Hoop (1)

 

An accurate statement of the problem is about 100 percent of the solution – Piet Hein, Deense filosoof

 

Hoop (1)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Hoekom styg die aantal selfmoorde as ons lewens vandag meer gemaklik is en ons langer as ooit tevore leef? Meningspeilings wys dat mense minder vertroue in die toekoms het as tevore. Alles kom neer op ‘n verlies aan hoop en niemand kan sonder hoop leef nie. Wat ons oor die toekoms glo, beheer volledig oor hoe ons die huidige ondervind. Ons is toekoms-geörienteerde mense; ons is deel van ‘n storie wat iewers heen lei. Vandag is die idee van vooruitgang besig om te verkrummel. In ons sekulêre samelewing het ons geen absolute waardes nie. Hoe kan ons dan definieer wat vooruitgang is?

 

Sekulêre optimisme is ‘n ramp. Dit verswak die mense se vermoë om moeilikhede en lyding te hanteer. Die alternatief tot sekulêre optimisme is hoop – ware hoop. Hoop vereis nie dat ons in vooruitgang moet glo nie, maar wel in geregtigheid, ‘n oortuiging dat die goddeloses geoordeel sal word en dat wat verkeerd is, reggemaak sal word. Hoop berus op iets wat bo die sinnelike uitstyg – iets wat die grense van ons ervaring oorskry. Daarom is dit nie beskikbaar vir hulle met ‘n wêreldsiening wat die bonatuurlike ontken nie.

 

Hoop berus op die mens se vermoë om sin van die dood te maak – om die vrees vir die dood te hanteer. Ons hoop vandag berus op individuele vryheid – om ons private idees na te jaag. Hierdie benadering kan nie sin maak van die sekerste feit van die lewe nie – die dood. Volgens die wêreldse siening van dinge eindig die dood net alles.

 

Die oorgrote aantal mense vrees die dood. Hoekom? Oor wat dit aan ons verhoudings doen. Wat die lewe sinvol maak is liefdevolle verhoudings. Die dood stroop ons van alles wat die lewe sinvol maak. Dit is nie net die dood self wat ons bang maak nie, maar die onsekerheid wat agter die dood lê.

 

Dit bring ons by die Christelike hoop. In Johannes 11 kom Jesus by Lasarus se graf. Twee maal lees ons dat Hy gehuil het. Hoekom het Hy gehuil? Hy het tog geweet dat Hy vir Lasarus uit die dood sal laat opstaan. Jesus was kwaad oor die sonde en dood wat die skepping en mense wat Hy liefgehad het, vernietig het. Die dood is nie deel van God se oorspronklike ontwerp vir die wêreld nie. Jesus was betrokke by ‘n geveg om lewe en dood met die dood – Hy veg ter wille van ons. Die dood se aanspraak en mag oor ons is gebreek toe Jesus aan die kruis gesterf het en ons skuld betaal het. Maar die dood kon Hom nie vashou nie – Hy het uit die dood opgestaan.

 

Daar is verskeie maniere waarop die Christelike verstaan van hoop uniek is. Daarna kyk ons die volgende keer.

 




Ons gemeente gaan agteruit

A false religion fears the progress of all truth; a true religion seeks and recognizes truth wherever it can be found – Lord Acton

 

Ons gemeente gaan agteruit

Hierdie is iets wat ons vandag algemeen hoor. Kan ons iets daaraan doen? Die oplossing is nie maklik nie – dit is so moeilik dat baie leiers en gemeentes nie eers probeer nie, omdat hulle glo dat dit onmoontlik is. Maar as ons nie bereid is om te verander, opofferings te maak en uit ons gemaksone te kom nie, is daar geen hoop nie.

 

Thom Rainer verwys na vyf uitdagings en sê hoe ons hulle kan hanteer.

 

  1. Hoe kan ons diegene wat vir kulturele redes bygewoon het, vervang?

Kulturele Christene is inderdaad besig om te verminder. Mense voel dit is nie meer nodig om lidmaat van ‘n kerk te wees om in die gemeenskap aanvaar te word nie. Jy moet nou in die gemeenskap uitreik na diegene wat nie gelowiges is nie. Hoe doen ons dit? As elke lidmaat net een persoon nooi om saam met hom ‘n erediens by te woon, het ons al ver gevorder. Jy sal verbaas wees hoeveel mense bereid is om te kom as jy hulle net nooi. As daar op ‘n spesifieke dag ooreengekom word, kan dit net die vonk wees vir nuwe, innoverende uitreik in die gemeenskap.

 

  1. Hoe verplaas ons die voor 1946 geslag?

Hierdie geslag was lojaal aan die kerk, maar hulle word vinnig minder. Ons moet hulle met jonger mense verplaas. Hoe doen ons dit? Gaan na ‘n gemeente wat baie jongmense lok en vra hulle om twee van hulle jongmanne vir ‘n jaar na jou gemeente te stuur. Hulle sal idees hê oor hoe om jongmense te lok, maar dan moet jy bereid wees om na hulle te luister en hulle idees te implementeer.

