Dissipelskap: Hoekom is dit belangrik?

The more a man studies to approach God, the more he proves himself to be endued with reason.” ~ Johannes Calvyn 

Dissipelskap: Hoekom is dit belangrik?

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs.

Die onderwerpe wat ek in hierdie reeks gaan hanteer, is:

 

  • Dissipelskap: Wat is ‘n dissipel? Hoe word ek ‘n dissipel van Jesus Christus?
  • Dissipelskap: Dissipelskap: Tel die koste.
  • Dissipelskap: Die Groot Opdrag aan die kerk.
  • Dissipelskap: Toegerus vir die taak.
  • Dissipelskap: Neem die eerste stap.
  • Dissipelskap: Die hart van die dissipelmaker.
  • Dissipelskap: Leer ander deur jou voorbeeld.
  • Dissipelskap: Die rol van die kerk.
  • Dissipelskap: Dra mekaar se laste.
  • Dissipelskap: Die plaaslike gemeente.

Volgende keer begin ons met die vraag: Wat is ‘n dissipel? Hoe word ek ‘n dissipel van Jesus Christus?




Verlossing = God se genade

Christianity is not about building an absolutely secure little niche in the world where you can live with your perfect little wife and your perfect little children in your beautiful little house where you have no gays or minority groups anywhere near you. Christianity is about learning to love like Jesus loved and Jesus loved the poor and Jesus loved the broken.” ~Rich Mullins

Verlossing = God se genade

 

Dit beteken dat ek glo dat Hy die Here is. Maar wat beteken die woord Here? Dit beteken meester, eienaar en verwys na ‘n persoon in ‘n gesagsposisie. Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie. Julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik (1 Korintiërs 6:19 – 20.

Dieselfde Here wat ons in sy genade van die sonde en dood verlos het, is nou ons Eienaar – ons behoort aan Hom en ons moet in gehoorsaamheid aan sy heerskappy leef. Hierdie oproep van Jesus om Hom te volg en sy dissipel te word, is oop vir almal.  As Hy die Here is, skryf Hy die agenda van ons lewe – ons lewens behoort nou aan Hom. Hy beplan ons agenda en ons roeping. Jy vertel nie vir Hom wat jy bereid is om te doen nie. Hy is die Here, die Eienaar en Meester van sy kinders.

Maar wat beteken dit om Jesus Christus te volg? Dit kom neer op die uitleef van twee gebooie ; Liefde vir God en liefde vir die naaste (Matteus 22:37 – 40). Hom het julle lief al het julle Hom nie gesien nie (1 Petrus 1:8). Dit gaan nie oor die nakom van ‘n stel reëls nie. Nee, ons moet God liefhê en Hom geniet. Maar, en dit is ‘n groot maar: As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar, want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie (1 Johannes 4:20). Ware liefde gaan altyd met opoffering gepaard: Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê (1 Johannes 3:16).

Ons kan nie ons liefde vir God van ons gehoorsaamheid aan Jesus Christus skei nie. God se liefde verander my van binne en daarom herdefinieer dit alle aspekte van my lewe. Vraag: Is God se liefde sigbaar in my optrede?

 




Wat kan ons by die pous leer?

Calvary shows how far men will go in sin, and how far God will go for man’s salvation. –H.C. Trumball

 Wat kan ons by die pous leer?

Elke keer as die Rooms-Katolieke kerk ‘n nuwe pous kies, spekuleer mense oor watter soort pous hy gaan wees. Vir meeste van ons is dit maar ‘n bietjie geheimsinnig – niemand weet regtig wat om te verwag nie. Hierdie keer is dit anders – ons weet baie van die nuwe pous. Ons weet iets van hom as gevolg van al die mediadekking, maar ons hoef nie op die woorde van Pous Franciskus te vertrou om vir ons te sê wat hy dink belangrik is nie. Kyk net na hoe hy geleef het.

