Die Bybel en ons basiese lewensvrae

It therefore behooves us to be very certain about the distinction between God’s power and our own, God’s work and our own if we want to live a godly life –  Martin Luther

 Die Bybel en ons basiese lewensvrae

Elkeen van ons het sekere basiese lewensvrae. Dit is interessant dat ons geen antwoord op hierdie vrae in die wetenskap kry nie. Die Bybel help ons:

 

  • In watter soort wêreld leef ons? Ons leef in ‘n wêreld wat deur God gemaak is en deur Hom onderhou word. In hierdie wêreld gaan dit oor meer as wetenskap of tegnologie of vooruitgang.
  • Wie is ons? Wat beteken dit as ons sê dat ons mense is? In die Bybel lees ons dat God die mense gemaak het, maar nog belangriker – na sy beeld en as sy verteenwoordiger. Die mens is dus bedoel om in ‘n betekenisvolle verhouding met God en ander mense te leef. Ons is nie outonome mense wat ons eie bestemming bepaal nie.
  • Wat is die kernprobleem van die aarde? Anders gestel: Wat is die onderliggende rede vir al die probleme in die wêreld? Sonde. Die mens het besluit dat hy teen sy Skepper in opstand sou kom. Dit is sonde wat ons verhoudings – met God en ander mense – vertroebel … nie ons omstandighede nie.
  • Kan ons hierdie probleem regmaak?  Nee, ons kan dit nie regmaak nie, maar God kan. Die mense het verlossing nodig, iets wat hy nie self kan doen nie. God het egter tot ons redding gekom toe Hy Jesus Christus as ons Verlosser gestuur het.  Jesus Christus se lewe, dood en opstanding het ons verhoudings herstel.

Hierdie is die kernvrae in elke mense se lewe. Soek ons op die regte plek na antwoorde?




Uitdagings vir die kerk

The root of every heresy in history is adding something of our own to the work of Christ – C. H. Spurgeon

Uitdagings vir die kerk

Die National Religious Broadcasters Convention is pas in die VSA afgehandel. In een van die praatjies identifiseer Pete Briscoe drie sake wat die moderne kerk uitdaag:

 

  • Die kerk, die liggaam van Jesus Christus, het oënskynlik van Hom vergeet. Ons preek en praat oor alles onder die son maar die rede waarom die kerk gevorm is, Jesus Christus, word glad nie vermeld nie.
  • Prediking. Leraars kies ‘n onderwerp en dan soek hulle versies wat by die onderwerp pas.  Hy glo nie dat dit is hoe God bedoel het sy Woord gebruik moet word nie.
  • In Genesis 12 lees ons dat God  Abram seën plus en jy moet tot ‘n seën wees. Seën ons as gelowiges nog ander?

Hy eindig sy praatjie met ‘n storie uit sy kinderjare. Sy Sondagskoolonderwyser sê dat hy gaan wys hoe ‘n handskoen die Bybel gaan optel. Die kinders was baie teleurgesteld, want dit was duidelik dat dit die hand in die handskoen is wat die Bybel opgetel het. Die les was baie eenvoudig: dit is Jesus Christus in ons wat ons in staat stel om dinge vir ander mense te doen.




Skoenmakers en generaals

I am convinced that boredom is one of the greatest tortures. If I were to imagine Hell, it would be the place where you were continually bored. – Erich Fromm, The Dogma of Christ

Skoenmakers en generaals

Mark Twain vertel hierdie storie:

‘n Man reis kruis en dwars oor die wêreld op soek na die grootste generaal wat nog ooit geleef het. Uiteindelik oortuig die mense hom dat hierdie generaal reeds oorlede is.

Hy besluit dus om na die hemel te gaan en daar uit te vind wie hierdie man is. Daar aangekom vra hy vir Petrus: “Wie was die grootste generaal wat nog ooit geleef het?”

Petrus neem hom na ‘n man wat daar sit en sê: “Daar is die grootste generaal wat nog ooit geleef het.”

Die man wat gesoek het, was hewig ontsteld: “Kan nie wees nie. Ek ken hom. Hy was ‘n gewone skoenmaker.”

Petrus antwoord: ”Ek weet, maar as hy ‘n generaal was, sou hy die grootste generaal ooit gewees het.”

Die les is baie eenvoudig. In ons kerkbanke en in ons Sondagskole sit daar baie skoenmakers. Hulle is stil; hulle druk hulleself nie op die voorgrond nie; ons gee nie veel aandag aan hulle nie. Kyk weer. Kyk dieper. Dalk is dit ‘n groot leier wat daar sit en ons sien dit nie raak nie.