 

  1. Hoe verplaas ons mense wat weg is na ander stede?

Baie gemeentes is geleë in gemeenskappe wat besig is om agteruit te gaan. Kyk mooi, en jy sal sien dat daar selfs in hierdie gemeenskappe baie mense is wat nie aan ‘n gemeente verbind is nie. Hou op met jou negatiewe gesindheid. Bid dat God jou moet lei oor hoe om die Groot Opdrag te implementeer.

 

  1. Hoe reageer jy op die vinnige omset in jou gemeente

Mense bly nie meer soos in die verlede in ‘n gemeente net as gevolg van lojaliteit nie. Dit is baie belangrik dat jy weet hoekom hulle die gemeente verlaat het. Daarom moet jy onderhoude voer met almal wat die gemeente verlaat om vas te stel hoekom hulle weg is.  Dan kyk jy na wat jy anders kan doen om hulle te behou.

 

  1. Hoe kan ons vinnig reageer op al die veranderinge om ons?

Los jou persoonlike voorkeure. Hou op baklei oor dinge soos musiekstyle, eredienstye, ens. Wees bereid om jou agenda te los en te sien wat God sal doen.

 

As jou gemeente besig is om agteruit te gaan, moet jy iets doen. Bid, wees gehoorsaam.

 

 




Dag 13: 100X: Want niks is onmoontlik met God nie

 

Dag 13: 100X: Want niks is onmoontlik met God nie

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Advent herdenk die geboorte van Jesus Christus. Die Bybel vertel vir ons van die interaksie tussen die engel en Maria. Is dit moontlik dat ‘n maagd geboorte gaan gee aan die Verlosser van die wêreld? Uiteindelik sê die engel vir haar: Niks is vir God onmoontlik nie. Hierdie is natuurlik nie ‘n nuwe tema in die Bybel nie. In Genesis 18 lees ons dat Sara in ongeloof gelag het toe God sê dat sy swanger sou word. Die Here antwoord: Is iets te buitengewoon vir die Here?

 

Job, Jeremia en Sagaria het almal hierdie selfde retoriese vraag vir God gevra: “Is iets onmoontlik vir God?” die evangelie, eintlik die Hele Bybelverhaal, roep ons op om vas te hou aan die misterie van God en ons geloof in God. Maar geld dit nog vir vandag? Doen God steeds die onmoontlike?

 

Teen die middel van die vorige eeu het die ateïstiese, kommunistiese regering van China verklaar  dat daar geen God is nie. Op daardie stadium was daar ongeveer 1 miljoen oorblywende Christene in China. Gelowiges van dwarsoor die wêreld het gebid vir die Christene in China. God vermenigvuldig die Christene 100X binne ses dekades. As ‘n besigheid 100X groei, sal hy die onderwerp van talle gevallestudies wees. Maar hoe kan ‘n kerk groei as hy vervolg word en die grense van die land is gesluit? Dit is ‘n misterie wat geloof in die gebede van God se kinders wêreldwyd vereis.

 

Tydens die Advent-seisoen word ons oë gerig op die ware Hoop van die wêreld. Glo ons dat God die onmoontlike kan doen? Glo ons dat God se woord altyd sal seëvier? Het jy al vir God getoets en Hom vir die onmoontlike vertrou?

Niks is vir God onmoontlik nie? (Lukas 1:37).

 




My identiteit (4)

 

A believer, after all, is someone in love – Soren Kierkegaard

 

My identiteit (4)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Hoekom is hierdie nuwe identiteit deur geloof in Christus beter as die wêreldse identiteit? Alle mense is na God se beeld gemaak om sy eie eienskappe en karakter te weerspieël. Maar nog meer: ons waarde vermeerder verder as gevolg van ons aanneming. Deur geloof  in Christus word ons God se geliefde kinders. God is nou ons volmaakte Vader; Hy gee vir ons die sekuriteit wat net ‘n ouer-kind verhouding kan bied. Hy sal ons nooit verlaat nie al sondig ons. Natuurlik het God standaarde – Hy is volmaak regverdig en heilig. Jesus het hierdie standaarde vir ons vervul. Jesus het ons straf gedra. Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Romeine 8:1).

 

Die Christen se ware self is die self wat Hy voor God is. God sê vir Abram: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees (Genesis 17:1 – OAV). Om voor iemand te wandel behels beide aanspreeklikheid (die een met wie jy loop kan jou sien) en sekuriteit – jy sal nooit alleen wees as daar probleme opduik nie. Om met God te wandel beteken dat net sy oë en siening van belang is. Om met God te wandel, wat ons altyd sien en liefhet, bring ‘n nuwe integriteit na vore.

 

Wie is ek? Ek is wie ek voor God is. Daar is niks kosbaarder as hierdie nuwe identiteit nie. Wat help dit die mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal ‘n mens kan gee in ruil vir sy lewe (Markus 8:36 – 37). Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van my verloor, sal dit vind (Matteus 10:39). Die evangelie bied aan ons die versekering van ons eie waarde, maar terselfdertyd vereis dit nederige diens en die verlies van outonome onafhanklikheid.