Hoe bou ons gelowiges?

What comes into our minds when we think about God is the most important thing about us.”  A.W. Tozer

Hoe bou ons gelowiges?

Believe me … the Church of God will never be preserved without catechesis (Calvyn)

In J. I. Packer en Gary A. Parrett se boek Grounded in the Gospel sê hulle dat kategese ‘n integrale deel van die Christelike groeiproses is. Omdat kategese in baie gemeentes nie meer belangrik is nie, kry ons ‘n geleidelike toename in Bybelse ongeletterdheid.  [Kategese = Godsdiensonderwys deur die kerk gegee, veral aan die jeug en in vraagvorm – HAT.]

 

Hoekom het kategese sy plek in die kerk verloor? Ons leef in ‘n tyd van kitskos – alles moet vinniger gebeur. Die probleem is dat kitskos jou gou vol maak, maar dit is nie ‘n gebalanseerd dieet nie. Dieselfde is besig om in die kerk te gebeur – die kos wat ons kry in die leer- en onderrigproses smaak lekker, maar voed ons nie juis nie.

Goed en wel: ons het ‘n nuwe dieet nodig. Die fondament waarop hierdie dieet gebou moet word, is goeie kategese. Maar nou voer ons ‘n opdraande stryd – ons swem stroomop. Hoekom?

  • In die Weste aanvaar ons nie meer eksterne gesag nie. Die gevolg is dat die waarheid en gesag van God se woord bevraagteken word. Kategese  aanvaar dat daar wel iets soos waarheid wat gesag dra en geleer moet word, is.
  • Daar is ‘n weerstand teen verdere onderrig. Baie Christene glo vandag dat as hulle aangeneem is dit nie meer nodig is om te leer nie – hulle weet nou alles wat hulle nodig het om te weet. Kinders leer ook nie meer die waarhede van die drie-enige God nie, maar net die stories van die Bybel. In ons Bybelstudies soek ons onmiddellik die persoonlike toepassing van die Skrifgedeelte – ons ignoreer die skrywer se siening oor die grootheid, die doel en die misterie van God. Die gevolg is dat ons begrip van wie en wat die God wat ons aanbid werklik is, vaag is. Leer word nou vir ons ‘n onaanvaarbare woord. In so ‘n konteks is kategese onwelkom.
  • Ons is besig. Ons gemeenteprogramme is (oor)vol. Ons sukkel om alles ingepas te kry. Daar is nie plek vir leer nie. Die gevolg: The good is blocking out the best.

As kategese – vir kinders en volwassenes – belangrik is, sal ons hierdie hindernisse moet oorbrug.




Ek is bekommerd – en kla

If you once love Him, you will study to please Him.” – John Newton 

Ek is bekommerden kla

Vit baie van ons voel dit of die las wat ons elke dag moet dra swaarder en swaarder word; ons te-doen lysies word langer en langer; ons verantwoordelikhede raak meer en meer. Ons is so bang ons vergeet om iets te doen en dan word dit nie gedoen nie. Ons wil so graag alles onder beheer hou.

Ek kan tog nie elke klein besonderheidjie in my lewe orkestreer nie – ek kan tog nie vir alles beplan nie. As dinge dan nie uitwerk soos ek dit beplan het nie, word ek bang, In plaas daarvan dat ek die dinge waarvoor ek bang is, beheer, beheer vrees my. Maar ons is tog nie werklik in beheer nie – God is.

In sommige kringe het om te kla ‘n statussimbool geword – wie se lewe is die besigste en wie het die meeste om oor te kla. Om die waarheid te sê ons raak bekommerd as ons nie iets het waaroor ons ons moet bekommer nie!

In sy bergrede praat Jesus oor die sorge van die lewe (Matteus 6:25 – 34). Vertroue is die teenoorgestelde van bekommernis. Om te vertrou beteken dat ek alles glo wat Jesus Christus oor Homself gesê het. Luister net hoe stel die psalmis dit: Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ‘n toevlug. Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here,  laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie (9:10 – 11). Dit beteken ons moet terugkyk op ons lewenspad en sien waar Hy  ons oral in die verlede versterk het. Ons weet wat Hy gesê het, en daarom kan ons die toekoms met vertroue tegemoet gaan.

Daar is baie waaroor ons ons in hierdie lewe kan bekommer. Daar is egter altyd meer redes om te vertrou. God was getrou in die verlede Omdat Hy sy eie Seun gestuur het om ons van sonde te verlos, kan ons Hom met ons bekommernisse en vrese vertrou. Wanneer die lewe se onverwagte uitdagings dreig om ons te oorweldig, wanneer ons bekommerd is en snags wakker lê, moet ons na die kruis kyk en glo en vertrou op dit wat God reeds gedoen het en wat Hy gesê het Hy nog sal doen.

Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle (1 Petrus 5:7).

