Apologetiek: Paulus se preek in Atene (Handelinge 17)

Christians do not think God will love us because we are good, but that God will make us good because he loves us (C. S. Lewis).

Apologetiek: Paulus se preek in Atene (Handelinge 17)

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid (1 Korintiërs 1:22).

Toe Paulus daar aankom was Atene eintlik maar net ‘n provinsiale stad in die Romeinse Ryk. Tog was Atene belangrik weens sy filosofiese erfenis – die plek waar Plato se Akademie was.

 

Paulus begin sy toespraak met ‘n geleidelike inleiding tot die tema van die lewende God. Hy laat toe dat die godsdienstige en filosofiese nuuskierigheid van die Ateners die kontoere van sy uitleg vorm.  Hy begin: Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Dit is sy kontakpunt. Hy verbind met die bestaande Griekse godsdienstige aannames. Dan wys hy vir hulle dat die Christelike godsdiens verder gaan. Wat die Grieke beskou as onbekend (selfs onkenbaar) sê Paulus is deur die opstanding van Christus bekend gemaak. Paulus kan met hulle verstandswêreld en ondervindings verbind sonder om ‘n kompromis met die integriteit van die Christelike geloof aan te gaan.

Hoe verbind hy met die Ateners? Ons moet onthou dat hulle niks van die Ou Testament geweet het nie. Daarom benader hy hulle uit ‘n totaal ander kultuurkonteks. Petrus gebruik die Skrif; Paulus gebruik die boek van die natuur. Hierdie idee het natuurlik diep wortels in die Skrif: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend (Psalm 19:2). Die verwysing na God as Skepper word nou ‘n kanaal om oor die tema van verlossing in Christus te praat.

Paulus is duidelik bekend met die besondere identiteit en kenmerke van sy gehoor. Hy gebruik dit wat hulle glo en plaaslike landmerke as die ankers van sy preek. Hy verwys na mense met wie hulle bekend was – nie Moses en Dawid nie, maar na Aratus, een van die grootste kulturele ikone van sy tyd. Hy was ‘n student van die Stoïsynse filosofie in Atene en wel by die skool wat deur Zeno gestig is. Luister hierna: God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af (Handelinge 17:27 – 28).

‘n Tweede landmerk speel ook ‘n rol in Paulus se benadering: ‘n altaar waarop geskrywe staan: ‘Aan ‘n onbekende god.’ (17:23). Hierdie anonieme altare was algemeen in daardie tyd. Paulus sê dat ‘n god van wie die Grieke  ‘n implisiete en intuïtiewe bewustheid het nou aan hulle bekend gemaak word. Die God wat ons indirek in die natuur leer ken, kan ten volle deur die opstanding van Jesus Christus geken word.

Petrus se benadering tot sy Joodse gehoor sou nie hier gewerk het nie – en omgekeerd. Paulus pas  sy retoriek by die plaaslike situasie aan – hy haal ‘n plaaslike gesagsfiguur (Aratus) aan en gebruik die apologetiese potensiaal van ‘n plaaslike landmerk (‘n altaar aan ‘n onbekende god).

Volgende keer  kyk ons na Paulus se regstoesprake.




Apologetiek: Petrus se toespraak op Pinksterdag (2)

 “The cruelest lies are often told in silence.” Robert Louis Stevenson

Apologetiek: Petrus se toespraak op Pinksterdag (2)

 ‘n Verwysing na die geskiedenis is baie belangrik vir die apologeet – dit verseker binnestanders van die werklikheid van die groot historiese gebeure waarop ons geloof berus. Wat van buitestanders? Die rol van die geskiedenis is belangrik, want dit weerspreek die kritiek van ateïste dat die evangelie opgemaak is – wensvervulling.

Klem op die geskiedenis by die ontstaan van die Christelike geloof wys dat die Christelike geloof ontstaan het as gevolg van die geskiedenis van Jesus.

