Did I offer peace today? Did I bring a smile to someone’s face? Did I say words of healing? Did I let go of my anger and resentment? Did I forgive? Did I love? These are the real questions – Henri Nouwen
Is dit redelik om in God te glo?
Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.
Ons kan nie sekularisme en godsdiens bewys nie. Hulle is denksisteme wat teenoor mekaar gestel moet word om te bepaal watter sisteem maak die meste sin – emosioneel, kultureel en rasioneel. Gelowiges sê dat God se bestaan nie empiries bewys kan word asof Hy ‘n fisiese voorwerp is nie. Geloof in God maak egter meer rasionele sin van die wêreld as ongeloof.
Keller gee dan vir ons ses argumente ten gunste van die bestaan van God.
- Die kosmiese wonder
Niks kan nie iets produseer nie. Daar moet dus ‘n unieke wese wees wat sonder oorsaak bestaan. Hy is dan die bron van alles. Alle natuurlike wesens het ‘n oorsaak en daarom moet daar een of ander bonatuurlike wese wees wat bestaan sonder dat dit gemaak is. Die wetenskap weet van geen reeks gebeure sonder ‘n begin nie. Die moderne wetenskap kan nie die bestaan van die wêreld verduidelik nie. Is dit afdoende bewys vir die bestaan van God? Nee, want dit bewys nie dat die persoonlike, heilige God van die Bybel bestaan nie. Dit is wel ‘n sterk saak dat iets buite die natuurlike wêreld bestaan wat alles gemaak het.
- Waarneembare ontwerp
Ons kry die indruk dat die wêreld noukeurig ingestel is – fine tuning. Dink maar aan al die konstantes in fisika – die spoed van lig, swaartekrag, ens. Hulle het presies die waardes wat hulle het vir die mens om te oorleef. Hierdie noukeurige instelling van fisika maak meer sin in ‘n heelal waar daar ‘n skepper of ontwerper is. Dit is onwaarskynlik dat al hierdie fisiese konstantes sommer toevallig gebeur het. Hierdie bewys nie die bestaan van God nie, maar is ‘n sterk getuienis dat daar ‘n God is.
- Die morele werklikheid
Meeste mense glo dat morele gevoelens, maar ook morele verpligtings, bestaan. Wat is die basis vir hierdie verpligting? Dit maak meer sin in ‘n heelal wat deur ‘n persoonlike God gemaak is en aan wie ons verantwoordelik is as aan ‘n onpersoonlike heelal sonder ‘n God. Wat van menseregte? Ongelowiges sê dat die mens glo dat die gemeenskap beter werk as daar menseregte is. Historici sê dat menseregte ontstaan het in samelewings wat in die God van die Bybel geglo het. Menseregte maak meer sin in ‘n heelal geskep deur God. Sonder God is dit moeilik om te verduidelik hoekom hulle bestaan.
- Bewustheid
As ons na die kenmerke van bewustheid kyk, is dit baie moeilik om blote biologiese verduidelikings vir hulle te gee. Hoe verduidelik ons aspekte soos die vorming van idees en selfbewustheid? Sekulêre mense sê dit is van die gevolge van die evolusie van die brein. Hoe kan ingewikkelde wiskunde en abstrakte filosofie nou ons voorsate in staat gestel het om te oorleef? Ons weet nie hoe elektro-chemiese gebeure gedagtes kan produseer nie. Wetenskaplikes sê dit is net ‘n kwessie van tyd voor ons sal weet. Met ons huidige kennis kan ons net sê dat menselike bewustheid na iets buite hierdie natuurlike wêreld wys. Meeste mense sukkel om te aanvaar dat ons hoop, idees en liefdes slegs chemiese reaksies is. Bewustheid en die maak van idees maak meer sin in ‘n heelal geskep deur ‘n God wat bewus is en wat idees kan maak.
- Rede
Baie mense aanvaar dat ons vermoë om ons rede te gebruik die produk van natuurlike seleksie is. Dit beteken dat ons rede net een funksie het – oorlewing. Hoekom moet ons ons vermoë om ons rede gebruik om ons te vertel wat die waarheid is? Ons materialistiese wêreld glo dat ons die werklikheid deur ons rede kan verstaan. Hierdie sienings weerspeek mekaar.
- Skoonheid
Almal van ons ervaar sekere kunsvorme en sekere idees as mooi. Skooonheid het ‘n fisiese effek op ons. Hoekom hou ons van skoonheid? Is dit bloot omdat ons voorouers van sekere dinge gehou het? Dit is nie ‘n goeie verklaring van hoe ons estetiese sin werk nie. Christene verduidelik skoonheid as ‘n erkenning dat die wêreld om ons goed is, maar bedorwe is. Hierdie lelikheid is nie inherent nie – dit is nie deel van God se oorspronklike ontwerp nie.
Hierdie argumente is nie so sterk dat dit ons dwing om om te glo nie. Dit maak dit wel rasioneel om te glo. Om in God te glo, is minder van ‘n geloofsprong as om nie te glo nie.