 




Die gelykenis van die verlore skaap

“A little knowledge of God is worth more than a great deal of knowledge about Him.” J. I. Packer

Die gelykenis van die verlore skaap

Hierdie gelykenis is die eerste van drie opeenvolgende gelykenisse waarin ons die hart van God sien: Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is (Lukas 19:10).  Hierdie gelykenis daag ons uit om na ons eie harte te kyk en God se hart te sien – en met deernis na ongelowiges uit te reik.

 

Hierdie gelykenis kom net nadat die Fariseërs en skrifgeleerdes gekla het dat Jesus sondaars ontvang. Hierdie gelykenis eindig met die blydskap oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie (Lukas 15:7). Maar nou kom Paulus en hy sê: Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (Romeine 3:10). Die stelling in Lukas 15:7 verwys dus na mense wat dink hulle is regverdig en nie bekering nodig het nie. Ons is regverdig, nie oor dit wat ons self doen nie, maar oor dit wat God in genade vir ons gedoen het.

In hierdie gelykenis stel Jesus die gekla van die godsdienstige elite teenoor die blydskap in die hemel oor die een sondaar wat tot bekering gekom het. Ons sien die intense fokus van God op diegene wat nog verlore is. Dit herinner ons daaraan dat God nie net in ons belangstel nie, maar  dat Hy ook belangstel in diegene wat Hom nog nie ken nie. Net nadat Jesus Hom as die goeie herder geopenbaar het, sê Hy: Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie Ek moet hulle ook lei Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder  (Johannes 10:16).

Die verlossingswerk wat God in ons begin het, was nie bedoel om by ons te eindig nie. Ons moet altyd onthou dat ons ‘n God dien wat voortdurend op soek is na die een verlore skaap. Die verbasende is dat God ons gekies het om sy ambassadeurs te wees om sy sending op aarde  te vervul. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou (2 Korintiërs 5:18 – 20).

In die gelykenis laat die herder die 99 skape in die veld staan en soek die verlore een. In vers 4 is daar ‘n belangrike vraag: Wat doen hy dan?  Jesus wil sy hoorders tot optrede dwing. Sal hulle ook die 99 los en die verlore een gaan soek? As ons God wil volg, moet ons sekere dinge los en diegene wat nog nie met Hom versoen is nie, gaan soek. Ons moet ons gemaksones en selfsugtige begeertes agterlaat en by God aansluit op soek na verlore skape.

 




Gasvryheid – die goue reël

A test of your love for God is to examine your love for others.” Henry Blackaby

Gasvryheid – die goue reël

Ons het die goue reël so ‘n bietjie aangepas: “Ons sal aan ander doen soos ons aan onsself sou gedoen het … al daardie ander moet dus hou van dit waarvan ons hou!” Dit is beslis nie wat Jesus bedoel het nie.

 

As dit kom by gasvryheid moet die gemeente besluit of dit meer belangrik is om die gemeenskap te bereik of belangriker is om aan die lidmate se voorkeure en begeertes te voldoen. Organisasies wat bestaan vir hulle lede noem ons ‘n klub – nie ‘n gemeente nie. Die kerk bestaan uitsluitlik vir diegene wat nog nie hier is nie. Natuurlik moet die kerk relevant wees vir die lidmate, sodat  hulle die Groot Opdrag kan uitleef.

Die reëls van gasvryheid in die gemeente is: Jy sal nie:

  • Jou gaste in die verleentheid stel nie
  • Jou gaste verwar nie
  • Jou gaste ignoreer nie
  • Jou gaste oorweldig nie.

Dit klink vir ons ‘n bietjie vreemd. Kom ons kyk nader na hierdie vier punte:

Jy mag jou gaste in die verleentheid stel as:

  • Jy hulle tydens die diens identifiseer of uitsonder – “Laat al ons gaste opstaan sodat ons hulle kan groet.”
  • Hulle nie weet waar om die ruskamers te kry nie.
  • Almal om hulle die woorde wat opgesê moet word, ken behalwe hulle.
  • Almal om hulle staan of sit of kniel en hulle staan soos ‘n seer vinger uit.
  • Almal gesels met mekaar as hulle na die diens tee drink – behalwe hulle.
  • Hulle verdwaal in die gebou.

‘n Gas word verwar as:

  • Dit wat op die skerm verskyn nie is wat tans besig is om te gebeur nie.
  • Die res van die gemeente weet wat om te doen, net hulle nie
  • Hulle nie weet hoe om nagmaal te gebruik nie.

‘n Gas voel dat hy geïgnoreer word as:

  • Niemand met hom praat nie
  • Net die plekaanwysers met hom praat
  • Mense nie met hulle oogkontak maak nie
  • Selfs die leraar praat nie met hulle nie.
  • Niemand praat met hulle as almal na die tyd tee drink nie.

‘n Gas word oorweldig as:

  • Hulle tydens die diens geïdentifiseer en uitgesonder word.
  • Te veel mense op hulle afstorm om hulle te groet en te verwelkom
  • Daar van hulle verwag word om met vreemdelinge hande te houvas.

Hier is baie waarheid in baie van hierdie dinge.