Ons nuwe godsdiens

Cheerfulness and contentment are great beautifiers and are famous preservers of youthful looks. –Charles Dickens (1812-1870)

Ons nuwe godsdiens

A fundamental principle of Christian communication: the audience not the message is sovereign. Wat George Barna in werklikheid hier sê, is dat die boodskap van die kerk vandag in baie gevalle deur die gehoor bepaal word. Hulle besluit wat is aanvaarbaar en wat nie. Hoe gebeur dit?

 

Sosioloë, onder andere Marsha Witten, beskryf ‘n proses:

  • Die groot, soewereine, transendente God word vir ons familiêr. Ons glo nog aan God, maar sien Hom nou as ons vriend en nie meer as ons Koning nie. Baie min mense sal vandag ooit erken dat hulle God vrees.
  • Godsdiens word nou geprivatiseer.  Jesus Christus word vir ons terapeuties bruikbaar. Hy is die antwoord vir ons slegte gevoelens – nie vir ons sonde en skuld voor God nie.
  • Alles wat vantevore as die soewereine werk van God beskou is, word nou aan onsself toegeskryf. Stap na die boekwinkel en kyk hoeveel selfhelp boeke is daar – How to … Hierdie tipe boeke het veral toegeneem na Norman Vincent Peale se boek The Power of Positive Thinking.

Die sleutel tot verlossing lê nou in onsself – ons moet net na ons innerlike stemmetjie luister. Dan is alles reg. Johannes 14:6 (Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na my Vader toe behalwe deur My nie) is outyds en nie meer van toepassing nie. Die gevolgtrekking: There is nothing here that couldn’t be found in secular alternatives (Marsha Witten).

Kwaai woorde met baie waarheid daarin.




Moenie die wêreld liefhê nie

You are to follow no man further than he follows Christ. —John Collins

Moenie die wêreld liefhê nie

Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie (1 Johannes 2:15). Maar hierdie selfde Johannes het vantevore geskryf: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee  het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16). Weerspreek Johannes hom? Wat beteken dit as Johannes sê dat ons nie die wêreld moet liefhê nie?

 

J. D. Greear sê dat dit makliker sal wees om te bepaal wat Johannes nie sê nie. Johannes sê nie ons moet:

  • Die geskape orde haat nie

Sommige Christene haat wêreldse plesiere soos lekker kos en gemaklike klere. Hulle sit rond en droom van die hemel. Maar God het die wêreld gemaak en toe Hy klaar was sê Hy dat dit goed was. Jesus was hier op aarde en Hy is daarvan beskuldig dat Hy ‘n vraat en drinker van goeie wyn was. Dit wys vir ons dat Hy geweet het hoe om ‘n goeie maaltyd te geniet. Dit verheerlik God as jy goeie musiek en ‘n snoekie op die kole geniet. Dit is hoekom hierdie dinge gemaak is.

  • Die ekonomiese en sosiale strukture van die samelewing haat nie

Daar is Christene wat glo ons moet sekulêre beroepe vermy. Hulle begin “Christelike” tipes besighede en vermaak. Natuurlik is dit goed, maar dit is nie wat 1 Johannes sê nie.

  • Die kultuur haat nie

Toe ek jonk was, het hierdie versie beteken geen rock musiek of dans nie – dit is wêrelds. Christene dra dasse, hulle hare is kort. Lang hare was ‘n teken van ‘n sondige hart. Tatoes en ringe deur jou neus of oorringe vir mans wat heeltemal buite die kwessie. Christene moes letterlik anders lyk. Kultuur op sigself is nie wêrelds nie.

  • Die mense van die wêreld haat nie

Daar is Christene wat glo dat hulle reg optree as hulle hulle misnoeë met nie-Christene uitspreek. Dan gebruik hulle nogal hierdie versie ter verdediging. Hierdie is beslis nie die gesindheid van iemand wat die evangelie ondervind het nie.

Wat is dit dan wat ons nie moet liefhê nie? As Johannes hier van wêreld praat, praat hy van die wêreld in opstand teen God. Net in die volgende vers definieer hy wat hy bedoel: Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar van die wêreld. Begeer verwys na ‘n drang wat jy nie kan beheer nie. Dit word vir jou ‘n obsessie.

  • Begeertes van die sondige mens verwys na gesonde fisiese begeertes wat jy uit hulle konteks haal. So, as voorbeeld, word die begeerte na seks ‘n obsessie – “sonder hierdie begeerte sal ek nooit gelukkig wees nie.” Dit is wêrelds.
  • Die begeertes van die oë. Jy sien iets goed in die wêreld wat vir jou so belangrik word dat jy alles daarvoor sal opoffer. Ons sien dit byvoorbeeld met geld. Ons is bereid om skuld aan te gaan om goed te kry wat ons dink ons sal bevredig. Dit is wêrelds en sal ons nooit vervul nie.
  • My gesteldheid op besit beteken dat ek iets tot die belangrikste plek in my lewe verhef. Maar as iets anders as God vir jou die belangrikste word, gee jy eer aan minderwaardige dinge.

Wat Johannes sê is dat hierdie dinge ons nie moet verteer nie. As my lewe deur dinge beheer word, is die liefde van God nie in my lewe nie – Hy is verplaas deur iets anders. Kyk net hoe sluit Johannes hierdie brief af: Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af (5:21). In wese is afgodery as ek vir iets liewer is as vir God, as ek op iets meer as op God vertrou, as ek aan iets meer gehoorsaam is as aan God. Dit is die begeertes waarna Johannes hier verwys.




