In moeilike tye

 

There is no passion to be found in settling for a life that is less than the one you are capable of living.” – Nelson Mandela.

 

In moeilike tye

Ons leef in moeilike tye. 2016 was ‘n jaar vol spanning. Psalm 46 gee aan ons twee waarhede vir moeilike tye. In die psalm praat die Koragiete van vreesloosheid ten spyte van ‘n wêreld wat besig is om te verkrummel. Hulle skryf:

God is vir ons ‘n skuilplek en ‘n bron van krag;

As hulp in benoudheid is Hy maklik bereikbaar.

Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud,

en die berge in die hart van die see wankel nie.

Sy golwe kan maar onstuimig wees en skuim,

berge kan maar bewe in die bruisende watermassa. Sela.

 

Waar kry hulle die krag vandaan om te sê daarom sal ons nie bang wees nie? Meeste van ons sal bewe  as die aarde skud en die golwe onstuimig is. Gebeur dit soek ons skuiling. Vinnige soeke vir skuiling is moeilike tye het soms baie negatiewe resultate.

 

Die antwoord op die vraag waarom hulle nie bang is nie, kry ons in vers 2: God is vir ons ‘n skuilplek en ‘n bron van krag. Omdat Hy ‘n skuilplek is, hoef ons nie ‘n ander een te soek nie. Omdat Hy te midde van al die chaos in die wêreld saam met ons is, sal ons nie bang wees nie. Hier kry ons twee waarhede om aan vas te hou in moeilike tye.

 

  1. God is met ons

In vers 5 – 7 praat die Koragiete van God se blywende teenwoordigheid in die stad by sy mense. Vers 5 praat van die heiligste woonplek van die Allerhoogste. Daar verfris sy teenwoordigheid sy mense soos ‘n rivier wie se strome vreugde aan die stad van God verskaf. Vers 6 sê: God is in haar midde. Dan in vers 8: Die Here, die Heerser oor alle magte, is met ons, ‘n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.

 

Met hierdie woorde word God se fisiese beskerming van Israel – en ons – belowe. Ons fisiese beskerming is verseker as gevolg van die opstanding van Jesus Christus. Hierdie waarhede skep vertroue in God se kinders, want selfs nie die dood kan ons van God, sy goedheid en die liefde van sy Seun skei nie. Hierdie is die eerste waarheid wat ons moet onthou.

 

  1. God is vir ons

Vers 9 – 10 nooi ons uit om te kom kyk na die ongelooflike dade van die Here. Hier kyk die psalmis terug na God se optrede in die geskiedenis teen bose nasies. Hy laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde; Hy breek boë stukkend en verpletter spiese; Hy verbrand waens. Vir diegene wat oorlog maak, is die arm van God nie te kort nie. Ons verstaan dit nie, maar Hy het bose nasies soos Assirië (Jesaja 10) en Babilon (Habakkuk) gebruik om sy doel te gebruik, maar hulle goddeloosheid laat Hy nie ongestraf nie.

 

Vers 11 gaan voort met die tema dat God vir ons is.. Bedaar is ‘n militêre opdrag vir krygsgevangenes om op te hou baklei. Daarna leed ons van God se verheerliking: Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde.

 

Om op te som: Daar is geen mag of persoon of politieke regime wat kan verhoed dat God se heerlikheid die hele aarde en die waters sal bedek nie. Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word (Habakuk 2:14). Hoekom kan ons rustig wees? Want ons hoop berus op God se belofte: Ek is vir julle. Maak nie saak wat gebeur nie, die wêreld sal nooit ons hoop ongedaan kan maak nie.

 

Ons tydelike hoop word vervang deur ons hoop op Hom en sy belofte. Dit moet ons gesindheid wees in ‘n chaotiese wêreld. En met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn (Titus 2:13). Die Christen se hoop word nie deur prinse en presidente bepaal nie. Onthou: God is met ons; God is vir ons. Ook in 2017.

God is vir ons ‘n skuilplek en ‘n bron van krag.

 




God se soewereiniteit; die mens se verantwoordelikheid

There are far, far better things ahead than anything we leave behind – C.S.Lewis

 

God se soewereiniteit; die mens se verantwoordelikheid

Hoe hou ons werk in hierdie wêreld verband met God se werk? Daar is drie moontlikhede.

 

  1. God doen niks nie en ons doen alles

Hierdie mense glo dat daar nie ‘n God is nie en daarom moet hulle volle verantwoordelikheid aanvaar. Baie Christene is praktiese ateïste: kom hulle voor ‘n probleem te staan, probeer hulle dit self oplos. Ons gaan onmiddellik in probleemoplossingsmodus in in plaas daarvan dat ons ons probleme aan God oorgee en vra dat Hy ons moet help.

As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan te maak. Vir dié wat die Here liefhet, gee die Here dit in hulle slaap (Psalm 127:1 – 2).

Salomo se boodskap gaan eintlik dieper: wat is die sin van ‘n nuwe huis of ‘n veilige stad sonder God? Die lewe floreer nie sonder God nie.

