NEHEMIA – GEBED (2)

Christian love is never theoretical or abstract; it is always practical. —Alexander Strauch

 

Nehemia – Gebed (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #2: Gebed … bemagtig jou leierskap

Hoekom is gebed belangrik in die lewe van ‘n leier?

 

  • Gebed wys dat jy van God afhanklik is.
  • Gebed skakel trots en selftevredenheid uit.
  • Gebed dwing jou om verder as jouself en jou eie vermoëns en tekortkominge te kyk.
  • Gebed laat jou wag – jy kan nie bid en vorentoe beweeg terselfdertyd nie.
  • Gebed verskerp jou visie. Meeste besluite gaan met ‘n mate van onsekerheid gepaard. Gebed maak alles duideliker.
  • Jy kan nie bid en jouself bekommer terselfdertyd nie. Knees don’t knock when you kneel on them
  • Gebed versterk geloof. Gebed wys dat jy God vertrou; dit spoor jou aan tot nog meer vertroue in Hom.

 

Die krag van een leier se gebed

Die leiers in die Bybel betrek God by hulle persoonlike lewe en by die besluite wat hulle neem. Hulle besef dat net God se toetrede  ‘n ramp kan verhoed. ‘n Baie goeie voorbeeld is Koning Hiskia (2 Konings 18:9 – 19:37). ‘n Groot Assiriese leër val die kleine Juda binne. Jerusalem word omsingel. Dit is duidelik dat Hiskia nooit die Assiriërs sou oorwin nie – sy leër was te swak om sy mense te beskerm. Wat doen hy? Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe voor die Here oopgesprei. Toe het hy tot die groot Here gebid: “Here, God van Israel, U wat oor die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde, U het die hemel en die aarde gemaak. Hoor tog, Here, luister, kyk tog, Here, let tog op … Here, onse God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is.” (19: 16 – 19). Wat was die gevolg van Hiskia se gebed? 185 000  Assiriese soldate sterf in hulle slaap. Die Assiriese koning trek terug.

 

 ‘n Lewe van gebed

Nehemia het pas ontstellende nuus gehoor. Na al die jare lê die muur steeds om en die mense kry swaar. Die verslag was so ontstellend  dat hy gaan sit het, gehuil het en dae lank getreur het (1:4). Wie sê dat ‘n leier geen emosie mag wys nie? Die vraag is of hierdie hartseer jou verlam of neem jy die eerste tree: Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid. Draai ons onmiddellik na God vir vertroosting? Om sy wil uit te vind? Om beter te verstaan wat in jou lewe aangaan? Om God se leiding te soek vir die besluite wat jy moet neem? Dwarsdeur die boek lees ons van Nehemia wat bid. Dit was hoe hy probleme hanteer het.

 




NEHEMIA – GEBED (1)

Where the light is brightest, the shadows are deepest. -Johann Wolfgang von Goethe (1749-1832)

 

Nehemia – Gebed (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Ons kom nou by die tweede kenmerk van ‘n leier: gebed.

 

 

Kenmerk #2: Gebed … bemagtig jou leierskap

“Ag, Here, luister tog na die gebed van u dienaar en na die gebed van u dienaars, hulle vir wie dit ‘n vreugde is om u Naam te eer. Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen. Laat hierdie man my simpatiek gesind wees.” Ek was die koning se skinker (1:11)

Gebed mag nooit ‘n laaste uitkoms wees nie – as niks anders werk nie. Nehemia, soos Daniël, het tyd ingeruim om elke dag te bid. Hy het gebid vir die ballinge wat na Jerusalem toe teruggekeer het; vir die herstel van Jerusalem. Maar op hierdie spesifieke dag was dinge radikaal anders. Hy het ontstellende nuus gehoor; sy hart was stukkend. God se Naam en sy heerlikheid het skynbaar niks vorentoe beweeg nie. Jerusalem is steeds vervalle; God se mense kry swaar.

 

Wat kan Nehemia doen? Hy sit ver van hulle af. Bid. Hy vra God om tussenbeide te tree: Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en u troue liefde handhaaf teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam, luister tog, gee tog ag op die gebed wat ek, u dienaar, sonder ophou tot U bid (1:5 – 6).

 

Nehemia is ‘n leier, maar ‘n leier met ‘n probleem. Hy weet egter hoe om by God krag te kry vir dit wat hy moet doen. Hy weet hy moet eers na God kyk en dan kan hy ander lei. Hy weet ook dat ‘n leier afhanklik van gebed moet wees.

