Deuteronomium 4:32 – 40

The Saving Knowledge of God is not the result of the human search for him, or of building up logical inferences to him from the natural order, still less of erecting such access to him through experience, but of his self-disclosure to us in his Son and through his Word.” – David Wells

Deuteronomium 4:32 – 40

Moses is besig om met die volk op die vlaktes van Israel te praat. Daniel Block, in sy kommentaar oor Deuteronomium, maak ‘n baie interessante stelling oor hierdie gedeelte. In die NIV bestaan hierdie gedeelte uit 163 woorde. Moses gebruik 109 woorde om die verhaal van Israel se ondervinding van God se genade te vertel; hy gebruik 26 woorde om teologies oor die gebeure na te dink; hy sluit af met 26 woorde van toepassing.

 

Hy vergelyk dit dan met vandag se preke. In hulle poging om prakties te wees, ontwikkel predikers nie die verhaal van God se genadige verlossing nie – of vertel dit in enkele verbygaande woorde. Daarom kan hulle ook nie die teologiese implikasie van die verhaal uitwys nie. Hulle spandeer meeste van hulle tyd aan afgesaagde (alledaagse) en oppervlakkige toepassings.

Hierdie teks herinner ons daaraan dat ons etiek uit ons teologie voortvloei wat op sy beurt uit die gedagtenis aan God genadige ingryping in die geskiedenis van die mens vloei. Ons verloor nie net die teologie nie, maar ook die verhaal. Daarom moet ons God se verlossingsoptrede beklemtoon. Daarom moet ons preek van Christus wat gekruisig is. In die kruis alleen is daar hoop vir verlossing. Die kruisiging van God was nie net ‘n interessante en unieke geskiedkundige gebeurtenis nie. Dit was ‘n diepgaande  teologiese gebeurtenis, want deur die dood en opstanding van Jesus word sy goddelikheid verkondig (Romeine 1:2 – 6). Paulus skryf in Filippense 2:7 – 11: Maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.

As God se verlossing van die Israeliete uit Egipte baie goddelike krag nodig gehad het, hoeveel meer krag was nodig om ons van die duisternis en sonde te red. Dit is wat Jesus vir ons bewerkstellig het.. Daarmee bewys Hy dat Hy God is. Ons is verlos en daarom moet ons ons in vreugdevolle gehoorsaamheid aan Hom toewy. Daarom lees ons: As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer (Johannes 14:15)

 




Vergeet God? Psalm 119:49

. —Peter Marshall

Vergeet God? Psalm 119:49

Onthou tog u woord aan my, die woord waarop U my laat hoop het (NAV)

Dink aan die woord aan u kneg, omdat U my laat hoop het (OAV)

Onthou tog al die dinge wat U vir my, u dienaar, gesê het; ek hou met my lewe daaraan vas (Die Boodskap)

 

Onthou tog. Vir wie moet jy dit sê? Vir mense wat vergeet. Ons sou tog nie dink dat ons vir God moet herinner nie – God vergeet mos nie. Ongelukkig is die skrywer van Psalm 119 nie die enigste persoon wat God daaraan herinner dat Hy moet onthou nie. Baie mense in die Ou Testament voel dat hulle God moet herinner om te onthou:

  • Moses: Dink aan wat U met ‘n eed beloof het aan u dienaars (Eksodus 32:13)
  • Simson: Here my God, dink tog aan my (Rigters 16:28)
  • Hanna: As U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie (1 Samuel 1:11)
  • Salomo: Dink aan wat U toegesê het aan u dienaar, Dawid (2 Kronieke 6:42)

Daarby kan ons nog Hiskia (2 Konings 20:30), Nehemia (1;8 en 5:19), die psalmis (Psalm 74:2 en 89:51) en die skrywer van Prediker (Prediker 5:1) voeg.

