Wat gebeur na Paulus?

O my God, in whose tender embrace there is no contradiction, rain down gentleness on my heart, that I may put up with such people. – Augustine.

Wat gebeur na Paulus?

Handelinge begin met Jesus se hemelvaart, die belofte van die Heilige Gees en die opdrag aan sy boodskappers: Julle sal my getuies wees in Jerusalem  sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (1:8). In Handelinge kry ons dialoë en gesprekke; wondertekens, karakterontwikkeling – absolute transformasie as Paulus tot bekering kom en daarna ‘n baie prominente rol speel.

 

Soms word Jesus se boodskappers vir gode aangesien; soms word hulle gestenig; soms word hulle onthoof. En dan die einde van die boek. Paulus, teen hierdie tyd ‘n bejaarde, nooi die Joodse leiers om hom in sy huis in Rome te besoek sodat hy vir hulle van Jesus Christus kan vertel.

Handelinge skep ‘n raamwerk waarbinne die kerk homself moet verstaan – dit het ‘n vormingsfunksie. Dit antwoord die vraag van die kerk: “Wie is ons en wat is ons veronderstel om te doen?” Lukas gee nie vir ons ‘n lys punte nie; hy gee nie vir ons ‘n boek vol voorskrifte nie. Nee, hy vertel ‘n storie – ons geskiedenis. Die hele boek, veral die einde, dien as rigtingwyser. Wat Paulus in Hoofstuk 28 doen, het geweldige implikasies vir hoe ons vandag Christen kan wees.

Dit is nie ‘n oproep dat almal van ons nou huiskerke moet begin nie. Dit egter belangrik vir hoe ons ons getuienis in hierdie wêreld verstaan. Die Bybelse visie van die uitbreiding van die evangelie is nie helder ligte en ‘n uitstekende klankstelsel nie. Dit is baie eenvoudiger. Dit is om deure oop te maak vir almal wat wil inkom. Paulus nooi mense in sy huis en daar vertel hy hulle die storie van God en wie Jesus was; “Kom in, kry koffie, sit en ek vertel jou wie Jesus was.” Dit is iets wat ons steeds vandag kan en moet doen. Daar waar Paulus opgehou het, moet ons voortgaan.

 

 




Apologetiek: Die basiese temas van Christelike apologetiek (1)

They who wish to become partakers [of a grace] of so great a benefit must be a part of Israel, that is, of the Church, out of which there can be neither salvation nor truth.” – Calvyn

Apologetiek: Die basiese temas van Christelike apologetiek (1)

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

Ons sê dat apologetiek die verdediging van die Christelike geloof is. Wat beteken dit? Van watter take praat ons? Daar is veral drie take van belang:

 

  1. Verdediging

Hier probeer ons vasstel wat die hindernisse vir geloof is. Is dit as gevolg van misverstande of verkeerde voorstellings van die evangelie? Of voel die persoon daar is werklik probleme met die aansprake van die Christelike geloof – hulle is nie waar nie? Verdediging is uiteraard ‘n reaktiewe strategie – ons reageer op ‘n bekommernis van iemand. Waar eerlike vrae in opregtheid gevra word, moet eerlike antwoorde kragtig, maar met beskeidenheid, gegee word.

Almal het verskillende vrae en bekommernisse en vrese. Daarom moet die apologeet sy gehoor ken – watter probleme ondervind hulle met die evangelie? Ons kan nie sommer alles veralgemeen nie. Nie alle probleme is intellektueel nie. The heart has its reasons, which reason knows nothing about (Blaise Pascal, 1623 – 1662). Die probleem kan dus in die verstand (rede) of in die hart lê? Hierdie hindernisse vir geloof, moet geïdentifiseer word en die reaksie moet help om die probleem te oorkom.

Voordat ons die vrae wat ander oor ons geloof vra, kan antwoord, moet ons hulle eers vir onsself kan beantwoord het. Paulus praat van die vernuwing van ons denke (Romeine 10:2). Christene moet nadink oor hulle geloof en antwoorde vir hulle eie vrae ontwikkel. Ons moet die rykdom van ons geloof ontgin. Ons moet ook onthou dat dit nie net mense buite die kerk is wat vrae vra nie. Baie gelowiges ondervind ook probleme met hulle geloof. Dink maar aan: Hoekom laat God lyding toe? Hoe moet ek die Drie-eenheid verstaan?

Christene moet wys dat hulle hierdie bekommernisse verstaan en hulle nie sommer ligtelik van die tafel vee nie. Ons moet hulle met sensitiwiteit en deernis hanteer. Ons moet vrae vra soos: Hoekom is dit vir hulle ‘n probleem? Hoe kan ek hulle help om dinge op ‘n nuwe manier te sien? In apologetiek is my persoonlike gesindheid en karakter baie belangrik. Jy kan die evangelie verdedig sonder om verdedigend te wees. 

