Die Bybel is ‘n verhaal!

If words are to enter men’s minds and bear fruit, they must be the right words shaped cunningly to pass men’s defenses and explode silently and effectually within their minds. -J.B. Phillips, skrywer en predikant (1906-1982)

 Die Bybel is ‘n verhaal!

Die Bybel vertel vir ons ‘n verhaal. Die Bybel is nie ‘n gefragmenteerde skatkis van geskiedenis, poësie en etiese riglyne nie. Dit is ‘n ware verhaal wat betekenis aan ons lewens gee – aan ons daaglikse lewe. Hierdie verhaal is nog nie afgehandel nie. Die boek Openbaring sê vir ons hoe hierdie verhaal gaan eindig, maar ons is nog nie daar nie.

 

Elkeen van ons het ‘n rol te speel in hierdie verhaal. Ons sal hierdie rol slegs kan vervul as ons hierdie verhaal as die waarheid aanvaar. As ons dit doen, gaan ons hele lewe deur hierdie verhaal verander  en gevorm word. Hierdie is die verhaal van God, die wêreld wat Hy gemaak het en sy ongelooflike verlossingsplan.

Hierdie verhaal begin by Genesis 1 en 2. Dit is die fondament waarop die res van die Bybel gebou word. Hier lees ons van die wêreld soos hy veronderstel was om te wees. God het hierdie wêreld gemaak soos Hy dit graag wou hê: sonder sonde, volmaak en alles wat Hom verheerlik.

 Ek wil ‘n paar blogs gebruik om iets oor hierdie Bybel te sê. Daar is veral drie vrae wat ek wil hanteer:

  • Hoe bestudeer ek die Bybel?
  • Hoekom het God die Bybel vir ons gegee?
  • Kan ek die Bybel verkeerd lees?

Volgende keer kyk ons na die eerste vraag: Hoe bestudeer ek die Bybel?

 




Deelname is die nuwe uitmuntendheid

It is evident that our conversion is sound when we loathe and hate sin from the heart. –Richard Sibbes

 Deelname is die nuwe uitmuntendheid

As jy wil sien dat mense geestelik groei, moet jy maniere ontwikkel om hulle te laat deelneem. Deelname beteken nie net dat ek hulle by bestaande gemeenteprogramme inskakel nie. Nee, ons moet hulle toerus sodat hulle kan sien wat God besig is om rondom hulle te doen en hulle dan aan te moedig om by God in daardie werk aan te sluit.

 

 Prestasie teenoor deelname

Uitmuntendheid is dié prioriteit vir baie bedienings. Doen jy dit nie beweeg mense na ‘n ander kerk met beter programme. Maar uitmuntendheid kan probleme skep.  Lê ons al ons klem op uitmuntendheid kan mense begin dink dat die gemeente die voorsiener van godsdienstige dinge en dienste van die hoogste kwaliteit is. Lewer net ‘n uitmuntende geestelik produk en jy sal mense trek. Maar wat gebeur as jy hulle nou het? Deur die klem op uitmuntendheid te plaas, kondisioneer ons mense om kritiese verbruikers van godsdienstige sake en dienste te word. Ons leer hulle om te verbruik … nie om deel te neem nie.

 Maar Jesus roep ons nie om verbruikers te wees nie – Hy roep ons om deelnemers te wees met dit waarmee Hy in hierdie wêreld besig is. Sonder deelname kan ons nie groei as volgelinge van Hom nie. Deur passief ons geloof te ontvang, beteken dat ons geen geestelike spierkrag opbou nie. Jy kan nie jou geestelike groei uitkontrakteer aan leraars nie. Dit is iets wat net jyself kan doen. Daarom moet gemeentes ruimte skep vir lidmate om deel te neem anders gaan ons hulle geestelike groei afstomp.

 Deelname is die nuwe uitmuntendheid. Aktiewe deelname is die enigste manier waardeur betekenisvolle deelname sal groei. Deelname  versterk mense se geloof in God, want hulle besef hulle speel ‘n noodsaaklike rol in die werk wat God besig is om te doen. Die vraag wat kerkleiers moet vra, is: Hoe kan ek lidmate se deelname verhoog? Hoe kan ek lidmate van verbruikers na deelnemers, van passiewe toeskouers na dissipels, skuif? Die ideaal is ‘n gemeente waar elkeen aan God se sending deelneem.

