Die leuens wat die kerk vertel (6)

Who is the Holy Spirit? The Holy Spirit is the Spirit of God and is called the third person in the Trinity. Is the Holy Spirit divine? Yes, the Holy Spirit is GodJohn Broadus

Die leuens wat die kerk vertel  (6)

Steve Hill (Spiritual Avalanche) beskryf hoe hy in ‘n whiteout beland het. Dit is waar die sigbaarheid skielik verminder as gevolg van sneeu. Hy voel dit is wat vandag in die kerk gebeur. Die verwysingspunte – die antieke landmerke – is bedek en ons sien hulle nie meer nie. Dwaalleer en waarhede word vermeng en lidmate word gedisoriënteerd – selfs blind.

 

Ons kyk nou na Hill se laaste twee leuens.

  • Verwerping van die hel

Nêrens sien ons die bevraagtekening van God se Woord duideliker as wanneer dit kom by die onderwerp van die hel en toekomstige oordeel nie. Ons verkondig ‘n ongebalanseerde evangelie – beklemtoon God se liefde en genade en ignoreer sy oordeel en geregtigheid – ons het  geen plek meer vir die hel in ons teologie nie. Hoekom gebruik Jesus dan sulke sterk taal soos hierdie: Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande kners (Matteus 8:12)? Hoekom sê Jesus: Want dit is beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland (Matteus 5:30)? Hoekom waarsku ander skrywers ons herhaaldelik oor die oordeel wat kom (Efesiërs 5:1 – 6)?

Dit is iets heeltemal anders om die aard van die toekomstige oordeel wat diegene wat die evangelie verwerp, gaan tref, te bespreek as om dit te verwerp. Wat ons wel weet van die toekomstige oordeel  is dat dit onomkeerbaar is en dat die gevolge aaklig en permanent gaan wees. In Openbaring 20:11 – 15 lees ons van die laaste oordeel voor die groot wit troon. Maar moderne dwaalleraars het besluit om alle verwysings na oordeel en die hel uit die evangelie te verwyder.

  • Universele versoening

Hierdie mense glo dat almal uiteindelik  gered sal word en in die hemel kom – Jesus het immers vir almal aan die kruis gesterf. Daar sal toekomstige lyding wees, maar dit is toetsing en nie straf nie. Uiteindelik word almal gered. Hierdie mense verwys na ‘n vers soos Kolossense 1:20: Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Hulle wys ook daarop dat soos almal in Adam gesterf het so sal almal in Jesus leef (Romeine 5:12 – 21).

Dit is duidelik dat die gelowige se fondament besig is om weggekalwe te word en as die storms kom, sal die huis inmekaar stort. Hierdie vals leerstellings is nie meer ‘n sagte briesie nie, maar ‘n sterk wind – dit het ‘n dodelike whiteout geword. As ons toelaat dat hierdie verdraaiings van die evangelie voortgaan, kan ons in ‘n sneeustorting beland wat alles wat vir ons kosbaar is, vernietig.




Augustus Toplady

Expand Thy wings, celestial Dove, brood o’er our nature’s night; on our disordered spirits move, and let there now be light.” Charles Wesley

Augustus Toplady

Augustus Toplady is in 1740 in Engeland gebore. Sy vader was ‘n Koninklike Marinier en is kort na sy seun se geboorte oorlede. Toe hy 15 jaar oud was woon hy  ‘n Metodiste herlewing in ‘n Ierse skuur by en kom tot bekering. Later word hy oortuig dat die Calvinistiese perspektief beter was en word ‘n predikant in die Anglikaanse Kerk. As gevolg van sy sterk onderskrywing van die uitverkiesingsleer bots hy met John Wesley – ‘n rusie wat soms maar lelik was. Hy sterf toe hy 38 jaar oud was aan tuberkulose.

 

Hoekom is Toplady vir ons belangrik? Hy het ‘n lied geskryf wat die evangelie kragtig kommunikeer: Jesus, Rots vir my geslaan (Rock of Ages). In 1923 sê Benson dat hierdie lied in meer Engelse liedboeke opgeneem is as enige ander lied – Kersliedere uitgesluit.

