Koinonia: ‘n Gesamentlike lewe

The Fountain and the Furnace

Koinonia: ‘n Gesamentlike lewe

Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus (1 Johannes 1:3).

 

Die woord gemeenskap word vir ‘n verskeidenheid sake gebruik – ‘n groep mense wat iets in gemeen het (die landbou/akademiese/Duitse gemeenskap). In ons moderne wêreld is daar ‘n neiging tot ‘n individualistiese benadering tot die Christelike lewe – ons glo dat godsdiens ‘n private aangeleentheid is. Maar wat is die Bybelse gemeenskap waarvan ons so dikwels in die Bybel lees?

 

Koinonia word met verskillende woorde in die Nuwe Testament vertaal. Die algemeenste is gemeenskap. Maar vandag beteken dit vir ons dikwels niks meer as ‘n Christelike sosiale aktiwiteit nie. Maar dit is nie die betekenis wat ons in die Nuwe Testament kry nie. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid (OAV = gemeenskap), die gemeenskaplike maaltyd en die gebede (Handelinge 2:41). Die leer van die apostels en gebede verstaan ons, maar waarom toelê op gemeenskap? In Handelinge 2:41 en 1 Johannes 1:3 beteken dit dat ons ‘n “gemeenskaplike lewe deel.” Hierdie gemeenskap deel ons met die Vader en die Seun. Gemeenskap is dus ‘n verhouding en nie ‘n aktiwiteit nie.

 

Die vroeë Christene is deel van hierdie verhouding as gevolg van hulle geloof in Jesus Christus – nie omdat hulle by ‘n organisasie aangesluit het nie. Hulle besef ook dat hierdie gemeenskap met God hulle logies ook in gemeenskap met mekaar gebring het. Deur hulle eenheid met Christus word hulle ‘n geestelike, organiese gemeenskap – lewende stene ingebou in ‘n geestelike huis (1 Petrus 2:5). Die feit dat ons gesamentlike doelwitte het, maak nie van ons ‘n gemeenskap nie; die feit dat ons ‘n gemeenskaplike lewe in Christus deel, maak van ons ‘n gemeenskap. Bybelse gemeenskap is om ‘n gemeenskaplike lewe in Christus te deel.

 

 ‘n Geestelike gemeenskap kom tot stand om God te verheerlik. God word verheerlik as gelowiges meer soos Christus word en as ongelowiges in God se koninkryk ingebring word. Bybelse gemeenskap sluit dus in die idee van ‘n aktiewe vennootskap vir die bevordering van die evangelie en die opbou van gelowiges.




Die geslagsregister van Jesus Christus

Blog1111

. -Francis Bacon

Die geslagsregister van Jesus Christus

As ons na Jesus se geslagsregister in Matteus 1 kyk, kom ‘n paar evangeliewaarhede na vore:

  • Die evangelie is nie goeie advies nie, maar goeie nuus.

  • Jesus is die middelpunt van die geskiedenis
  • Jesus neem wat die wêreld as ‘n onbelangrike familie sou beskou en organiseer die menslike geskiedenis om hulle. Dit het nie destyds gelyk asof Jesus die fokus van die geskiedenis was nie. Israel was ‘n klein, onbelangrike Romeinse provinsie en niemand in Rome gee aandag aan hierdie geslagsregister nie. Maar God het ‘n belofte aan Abraham gemaak dat Hy die wêreld sou verlos. Hy doen dit te midde van magtige nasies wat oortuig was dat hulle in beheer was.

    Vandag lyk dit ook vir ons asof Jesus nie die middelpunt van die geskiedenis is nie. Die media kyk na die markte en politici as hulle voorspellings oor die toekoms maak. Maar uit God se perspektief is dit nietighede in vergelyking met wat Hy deur Jesus se koninkryk doen.

