivan die melodie “St. Gertrude” vir die lied wat dit nog meer gewild gemaak het.

As gevolg van sy militaristiese tema en melodie kry die lied teenstand  – sekere kerkgenootskappe verwyder dit uit hulle liedboeke. Ons moet net onthou dat Paulus aan Timoteus gesê het: Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Jesus Christus (2 Timoteus 2:3). In die Efesiër-brief waarsku hy die kerk: Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel (6:17).

Die woorde van die lied maak dit baie duidelik dat die fokus op ‘n geestelike stryd val – ons vyand is die duiwel en nie mense nie; ons Opperbevelhebber is Christus wie se koninkryk nie kan misluk nie. Ek hou van die weergawe in die Liedboek van die Kerk (Lied 513):

Soek in God jou sterkte; kry by Hom jou krag;

Met sy wapenrusting klee Hy ons met mag …




Die gemeente se uitreikbediening het misluk

. —C.H. Spurgeon

Die gemeente se uitreikbediening het misluk

In die verlede was Suid-Afrika hoofsaaklik ‘n Christelike nasie. Is dit nog die geval? Die kultuursentrum vandag is die markplein en nie die kerkgebou nie. Ons kan nie meer net binne die vier mure van die kerk lewe nie.

 

Petrus se eerste brief is ‘n bespreking van hoe Christene  betrokke kan raak by die wêreld om hulle – ‘n wêreld wat min in gemeen met hulle het. Onthou hy skryf aan Christene wat deur die Romeinse keiser onderdruk word – ‘n wêreld waarin Christene gehaat en mishandel word. Petrus sê vir hulle: Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke  menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is, of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen moet prys. Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, ‘n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat (1 Petrus 2:13 – 15).

Christene is anders as die wêreld om hulle. Petrus noem hulle  vreemdelinge en bywoners. Christene moenie soos die wêreld word nie, maar Christene moet ook nie die ongelowige wêreld om hulle onderdruk nie.

As jy wil misluk as Christen in ‘n post-Christen wêreld, moet jy hierdie riglyne volg (onthou dit is dinge wat jy nie moet doen nie):

  • Moenie betrokke raak by die wêreld buite die kerkmure nie. In die verlede kon Christene nog hulle stempel afdruk sonder om die kerkgebou te verlaat – dit is net nie meer moontlik nie. As jy ‘n verskil in die wêreld wil maak, moet jy buite die kerkmure kom.
  • Moenie kragte met nie-Christene saamspan om iets goed te bereik nie. Ons trek graag grense – met hierdie mense kan ons betrokke raak, maar nie met daardie mense nie. Kry dinge van gemeenskaplike belang en werk saam.
  • Christene moet nooit hulle regering ondersteun nie. Baie Christene weier selfs om vir hulle regering te bid, ten spyte daarvan dat dit ‘n Bybelse opdrag is. Onderwerping beteken nie dat jy met alles wat die leiers doen, saamstem nie.
  • Christene moet altyd hulle liefde vir hulle land en God meng. Nasionalisme is die liefde vir jou land bo alle dinge – dit is ‘n afgod. Jy is eerstens ‘n burger van die koninkryk van God en daarna burger van jou land. Jou eerste lojaliteit is die koninkryk van God.
  • Christene moenie geregtigheid buite die kerkmure nastreef nie – ongelowiges is nie hulle bekommernis nie. Liefde vir jou naaste sluit ongelowiges in. Jy moet almal in nood probeer help – al is hulle nie Christene nie.
  • Christene moet hulle punte maak – nie ‘n verskil nie. Jy gaan niemand verander deur op hom te skreeu nie – jy moet eers oor hom bekommerd wees. Jy moet mense die geleentheid gee om hulle eie gedagtes en menings te deel anders gaan hulle jou nooit genoeg vertrou om na jou gedagtes en menings te luister nie.

Daar is een belangrike beginsel wat beskryf hoe Christene in ‘n post-Christen wêreld optree: Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God God kan verheerlik op die dag van afrekening (1 Petrus 2:12).




Gemeentes se liefde kan uitreik doodmaak

“Lord of hosts! When I swim in the merciful waters of your grace I find that I can neither plumb nor measure the depths.” – Menno Simons

Gemeentes kan uitreik doodmaak

Alle kerke hou van sekere dinge. Dit is gewoonlik goeie dinge soos aanbidding, gebed, ens. Ander hou van dinge soos hulle gebou, hulle geskiedenis of hulle strategie. Maar sekere dinge waarvan gemeentes hou, kan hulle roeping hinder. Hier is ‘n paar voorbeelde:

 

  • Baie gemeentes hou meer van hulle kultuur in die verlede as van hulle huidige konteks. Kom die 1950’s môre terug, is baie kerke onmiddellik gereed. Daar is niks verkeerd met die 1950’s nie … behalwe dat ons nie meer daarin leef nie. Ons moet diegene wat nou en hier leef liefhê; ons moet ophou verlang na hoe dinge in die verlede was. Kontekstualisering is belangrik vir elke gemeente, want ons is geroep om met diegene om ons te praat. ‘n Gemeente moet betrokke raak by die mense om hom.
  • Baie gemeentes verkies hulle gemak bo hulle roeping. Gemeentes moet meer fokus op wat Jesus gelukkig maak as wat hulleself gelukkig maak. Meeste gemeentes het hard gewerk om hulle lidmate gelukkig te maak. Die probleem is dit is nie die gemeente se roeping nie.
  • Baie gemeentes het hulle tradisies liewer as hulle kinders – hulle hou aan om metodes te gebruik wat nie vir hulle kinders relevant is nie. “Tradition is the living faith of the dead, traditionalism is the dead faith of the living.” (Jaroslav Pelikan). Natuurlik moet ons die tradisionele siening van sekere leerstellings bevestig, maar ons moet ook onthou dat ons die aflosstokkie aan ‘n nuwe geslag moet oorgee.

Liefde is goed, maar as ons die verkeerde dinge liefhet, het ons probleme.