Die eerste vers is in 1775  in The Gospel Magazine gepubliseer en die hele lied die volgende jaar in Toplady se boek Psalms and Hymns for Public and Private Worship. Daar is ‘n verhaal dat Toplady hierdie lied geskryf het toe hy tydens ‘n storm in ‘n rotsskeur skuiling gesoek het. Hierdie verhaal is waarskynlik nie waar nie.

Maak nie saak wie of wat Toplady geïnspireer het nie, die lied bly ‘n seëning vir baie mense. Dit bly ‘n getuienis van die groot offer van ons Verlosser en ‘n bemoediging vir gelowiges wêreldwyd.

Jesus, Rots vir my geslaan,

Laat my nie verlore gaan!

U was self van God verlaat.

Laat U lyding sonder maat,

my tot heil wees en tot krag,

teen die sondeskuld en mag.

En ek self- wat kan ek doen

Om my sonde te versoen?

Sou my hart met ywer gloei,

sou my trane ewig vloei –

Nog gebede, nog geween

Kan my red Heer; U alleen.

Die volledige lied – al vier verse – is Lied 239 in die Liedboek van die Kerk.




Praat, Here, u dienaar luister!

“The church becomes irrelevant when it becomes purely a human creation. We are not all we were made to be when everything in our lives and churches can be explained apart from the work and presence of the Spirit of God.” – Francis Chan

Praat, Here, u dienaar luister!

Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!” En Samuel sê: “Spreek, Here, u dienaar luister!” (1 Samuel 3:10)

Ek moet bid dat die Here my leer om te luister. 

Die wêreld is so besig en raas so baie en my ore is al moeg van al die klanke wat gedurig op my aanrol. Gee my die insig van die jong seun Samuel toe hy gesê het: Praat, Here, u dienaar luister. Gee my die vermoë om te hoor as U in my hart praat. Laat ek gewoond word aan die klank van u stem – ook as die klanke van hierdie aarde stil word. Al wat dan oorbly is die klanke van u stem wat praat. Amen.

Hierdie is ‘n gebed van A. W. Tozer uit sy boek: The Pursuit of God

 




‘n Gebrekkige boodskapper met ‘n volmaakte boodskap

The Christian’s life in all its aspects—intellectual and ethical, devotional and relational, upsurging in worship and outgoing in witness—is supernatural; only the Spirit can initiate and sustain it. So apart from him, not only will there be no lively believers and no lively congregations, there will be no believers and no congregations at all.” – J. I. Packer

‘n Gebrekkige boodskapper met ‘n volmaakte boodskap

En my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel (2 Kronieke 7:14).

Ek dink ons almal sal saamstem dat ons land ‘n herlewing nodig het. Natuurlik kan ons nie ‘n herlewing bring nie, maar ons kan bid vir een. Dit is wat ons ook in bogenoemde vers lees – God sê vir sy volk om berou te hê en te bid.

 

Jona gaan na Nineve met ‘n duidelike boodskap: Nog net veertig dae en Nineve word verwoes (3:4). In hierdie boodskap is daar geen belofte van vergifnis nie – God se liefde word glad nie eers genoem nie. Jona sê basies vir hulle dat hulle almal gaan sterf. Hierdie boodskap het Jona glad nie gepla nie – hy gee nie om nie.

Maar die mense glo vir Jona en toon berou – hulle vas en trek rouklere aan.  Selfs die koning trek rouklere aan en gaan sit op ‘n ashoop. En dan lees ons: Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie (3:10).

Hierdie was seker die grootste herlewing in die geskiedenis van die mensdom. En dit het alles met ‘n  boodskap gebring deur ‘n gebrekkige boodskapper begin. Ons is almal gebrekkige boodskappers, maar ons het ‘n volmaakte boodskap om te bring – die goeie nuus van Jesus Christus. Anders as Jona kan ons vir mense sê dat God hulle liefhet en dat Hy hulle sal vergewe. Ons moet ook vir hulle sê dat as gevolg van hulle sonde hulle los van Hom staan. As hulle hulle rug op hulle sonde draai en hulle geloof in Jesus Christus plaas, kan hulle vergewe word.

Ons kan nie ‘n herlewing teweeg bring nie, maar ons kan vir een bid. Ons is gebrekkig, maar ons het ‘n volmaakte boodskap. Die uitdaging vir ons is: Moenie jouself isoleer nie – infiltreer.