  • God werk deur alle dinge – goed en sleg – vir sy doel
  • Matteus sluit sy geslagsregister af deur te sê dat van Abraham tot by Jesus ons drie stelle van 14 persone het. Ons weet ook dat Matteus sekere geslagte uitgelaat het om by hierdie formule uit te kom. Dit was nogal ‘n algemene praktyk destyds om geslagte uit te laat. Hoekom wou Matteus hierdie stelle van 14 hê? Veertien is natuurlik twee sewes en sewe is die Bybelse getal vir volmaaktheid. God plaas dus sy seël van goedkeuring oor die geskiedenis.

    Volmaaktheid is darem ‘n groot aanspraak om te maak. Tamar (vers 3) het haar skoonvader verlei om haar swanger te maak – sy het soos ‘n prostituut aangetrek. Dawid (vers 6) slaap by sy vriend se vrou en laat hom vermoor om die gebeurtenis stil te hou. God kyk hierna en plaas sy seël daarop – volmaak. Daarmee keur Hy nie hulle optrede goed nie.

    Van ons lewens is ook maar disfunksioneel. Dit breek God se hart. Maar Hy het ‘n oorkoepelende doel vir ons lewens: Hy wil Jesus se doel in en deur ons bereik. Hy werk in die donkerste dele van ons geslagsregisters om dit reg te kry.

  • Die evangelie is vir die buitestander
  • geslagsregister is vol buitestanders – moreel, etnies en geslag. Dit sê vir ons dat Jesus vir die uitgeworpenes soos ek en jy gekom het.

  • Jesus is die ware rus
  • Verbasend wat Jesus se geslagsregister vir ons sê.

    [Ek het hier van ‘n blog van Tim Gombis gebruik gemaak.]




    Bewegings teenoor Instellings

    If we could change ourselves, the tendencies in the world would also change. As a man changes his own nature, so does the attitude of the world change towards him. … We need not wait to see what others do. – Mahatma Gandhi 

    Bewegings teenoor Instellings

    Organisasies moet beide kenmerke van instellings en die dinamika van bewegings hê. Instellings bevorder stabiele gedragspatrone deur reëls en beleid wat stadig verander. Mense se keuses word beperk. Instellings vertrou op die onderwerping aan ‘n gevestigde gesag wat waardes en doelwitte van die verlede bewaar.

    Hulle is noodsaaklik want hulle verskaf betroubare sisteme vir wat gedoen moet word.. Die instelling is eintlik die skelet van die liggaam. Instellings bring orde in die lewe.

    Bewegings het meer te doen met die uitoefening van persoonlike voorkeure – dit vorm die toekoms. ‘n Beweging het vier sleutel kenmerke: visie, opoffering, buigsaamheid met eenheid. En spontaneïteit.

    • Visie. Dit is ‘n duidelike, aantreklike beeld van die toekoms wat die beweging en sy leiers probeer bereik – as dit is waar jy wil wees, kom saam met ons. Dit gaan saam met ‘n stel waardes waaraan die beweging toegewyd is. Die inhoud van die visie moet so gekommunikeer word dat ander dit maklik kan verstaan; die inhoud moet so oortuigend wees dat ander dit kan leer en uitvoer sonder veel sentrale beheer of bystand. Instellings het gewoonlik ‘n doel wat iewers neergeskryf is, maar wat die instelling bymekaar hou, is nie sy visie nie, maar sy reëls, regulasies en prosedures.
    • Hierdie saambindende visie lei tot ‘n kultuur van opofferende toewyding en intrinsieke belonings. Individue plaas die visie voor hulle eie belange en gemak. Die bereiking van hulle doelwitte is hulle grootste beloning – interne, persoonlike vervulling. In ‘n instelling het elke posisie duidelik gedefinieerde regte en voorregte sowel as duidelike vergoeding en voordele. Die insentief is hierdie belonings. Hulle werksuitsette word versigtig met hierdie belonings gebalanseer. As net die leiers in jou gemeente opofferings maak, het jy nie ‘n bewegingskultuur in jou gemeente nie.
    • Bewegings word gekenmerk deur vrygewige buigsaamheid teenoor ander organisasies en mense buite  – nie lede nie. Vir bewegings is die wat (die bereiking van die visie) belangriker as die hoe en die wie. Hulle werk saam met almal wat hulle belangstelling in die visie deel. Instellings stel meer belang in oorgeërfde tradisies, die regte prosedures en geakkrediteerde mense. Omdat ‘n gees van buigsaamheid deel is van bewegings is daar ‘n hoë mate van eenheid. Instellings, daarenteen, hou daarvan om terreine af te baken. Sy eie welstand is dikwels belangriker as die welstand van die geheel. Daar is gewoonlik nie eenheid binne die instelling nie.
    • Bewegings genereer nuwe idees en leiers van binne af. Instellings is op langtermyn oorlewing  en stabiliteit ingestel. Hulle waag nie sommer nie. Bewegings gee nie om om te waag nie – hulle lede maak in ieder geval reeds opofferings. Bewegings trek en beloon leiers wat resultate lewer. Instellings, weens hulle klem op stabiliteit en oorlewing, beloon leiers vir jare diens en die verkryging van aanvaarde kwalifikasies – jou CV is belangrik.