 

  1. God doen alles en ons doen niks nie

Christene steek soms luiheid en passiwiteit weg in ‘n geestelike kleed – let go and let God.  Ons sê: “Ek bid vir jou,” in plaas daarvan dat ons prakties help. Maar bevorder Psalm 127 nie juis luiheid nie – dit help nie om vroeg op te staan en laat te gaan slaap nie. Let op: Dit is waar dat God die huis bou, maar daar is steeds mense wat bou; dit is waar dat God die stad beskerm, maar daar is steeds wagters wat waak.  “It is not the will of the Lord that we should be like blocks of wood, or that we should keep our arms folded without doing anything; but that we should apply to use all the talents and advantages which [God] has conferred upon us.” (Johannes Calvyn)

 

  1. God doen alles en ons doen iets

Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (1 Korintiërs 15:58).

Ons moet egter altyd onthou dat ons nooit soveel as God doen nie Ons het God nodig, maar Hy het nie vir ons nodig nie. As ons weet dat God in en deur ons werk, gee dit aan ons die moed en vertroue om meer aktief te wees in die werk wat Hy vir ons beplan het. Paulus stel dit so:

Ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is (1 Korintiërs 15:10).

 

God is soewerein, maar dit beteken nie dat ons nie ook ‘n verantwoordelikheid het nie.

 

 




Psalm 33 (5)

 

“Believers in Christ are great offenders when reformed religion and unreformed life are joined together, as they often are.” — William Perkins

 

Psalm 33 (5)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese Implikasies

Hierdie is ‘n loflied wat lof van begin tot einde dek. Die fundamentele gedagte is dat al die Here se woorde en dade reg, waar, betroubaar en beslissend is (vers 4 – 5). Dit kan in verskillende rigtings ontwikkel word.  Die Here se skepping van die heelal bevestig dit. Hy is oppermagtig en beheer alle gevaarlike magte. Hiermee dien Hy as versekering vir die mensdom. Ons sien ook die Here se betrokkenheid by internasionale gebeure. Ons sien sy oppermag en beheer oor ander volke. Hy stel Israel gerus.

 

Die Here se vermoë om te verlos illustreer dit. Dit bewys ook die onkunde van mense om op ander hulpbronne te vertrou. Daarom is daar ‘n verwagting dat eerbied teenoor Hom betoon sal word. Die Here se betrokkenheid  is nie tot sekere kontekste beperk nie – dit is ‘n vasstaande waarheid van Hom.

 

Die raamwerk van die psalm praat ook van die omvattendheid van ons reaksie teenoor God. Aanbidding vereis dat ons van onsself af wegkyk. Dit behels ook die maak van musiek. Maar as jy eers gesien het wie die Here is, vereis dit ‘n uitdrukking van eerbied, hoop, vreugde en vertroue.

 

Hoe raak hierdie psalm vir my? Ek wat in Christus glo, is net soos die regverdiges van ouds ook deur God gekies as sy volk. Onverdiend. Ek is op grond van Christus se dood van die sonde verlos. Op grond van sy opstanding, is ek regverdig verklaar. Daarom is die opdragte in hierdie psalm ook opdragte aan my: Kom prys die Here. Kom doen dit so goed as wat jy kan.

 

As ek, soos die digter, gaan kyk na God se verhouding met die mensdom, sal ek baie redes hê om Hom te prys. As ek gaan kyk na die verhouding met my as sy kind, sal ek nog meer redes kry om Hom te loof. Doen dit. Dan sal ek bly lag as ander wil treur; bly hoop as ander moed verloor. Dan sal almal kan sien ek bedoel dit opreg as ek sê: Ek vertrou op die Here alleen.

 

Die Woord van die Here is liefde. Dit werk stil, aanhoudend en onsigbaar in mense se lewens. Dit kan selde in oomblikke of datums vasgevang word. Hierdie liefde:

  • Is nuut elke oggend;
  • Is absoluut betroubaar; en
  • Kan dwarsdeur die wêreld gekry word.

 

Die Woord is skeppend. Sedert die skepping het God getoon dat Hy deur sy woord regeer en wonders doen. Die mag van die woord van die Here blyk veral uit die skeppingsgebeure – en dit is nou nog so. Hy werk egter nie na willekeur met die woord nie, maar gebruik dit in diens van en ter bevordering van geregtigheid en reg. Oor die hele aarde laat Hy sy sorg en sy troue liefde vir die volk blyk deur elke plan wat teen Hom en die volk gerig is, te verydel. Dit doen Hy, soos by die skepping, nou nog deur sy woord. Soos wat Hy die seewater met sy woord beheer, beheer Hy die nasies – selfs al is hulle net so onstuimig soos die see.

 

 

 




‘n Nuwe dag

 

Your words are so foolishly and ignorantly composed that I cannot believe you understand them. – Martin Luther

 

‘n Nuwe dag

‘n Rabbi vra sy studente: “Hoe weet ons die nag is verby en ‘n nuwe dag het begin?”

Een student antwoord: “As dit lig genoeg is om tussen die skaaphond en die skape te onderskei.”

Rabbi: “Nee.”

‘n Ander student: “As daar genoeg lig is om tussen ‘n olyfboom en ‘n wingerdstok te onderskei.”

Rabbi: “Nee.”

Studente: “Maar wat is dit dan?

Rabbi: “ As jy in die gesig van ‘n ander mens kyk en daar die gesig van ‘n broer of suster sien. Eers dan is die nag verby; eers dan het die dag gebreek.”