Eienskappe van dwaalleraars in die gemeente

No verse of Scripture yields its meaning to lazy people. —A.W. Pink

Eienskappe van dwaalleraars in die gemeente

Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom (2 Petrus 2:1).

Daar word vandag baie oor dwaalleraars en dwaalleer geskryf. Daar was vals profete – dit is geskiedenis. Hulle was ‘n voortdurende probleem in die Ou Testament – geen wonder hulle moes gestenig word nie. Maar dit volk was maar traag om hulle te hanteer. Daarom het hulle toegeneem met rampspoedige gevolge vir die geestelike lewe van God se mense. Maar dit gaan nie net oor die verlede nie – so sal daar ook onder julle vals leraars kom.

Onder julle? Petrus skryf aan die kerk; hy praat hier van mense in die plaaslike gemeente. Hy praat nie van New Age mense op televisien nie; hy praat van lidmate.

In ons gemeentes groei die onkruid en koring saam – daar is nie so iets soos ‘n suiwer gemeente nie. Maar hoe herken ons ‘n vals geloof en dwaalleraars? In 2 Petrus 1 lees ons van opregte gelowiges; in 2 Petrus 2 lees ons van  vals gelowiges. Colin Smith sit hierdie twee hoofstukke langs mekaar om die verskil duidelik na vore te bring.

  • Verskillende Bron. Waar kom die boodskap vandaan. Petrus sê dat hulle hulle nie op versinsels of legendes verlaat het toe hulle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het nie. (1:16). En die vals leraars? In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit (2:3). Die ware leraar se bron is die Bybel; die dwaalleraar se bron is sy eie kreatiwiteit – hulle maak hulle eie boodskappe op.
  • Verskillende boodskap.Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien – vir die ware leraar  staan Jesus Christus sentraal. Vir die vals leraars staan Jesus op die rant: Hulle sal verderflike  dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën (2:1). Let op die woord insmokkel – min mense in die gemeente sal Jesus openlik verloën. Die beweging weg van Jesus Christus is baie subtiel. Luister mooi en jy sal hoor dat Jesus Christus nie noodsaaklik vir sy boodskap is nie.
  • Verskillende posisie. In watter posisie laat die boodskap jou? Die ware Christen kan die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur (1:4). Luister hoe beskryf Petrus die vals Christen: Hulle belowe vryheid aan hierdie mense, al is hulle self slawe van die verderf, want as iets jou in sy mag het, is jy sy slaaf (2:19). Die ware gelowige is vry van die verderf; die vals Christen is ‘n slaaf van die verderf.
  • Verskillende karakter. Watter soort mense produseer die boodskap? Die ware Christen werp alles in die stryd om sy geloof te versterk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding,  die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense (1:5 – 7). Die vals leraars is uitdagend en verwaand en erken nie gesag nie (2:10). Hulle oë is die ene wellus … en is bedrewe geldwolwe (2:14).
  • Verskillende oproep. Hoekom moet ons na die boodskap luister? Die ware gelowige het die boodskap van die profete –  hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn (1:19). En die vals leraars? Met wellus en losbandigheid verlei hulle die mense wat pas vrygekom het uit die kring van dié wat op dwaalweë verkeer  (2:18). Die ware Christen vra: “Wat het God in sy woord gesê?” die vals leraar vra: “Wat wil die mense graag hoor?”
  • Verskillende vrugte. Watter gevolg het die boodskap in die lewe van die mense? Die ware gelowige sal met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken (1:8).En die vals leraars? Hierdie mense is droë fonteine – Vir hulle word in die diepste duisternis plek gehou (2:17. Belowe baie; produseer niks nie.
  • Verskillende einde. Waarheen lei die boodskap? Die ware Christen: En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus (1:11). En die vals gelowiges? So sal hulle hulleself baie gou in die verderf stort … hulle ondergang is onafwendbaar (2:1, 3).

So sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hier het ons ‘n duidelike waarskuwing. Wat moet ons hiermee maak?

  • Die gemeente moet beskerm word – daar is mense wat meer skade as goed gaan doen. Hulle lyk asof hulle goeie mense is, maar hulle aanvaar nie die gesag van die Bybel of dat Christus alleen ons Verlosser is nie. Ons moet hulle verwelkom, want hulle het Christus nodig, maar ons moet keer dat hulle enige invloed in die gemeente uitoefen.
  • Skeptici sal sê dat die kerk vol valsheid is – hulle het dit nog altyd gedoen. Natuurlik is daar sulke mense in die kerk, maar hulle teenwoordigheid is geen rede om die opregtes te verwerp nie.



Die groot Opdrag: Verpligting en gawe

How sweet is rest after fatigue! How sweet will heaven be when our journey is ended. —George Whitefield

Die groot Opdrag: Verpligting en gawe

In Lukas 24 lees ons van Jesus se laaste gesprek met sy dissipels. Daarin sê Hy onder andere vir hulle: In sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem en verder. Maar Lukas voeg dan by: En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is. Jesus sê nie gaan en vertel nie, maar gaan en wag.

Hiermee beklemtoon Hy die rol wat die Heilige Gees speel om die dissipels te bemagtig om te gaan en te doen wat Jesus Hulle beveel het.

Wat gebeur as ons dit nie so sien nie?

  • Ons dink dat Christene meer in hulle eie krag kan doen as wat die geval is.
  • Ons onderskat die rol wat die Heilige Gees speel in die uitdra van die evangelie na die nasies.