    ‘n Beweging kan nuwe idees genereer, want dit moedig mense aan om te debatteer en te bespreek. Hulle is meer geneig om te eksperimenteer en nuwe idees te probeer. Hulle is minder hiërargies en afgesonder in silo’s. Nuwe idees kry vinniger vastrapplek. Bewegings trek ambisieuse en kreatiewe mense. Omdat hulle op resultate fokus, sien hulle ontluikende leiers vinniger raak. Bewegings groei vinniger, want hulle toets van nuwe idees veroorsaak dat hulle vinniger by veranderinge in die omgewing kan aanpas.

    Die probleem is dat bewegings instellings kan word: visie word strategie; rolle word take; spanne word strukture; netwerke word organisasies; erkenning word kompensasie. Ons moet versigtig wees om ‘n skerp lyn tussen die twee te trek. Daar is natuurlik goeie redes om die kerk as instelling te kritiseer, maar die indruk dat alle gesag, gesentraliseerde beheer en formele prosesse sleg is, is verkeerd. Die werklikheid is baie meer ingewikkeld.

    • Nuwe gemeentes en bedienings probeer hard om informeel en nie-gesentraliseerd te wees, maar dit kan nie 100% so wees nie. As ons ‘n keuse maak – ‘n nuwe beleid, administratiewe struktuur of konsensus oor waardes en geloof – begin ons mense  se roetines, verwagtings en voorkeure vorm – die begin van ‘n instelling.
    • ‘n Mate van instelling is verkieslik. Die visie staan sentraal in ‘n beweging, maar hierdie visie kan nie elke jaar verander nie. Dit beteken die visie vereis ‘n mate van kodifisering en beheer. Om ‘n verenigde visie daar te stel vereis sekere aspekte van ‘n instelling.
    • Bewegings maak staat op die opofferings van hulle lede – veral aan die begin. Dit is nie volhoubaar nie. Groot visies vereis ‘n langtermyn poging. Hulle moet genoeg inkomste genereer om hulle uitgawes te dek. Anders word al die beste persone uitgebrand.

    ‘n Sterk dinamiese beweging beklee ‘n plek van spanning en balans – tussen ‘n vry organisme en ‘n gedissiplineerde organisasie. ‘n Beweging wat weier om sekere organisatoriese eienskappe – gesag, tradisie, eenheid van wat ons glo en kwaliteitsbeheer – te aanvaar, sal uiteindelik fragmenteer en verdwyn. Bewegings wat nie totale institusionalisering weerstaan nie, sal hulle lewenskragtigheid en doeltreffendheid verloor. Die leier van ‘n beweging moet sy skip veilig tussen hierdie twee gevare stuur.

