Hoe hanteer ek lyding? (9)

Hoe hanteer ek lyding? (9)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

Gebrokenheid kom voor nuttigheid. As ons deur iets pynlik gaan en wanneer God ons breek, word ons meer bruikbaar vir ander en meer gewillig om gebruik te word. Ons kan empatie betoon; ons het meer insig en perspektief om te help. Maar hoe verander die kruis lyding? Ons praat hier nie van vryheid van lyding nie, maar van vryheid in en deur lyding.

Lyding genees ons van beuselagtighede

Lyding verlos ons van die dinge wat ons verslaaf, maar ook van die kleinlike verskille en bekommernisse van ons daaglikse lewe.

Dit wat belangrik word, styg na bo – ons perspektief verbeter. Ons praat nie hier van goedkoop Christelike vroomheid of sentimentaliteit nie.

Pyn en lyding maak ons greep op die tydelike lewe los – dieper lyding kan tot dieper oorgawe lei. Nou word ons persoonlike menings minder belangrik. Die dood is nie die einde nie, maar die drumpel na ‘n nuwe dag toe.

God onttrek

Kyk weer na die boek Job. Ons raak moedeloos, want dieselfde argumente word oor en oor herhaal – geen duidelike antwoorde nie. Maar is dit nie hoe baie van ons lyding in ons lewens ondervind nie? Jy is in goeie geselskap, want Job het ook nie ‘n definitiewe antwoord gekry nie. Al wat ons weet dat in sy lyding was daar by Job ‘n verlange na God – en dit is genoeg. Job roep nie uit: God waarom het jy my lewe vernietig nie. Hy vra: God waarom het jy my verlaat? Hy mis nie sy besittings so baie soos hy die teenwoordigheid van God mis nie. Nooit vra hy of God in beheer is nie. Juis omdat hy weet dat God in beheer is, veroorsaak dit sy pyn. Selfs in sy klaaglied vertrou hy steeds op God: Kon dit nie maar weer met my gaan soos lank gelede, soos in die dae toe God nog sy hand oor my gehou het, toe sy lig beskermend oor my geskyn het en my pad in die donker verlig het. Dit was die beste jare van my lewe toe ek nog ‘n vertroueling van God was. Toe was die Almagtige by my en my kinders rondom my.. Ek het oral voorspoed geniet: volop dikmelk en strome olyfolie (29:2 – 5). Wat hom die meeste gepla het, was God se afwesigheid. Ook die psalmis sê: Ek roep na U om hulp, Here, vroeg in die môre bid ek al tot U. Waarom verstoot U my, Here,  waarom trek U U van my af terug? Psalm 88:14 – 15).

Almal van ons het al tye ondervind waar dit lyk asof God weg is – Hy is stil. In sy afwesigheid vermeerder ons waardering, afhanklikheid en liefde van Hom. Job sou eerder wou sterf as om in die wêreld sonder God te leef. God wil nie ons probleme wegneem nie, maar Hy wil vir ons wys dat Hy voldoende is in ons probleme.

As jy alleen en eensaam voel, is daar hoop. Jy is nie alleen nie. Dit vereis niks van jou nie – Jesus het reeds alles wat nodig is, gedoen. Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie (Hebreërs 13:5).




Hoe hanteer ek lyding? (8)

Hoe hanteer ek lyding? (8)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

Jy weet tog

As daar iemand is wat baie verloor het, was dit Job. Maar Job plaas ook ons deugde in perspektief. Job het ‘n goeie lewe gelei. Luister na God se getuigskrif: Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad (1:8).

Ons vra nie waar is God as die son skyn nie – ons sê Hy is teenwoordig wanneer goeie dinge met ons gebeur. Dit is reg. Sodra dinge begin skeefloop, is ons nie meer so seker dat God oppermagtig of goed is nie. Tydens die 30 hoofstuk klaaglied lyk dit asof God terugsit en luister as Job en sy vriende ‘n antwoord soek. Hoekom? As God werklik daar is, hoekom sê Hy nie iets nie? Job verstaan nie wat aan die gang is nie en hy soek ‘n antwoord by God. As hy maar net kan verstaan wat God besig is om te doen. Ons moet egter besef dat verduidelikings ‘n plaasvervanger vir vertroue is. Ons kan nie die kruis verstaan voordat ons op ons knieë is nie.

