Depressie

Depressie

Daar is ‘n klomp irriterende goed wat mense vir mense met depressie sê. Hulle bedoel dit goed, maar het dalk vooraf die saak nie goed oordink nie. Dink aan iets soos: “Glimlag, dis nie so erg nie.” Mense voel hulle moet reageer op mense met ‘n terneergedrukte uitdrukking.

Dit is gewoonlik mans wat sulke opmerkings maak. Luister wat sê iemand wat aan depressie ly:

  • Wat weet hulle van my toestand? Ek het depressie en om te glimlag gaan dit nie wegneem nie.
  • Het my voorkoms enigiets met hulle te doen? Hulle sal nie vir iemand sê dat sy mond of neus te groot is nie. Hoekom nou my voorkoms?

Dit is irriterend en frustrerend. Jy bedoel dit goed, maar dit is onaangenaam. Bly eerder stil.




Die Apostoliese Geloofsbelydenis (7)

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (7)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

Opgestaan: Ek glo in Jesus Christus … wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode, wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader.

 

Jesus oorwin finaal die dood met sy opstanding. Christene kom op Sondae bymekaar. Dit is ‘n weeklikse herdenking van die opstandig. Dan is daar een Sondag per jaar waar ons spesifiek Jesus se opstanding vier. Ongelukkig beteken dit vir baie Christene paashasies en paaseiers.

Die opstanding van Jesus Christus is die spilpunt in die belydenis. As die opstanding nie ‘n historiese feit was nie, val die res van die belydenis inmekaar. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos, en is julle nog gevange in julle sondes (1 Korintiërs 15:17). Dan is Jesus wat gesê het dat Hy uit die dood sou opstaan, ‘n bedrieër.

Tydens sy bediening maak Jesus daarop aanspraak dat Hy God se enigste Seun is. God self het Hom as sy Seun by Jesus se doop verklaar. Op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here (Romeine 1:4). Die opstanding is die bewys dat Jesus God se Seun is en ook die Here van hemel en aarde is. Alles wat ons in verband met Jesus glo, hang af van die waarheid en geldigheid van die opstanding.

Baie mense is skepties oor Jesus se opstanding. Maar: Hoekom sou Jesus se vroeë volgelinge oor sy dood gejok het? Hoe kon hulle ‘n hele nuwe godsdiens op ‘n leuen gebou het? Hoekom het so baie mense as martelare gesterf omdat hulle in Jesus en sy opstanding geglo het?

Die opstanding van Jesus gee aan ons nuwe geloof – ons kan Hom vertrou. Jesus se opstanding fokus opnuut ons hoop. Ons hoop is op lewe na ons dood. Ons sal ook eendag die opstanding beleef. Die opstanding van Jesus gee aan ons herstelde liefde. God het ons so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, nie om ‘n nuwe godsdiens te begin nie, maar om die liefdesverhouding tussen Skepper en skepsel te herstel.

Na sy opstanding verskyn Jesus aan sy volgelinge vir 40 dae. Daarna vaar Hy op na die hemel. Daar beklee Hy die ereplek aan die regterhand van God. Jesus het sy Vader goed gedien en daarom verheerlik God Hom na ‘n posisie van eer, waardigheid en gesag. Die hemel is God se bevelspos.

Voorbereiding vir die erediens

 

 

Voorbereiding vir die erediens

 Sondagoggende is ‘n gejaag om almal betyds by die kerk te kry. Maar luister wat sê die Here vir Moses:  Gaan terug na die volk toe. Laat hulle hulle vandag en môre reinig en laat hulle hulle klere was. Hulle moet oormôre gereed wees, want dan sal Ek, die Here, na Sinaiberg toe afkom (Eksodus 19:10 – 11).

Wat sê hierdie verse vir ons? Ons moet ons voorberei vir ‘n ontmoeting met die Here. Maar hoe berei ons ons voor vir Sondagmôre?

Deur die Bybel te lees.

 Deur nadenke

 Maar waaroor moet ons nadink? God se skepping – Hy wat skep kan voorsien; God se heiligheid – om daaroor na te dink, maak ons nederig; God se liefde toe hy ons verlos het – niks kan ons daarvan skei nie; die heerlikheid van ‘n toekoms saam met God – die aardse dinge gaan verdwyn en ons sien God in al sy heerlikheid.

Deur gebed

 As ons bid, moet ons bid vir die prediker en die woord wat hy gaan verkondig – dat dit vrug mag dra; dat dit ons mag versterk; dat dit ons denke sal verlig. Ons moet bid dat Hy teenwoordig sal wees. Ons moet ook vir ander bid

  

Ons kla oor die prediker en die preek – ons het niks daaruit gekry nie. Is dit nie dalk omdat ons ons nie voorberei het nie?

 

 




Is dit sonde om medisyne te neem?

Is dit sonde om medisyne te neem?

As jy aan ‘n geestesongesteldheid ly, is dit sonde om medisyne daarvoor te gebruik? Sal die medisyne nie dalk my toestand vererger nie? Sal ek nie aan die medisyne verslaaf raak nie? Moet ek as Christen nie in staat wees om dit te hanteer nie? Is dit nie ‘n teken dat my geloof gebrekkig is nie?

 

Hierdie is ‘n baie gevaarlike siening. Natuurlik moet ‘n mens nie sonder goeie rede medisyne neem nie. Natuurlik word vals aansprake soms oor die waarde van medisyne gemaak. Natuurlik kan medisyne newe-effekte hê. Natuurlik kan die medisyne ondoeltreffend wees.

Maar wat van die Christene wat sê dat God nie wil hê dat ons medisyne moet drink nie? Snaaks, maar hulle sê dit nie van ‘n diabeet wat insulien moet kry nie. Is dit omdat ons fisiese siektes soos diabetes verstaan, maar nie geestesongesteldhede nie?

Storie: ‘n man is besig om in die see te verdrink. Hy vra God om te help. Daar om ‘n boot, maar hy wys vir die boot om verder te gaan, want hy wag vir God om hom te help. ‘n Tweede boot kom. Dieselfde storie. Toe kom daar ‘n helikopter, maar steeds in die man nie bereid om hulp te aanvaar nie. Hy verdrink en hy vra vir God waarom Hy toegelaat het dat hy verdrink. God se antwoord: ‘Ek het twee bote en ‘n helikopter gestuur om jou te red.”

‘n Geestesongesteldheid verskil nie van ‘n fisiese ongesteldheid nie. Enige deel van ons liggaam kan siek word en as dit moontlik is moet ons dit behandel. Hoekom wil ons geestesongesteldhede nou uitsluit?