Geskiedenis beskryf gebeure, maar hierdie gebeure moet geïnterpreteer word. In 49vC lei Julius Caesar sy leër suid uit die huidige Frankryk na Italië. Op ‘n stadium moes hulle die Rubicon-rivier kruis. Hierdie was nie ‘n besonder diep of breë rivier nie. Om oor die rivier te kom was nie fisies besonder moeilik nie. Maar die Rubicon was ‘n belangrike politieke merker: dit was die noordelike grens van die gebied wat direk deur die Senaat in Rome beheer is. As Caesar hierdie rivier sonder toestemming sou kruis, en dit met ‘n leër, is dit ‘n oorlogsverklaring teen Rome. Die kruising van die Rubicon is belangrik, want dit is die begin van een van die bekendste burgeroorloë in die geskiedenis. Iemand wat nie met die destydse situasie bekend was nie, sou nie die volle implikasies van wat Caesar gedoen het, besef het nie. Mense kruis tog elke dag  riviere; leërs kruis elke dag riviere – dit is deel van hulle militêre opleiding. Maar die kruising van hierdie spesifieke rivier op hierdie spesifieke tyd was ‘n oorlogsverklaring.

Ons moenie net vasstel wat gebeur het nie, maar ook hoe die gebeurtenis geïnterpreteer moet word. Ons moet die konteks wat aan die gebeurtenis sy betekenis gee, vasstel. Of dit nou Julius Caesar wat deur die Rubicon trek of Jesus wat aan die kruis sterf en weer opstaan bly die beginsel dieselfde: stel vas wat gebeur het en bepaal die betekenis van die gebeurtenis. Kyk hoe doen Paulus dit: Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word (Romeine 4:25). Sonder enige onderbreking word die historiese feite en die teologiese interpretasie aangebied.

Wat is die betekenis  van Petrus se toespraak op pinksterdag? Ons kan ‘n oortuigende saak  uitmaak dat Jesus die kulminasie van God se werking met sy volk is. Die opstanding van Jesus is die kulminasie  van die baie leidrade wat lei tot die uitspraak dat Jesus die Here en die Messias is. Maar ons kan nie net bewys dat Jesus aan die kruis gesterf en weer opgestaan het nie. Wat is die betekenis hiervan vir ‘n gevalle en verlore wêreld? Die teenoorgestelde is ook waar: ons kan nie net geestelike insigte bevestig nie. Die insigte kry ons in en deur die historiese gebeure. Verstaan ons hierdie gebeure kan ons die dieper geestelike betekenis ook begryp.

Volgende keer kyk ons na Paulus se toespraak in Atene.




Apologetiek: Petrus se toespraak op Pinksterdag (1)

Reason is the natural organ of truth; but imagination is the organ of meaning – C. S. Lewis

Apologetiek: Petrus se toespraak op Pinksterdag (1)

 [Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

Die Christelike geloof het sy oorsprong in Judaïsme. Die verhouding tussen die Joodse en Christelike geloof was belangrik in die vroeë kerk. Christene glo dat die Christelike geloof aaneenlopend met die Joodse geloof was – die God van Abraham, Isak en Jakob was dieselfde God as die God van Christus.

Meeste van die eerste bekeerlinge na die Christelike geloof was Jode. In die Nuwe Testament lees ons gereeld van Christene wat in die sinagoges gepreek het. Die Romeinse owerhede het die Christelike geloof as ‘n sekte van Judaïsme hanteer. Hoe kan die evangelie dan aan Jode verkondig word? ‘n Sentrale saak is duidelik die identiteit van Jesus.

Kom ons kyk na Petrus se toespraak in Handelinge 2. Lukas sê wie die gehoor was: godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem – hulle het daar gewoon. Die dominante tema is die koms van Jesus – eintlik die hele verlossing wat die opstanding van Jesus en die gee van die Heilige Gees insluit. Die basiese struktuur van die toespraak is soos volg:

  • 2:14 – 21: Die merkwaardige gebeure wat voor hulle oë ontvou, kan net verstaan word in die lig van God se beloftes aan sy mense in die Ou Testament. Hierdie beloftes is nou vervul
  • 2:22 – 28: Die bevestiging van Jesus se verheerliking in ooreenstemming met Ou Testamentiese verwagtings Die kontinuïteit tussen die Ou Testament en die koms van Jesus word bevestig. Hierdie voortdurende verwysing na profesieë in die Ou Testament sou vir nie-Jode niks beteken het nie, maar vir Jode was dit van die allergrootste belang.
  • 2:29 – 36: Die bevestiging van die verheerliking van Jesus plus die teologiese interpretasie daarvan: Hierdie Jesus wat julle gekruisig het, is beide Here en Messias.
  • 2:37 – 40: ‘n Oproep tot bekering sodat hulle kan voordeel trek uit die verlossing wat volg.

