NEHEMIA – MOED (2)

There would be no manifestation of God’s grace or true goodness, if there was no sin to be pardoned, no misery to be saved from. —Jonathan Edwards

 

Nehemia – Moed (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Ons is besig om na die derde kenmerk van ‘n leier te kyk – moed.

 

Kenmerk #3: Moed – verstewig jou leierskap

 

Moed te midde van vrees

Josua word die leier van Israel na Moses se dood. Hy was bang. God berispe hom nie oor sy vrees nie; Hy bemoedig hom en sê dat hy sy vrees moet oorwin. Josua het rede gehad om bang te wees.

 

  • Sy voorganger. Josua moes in die voetspore van Moses volg – dieselfde Moses wat met God gepraat het en wat sy mense uit Egipte uitgelei het.
  • Josua se leër. Hulle het min/geen opleiding gehad nie; hulle het geen ondervinding van oorlogvoering gehad nie.
  • Josua het met sy eie oë die inwoners van Kanaän gesien … en party van hulle was reuse!

 

God weet van sy vrees en daarom bemoedig Hy vir Josua: Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan (1:9). Hierdie belofte geld steeds vir God se leiers.

 

Jy hoef nie toe te laat dat vrees jou verlam nie. Hoekom kan Christene altyd met moed optree?

  • Moed groei uit God se karakter

God bemoedig Josua om as ‘t ware sy mense tot ‘n oorwinning te lei. Hoekom? God het die land met ‘n eed aan hulle voorvaders beloof (1:6). Josua kan met moed vorentoe gaan, want hy weet dat God die oorwinning belowe het. God sal nie toelaat dat sy dienaar Josua misluk nie. God se herversekering van sy belofte aan Josua, moet ons vertroue gee. God het ook aan ons die oorwinning belowe. Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus (2 Korintiërs 2:14). Jou oorwinning in Hom is ‘n gegewe. Jou beloofde oorwinning moet jou die nodige moed en vertroue gee in die stryd wat voorlê.

 

  • Moed vermeerder met God se leiding

Ons weet nie presies wat Josua gedink het nie. In 1:7 sê God vir Josua vir ‘n tweede keer: Wees veral sterk en baie vasberade. Hoe kan God dit sê? Want God het aan hom die plan vir die stryd gegee en God sal hom lei; God gee aan hom al die krag wat hy nodig sal hê. God het aan Josua leiding gegee en Hy sal dit ook aan ons deur sy woord gee. Maar God waarsku vir Josua: hy moet die wet wat God aan Moses gegee het, onderhou: Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê (1:8). Daarom moet Josua dit dag en nag oordink. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer (Efesiërs 6:16). Ons moet God se advies aan Josua volg. Moenie dat jou aandag afgelei word nie; moenie moed verloor nie. Fokus op God en sy plan vir jou lewe. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees … oral waar jy gaan (Josua 1:8 – 9).

 

  • Moed vermeerder met God se teenwoordigheid

Vir die derde keer sê God vir Josua dat hy nie moet skrik of bang wees nie. Hoe kan God dit sê? Want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan (Josua 1:9). Almal van ons kom op ‘n plek waar ons moed moet openbaar. Dit help as ons familie en vriende naby is om ons te ondersteun. Hulle teenwoordigheid stimuleer ons om ons beste te lewer – dit gee aan ons die moed om die regte ding te doen. ‘n Groter motivering is om te weet dat God naby is – by ons wat ook al gebeur en waar ons ook al gaan. Dit was Josua se geheim vir sy sukses. Dit moet ook ons geheim wees.

 

Die volgende vraag wat ons moet beantwoord, is: Hoe lyk moed in ‘n Christenleier?




NEHEMIA – MOED (1)

Nehemia – Moed (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Ons kom nou by die derde kenmerk van ‘n leier: Moed.

 

Kenmerk #3: Moed – verstewig jou leierskap

Maar dié dag sê die koning vir my: “Hoekom lyk jy so bedruk? Is jy dalk siek? Nie? Hartseer dan?” Ek was baie bang (Nehemia 2:2)

 

Die koning kom agter dat daar iets met sy skinker verkeerd is. Hy wil weet wat is verkeerd. Nehemia se reaksie: Ek was baie bang. Hy besef sy lewe kan in gevaar wees. Nou moet hy sy woorde versigtig kies.

 

Moed is vrees onder beheer

Moed is nie die afwesigheid van vrees nie – dit is om daarop op ‘n toepaslike manier te reageer. Vrees is nie ‘n slegte ding nie. God gebruik vrees om te verseker ons tree versigtig op. Dit help ons om vinnig te besluit en te soek vir oplossings. Moed ignoreer nie vrees nie – dit evalueer die oorsaak van die vrees en bepaal hoe om vorentoe te beweeg. Moed is nie domastrantheid nie. Moed mag beteken dat ons terugtrek om ‘n ander dag te baklei.

 

Leiers moet moed hê

Courage is contagious. When a brave man takes a stand, the spines of others are stiffened (Billy Graham).

Moed in ‘n leier maak dat ander hom wil volg. Die moed van ‘n leier word sigbaar as hy voor onaangename situasies te staan kom en hy met oortuiging optree; ferm optrede ten spyte van uitdagings al mag dit lei tot swaarkry as gevolg van die besluit. Leiers is bereid om ongewilde besluite te neem.

