God sien en hoor alles

As secret worship is better the more secret it is, so public worship is better the more public it is. —Matthew Henry

 

God sien en hoor alles

Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem (Eksodus 3:7)

Wat ‘n bemoediging: ons dien nie ‘n blinde of dowe God nie. Hy is nie onkundig nie;  Hy is nie onverskillig nie – Hy neem ons swaarkry ter harte. Maak nie watter beproewing ek besig is om deur te gaan nie, God weet daarvan.

 

As God weet, gee Hy om; wanneer God omgee, tree Hy op. Net soos Hy sy volk in Egipte uit hulle slawerny verlos het,  het Hy opgetree om ons in Jesus Christus te red. Maak nie saak hoe lank dit neem nie, hoe swaar die lewe ook al is, kan jy van een waarheid verseker wees: God weet,

God sal optree om ons te verlos. Ons moet net geduldig op Hom wag. Al moet jy lank wag, vertrou net. Hierdie wêreld is nie ons tuiste nie. Ons moet verwag om soms swaar te kry. Ons kan egter moed skep, want God se besigheid is om ons te verlos.




Hoekom kan ek nie my foute raaksien nie?

True compassion is more than flinging a coin to a beggar; it is not haphazard and superficial. It comes to see that an edifice that produces beggars needs restructuring. -Martin Luther King, Jr. (1929-1968)

Hoekom kan ek nie my foute raaksien nie?

Baie Christene het ooglopende karakterfoute wat beide hulle vreugde en Christelike getuienis vernietig. Ons natuurlike  deugde is die gevolg van ingebore temperament en opvoeding in die gesin. Deugde, gawes en temperament het ook ‘n donker kant – nie ‘n hart gevul met genade nie, maar met allerlei afgode.

Sonder ‘n deeglike kennis van die evangelie, kyk ons na ander dinge: goedkeuring deur mense, verhoudings, prestasies, mag, selfdissipline, ens. Maar hierdie is tog goeie dinge. Reg, behalwe as hulle vir ons belangriker as God word. Nou gebruik ons ons gawes in diens van afgode.

Mense sien nie hulle foute nie, want hulle konsentreer op hulle deugde. Hoe kan ons hulle wakker skud? Tim Keller gee ‘n paar beginsels wat hy uit die briewe van Newton geleer het:

  • Die ergste karakterfoute is dié wat jy die moeilikste raaksien

Die sondes waarvoor jy die blindste is, waarvoor jy verskoning maak, wat jy minimaliseer, is juis die sondes wat jou in hulle greep het. Ons steek ons foute weg juis daar waar ons temperament soos geestelike vrugte lyk . So kan ‘n natuurlike gawe vir beheer en selfdissipline met getrouheid verwar word en die begeerte om deur mense erken te word met liefde en teerheid verwar word. Ons gee ons geestelike krediet vir hierdie dinge, maar intussen groei ons geestelik niks nie. Die afwesigheid van ander vrugte wys dat ‘n ware transformasie van ons karakter nie plaasgevind het nie.

  • Jy kan nie weet van jou grootste foute net deur daarvan vertel te word nie.

Daar is twee maniere om ons foute raak te sien. Die een manier is deur die probleme in ons lewens. Swaarkry is God se gimnasium – dit ontbloot ons geestelike swakhede net soos oefening ons fisiese swakhede ontbloot.

Ons leer ook by Christelike rolmodelle. Jy word oortuig as jy naby aan iemand leef wat leef soos jy behoort te leef. Jy mag dalk dink jy is nie ongeduldig nie totdat jy in die teenwoordigheid van ‘n baie geduldige persoon kom. Ons moet van hierdie geleenthede om te groei, gebruik maak. Dit is pynlik – om in hierdie mense se teenwoordigheid te wees, maak jou ongemaklik.

  • Wees gewillig om na die teregwysing en kritiek van ander te luister.

Natuurlik gaan ons alles in ons vermoë doen om onsself te regverdig. Hoe moet ons dan optree? Ons moet ‘n gemeenskap skep soos die een in Hebreërs 3:13: Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Kry gelowiges wat jy vertrou en vra hulle om met jou te praat oor waar jy nog moet groei. Jy moet ook leer om te leer uit die kritiek van mense wat verkeerde motiewe het – of selfs by diegene wat jy nie respekteer nie. Al is net 20% van wat hulle sê waar, mag dit God wees wat deur hulle met jou praat.

 In ‘n volgende artikel gaan ons kyk hoe ons hierdie veranderinge wat nodig is, maak.




Kom hoor wat God gedoen het!

The thing that lies at the foundation of positive change, the way I see it, is service to a fellow human 

being. – Lee Iacocca

Kom hoor wat God gedoen het!

