Sonder liefde is dit tevergeefs

H. Richard Niebuhr

Sonder liefde is dit tevergeefs

God is nie tevrede as ons Hom dien omdat dit van ons verwag word nie. God wil hê dat ons Hom moet dien omdat ons lief is vir Hom.

Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks (1 Korintiërs 13:1 – 3).

Paulus het hier ‘n indrukwekkende lysie saamgestel – die tale van mense en engele, die gawe van profesie, ken al die geheimenisse, besit al die kennis, geloof om berge te versit, deel alles aan ander uit, gee my liggaam prys. Sekerlik behoort dit ons in die top 1% van godsdienstige mense te plaas. Maar Paulus sê dat al hierdie dinge nie opweeg teen dit wat God graag wil hê nie – liefde. Sonder liefde is selfs die radikaalste toewyding aan Hom van geen waarde nie.

Jy kan al die geestelike gawes in die wêreld hê, jy kan absoluut gehoorsaam wees, jy kan al jou besittings uitdeel, jy kan die Bybel memoriseer, jy kan soos Martin Luther elke môre vier uur lank bid, maar as dit nie uit ‘n hart vol liefde vloei nie, is dit niks nie.

Om ware liefde in jou hart te kweek, vereis meer as geestelike gawes, groter Bybelkennis, absolute geloof en selfs radikale gehoorsaamheid. Dit vereis iets radikaal anders. Dit is nou waar die evangelie ter sprake kom. Net die evangelie kan liefde vir God in jou hart kweek. Paulus verwys na die evangelie as God se krag tot redding van elkeen wat glo (Romeine 1:16). As die evangelie verkondig word, maak die Gees die hart lewend om die heerlikheid en skoonheid van God wat daarin geopenbaar is, te sien. Die verhaal van Jesus se dood en opstanding het die krag om dooie harte weer lewend te maak.

Godsdiens kan vir jou sê wat om te doen – jy moet God met jou hele hart, siel, verstand en krag liefhê – maar net die evangelie gee vir jou die krag om dit te doen. Hoekom? Die evangelie bring ‘n gehoorsaamheid gedryf deur ‘n begeerte na vore.

‘n Nuwe Kategismus: Inleiding (2)

Helen Keller

Hoekom nuwe katagismusse skryf?

Hoekom het mense kategismusse geskryf?

  • Die uitleg word op so ‘n manier gedoen dat dwaalleer, foute en dit wat die tyd en kultuur glo, hanteer en weerspreek word.
  • ‘n Meer pastorale doelwit was om ‘n onderskeibare groep mense – ‘n soort teenkultuur – te vorm wat meer en meer gelykvormig aan Christus word. Hierdie geld nie net vir die karakter van individue nie, maar ook vir die gemeente se kommunale lewe.

Hierdie doelwitte verduidelik waarom ‘n nuwe kategismus nodig is. Die uitleg van die leerstellings in die evangelie mag nie afwyk van dié van ouer kategismusse wat Bybels waar is nie, maar die kultuur en ook die versoekings en uitdagings waarvoor mense toegerus moet word om dit te hanteer, het verander.

Die nuwe kategismus

bestaan uit 52 vrae en antwoorde. [Die Heidelbergse Kategismus het 129 en die Westminster Shorter het 107 vrae en antwoorde.] Daar is dus een vraag en antwoord vir elke week. Dit pas dus gemaklik by die jaar in.

Dit is ‘n gesamentlike volwasse en kinder kategismus – dieselfde vraag word vir beide groepe gevra. Die antwoord vir die kinders is altyd deel van die antwoord vir die volwassenes. Dit beteken die ouers leer hulle kinders en leer terselfdertyd die antwoorde. Die kinders se antwoord is ‘n verkorte weergawe van die volledige antwoord.

Die New City Catachism is gebaseer op Calvyn se Geneefse Kategismus, die Westminster Shorter and Larger Catechisms, maar veral die Heidelbergse Kategismus. Dit stel mense dus bloot aan die insigte en rykdom van die kategismusse wat tydens die Hervorming ontstaan het. Dit sal hopelik mense aanmoedig om dieper te delf in die geskiedkundige kategismusse en om die kategetiese proses dwarsdeur hulle lewe vol te hou.