Volgende keer kyk ons na twee ander take: aanbeveel en vertaal.

.




Wat is die definisie van ‘n dissipel?

The Church exists to glorify God, to edify believers and to extend the gospel throughout all the nations and the languages of the world — Thomas Murphy, Pastoral Theology

Wat is die definisie van ‘n dissipel?

Daar word baie oor dissipels en dissipelskap geskryf, maar as jy teoloë vra wat ‘n dissipel is, kry jy geen eenstemmigheid nie. Jesus het vir ons ‘n beskrywing gegee van wat ‘n dissipel moet wees. Op ‘n paar plekke sê Hy: As jy my dissipel wil wees, moet jy … Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

 

  • Jy moet die Here bo alles liefhê

As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie, tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe (Lukas 14:25 – 26).

  • Leef in die lig van God se woord

As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak (Johannes 8:31 – 32).

  • Neem jou kruis op

As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg (Lukas 9:23).

Jesus herhaal hierdie stelling by ‘n paar geleenthede. Let op die vooruitgang van die drie elemente: verloën … kruis opneem … volg.

  • Aanvaar die wil van die Vader

Die frase om jou kruis op te neem (Lukas 9:23) beteken dat ons die Vader se wil aanvaar – sonder voorwaardes. Dissipels aanvaar die wil van die Vader net soos Jesus dit gedoen het.

  • Gehoorsaam Jesus

Om Jesus te volg (Lukas 9:23), beteken dat ons op sy pad loop. Dit beteken ons is gehoorsaam aan die Een wat ons volg. Ons moet Hom gehoorsaam al is dit ongemaklik en kos dit ons iets.

  • Jy moet jou medegelowiges liefhê soos Jesus hulle liefhet.

Ek gee aan julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal die wêreld almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes 13:34 – 35).

Liefde vir hulle medegelowiges is ‘n kenmerk van dissipels.

  • Sluit aan by Jesus se sending

My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra, en my dissipels is … Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra (Johannes 15:8 en16).

Een van die kenmerke van dissipels is dat hulle by Hom in sy sending om die wêreld te verlos deur dissipels te maak, aansluit.

Leraars kan oor hierdie teksverse preek, maar dit sal geen verskil maak nie. Kerkleiers moet in die gemeente ‘n omgewing skep – akkurate inligting plus ondervindings – sodat mense die geleenthede het om dissipels te word.




Apologetiek: Inleiding

Such as forsake the Church … wholly alienate themselves from Christ.” – Calvyn

Apologetiek: Inleiding

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

The object of opening the mind, as of opening the mouth, is to shut it again on something solid (G. K. Chesterton)

In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord (apologia) te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking (logos) eis oor die hoop wat in julle lewe (1 Petrus 3:15).

 

Petrus aanvaar dat Christelike idees verkeerd verstaan of verklaar kan word. Hy doen ‘n oproep op sy lesers: stel dit reg. Maar: Doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Die doel is nie om mense buite die kerk kwaad te maak  of te verneder nie. Die doel is om hulle oë oop te maak vir die werklikheid, betroubaarheid en toepaslikheid van die Christelike geloof. Daar mag geen verskil wees tussen die boodskap wat verkondig word en die toon van die boodskapper nie.

As mense probleme met die evangelie het, moet dit wees as gevolg van die intrinsieke aard en inhoud van die evangelie – nie met die manier waarop dit verkondig word nie. Dit is tragies as die evangelie aanstoot gee as gevolg van swak woordkeuse of ‘n aggressiewe en neerbuigende gesindheid van gelowiges teenoor buitestanders. Veral in Handelinge kry ons voorbeelde wat die Christelike geloof verduidelik en verdedig. Kyk na Petrus se toespraak op pinksterdag  waarin hy argumenteer dat Jesus die toppunt van die hoop van Israel – die Messias – is (Handelinge 2). In Handelinge 17 lees ons van Paulus se toespraak in Atene waarin hy argumenteer dat Jesus die toppunt van die mens se soeke na wysheid is.

Hierdie taak om die Christelike geloof te verdedig,duur vandag steeds voort. Vandag staan ons voor nuwe kulturele uitdagings en geleenthede. Dit is maklik om so deur die uitdagings oorweldig te word dat ons glad nie die geleenthede raaksien nie. Dikwels wil ons hulle nie raaksien nie, want ons weet nie hoe om hulle te hanteer nie.

Ek hoop hierdie reeks gaan ons help om die geleenthede raak te sien en ook hoe om hulle te hanteer. Volgende keer gaan ons na die basiese temas van apologetiek kyk.