In Psalm 65 en 66 roep die psalmis alles wat God gedoen het in herinnering. Hy verwys na God se kragtige dade (65:6) en God se oorvloed – vir mense en diere – as Hy vir die land voorsien. In 66:5 sê hy: Kom hoor wat God gedoen het, kom hoor van sy magtige dade onder die mense.

 

As die psalmis vir ons sê hoe om geestelike genesing te ervaar, sê hy nie vir ons om ‘n TV of nuwe kar of self-help boek te koop nie. Hy sê dat ons God in die natuur wat Hy geskep het, kan kry. Hierdie wêreld van die natuur het dikwels groter skoonheid en vrede – iets wat dikwels afwesig is in ons materiële wêreld.

Watter geneesmiddel skryf God vir ons voor? Groen weivelde en waters waar daar vrede is (Psalm 23:2). Kry ‘n plek waar jy geen mensgemaakte ding kan sien nie. Sit; wees stil en weet wie God is. Moenie vir jou bekommer nie; moenie dink nie. Jou huis, selfoon, ens verheerlik nie vir God nie. Dit wat God gemaak het – stroompies, berge, voëls, bome – verheerlik Hom.

Miskien is baie van ons probleme – ook terneergedruktheid en angs – waarskuwings dat ons lewenstyl nie deur God goedgekeur word nie. As ons terneergedruk en angstig is, is dit miskien weer tyd om ons verhouding met God te herstel. Miskien is groen weivelde en waters waar daar vrede is – God se natuur – die antwoord.

Die Bybel sê dat God elke blom en voëltjie ken. Ons spandeer baie tyd om die name van mensgemaakte dinge te ken. Hoekom? Gee ons nie dalk aandag aan die verkeerde dinge nie? Hierdie is ons Vader se wêreld – miskien moet ons meer aandag daaraan gee. Dink ‘n bietjie daaroor.




Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou

Without the freedom to criticize, there is no true praise. -Pierre Beaumarchais (1732-1799)

Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou

As ek glo dat die tien gebooie as norm vir Christene moet dien, moet ek dit in sy geheel aanvaar – dit is ‘n totale pakket. Die beginsels is absolute opdragte – ongekwalifiseerd. Maar wat dan van die sabbatsgebod? Kan ons hierdie gebod sien as ‘n uitsondering en dit sommer verwyder? Kan ons dit as deel van die seremoniële wette wat in Christus tot ‘n einde gekom het, beskou? Hierdie benadering is onverdedigbaar:

 

  • Die sabbatgebod is ingebed in die tien gebooie as ‘n fundamentele beginsel van die verbondverhouding – soos al die ander gebooie. Ons kan dit dus nie anders as die ander gebooie hanteer nie.
  • In die Eksodus weergawe is die ses plus een ritme fundamenteel tot die kosmiese orde. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as ‘n gereelde rusdag geheilig (Eksodus 20:11).
  • Die oorsprong van hierdie gebod is anders as dié van Israel se  seremoniële wette. Reeds in Eksodus 16:23 – voor die Israeliete by Sinai gekom het – lees ons: Môre is ‘n rusdag, ‘n gewyde sabbat van die Here.
  • Die sabbatgebod is nie primêr ‘n kultiese ordinansie nie. Dit was beide humanitêr (‘n gawe wat aan mense  rus en verfrissing bied van werk) en teologies – dit gee aan Israeliete die geleentheid om hulle teologiese perspektief op die lewe te verklaar (God is die Skepper van alles). Hulle betuig ook hulle vertroue in Hom om op die sewende dag te voorsien en aanvaar die verbondsverhouding. Hulle spreek ook hulle dankbaarheid vir die verlossing uit slawerny en hulle deernis vir die armes uit.
  • Nêrens verklaar die Nuwe Testament dat die sabbatdag in Christus tot ‘n einde gekom het nie. Jesus en die vroeë dissipels het dit onderhou.

Teen die helfte van die tweede eeu het Christene toenemend op die Sondag vir aanbidding bymekaar gekom. Wat hulle gedoen het, was om die sabbat – ‘n dag van rus – te verander in ‘n Sondag waartydens die opstanding en die nuwe lewe gevier is. Soos die sabbat op die sewende dag ‘n teken van die verbond vir Israel was, is die eerste dag die teken van die nuwe verbond vir Christene.

As ons die Sondag onderhou, verklaar ons ook:

  • Ons fundamentele teologiese perspektief op die lewe – God is die Skepper van alle dinge.
  • Ons vertroue in God dat Hy sal voorsien vir hierdie dag.
  • Ons aanvaar dat ons in ‘n verbondsverhouding met Hom staan.
  • Ons betuig ons dankbaarheid dat Hy ons van slawerny bevry het – ons slawerny van sonde.
  • Ons betuig ons deernis vir die armes.

Die Sondag is nie die Sabbat met al sy reëls en regulasies nie, maar die Sondag is ook nie ‘n gewone werksdag nie. Dit is immers die dag waarop ons Jesus Christus se opstanding vier.