NEHEMIA – KRISISBESTUUR (3)

. —Matthew Henry

 

Nehemia – Krisisbestuur (3)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Ons is besig om na sekere kenmerke van leiers te kyk. Op die oomblik kyk ons na krisisbestuur.

 

Kenmerk #1: Krisisbestuur … bring jou leierskap uit

 

Reageer op ‘n krisis

‘n Gewilligheid om ‘n krisis na die beste van jou vermoë te hanteer, is ‘n teken van ware leierskap.

Almal van ons kan niks doen nie – hoop die krisis waai weg. Wat moet ons doen?

 

Stap #1: Vra vrae.

As jy nie die feite ken nie, sal jy waarskynlik verkeerd optree. Vra vrae; kry antwoorde. Dan sal jy die omvang van die krisis beter verstaan – jy sal weet wat opgelos moet word. Nehemia vra eerste oor die mense. ‘n Leier na God se hart is geïnteresseerd in die harte en welstand van God se mense. Daarna vra hy na die mure. Nou het hy die antwoorde; nou moet hy die krisis begin hanteer.

 

Stap #2: Luister.

Hy wou weet presies wat aangaan. Hy luister. Meeste van ons begin sommer praat as daar ‘n krisis is –  ons stel nie belang om na ander te luister nie, want ons is besig om opdragte te gee – dikwels voordat ons besluit het presies wat ons gaan doen.

 

Stap #3: Soek hulp

Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie (Prediker 1:9). Geen krisis is ten volle uniek nie. Sekere aspekte het al vantevore gebeur. Maar elke krisis het tog nuwe krulle en draaie. Vir hierdie nuwe uitdagings soek ‘n leier hulp. Luister na die Spreukeskrywer: Sonder oorwoë leiding val ‘n volk; die redding lê in baie raadgewers (11:14; en Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie; dit slaag wanneer daar baie raadgewers is (15:22).

‘n Goeie leier soek wysheid by ander – geen mens leef op ‘n eiland nie. Wyse leiers omring hulle met raadgewers. ‘n Christenleier het drie bronne van raad: God se wysheid soos in die Bybel geopenbaar; die wysheid van goeie raadgewers; die wysheid van die HG as hy deur gebed leiding soek.

 

Ons weet dat Nehemia gebid het. Hy was nie bereid om vorentoe te gaan voordat hy nie vir God in gebed geraadpleeg het nie.

 

Stap #4 Bepaal ‘n strategie.

Na die insette van ander neem die leier ‘n besluit oor hoe die krisis hanteer sal word. Later sal ons sien dat Nehemia deel van die oplossing was.

 

Stap #5: Implementeer en monitor die vordering

Nehemia gaan na Jerusalem; hy word deel van die implementeringsplan en moniteer die vordering

 

In Jerusalem duik krisis na krisis op om die krag van Nehemia te toets. Elke keer gaan hy deur hierdie proses.




NEHEMIA – KRISISBESTUUR (2)

“What Sir, would the people of the world be without woman?” “They would be scarce sir. Almighty scarce.”—- Mark Twain

 

Nehemia – Krisisbestuur (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Ons is besig om na sekere kenmerke van leiers te kyk. Ons het verlede keer met  krisisbestuur begin.

 

Kenmerk #1: Krisisbestuur … bring jou leierskap uit

 

Die lewe is moeilik.  ‘n Krisis is ‘n gebeurtenis of situasie wat ‘n keerpunt in iemand se lewe teweegbring. Gewoonlik is dit iets uitdagend of iets wat ons nie begeer nie. Jy moet gou besluit hoe jy ‘n krisis gaan hanteer.

 

Hoe reageer Nehemia op hierdie krisis van hom? Sy eerste reaksie was een van kommer oor sy mense: Ek het by hulle navraag gedoen oor die Judeërs wat uit die ballingskap vrygelaat is (1:2). Ganani se antwoord skok hom: die ballinge wat teruggegaan het, beleef daar in die provinsie Juda groot ellende en smaad. Die muur van Jerusalem lê om, en die stadspoorte is verbrand (1:3). Die Babiloniërs het hierdie muur in ongeveer 586 vC vernietig. Ten spyte van verskeie pogings is die muur nog steeds nie herbou nie. Sonder die muur kon die inwoners van Jerusalem hulleself nie beskerm nie. Die mense sien die terugkerende mense as ‘n klein patetiese groepie mense. Hulle voel vernederd –  hulle sit daar totaal onbeskermd – oop vir die aanvalle van hulle vyande.

 

Hoe reageer Nehemia op hierdie nuus? Hy gaan sit en huil en treur dae lank; hy vas en bid tot God in die hemel (1:4). Nehemia is bekommerd oor sy mense en nie oor die dinge onder sy beheer nie. Hy vra nie hoe dit sy wins/inkomste gaan beïnvloed nie. No one is fit to lead his fellows unless he holds their care and well-being to be his prime responsibility, his duty … his privilege (Sir Arthur Bryan – Britse geskiedkundige).

