Heaven is much too serious a place for work. It will be all dance and play there –C. S. Lewis
Psalm 32 (3)
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
32:8 – 10: Ek wil ander vertel
8Ek wil jou insig gee, ek wil jou die pad leer wat jy moet loop. Ek wil jou raad gee, my oog op jou hou.
Die Here reageer op die psalmis. Hy gaan die psalmis leer om in die toekoms op die regte pad te loop. Vroeër in die psalm het ons die indruk gekry dat die psalmis nie altyd die pad van die Here geloop het nie. Na sy belydenis bied die Here aan hom die hulpbronne om te verseker hy ondervind nie weer dieselfde probleme nie. My oog op jou wys dat die Here aandag gee. Hoekom? Is dit omdat Hy vir ons omgee of omdat Hy ons dophou? Miskien doen Hy beide.
9Moet julle nie soos ‘n perd, soos ‘n muil sonder verstand gedra nie: Met toom en stang moet sy krag beteuel word, anders bly hy nie by jou nie.
Die perd is gewoonlik ‘n simbool van krag. Hier word dit gebruik om aanbidders te waarsku dat hulle die Here moet gehoorsaam.
10Goddelose mense het baie smarte, maar wie op die Here vertrou – troue liefde omring hom.
Hierdie is ‘n algemene waarneming. Dit mag ook dien as leidraad van die psalmis se geheime mislukking en opstand. Ontrou veroorsaak smarte, maar diegene wat op die Here vertrou, ondervind sy liefde. Die psalmis ontdek dat ontrou aan die Here ‘n sonde is wat nie vergewe kan word nie.
Die digter het sy les geleer. Hy wil dit nie vir homself hou nie. As verloste het hy die verantwoordelikheid teenoor ander. Die mense se keuse is eenvoudig: of sonde (goddeloosheid) en smart of geloof en omvou met God se liefde. Die alternatiewe word so sterk en duidelik gestel dat dit amper onverstaanbaar is dat daar nog mense is wat sonde kies. Weereens staan ons voor twee paaie. Sommige mense is hardkoppig soos muile. Hulle weier om God se leiding te aanvaar, daarom moet Hy hulle voortdurend lei en dissiplineer. Gebeur dit nie, is hierdie mense nie bruikbaar vir God nie. Nee, ek moet op die Here vertrou en my sonde bely. Elkeen wat dit doen, troue liefde omring hom.
32:11: ‘n Oproep
11Verbly julle in die Here, en juig, regverdiges: ja, jubel dit uit, almal met opregte harte.
Regverdiges kan hulle in die Here verbly. Hy is die voorwerp van ons blydskap.
Die tempelmusikante neem nou die voorafgaande tien verse en sing ‘n gemeenteloflied. Waaroor jubel hulle? Vergifnis? Nee, in die Here. Die digter het sy les geleer; hy kan dit nie vir homself hou nie. Daarom deel hy dit met die gemeente. Reeds in hierdie lewe kan hulle wat met God se liefde omvou is, bly wees en jubel. Hoekom? Want God het hulle tot regverdiges verklaar. Deur die regverdiges ook opregtes te noem, beklemtoon die digter dat ‘n mens se berou en skuldbelydenis nie net uit woorde kan bestaan nie. Om net vir God te sê: “Ek is jammer,” is nie goed genoeg nie. My berou moet blyk uit my dade. Dit moet sigbaar word in die manier waarop ek God met toewyding volg. Dit sal getoets kan word aan die opregtheid waarmee ek gaan probeer om aan sy wil gehoorsaam te bly.