Die eerste punt: Petrus se apologetiek hou direk verband met temas wat vir die Jode belangrik en verstaanbaar was. Die verwagting van die koms van die Messias was (en is) betekenisvol vir die Judaïsme. Kyk wat doen Petrus:

  • Hy wys dat Jesus aan die spesifieke verwagtings van Israel voldoen.
  • Hy verwys na spesifieke owerhede wat deur die gehoor as gesaghebbend aanvaar word.
  • Die gehoor sou sy taal en terminologie maklik aanvaar en verstaan. Sy verwysing na Jesus as Here en Messias sou sy gehoor verstaan – daarom verduidelik hy nie wat hy hiermee bedoel nie. Wat wel nuut was in Petrus se boodskap is sy aandrang dat die opstanding van Christus die basis is om Hom as Here en Messias te erken.

Let wel: Petrus bevestig nie alleen die dood en opstanding van Jesus nie – hy gee ‘n spesifieke interpretasie daarvan.

Volgende keer gaan ons verder na Petrus se toespraak kyk.




APOLOGETIEK: DIE BELANG VAN DIE GEHOOR

 

Nothing straight was ever made out of the crooked timber of humanity – Immanuel Kant

Apologetiek: Die belang van die gehoor

 [Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

Die evangelieverkondiging moet die geleenthede in die gehoor hanteer. Dit moet verbeeldingryk en kreatief by die gehoor aangepas word. Is dit reg? Ons wil tog immers dieselfde evangelie aan alle mense verkondig.

Die Nuwe Testament self ontwikkel ‘n verskeidenheid apologetiese argumente en style wat duidelik daarop gerig is om verbinding met ‘n spesifieke gehoor te fasiliteer.

Kyk na Paulus se gebruik van die beeld van aanneming as ‘n visuele beeld van versoening. Hy verwag dat sy lesers bekend sal wees daarmee. Maar die konsep van aanneming kry ons nie in die Joodse wet nie. Dit is egter ‘n wetlike kategorie wat aan mense dwarsdeur die Grieks-Romeinse wêreld bekend was. Paulus gebruik hierdie beeld dan in sy briewe aan gemeentes in hierdie wêrelddeel soos Efese en Galate. Geen Nuwe Testamentiese skrywer gebruik hierdie beeld as hy aan ‘n Joodse gehoor skryf nie.

Ons moet onthou dat Paulus sy briewe aan Christene geskryf het – mense wat reeds glo en slegs onderrig, bemoediging en leiding nodig het. Hy dra wel die belange van hierdie nie-Christene op die hart. Hy sê gereeld dat Christene se leefwyse negatiewe gevolge vir sulke mense kan hê. Lees net 1 Korintiërs.

Die twee gedeeltes van die Nuwe Testament wat aanvaar hulle gehore is belangstellende ongelowiges is die evangelies en Handelinge. In die evangelies lees ons van ontmoetings tussen Jesus en individue wat vir ons van groot waarde is. Handelinge skryf van ‘n aantal toesprake en apologetiese benaderings. Ons sien hoe Paulus, Petrus en ander die idees en kommer van ander sosiale groepe direk hanteer. Elkeen van hierdie groepe word in die vroeë kerk verteenwoordig en speel ‘n belangrike rol in die uitreik van die kerk.

Die bekommernisse en benaderings verskil, maar dieselfde evangelie word by elke geleentheid verdedig. Dit word op verskillende maniere oorgedra en bevestig wat bepaal word deur nadenke oor hoe om die evangelie op die mees toepaslike wyse vir ‘n spesifieke groep oor te dra.

Volgende keer gaan ons na Petrus se toespraak op pinksterdag kyk.