 

Moed in die lewe van …

Luther was ‘n man van moed. Toe hy op pad na Worms – die stad waar hy verhoor sou word – is, sê hy: You can expect from me everything save fear or recantation. I shall not flee, much less recant.

 

Maklik om te sê dat leiers moed moet hê, maar hoekom kan Christenleiers altyd moed hê. Daarna gaan ons volgende keer kyk.

 




Waardes en Psalm 15

C. S. Lewis

Waardes en Psalm 15

Waardes is waarhede waaroor ons nie kompromieë aangaan nie en wat ons gedrag dryf en rig. Hulle is:

  • Beperkend – hulle plaas grense, wat ons nie mag oorskry nie, om ons gedrag.

  • Omdat hy die waarheid liefhet, praat hy die waarheid.
  • Omdat hy goedheid nastreef, doen hy sy medemens geen kwaad aan nie.
  • Omdat hy eerlikheid nastreef, hou hy sy woord selfs tot sy eie skade.
  • Omdat hy geregtigheid nastreef, laat hy hom nie omkoop nie.
  • Leiers wat deur waardes gedryf word, pluk die vrugte daarvan – Wie hom hieraan hou, sal nooit wankel nie. Maak nie saak wat om hulle gebeur nie, hulle kan met vertroue lewe, want die regte waardes het hulle besluite gerig. Hierdie vertroue lei tot emosionele en geestelike stabiliteit.

    Kyk ons na die wêreld sien ons waardes wat onsself in die middelpunt plaas. Watter waardes dryf ons lewe? Is dit ook die waardes wat die psalmis se lewe gedryf het?

    NEHEMIA – GEBED (3)

    No man, for any considerable period, can wear one face to himself and another to the multitude, without finally getting bewildered as to which may be true. -Nathaniel Hawthorne, skrywer (1804-1864)

     

    Nehemia – Gebed (3)

    Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

     

    Kenmerk #2: Gebed … bemagtig jou leierskap

     

    Die waarde van gebed in die lewe van ‘n leier

     

    Ons geleenthede om te bid gebeur nie in ‘n lugleegte nie. Hulle word gewoonlik deur onlangse gebeure gepresipiteer. Dit is belangrik om te bid terwyl die las nog in jou hart brand. Toe Nehemia van die probleme hoor, bid hy onmiddellik. As gebed nie ons natuurlike en gereelde reaksie is nie, stoot ons dit op die agtergrond. Ons stel uit – daar is altyd ander “dringende” gebeure wat ons aandag nodig het.

     

    ‘n Werklikheidskontrole: Jy moet besluit hoe belangrik gebed in jou lewe is. Dit is ‘n besluit wat jy moet neem en ‘n dissipline wat jy moet ontwikkel. As jy wil hê God moet jou as leier gebruik, moet jy ‘n man van gebed wees. Jy kan nie bekostig om nie te bid nie. Daarvoor is die las van leierskap te groot. Jy kan nie al die verantwoordelikhede alleen dra nie – veral nie as God beskikbaar en gewillig is om te help nie. Jy kan lei sonder God, maar jy sal nooit ‘n groot leier wees nie.

    Kyk na hierdie beginsels van Nehemia se gebedslewe:

    • Bid vir die behoeftes van ander. Nehemia was terdeë bewus van die behoeftes van sy mense. Daarom bid hy en soek ‘n manier om hulle te help.
    • Bid met ‘n oop gemoed. Terwyl Nehemia gebid het, sien hy dat God se doel hom betrek. God kan moontlik sy doel vir jou in gebed openbaar.
    • Bid met ‘n gewillige hart. Nehemia aanvaar in gehoorsaamheid God se leiding om hom te gebruik as deel van die oplossing. Hy los sy werk. Miskien verwag God van ons dat ons sekere van ons aktiwiteite opsy moet skuif sodat ons sy plan kan uitvoer.
    • Bid vir die visie. Nehemia kon nie God se doel – die herbou van die muur – alleen vermag nie. Vir meeste van ons projekte geld dieselfde. Bid dat God ander ook van die visie sal oortuig.
    • Bid volhardend. Moenie ophou as dit lyk asof God nie hoor nie. Nehemia het vir vier maande gebid voor hy ‘n duidelike reaksie van God gekry het. Toe hy later voor teenstand te staan kom, bid hy weer totdat die muur voltooi is.
    • Bid vir jou eie optrede. Nehemia bid en vra vergifnis van sy sonde.
    • Bid vir rigting. Nehemia bid by elke stap langs die pad – hy wil seker maak dit is volgens God se wil. Elke keer na hy gebid het, tree hy op.
    • Bid en tree dan op. Gebed vervang nie optrede nie. Daar moet ‘n balans tussen gebed en optrede, tussen geloof in God en om God te volg, bid vir God se wil en doen van God se wil wees.  Moenie uitstel om dit wat reg is te doen nie – al is dit om te bid. Soms mag dit lank duur voor God ons gebede beantwoord, maar as die antwoord kom, beweeg vorentoe met geloof en kyk hoe God die deure oopmaak.

     

    Gebed is seker een van die belangrikste kenmerke van ‘n groot leier. Bid sonder ophou.