Die kategismus word in drie dele verdeel:

Deel 1 = God, die skepping en sondeval, die wet (20 vrae)

Deel 2 = Christus, verlossing en genade (15 vrae)

Deel 3: Gees, herstel, groei in genade (17 vrae).

Soos in meeste tradisionele kategismusse word elke vraag en antwoord vergesel van ‘n vers uit die Bybel. Vir elke vraag en antwoord is daar ‘n kort kommentaar en ‘n kort gebed geneem uit die onderrig en preke van leermeesters uit die verlede. Dit help lesers om na te dink oor die onderwerp wat ondersoek word. In die afdeling vir kinders word die vrae en antwoorde vergesel van dieselfde Bybelteks. Die gebede vir volwassenes is aangepas, gemoderniseer, korter en eenvoudiger om dit meer toepaslik vir kinders te maak. Daar is ook kort video kommentare deur moderne teoloë.

Hierdie nuwe kategismus bestaan uit 52 vrae en antwoorde. Hulle is veral goed vir studie in groepe soos families en kleingroepe (vir die eerste tien minute van die byeenkoms).

Die beplanning vir 2013 is soos volg:

  • Ons begin met ‘n reeks blogs oor die Apostoliese Geloofsbelydenis op 1 Januarie 2013.
  • Dit word gevolg deur ‘n reeks oor die Ons Vader-gebed.
  • Elke Sondag publiseer ons ‘n vraag en antwoord uit die nuwe kategismus

‘n Nuwe Kategismus: Inleiding (1)

Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

 

Die verlore praktyk van kategese

Vandag het die praktyk van kategese, veral by volwassenes, feitlik heeltemal verdwyn. Moderne dissipelskapprogramme konsentreer op praktyke soos Bybelstudie, gebed, koinonia en evangelisasie. Hulle is baie dikwels oppervlakkig as dit by die Christelike leer kom. In teenstelling neem die klassieke kategese die student deur die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Tien Gebooie en die Ons Vader-gebed – ‘n perfekte balans van Bybelse teologie, praktiese etiek en ‘n geestelike ervaring. Die kategetiese dissipline van memorisering dryf konsepte dieper in die hart. Studente word ook so aanspreeklik gehou om die materiaal te bemeester – meer so as by tipiese dissipelskapkursusse. Die praktyk van vraag en antwoord bring studente en leermeesters in ‘n natuurlike, interaktiewe, dialogiese proses van leer.

Volgende keer gaan ons na die rede waarom nuwe kategismusse nodig is.




Danksegging onder alle omstandighede

Augustinus het gesê: Nothing, therefore, happens unless the Omnipotent wills it to happen, or he brings it about himself.

Danksegging onder alle omstandighede

Paulus sê ons moet onder alle omstandighede dankbaar wees – goed en sleg. Dankbaarheid is nie ‘n natuurlike deug nie, maar ‘n vrug van die Gees. Luister na Paulus se aanklag teen mense: Al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie (Romeine 1:21). Danksegging is ‘n erkenning van afhanklikheid. Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie? (1 Korintiërs 4:7).

 

 

As God se kinders moet ons Hom onder alle omstandighede dank. Lees net weer die verhaal van die tien melaatse mans wat Jesus genees het – al tien roep om genesing, al tien is genees, net een kom terug om vir Jesus te bedank (Lukas 17:11 – 19). Ons is ook so – gou om God se hulp te vra, maar ons vergeet van dankie sê. Ons moet ‘n gees van dankbaarheid kweek.

 

Ons het probleme om God te dank as die omstandighede sleg is. Maar ons glo tog dat Hy in beheer is en onder alle omstandighede aan die werk is. Ons moet hierdie waarheid aanvaar al weet ons nie hoe Hy alles ten goede gaan laat meewerk nie. Ons moet besef dat God op ‘n proaktiewe en nie op ‘n reaktiewe wyse werk. Hy reageer nie op ons omstandighede om die beste van ‘n slegte saak te maak nie. Hy weet vooraf presies hoe hy die omstandighede gaan gebruik. Josef sê vir sy broers: Dis nie julle wat my hierheen gestuur het nie (Genesis 45:8). Later sê hy vir hulle: Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen (Genesis 50:20). Daarom sê Paulus dat ons onder alle omstandighede dankbaar moet wees.

 

Is ons dankbaar genoeg?