Dink al hierdie mense nou dat God vergeet? Ek weet nie, maar wat ek wel weet, is dat ons maar by God kan pleit dat Hy sy beloftes sal nakom. Hoekom sê al hierdie mense dan dat God moet onthou?

  • Omdat Hy vergeet?
  • Omdat dit soms lyk asof Hy vergeet?
  • Omdat die psalmis vergeet het dat God nie vergeet nie?

Die antwoord is waarskynlik omdat dit soms lyk asof God vergeet. Daar is een groot verskil: ek word kwaad as mense my aan iets herinner  – vertrou jy my nie om te onthou nie. God word nie kwaad nie. As Hy sou kwaad geword het, sou so baie mense Hom nie daaraan herinner het om te onthou nie. 

Let ook daarop dat die psalmis nie arrogant is nie – hy verwys immers na homself as God se dienaar of kneg.

Hierdie is die eerste vers in die sewende gedeelte – Sajin – van Psalm 119.




Die gebed van die gelowige het ‘n kragtige uitwerking

Talk about God can become dreary and lackluster if God isn’t in you.” Billy Graham

Die gebed van die gelowige het ‘n kragtige uitwerking

Die gebed van die gelowige het ‘n kragtige uitwerking. Elia was ‘n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande nie gereën nie. Toe het hy weer gebid,en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer (Jakobus 5:16 – 18).

Hierdie is ‘n interessante gedeelte. Onmiddellik kom twee vrae na vore:

  • Wat beteken dit om gelowig te wees sodat my gebed ‘n kragtige uitwerking  kan hê? Baie eenvoudig: my verhouding met God is reg. Ek het God lief, en ek dien en aanbid Hom. God is die bron van my vertroue en ek loop die pad van geregtigheid. My gedrag en optrede getuig daarvan dat my verhouding met God reg is. Die gebed van die gelowige het ‘n kragtige uitwerking, want hy leef in ooreenstemming met God se plan en wil en doel.
  • As die gebed van die gelowige ‘n kragtige uitwerking het, wat dan van die gebed van die ongelowige? Het dit geen uitwerking nie? Die antwoord is eenvoudig: die persoon wat nie vir God liefhet en dien en aanbid nie, het geen krag nie. So ‘n persoon is totaal onbewus van God se plan en doel en wil – hy soek nie die koninkryk van God nie. God sal nie ‘n gebed verhoor wat teenstrydig met sy wil is nie.

Die gevolge van wat Jakobus hier sê en impliseer, is dat as ek wil hê dat my gebede ‘n kragtige uitwerking moet hê, moet ek my verhouding met God regstel.




Febe, die briefdraer

The devil will let a man prepare a sermon if that will keep him from preparing himself. —Vance Havner

Febe, die briefdraer

Ek beveel ons suster Febe wat dienaar is in die gemeente in Krencheë, by julle aan. Ontvang haar soos dit mense wat in die Here glo, betaam, en staan haar by in enige saak waarin sy julle hulp nodig kry, want sy was vir baie, ook vir my, tot steun (Romeine 16:1 – 2)

Ons weet dat sy Paulus se brief aan die Romeine vir hulle geneem het. As ons aan iemand wat ‘n brief moet aflewer dink, dink ons aan ‘n koerier wat dit vir ons gaan aflewer. So maklik was dit nie. Wat was haar rol?

 

Ons weet Febe was aan Paulus bekend en dat sy ‘n rol in die leierskap van die kerk beklee het. Die woord wat hier met dienaar vertaal word, kan ook met diaken vertaal word. Paulus vertrou ‘n baie belangrike brief aan haar toe.  Die volgende fase van Paulus se bediening hang van hierdie brief af. Sy vervul ‘n ongewone rol vir ‘n vrou – ‘n briefdraer. Beteken dit sy lewer die brief af en alles is afgehandel? Nee, sy vervul die belangrike rol om te verseker dat die brief reg verstaan word. Sy moes ook vrae beantwoord. Sy was dus ook ‘n “gesagvolle interpreteerder.”