Wat glo ons vandag?

“Men always hate most what they envy most.” ~ H.L. Mencken

Wat glo ons vandag?

God helps those who help themselves. 82% van Amerikaners glo dat hierdie gesegde van Benjamin Franklin iewers in die Bybel staan. Baie kerkmense glo dat alle godsdienste dieselfde G(g)od aanbid en as ons genoeg goeie dinge doen, verdien ons ons plek in die hemel. Kom ons kyk na die moderne mens:

 

  • Ondervindings is vir hom belangriker as kennis;
  • Hy verkies keuses bo absolute waarhede;
  • Hy verkies voorkeure eerder as waarhede;
  • Hy soek gemak eerder as groei;
  • Hy beklemtoon sy onafhanklikheid en individualiteit – hy hoor elke dag dat hy uniek is.

Hierdie lysie kan ons heelwat verder uitbou.

Christian Smith, ‘n sosioloog aan die Universiteit van North Carolina, sê die dominante godsdiens vandag is moralistiese, terapeutiese deïsme. (Net sosioloë wat sulke name sal gebruik.) Wat is dit:

  • God het die wêreld gemaak, maar Hy is nie meer betrokke by die instandhouding daarvan nie.
  • God wil hê dat mense goed en regverdig moet wees. Dit is immers wat die Bybel en meeste ander godsdienste tog glo.
  • Die sentrale doel van die lewe is om gelukkig te wees en om goed oor jouself te voel.
  • God hoef nie in ons lewens betrokke te wees nie, behalwe as ons Hom nodig het om ‘n krisis vir ons op te los.
  • Goeie mense gaan hemel toe as hulle doodgaan.

Geen sprake van iets soos genade en versoening nie. In hierdie terapeutiese wêreldsiening is daar geen sprake van sonde en skuld wat vergewe moet word nie. Daar is net laste en skuldgevoelens omdat ons lewens nie aan ons en ander mense se verwagtings voldoen nie. Al wat nodig is, is dat ons iemand anders daarvan vertel. Geen wonder die webblad dailyconfessions.com kry daagliks 1,3 miljoen treffe (hits) nie. Hier kan jy dit wat jou ontstel, kom bely.

Kom ons vergelyk hierdie benadering met koning Dawid se skuldbelydenis in Psalm 51: Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en U oordeel regverdig … Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit. Dawid het met Batseba oortree, maar hy sê dat sy oortreding teen God was. Besef ons dit nog?




Evangelisasie – Hoe begin ek die gesprek?

“If malice or envy were tangible and had a shape, it would be the shape of a boomerang.” ~ Charley Reese

Evangelisasie – Hoe begin ek die gesprek?

Vir baie mense is die ding wat hulle bang maak oor evangelisasie die probleem om die gesprek te begin. As iemand na ons sou kom en vra: “Wat moet ek doen om gered te word?” sou ons dit kan hanteer. Dit gebeur egter baie selde. Meestal moet jy die gesprek aan die gang kry.

 

Omdat ons senuwees pla as ons ‘n geestelike gesprek  moet begin, is dit altyd goed om darem iets in jou gereedskapskas te hê om dinge aan die gang te kry. Maar,  gereedskap is net so goed soos die persoon wat dit gebruik. Dit is ook nie ‘n plaasvervanger vir liefde nie – liefde vir ons naaste wat nog nie ‘n verhouding met God het nie.

‘n Ongemaklike stuk gereedskap is die sogenaamde “diagnostiese vraag” – dit is veronderstel om ‘n nie-bedreigende vraag te wees. Dit is iets soos: “Beskou jy jouself as ‘n geestelike persoon?”  Nog ‘n gewilde een is: “Wat dink jy gebeur met jou as jy doodgaan?” Die probleem is dat hierdie vrae nie baie natuurlik voorkom nie. Hulle is teoreties goed, maar in die praktyk nie so goed nie.

Vrae is egter belangrik, maar baie hang af van hoe jy die vraag vra. Vra ‘n eerlike vraag en luister noukeurig na die antwoord. Mense raak baie opgewerk oor vir verkoopspraatjies – hulle skakel onmiddellik af. Hulle ken die verskil tussen ‘n eerlike vraag en ‘n verkoopsvraag. Vra jou vraag met die bedoeling om te luister.

Ons moet meer natuurlike vrae vra. ‘n Tyd gelede het ons gevra: “As jy vannag sou doodgaan, is jy seker dat jy hemel toe gaan?” Hierdie vraag gaan nie meer goed af nie – om die waarheid te sê mense raak opstandig as jy dit vra. ‘n Moontlike vraag is: “Voel jy dat jy nader of verder van God af beweeg?” Hierdie is ‘n oop vraag wat nie bedreigend is nie. Ek kan baie aflei uit die persoon se antwoord – as ek luister.

J. D. Greear gee nog verdere vrae wat hy voel nuttig is. “Wat was jou ondervinding met die kerk?” “Hoe dink jy lyk ‘n suksesvolle/gelukkige lewe?” Natuurlik is hierdie vrae nie voldoende nie, maar as jy opreg vra en met deernis luister, sal jy verbaas wees oor hoe die Heilige Gees jou verder lei. Die doel is om net eers ‘n gesprek aan die gang te kry.