Die Apostoliese Geloofsbelydenis (2)

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (2)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

Geloofsbelydenis … Ek glo

 

Dit wat ons glo vorm ons. Ons kan nie enigiets word deur in onsself te glo nie. Wat ons glo, is ‘n diep gesetelde oortuiging. Maar as ons dit nie in die werklikheid fundeer nie, word ons verwronge mense. In hierdie wêreld waar wat ons glo konflik veroorsaak, kom Jesus Christus. Hy wys vir mense ‘n nuwe lewenswyse – ‘n lewenswyse in die regte verhouding met God. Hy sterf. Hy word begrawe. Hy staan op uit die dood. Hy vaar op na die hemel. Dan word die Heilige Gees uitgestort. Gou kom skrywers wat deur die Heilige Gees geïnspireer is en skryf wat ons vandag as die Nuwe Testament ken. Dit is die onderrig van die oorspronklike volgelinge van Jesus. Die vroeë kerk som hierdie onderrig van die apostels op in ‘n aantal stellings – onder andere die Apostoliese geloofsbelydenis.

Die Latynse woord credo, waarmee die Latynse Apostoliese Geloofsbelydenis begin, beteken “ek glo.” Aanvanklik het dit ook as “die simbool van geloof” of “die reël van geloof” bekend gestaan. Volgelinge van Jesus is uitgeken omdat hulle dit wat in hierdie belydenis staan, geglo het.

Die oorsprong van die belydenis is nie so duidelik nie. Dit het gedurende die eerste eeue na Christus ontstaan. Reeds vroeg is dit gebruik om te bepaal of iemand ‘n Christen was of nie – hy moes die belydenis kon opsê voor hy gedoop kon word. Die belydenis groei uit die dooppraktyk in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees. Gelowiges ontdek hulle uniekheid in die woorde van die belydenis. Maar dit bind ons ook onlosmaaklik aan die geloofsgemeenskap.

Die belydenis begin met Ek. Dit word ‘n manier vir mense om hulle geloof in die openbaar te verbaliseer voor hulle gedoop word. Die belydenis is dus persoonlik en intiem, maar nie privaat nie. Ons het die belydenis ontvang om in ‘n gemeenskap met ander gelowiges te lewe. Hierdie is die minimum, basiese vereistes vir diegene wat hulle volgelinge van Jesus noem.

Twee kante van die muntstuk

Twee kante van die muntstuk

 

As Christen moet jy in iets glo. Die Christelike geloof is nie leeg nie. Hierdie waarheid is vir die kop en die hart. As Jesus dan die waarheid is, moet ons nader aan Hom beweeg om uit te vind wat waar en reg is. Hierdie waarheid lei ons na die weg en die lewe. Ware geloof beteken ons loop die weg.

(Galasiërs 5:6).

Kritiek

Cotton Mather, Essays to Do Good

Kritiek

Criticism may not be agreeable, but it is necessary. It fulfills the same function as pain in the human body. It calls attention to an unhealthy state of things.” (Winston Churchill)

 

Ons verkies om te praat van opbouende kritiek, want dit verwys na opbou eerder as afbreek. Hoe maak ons seker dat ons kritiek opbouend is? Hoe maak ons kritiek die moeite werd vir diegene wat dit ontvang? Ons moet vir onsself drie vrae vra.

  • Hoekom wil ek kritiseer? Opbouende kritiek moet tog ‘n opbouende doel hê. As ek kritiseer uit frustrasie of ‘n ander negatiewe emosie, dan gaan ek beslis nie dinge verbeter nie. Gaan my kritiek iets positief bydra?
  • Waaroor of oor wie is ek bekommerd? As my kritiek van jou my beter gaan laat voel, doen ek dit vir die verkeerde rede. Die fokus van kritiek is om sake te verbeter en vir jou te help – nie om jou af te breek nie.
  • Is ek bereid om te luister? As ek kritiseer is dit omdat ek bekommerd is oor iemand se gedrag of prestasies. Op grond van wat ons sien, maak ons gevolgtrekkings. Maar ons moet dit duidelik maak dat ons bereid is om ook te luister. Miskien is ons gevolgtrekkings verkeerd!

Al wat werklik saak maak is opregtheid.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (1)

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (1)

In baie gemeentes word die Apostoliese Geloofsbelydenis elke Sondag hardop opgesê deur die gemeente tydens die erediens. Is dit nie ‘n waardelose ritueel nie? Moderne mense stel tog nie meer in belydenisse belang nie – hulle soek ‘n ware ontmoeting met God. Maar die Apostoliese Geloofsbelydenis is een van die stabiliserende elemente in ons geestelike reis. Is dit nie tyd om weer in diepte hierna te kyk nie?

 

Ons klem vandag is op ondervindings, maar dit mag gou in sentimentaliteit verval – ‘n soort “voel goed godsdiens.” In ‘n wêreld wat toenemend sekulêr, selfs vyandig teenoor godsdiens, word, moet gelowiges helder en diep oor hulle geloof kan dink. Een aspek is om weer die belydenisse met nuwe oë te lees. Sommige Christene glo nog: Geen belydenis, net die Bybel – so asof die belydenis die Bybel gaan verplaas of die Bybel weerspreek. Die geloofsbelydenis staan in harmonie met die Bybel en het die vermoë om ons in die Bybelse storie in te lei – dit help ons om deur die NT te navigeer.

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.