 

Die pous as aartsbiskop het verkies om in ‘n woonstel te bly – nie in sy amptelike woning in Buenos Aires nie. Hy gebruik die openbare busvervoer en nie sy amptelike motor nie. Hy kook sy eie maaltye – hy word nie deur ander bedien nie. Ons weet wat hy dink belangrik is, want sy optrede wys dit vir ons. As hy praat van eenvoudig leef, maak sy woorde ‘n impak.

Ek en jy is nie die pous nie, maar wat vir hom geld, geld ook vir ons. Ook ons optrede praat hard. Ek lees hierdie storie. ‘n Man word aangestel as hoof van ‘n kantoor. Reeds op die eerste dag sien hy dat die mense hulle persoonlike briewe in die possak gooi – die organisasie moet vir die seëls betaal. Wat doen jy in so ‘n geval?

  • Jy kan dit ignoreer – ons praat immers van klein bedraggies, maar as jy in die klein dingetjies oneerlik is, sal jy ook in die groot dinge oneerlik wees.
  • Jy kan ‘n memorandum uitstuur en mense waarsku dat daar teen mense opgetree gaan word. Ja, dit mag dalk werk.
  • Hierdie man tree anders op. Hy stap na iemand toe wat hy gesien het misbruik maak van die stelsel. “Het jy dalk vir my ‘n seël asseblief? Ek moet hierdie brief nog vandag in die pos kry.” Natuurlik het die man nie ‘n seël nie – hy gebruik immers nie sy eie seëls nie.  Toe vra hy hardop: “Sal iemand dalk vir my tydens sy etensuur seëls kan koop?” Toe hy die seëls kry, plak hy dit op sy brief en pos die brief. Dit was die einde van die onwettige gebruik van amptelike posgeld vir persoonlike seëls.

Die les is eenvoudig: As jy jou waardes uitleef, hoef jy nie baie oor hulle te praat nie. Jou voorbeeld praat baie harder as jou woorde. Dieselfde geld vir ons as Christene. Dit is belangrik dat mense ons getuienis hoor, maar nog belangriker is dat mense sien ons is Christene.




Hoe reageer ek teenoor die evangelie?

We have much more to receive, but God has no more to give than he has given in Jesus Christ. –John Stott

Hoe reageer ek teenoor die evangelie?

Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God (1 Korintiërs 1:18).

Daar word van Christene verwag om die evangelieboodskap in die wêreld uit te dra. Hoe die boodskap ontvang gaan word, weet ons nie. Mense gaan op verskillende maniere reageer.

 

In Handelinge 17 is Paulus in Atene. Hy vertel die Ateners van die opstanding uit die dood. Sy gehoor reageer op drie maniere. Ons kry steeds hierdie drie reaksies vandag as ons die evangelie verkondig:

  • Party het hom uitgelag. Die Interliniêre Bybel vertaal dit met hulle het vir Paulus gespot. Ek hoor hulle al: “Glo jy werklik dat die dooies kan opstaan? Is jy ernstig?” Vir hierdie mense is die evangelie dwaas en ongeloofwaardig. Kyk na die vers hierbo: Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan. Om met die evangelie te spot, is ‘n aanduiding dat hulle verlore sal gaan.
  • Party het gesê: ‘Ons sal jou weer hieroor wil hoor.” Dit is nou diegene wat uitstel. Hierdie is ‘n baie algemene reaksie. Dit beteken: “Ek wil nie nou besluit nie.” Hierdie is ‘n baie bekende taktiek wat die duiwel met groot vrug gebruik: “Moenie nou vir jou oor die evangelie bekommer nie. Daar is nog baie tyd om dit te doen.”
  • ‘n Paar mense het egter by hom aangesluit en gelowig geword. Party het hulle bekeer en hulle denke verander. Onder hulle was daar Dionisius, ‘n lid van die Areopagus – ‘n intellektuele persoon en leier in die stad.

Wat leer ons hiervan? Bekering is God se werk – nie myne nie. Dit is die werk van die Heilige Gees in die lewe van die ongelowige. Het ons dan geen werk om te doen nie? Beslis nie – dit is ons taak om die waarheid te verkondig – om die evangelie uit te dra.