     

     




    Die stad gedefinieer


    Leadership, like swimming, cannot be learned by reading about it.” — Henry Mintzberg

    .

    Die stad gedefinieer

    Vandag word ‘n stad volgens bevolkingsgrootte gedefinieer. In die Bybel verwys stad na huise omring deur versterkings of ‘n muur. Die inwonerstal was gewoonlik tussen 1000 en 3000. Die inwoners het dig op mekaar gewoon.

    Volgens die Bybel was die kenmerk van die stad nie grootte nie, maar digtheid – mense leef naby aan mekaar. Jerusalem is gebou soos ‘n stad wat goed saamgevoeg is (Psalm 122:3 – OAV). Dit was ‘n gefortifiseerde stad; die mense het na aan mekaar gelewe; die strate was nou. Mense was fisies teenwoordig op alle plekke en tye.

     

    Nadat Nehemia die stadsmure herbou het, lees ons: Die stad was uitgestrek en groot, met min mense daarin (7:4). Wat was die antwoord? 10% van die volk moes na Jerusalem skuif (11:1).

    Die stad aanvanklik het tot gevolg ‘n besondere leefwyse binne die mure – beskermde spasie. Die bevolking leef naby aan mekaar. Lewe in stede het drie kenmerke:

    • Veiligheid en stabiliteit.

    Die stede het mure gehad en kon dus makliker vyandige magte (ook wilde roofdiere) se aanvalle weerstaan. Die gevolg is ‘n meer stabiele lewe en dit lei tot die groei van die beskawing. Toe die Israeliete Kanaän ingeneem het, was hulle verbaas oor die sterk vestingstede. Nadat hulle die land ingeneem het, het hulle vir hulleself stede gebou. Geen wonder die stad word as ‘n beeld van ‘n vesting waarop hulle kan vertrou (Spreuke 21:22) beskryf nie. ‘n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm, so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersing het nie (Spreuke 25:28).

     

    As gevolg van die stabiliteit het stelsels van wet en orde eerste in die stad ontwikkel. Antieke stede het poorte gehad waar die oudstes gesit het en sake aangehoor het. Buite die mure moes die swaard dispute oplos. God beveel ook die Israeliete om asielstede in Kanaän te vestig. Mense wat ‘n ander se dood veroorsaak het, kon na hierdie stede vlug en hulle saak stel (Numeri 35:6). Vandag kry ons steeds dat mense wat polities onderdruk of ekonomies afhanklik is na die stede vlug. Baie mense beskou stede steeds as veilige plekke om in te leef.

     

    • Diversiteit

    As gevolg van die digtheid en veiligheid van stede kry ons meer diversiteit. Onder die profete en leraars van Antiogië kry ons mense uit verskillende etniese groepe (Handelinge 13:1). Omdat minderhede die stede as veilige plekke om te woon beskou, is die inwoners divers ten opsigte van ras en kultuur. Daar is ook diversiteit ten opsigte van die gebruik van die land.

    Daar is verskeie elemente in die menslike gemeenskap:

    • ‘n Ekonomiese orde waar mense werk en besigheidstransaksies uitgevoer word.
    • ‘n Kulturele orde waar mense leer, kuns beoefen en teaters bywoon.
    • ‘n Polities-geregtelike orde waar sake verhoor word en waar regeringsamptenare bymekaar kom.

    Elke buurt het behalwe huise ook hierdie drie elemente – gemeng en gekompakteer binne loopafstand van mekaar.

     

    • Stede verhoog produktiwiteit en kreatiwiteit

    In die stede kry ons straatlewe en markpleine. Die gevolg is meer persoon-tot-persoon interaksie. Hoe meer mense van dieselfde beroep bymekaarkom, hoe meer stimuleer hulle nuwe idees en hoe vinniger versprei hierdie idees. Stede was nog altyd die sentra vir kulturele intensiteit. Cities are the absence of physical space between people (Edward Glaeser).

     

    Stede is belangrik en die kerk mag nooit stede ignoreer nie.