 

Nadenke: Elkeen van ons staan op een of ander stadium voor ‘n krisis wat baie van ons aandag vereis. Dink jy net aan jouself – wat is die beste of maklikste vir jou? As jy egter vir die mense om jou omgee, beoefen jy sterk leierskap.

 

Volgende keer gaan ons kyk na hoe ons moet reageer as ons voor ‘n krisis te staan kom.

 




NEHEMIA – KRISISBESTUUR (1)

—David Livingstone

  

Nehemia – Krisisbestuur (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Tot dusver het ons na sekere agtergrondinligting van Nehemia as leier gekyk. Nou gaan ons kyk na sekere kenmerke van leiers

 

 

Kenmerk #1: Krisisbestuur … bring jou leierskap uit

Ganani, een van my medeamptenare, het daar aangekom uit Juda, hy en ‘n paar ander manne. Ek het by hulle navraag gedoen oor die Judeërs wat uit ballingskap vrygelaat is en teruggegaan het, en oor Jerusalem (1:2).

 

Nehemia doen sy dagtake in die paleis van Artasasta, die gevreesde koning van Persië. Hy kry ‘n boodskap dat Ganani uit Jerusalem daar aangekom het. Dertien jaar tevore het hulle mekaar laas gesien. Nehemia was angstig om te hoor hoe dit met God se mense gaan en wat die toestand van Jerusalem was. Vir 13 jaar het hy vir sy mense en die stad gebid.

 

Die aankoms van Ganani en sy mense is die aankoms van ‘n krisis – ‘n keerpunt is Nehemia se lewe.  ‘n Krisis kan fisies, verstandelik, geestelik of emosioneel wees. Die probleem is nie die saak nie, maar hoe jy as persoon (veral as leier) hierdie krisis hanteer. Hoe hanteer jy ‘n krisis? Jy het ‘n paar keuses: jy kan weghardloop; jy kan dit vermy; jy kan dit ignoreer; jy kan dit deflekteer

 

Daar is ook diegene wat positief in ‘n krisis reageer – hulle aanvaar dit; hulle hanteer dit; hulle gebruik dit; hulle leer daaruit; hulle groei as gevolg van die krisis. When written in Chinese the word crisis is composed of two characters. One represents danger and the other represents opportunity (John F. Kennedy). Hoe sien jy ‘n krisis – ‘n gevaar of ‘n geleentheid?

 

Nehemia staan voor ‘n krisis. Hy werk vir ‘n magtige heerser van ‘n heidense ryk; hy het ‘n goeie werk; die koning vertrou hom; hy woon in die koning se paleis. Hoekom sal hy nou sy werk in gevaar stel? Hoekom sal hy nou by Jerusalem se probleme betrokke raak? Maar Nehemia is besorg oor sy mense en hulle stryd. Wat moet hy doen? Hoe gaan hy reageer? Wie gaan hy eerste stel – sy werk of sy mense in Jerusalem?

 

 




Die LEGO-beginsel

 

Die LEGO-beginsel

Jesus het nooit gesê ons moet Sondagoggende eredienste hou, ‘n uitstekende sanggroep kry of ‘n goeie kinderbediening hê nie. Dit is waarop baie gemeentes fokus.  Jesus gee ‘n opdrag bestaande uit twee woorde: Maak dissipels.

 

 

Hoe kan gemeentes ‘n dissipelskapkultuur in plaas van ‘n kerkbywoningskultuur skep? Joey Bonafacio is pastoor by die Victory Church in Manila. Hierdie gemeente het 65 000 lidmate. Hy het onlangs die boek The LEGO Principle geskryf. Daarin beskryf hy die sleutelelemente om met God en mense te verbind.

 

Christene besef dat as ons oor verhoudings in die gemeente en oor hoe om gelowiges te lei om meer soos Christus te word, praat, daar iets is wat kortkom. Baie mense besluit om Christus te volg, maar kan dit nie volhou nie. Hulle begeer om Jesus te volg, maar ontwikkel nooit diep wortels nie. Soos Jesus in die gelykenis van die saaier (Matteus 13:3 – 22) beskryf het, sal hierdie persone, as hulle deur die hedendaagse kultuur wat toenemend anti-Christen is, aangeval word, verskroei en verdroog.

 

Joey Bonafacio het nie ‘n nuwe program nie. Sy boodskap is eenvoudig: diep verhoudings. Elke gelowige se opdrag is om dissipels te maak. Dit gaan nie oor ‘n herder wat alles doen nie – dit gaan oor elke gelowige. Mense word as individue waardeer; hulle is nie net gesigte in die kerkbank nie. Hierdie kultuur lei tot ware dissipels wat op hulle beurt die wêreld kan verander.

 

Ons ken Lego’s – die kinderspeelding. Hy gebruik dit as ‘n beeld om te beskryf hoe ons aan God en aan mekaar verbind moet word. ‘n Baie eenvoudige begrip.