Sê nou maar net dat God vir Job die verduideliking gegee het wat hy gesoek het. Waar sou Job sy geloof en vertroue geplaas het? Dit is die sleutel tot God se stilswye: Hy wou gehad het dat Job Hom, ten spyte van alles, moes vertrou het. God besef dat dit die enigste manier was waarop Job sy donker ure sou oorleef. God stel in iets belang wat kragtiger is as enige verduideliking. Hy stel belang in geloof. Dit is dus geen verrassing dat toe God uiteindelik sy stilte verbreek het Hy nie sy optrede verduidelik het nie. Presies die teenoorgestelde gebeur: Toe het die Here Job aangespreek uit ‘n stormwind uit: “Wie is dit wat besig is om my bedoelings te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My. Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?  Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? (38:1 – 5). God vra vir Job ‘n aantal vrae, want Hy wou vir Job wys hoe klein en magteloos hy eintlik is. God stel Job vry van die tronk van hoekom. Hy stel Job van homself vry. Eers as ons aan die einde van onsself kom, kom ons by die begin van God. Ons lees dikwels in die Bybel dat eers as ons desperaat is, kom verlossing – hartseer voor heerlikheid; die kruis voor die kroon. Magteloosheid is die begin van vryheid.

Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God (1 Korintiërs 1:18).




Hoe hanteer ek lyding? (7)

 

Hoe hanteer ek lyding? (7)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

Nie soos dit moet wees nie

Ons weet nou dat lyding ‘n werklikheid is. As ons dit erken, beteken dit nie dat ons ‘n gebrek aan geloof het nie.

Die hele skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het … die skepping self sal ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid (Romeine 8:19 – 22). Dinge is nie soos dit moet wees nie. Ons hoef nie pyn en lyding te ontken nie. Ons leef in ‘n gevalle wêreld en die enigste geneesmiddel is Jesus se kruisdood vir sondaars. God nooi jou uit om jou pyn en lyding te erken en te erken dat die wêreld gebroke is. Dit beteken nie dat jy ‘n slagoffer van omstandighede buite jou beheer is nie.

 

Eerlikheid is die deur na genade

God stel nie belang in wat jy dink jy behoort te wees en wat jy behoort te voel nie. Hy stel in jou belang – jy wat ly, jy wat veroorsaak dat ander ly, jy wat slegte en goeie dae het. Hy ontmoet ons daar waar ons is. Hy is die vriend van sondaars, die Verlosser van diegene wat een nodig het – dit is almal van ons te alle tye.

 

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Romeine 8:18). Dit beteken nie dat ons lyding moet ontken nie. Paulus sê dat lyding ‘n werklikheid is. Paulus minimaliseer nie hier lyding nie – hy maksimaliseer genade.




Hoe hanteer ek lyding? (6)

Anyone who will not give a guilder for peace must eventually give ten or twenty guilders for war.  – Martin Luther

Hoe hanteer ek lyding? (6)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

Straf en beloning; hou telling; jy kry net wat jy verdien.  Nou kom genade. Genade is ‘n geskenk sonder allerhande voorwaardes – eenrigting liefde. Dit is wat die goeie nuus so goed maak. Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Romeine 8:1).

Die evangelie van genade sê dat Jesus gekom het om die skuldiges vry te spreek. Omdat Hy die oordeel vir ons gedra het, word ons nie meer geoordeel nie – nie deur  God of deur ander of deur onsself nie. Ons hoef nie meer die oordeel alleen te hanteer nie – die Wet is vervul; ons is vrygespreek. Ons hoef nie meer skuldig te voel omdat ons tekortskiet nie. Dit is volbring.

Maar ons sukkel om hierdie onvoorwaardelike vry genade van God te aanvaar – dit klink net nie logies nie. Soos Job se vriende dring ons aan op beloning en straf; soos die ouer broer van die verlore seun voel ons ons het hard gewerk en kan nie nou alles opgee nie. Ons staan op ons regte. Maar die genade van God staan vas – dit hang nie af van ons vermoë om dit te verstaan nie. Die evangelie is duidelik: Jesus Christus het die prys klaar bepaal. Hou op om skuldig te voel omdat ons voel dat ons nie aan God se standaarde voldoen nie. Onthou: God se genade het geen einde nie.

Maar wat het dit nou met lyding te doen?

Alles. Die evangelie maak ons vry om openlik en eerlik oor die werklikheid van pyn te praat. Voordat ons nog kan begin worstel met die frustrasies en tragedies van die lewe, moet ons vergeet van beloning. Ons moet terugkeer na die begin: die kruis. Ons moet die kruisiging sien vir wat dit is. Daar begin ons besef hoe groot God se genade werklik is. Hy het die boeke toegemaak – eens en vir altyd. Genade is die teenoorgestelde van wat ons verdien; genade is wat ons kry.

As ons ly, is dit nie God wat ons straf nie; Hy wag nie vir jou om iets te doen nie. God gebruik die lyding in ons lewens, maar Hy stel belang in iets meer as verbeteringe in ons lewens – Hy wil jou red. Hy is meer as ons Helper – Hy is ons Verlosser. In hierdie drama is ons nie die hoofspelers nie. Soms moet ons op ons knieë kom om hierdie waarheid raak te sien. Ons moet midde in ons lyding die volle omvang van Jesus Christus se liefde raaksien.