Jesus gee aan ons ‘n besliste opdrag om sy woord te verkondig en oor Hom te getuig. Hy gee aan sy dissipels die naam van getuies: Julle is getuies van hierdie dinge. Maar om hierdie take uit te voer het hulle krag nodig – krag wat van die Heilige Gees kom. Die verpligting om te getuig kom met ‘n gawe – die Heilige Gees.

Kerkleiers  sien die groei van die kerk in terme van strategieë en metodes. Natuurlik is dit belangrik, maar ons mag nooit vergeet dat ons nie op planne nie, maar op ‘n Persoon moet vertrou. Jesus beveel sy dissipels om na Jerusalem toe te gaan en daar te wag op die uitstorting van die Heilige Gees. Sonder die Heilige Gees kan die dissipels nie die opdrag wat Jesus aan hulle gegee het, uitvoer nie.

Dit word gesê dat mense die seile span, maar dat God die wind stuur. Ons mag nooit vergeet dat ons nooit God se opdragte kan uitvoer sonder die krag wat Hy vir ons stuur nie. Onthou: ‘n opdrag en ‘n gawe.




Het ons ons godsdiens afgewater? En nou? (2)

Talent develops in tranquillity, character in the full current of human life. –Johann Wolfgang von Goethe, digter, dramaturg en filosoof (1749-1832)

Het ons ons godsdiens afgewater? En nou? (2)

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

Ons gaan nou aan met die derde vraag.

  • ØHoe sal ek God se liefde deel as getuienis vir hierdie wêreld?

God verlang dat ons sy evangelie van genade en heerlikheid aan hierdie  wêreld moet uitdra.

  • §Aan wie? Aan alle nie-Christene wat God in jou wêreld geplaas het. Begin deur vir hulle te bid.
  • §Hoe? In die konteks van waar jy werk of woon, begin met hulle praat oor God se karakter, die mens se sonde, Christus se versorging en ons behoefte aan sy versorging. Kyk na geleenthede wat God open waartydens jy die evangelie kan deel.
  • §Wanneer? Skep geleenthede met die mense wat jy hierbo geïdentifiseer het. Nooi hulle vir koffie of ‘n ete.
  • ØHoe sal ek as lidmaat van die kerk God se liefde wys?
  • §Waar? Ons wys dit natuurlik teenoor ons broers en susters in die gemeente, maar ook waar ons nie-Christene raakloop – waar ons werk of speel en veral by ons huise.
  • §Hoe? Deur ander te dien.
  • ØHoe sal ek God se heerlikheid onder alle mense versprei?
  • §Bid vir alle volke. Fokus veral op groepe wat nog nie deur die evangelie bereik is nie. Ons moet bid dat God se koninkryk oor die hele aarde sal kom.
  • §Hoe sal ek vir hulle gee?
  • §Hoe sal ek na hulle gaan?
  • ØHoe sal ek dissipelmakers maak?
    • §Begin deur ‘n klein groepie waarmee jy wil werk, bymekaar te maak.
    • §Onthou dit gaan nie oor die oordra van inligting nie, maar oor die verandering van lewens.
    • §Modelleer. Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg (1 Korintiërs 11:1) Onthou Jesus Christus is ons model.
    • §Hoe sal ek hulle uitstuur? Bemoedig hulle. Rus hulle toe. Kyk gerus na die volgende webblad: www.multiplymovement.com.

Daarmee kom ons aan die einde van die lang bespreking oor die vraag: Het ons ons godsdiens afgewater?




Het ons ons godsdiens afgewater? En nou? (1)

It is very rare for the spirituality of a group of Christians to exceed that of its leaders. —John Benton

Het ons ons godsdiens afgewater? En nou? (1)

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

Ons het nou na verskeie aspekte gekyk waar ons ons godsdiens afgewater het. David Platt eindig sy boek af met ses vrae.

 

  • ØHoe kan ek my denke met die waarheid vul?

Om Jesus Christus te volg, moet ons in Hom glo; om in Hom te glo, moet ons na Hom luister. Die lewe van ‘n dissipel is een van leer. Ons moet gedurig na sy woorde luister, soos: Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is,  alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Filippense 4:8). Hoe doen ons dit?

  • §Hoe gaan ek God se woord lees? Werk vir jou ‘n plan uit om sy woord sistematies te lees – alles, nie net sekere gedeeltes nie.
  • §Hoe sal ek God se woord aan ander leer? Eredienste en kleingroepe is belangrik, maar om met ‘n broer/suster te gaan sit en oor God se woord te praat, is selfs belangriker.

Maar ons moenie net hoor nie, ons moet God se woord gehoorsaam en toepas. Ek hou hiervan: Ons lees nie vir informasie nie, maar vir transformasie.

  • ØHoe sal ek my liefde vir God aanwakker?

Ons doel is om God te gehoorsaam, maar ook om Hom lief te hê.

  • §Hoe sal ek Hom aanbid? En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewend en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is, Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen (Romeine 12:1) Ons hele lewe bestaan uit aanbidding – elke faset daarvan.
  • §Hoe sal ek bid? As jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot Jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon (Matteus 6:6). Kry ‘n plek en ‘n spesifieke tyd waar jy jou afsonder en met God praat.
  • §Hoe sal ons vas? In Matteus 6:16 – 18 kry ons riglyne oor hoe om te vas. Ons vas nie meer nie, maar dit is ‘n praktyk wat groot vrug kan dra, want dit fokus jou aandag op God.
  • Ons kan nie ons geloof in Jesus Christus skei van ons gevoel vir Hom nie. Dissipels aanbid, bid, vas en gee omdat ons die Here liefhet.

    Volgende keer gaan ons na die ander vrae kyk.