 

Watter eienskappe moet ‘n leier hê? Daar is baie boeke met lang lyste. Meeste lyste verwys nie na gebed nie. Baie leiers sien gebed selfs as ‘n teken van swakheid. Maar as ons werklik groot leiers wil wees, moet ons, soos Nehemia, gereeld bid – ons moet besef dat Jesus Christus ons kragbron is.




Ek is geregtig op …

Ek is geregtig op dit of dat beteken eintlik dat ek beter verdien as wat ek tans het. Die moderne fokus op menseregte ondersteun dit. Dit is so alomteenwoordig dat dit selfs ons verhouding met God versteur.

NEHEMIA – KRISISBESTUUR (4)

 

Nehemia – Krisisbestuur (4)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Ons is besig om na sekere kenmerke van leiers te kyk. Tans kyk ons na hoe leiers krisisse bestuur.

 

Kenmerk #1: Krisisbestuur … bring jou leierskap uit

 ‘n Vergelyking tussen twee verskillende benaderings

 

‘n Moderne suksesverhaal in krisishantering

1982. ‘n Moordenaar voeg 65 mg sianied by sekere bottels Tylenol kapsules (pynstillers). Sewe mense sterf. Dit is ‘n krisis. Johnson & Johnson, die vervaardigers, herroep en vernietig 31 miljoen kapsules. Die maatskappy verloor $100 miljoen. Die hoof van die maatskappy verskyn op TV en verduidelik wat hulle alles gedoen het, Die verkope van Tylenol vermeerder vinnig en bereik dieselfde vlakke as voor die krisis.

 

‘n Moderne rampverhaal van Krisishantering

‘n Tenkskip van Exxon strand in Alaska. Die Exxon Valdez mors miljoene liters ruolie in die water. Visse, seevoëls en see-otters vrek; honderde kilometers van die kuslyn word besoedel. Baie vissermanne sit sonder inkomste. Die maatskappy reageer stadig en verdedig homself teen die aanslae van die publiek. Hy probeer hom verontskuldig. Die probleem is steeds nie heeltemal opgelos nie.

 

Nehemia

Geen lewensektor is immuun teen krisisse nie. Of dit nou jou gesin of by jou werk of waar ook al is, krisisse kom voor. Daarom is dit so belangrik om krisisse reg te hanteer. Hoe het Nehemia gereageer toe hy van die desperate toestand  in Jerusalem en van sy mense gehoor het? Natuurlik hanteer ons krisisse in God se krag en met sy wysheid. Kom ons let op Nehemia se optrede:

  1. Moenie ‘n krisis ignoreer nie – dit vereis aandag. Daarom noem ons dit ‘n krisis. Nehemia hanteer die krisis direk.
  2. Moenie die krisis deflekteer nie. ‘n Leier hanteer ‘n krisis. Natuurlik kan en moet hy vir hulp vra. Maar hy evalueer die krisis en bepaal wat sy bydrae gaan wees om die krisis op te los.
  3. Moenie blaam verplaas nie. Die vraag is nie wie die probleem veroorsaak het nie; die vraag is hoe los ons dit op. Na die krisis hanteer is, kan ons die oorsaak vasstel.
  4. Moenie oorreageer nie. Moenie oorhaastige besluite neem nie. Maak seker jy reageer met wysheid. Meeste krisisse ontwikkel met verloop van tyd.
  5. Bepaal die omvang van die krisis. Kry die feite. Luister, sonder om te oordeel, tot jy genoeg inligting het om ‘n besluit te neem.
  6. Soek raad by ander. Die belangrikste is om in gebed God se leiding te vra.

Nehemia was ‘n invloedryke man voor hy van die krisis in Jerusalem gehoor het. Hierdie krisis is die geleentheid op ‘n hoër en meer betekenisvolle vlak te funksioneer. Nehemia besef dit nie, maar God gaan hom gebruik om die mure te herbou. As die mure herbou is, kan die volk weer vir God in vrede aanbid. Alles gebeur omdat een man bereid was om op die regte manier op die krisis te reageer.

 

Watter krisis is daar in jou lewe? Aanvaar die uitdaging; laat God die verborge leier in jou na die oppervlak bring. Leer om op Hom te steun vir krag en wysheid.

 

Ons kom nou by die tweede kenmerk van ‘n leier: gebed.