 




Ons leef in twee koninkryke

Wisdom is the reward you get for a lifetime of listening when you’d rather have been talking – Aristoteles

Ons leef in twee koninkryke

Hoe kan Christene tegelykertyd in ‘n wêreldse en Goddelike koninkryk leef? Wat beteken dit as ek sê dat ek ‘n burger van God se koninkryk is? Wat gebeur as hierdie twee koninkryke bots? In Romeine 13 lê Paulus ‘n stel beginsels neer: Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom aangestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry. ‘n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerhede lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys, want die owerheid is ‘n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie.

 As twee aardse koninkryke bots lei dit dikwels tot oorlog. Maar in die Bybel leer ons baie van die koninkryk van God en die verhouding van hierdie koninkryk met aardse koninkryke. Soms bots hulle. Die sentrale punt in Jesus se prediking was dat die koninkryk van God gekom het: Ek moet ook aan die ander dorpe die evangelie van die koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur (Lukas 4:43).

 

 Die Ou Testament, veral die boeke van die profete, leer vir ons duidelik dat iewers in die toekoms ‘n dag sal kom wanneer die koninkryk van God ‘n nuwe tydperk sal inlei. In die Ou Testament word die geskiedenis van die heelal in twee tydperke verdeel: die huidige en die tydperk wat nog sal kom.

 In Jesus se tyd het mense steeds vooruit gekyk  na hierdie tydperk wat nog moet kom. Ons kyk ook vooruit na die tyd wanneer God alles weer nuut gaan maak. Maar Jesus het ‘n dramatiese aanpassing aan hierdie siening gemaak: Hy leer dat die koninkryk van God reeds gekom het. Die werklikheid is dat Christene reeds in die koninkryk van God leef.  Dit dit beteken dat ons lewens radikaal verander het.




Die kerk en geestesongesteldhede

When you are angry, you will make the best speech you will ever regret.” –William Ury

 

Die kerk en geestesongesteldhede

Die afgelope aantal dae word daar baie oor hierdie onderwerp geskryf. Rick Warren se seun Matthew het selfmoord gepleeg as gevolg van ‘n geestesongesteldheid – waarskynlik depressie. Die vraag: Is die kerk en Christene voorbereid om geestesongesteldhede te hanteer?

 

 

Baie jare gelede is gesê dat geestesongesteldhede die gevolg van sonde of demone of ‘n gebrek aan geloof is. Hierdie dinge is werklikhede, maar geestesongesteldhede is ook ‘n werklikheid. Hulle is nie dieselfde ding nie. Kerke se reaksie op geestesongesteldhede kan ten beste as verwarrend beskryf word.

 

Wat moet gemeentes en Christene doen?

  • Ons moet ophou om geestesongesteldhede weg te steek – praat openlik daaroor.
  • Die gemeente behoort ‘n veilige hawe te wees vir diegene wat probleme het.
  • Moenie bang wees vir medisyne nie.
  • Dit is nie nodig om skaam te wees as jy ‘n geestesongesteldheid het nie – jy is tog nie skaam as jy longontsteking het nie!

 

Hier is ‘n paar dinge wat ons moet onthou:

  • Daar is elke week mense in die kerkbanke – en leraars – wat een of ander geestesongesteldheid of depressie het.
  • Christene weet dat God verwag dat hulle ander mense sal liefhê. Dit geld vir almal, ook vir diegene wat ons nie verstaan nie.
  • Christene aanvaar dat mediese behandeling vir geestesongesteldhede van waarde is.
  • Deernis en versorging help hierdie mense om te weet hulle hoef nie weg te kruip nie.
  • Geestesongesteldhede het niks met jou of jou gesin se geloof te doen nie – almal kan dit ontwikkel.

 

Hierdie dinge lyk vanselfsprekend, maar dit is nie. Ons moet weer en weer daaraan herinner word. Dit is baie belangrik om te onthou dat geestesongesteldhede nie net die individu raak nie, maar die hele familie. Beide individue en families moet weet en voel dat God en die kerk hulle, te midde van hulle probleme, liefhet.

[Ek het onder andere van Ed Stetzer se blog gebruik gemaak.]