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 10

To be biblically evangelistic, we must be certain that what we do,  leads  men to faith, not just to decisions. —Jim Ehrhard

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 10

Vraag:

Wat verwag God van ons in die vierde en vyfde gebooie.

 

 

Antwoord:

Vierde: dat ons op die sabbatdag ons tyd aan openbare en private aanbidding van God spandeer, rus van ons roetine werk, die Here en ander dien en so die ewige sabbatdag verwag. Vyfde: dat ons ons vader en moeder liefhet en eer en ons onderwerp aan hulle goddelike dissipline en leiding. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

Teksgedeelte:

Elkeen van julle moet eerbied hê vir sy ma en pa. Julle moet my gebooie oor die Sabbat gehoorsaam. Ek is die Here julle God (Levitikus 19:3).

 

Kommentaar

Die Woord van God sê vir ons: Die Here is ons God, Hy is die enigste Here (Deuteronomium 6:4). Aanbid een God … jy word aangesê om die Sabbat op ‘n geestelike wyse te onderhou hopende op die toekomstige rus wat die Here beloof het.. Maar ons, ons rus sodat ons kan werk in plaas van werk sodat ons kan rus. Jy word aangesê om jou vader en moeder te eer (Eksodus 20:12). Maar jy beledig jou ouers – iets wat jy tog nie van jou kinders wil verduur nie.

 

In die Heilige Gees, ‘n gawe van God, word ewigdurende rus aan ons belowe. Ons het reeds die belofte daarvan ontvang. Die apostel sê: en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang (2 Korintiërs 1:22). As ons ‘n waarborg ontvang het dat ons in vrede met die Here en in God sal lewe, sal ons ook in Hom, van wie ons die waarborg ontvang het, vir ewig rus. Dit sal die Sabbat van Sabbatte wees … Die gebod oor die Sabbat moet ons op ‘n geestelike wyse erken. Soos in Genesis geskrywe staan, het God die sewende dag geheilig nadat Hy al sy werk gedoen het. God het gerus van sy werk (Genesis 2:2 – 3). Dit was nie omdat God moeg was dat Hy gerus het nie, maar dit is ‘n belofte van rus vir ons soos ons werk. God het gerus sodat jy kan verstaan dat jy ook sal rus … en rus sonder einde.

 

Eer jou vader en jou moeder (Eksodus 20:12). Dit is jou ouers wat jy sien as jy die eerste keer jou oë oopmaak.  As iemand weier om sy ouers te eer, is daar iemand wat hy sal spaar? Verander jou weë Jy het die wêreld lief; jy moet God liefhê. Jy het verbygaande, tydelike plesier liefgehad; jy moet jou naaste liefhê.

 

Hierdie kommentaar is deur Augustinus (354 – 430) die biskop van Hippo in Noord-Afrika, geskryf. Augustinus word as ‘n Heilige en Doktor van die kerk deur beide die Katolieke Kerk en die Anglikaanse Gemeenskap beskou. Hy het ‘n verslag van sy bekering in sy Confessions, sy bekendste werk, geskryf. Hy was een van die vrugbaarste skrywers in Latyn met honderde verskillende titels (insluitend apologetiese werke, boeke oor die Christelike leer en kommentare) en meer as 350 preke wat behoue gebly het.

 

Hierdie kommentaar kom uit “Sermon 9” in Saint Augustine: Essential Sermons, geredigeer deur Daniel Doyle, vertaal deur  Edmund Hill (New York: New City Press, 2007), 27–28, 30–32.

 

Verdere leeswerk:

 “Worship” en “The Family” in Concise Theology, by J. I. Packer.

 

Gebed

By Christus is niks onmoontlik nie. Hy kan harte wat so hard soos ‘n meulsteun is, versag. Hy kan ons hardkoppige wil wat vir jare net op ons eie plesier, sonde en die wêreld ingestel was, buig. Hy kan skep en verander en hernuwe en afbreek en bou en lewend maak met sy onweerstaanbare krag. Laat ons aan hierdie geseënde waarheid vashou en dit nooit los nie … Laat ons bid om die wet van die Sabbat reg te verstaan. Laat ons die dag heilig hou en dit aan God gee.

 

Hierdie gebed is deur John Charles Ryle (1816–1900), die eerste Anglikaanse biskop van Liverpool, geskrywe. Ryle was op aanbeveling van Benjamin Disraeli, die eerste minister, aangestel. Hy was ‘n skrywer en pastor, maar ook ‘n atleet. Hy het vir die Universiteit van Oxford geroei en krieket gespeel. Hy was verantwoordelik vir die bou van meer as veertig kerke

Hierdie gebed kom uit Luke by J. C. Ryle, reeksredakteur Alister E. McGrath (Wheaton: Crossway, 1997), 187.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.