Dag 6: Soek verlossing in die skaduwees

 

Dag 6: Soek verlossing in die skaduwees

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

In die storie van Jesus se geboorte staan Jesus, Josef en Maria sentraal. Maar ons moenie die kleiner stories om die gebeurtenis vergeet nie – die skaapwagters, Anna, die wyse manne, Herodes en veral Simeon (Lukas 2:25 – 35). Ons lees van hom: Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon. Die Heilige Gees het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe  voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie.

 

Simeon se hoop was dat hy nie sou sterwe  voordat hy vir Jesus ontmoet het nie. Hy wag … en wag. Uiteindelik breek die dag aan. Die Skrif sê nie vir ons hoe lank hy gewag het nie. Ons kry die indruk dat hy nie net doelloos rondgedwaal het nie. Hy het God gereeld in die tempel aanbid. Soos hy God aanbid het, kom hy in lyn met God se verlossingsplan – iets wat alles wat mense hulle kon indink sou oortref. Simeon se gebed in vers 29 – 32 is is een van die eerste voorlopers in die Nuwe Testament van die omvang van hierdie verlossingsplan.

Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke: ‘n lig tot verligting van die nasies, en tot eer van u volk, Israel.

 

Verlossing kom nou vir die nie-Jode – na die hele wêreld. Simeon het gewag en tyd saam met God deurgebring. Gevolglik kondig hy ‘n plan aan wat groter is as wat almal verwag het: Jesus het nie gekom om net die Jode te verlos nie, maar om almal te verlos. Dit geld vandag steeds. Jesus het nie gekom om ‘n uitgesoekte paar mense te verlos nie: Hy is die Verlosser van die hele wêreld. Dit beteken diegene wat in die kalklig is en diegene wat in die skaduwees is. Rykes en armes; oud en jonk. Hy het vir almal gekom.

Omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke: ‘n lig tot verligting van die nasies

 




Tevredenheid nie afhanklik van omstandighede nie (3)

 

That demon of pride was born with us, and it will not die one hour before us.—C.H. Spurgeon

 

Tevredenheid nie afhanklik van omstandighede nie (3)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Ons wil iets hê wat niks in hierdie wêreld vir ons kan gee nie. Augustinus bevind dat ontevredenheid ‘n funksionele en ‘n uiteindelike oorsaak het. Augustinus het gesê dat ons fundamenteel gevorm word deur dit wat ons liefhet en nie deur ons oortuigings nie. Wat ons as menslike deugde beskryf, is vir Augustinus  niks meer as vorme van liefde nie. Hy glo dat ons probleem dikwels is dat ons minder belangrike dinge liefhet en nie die belangrikste dinge nie.

 

Die uiteindelike bron van ontevredenheid is dat ons nie die belangrikste ding liefhet nie. Daarom glo hy dat ware vreugde en tevredenheid beperk is tot diegene wat God waarlik liefhet. Jy benadeel jouself as jy iets anders meer as God liefhet. Hoekom? Jy plaas jou betekenis en sekuriteit in dit wat jy die meeste liefhet. As jy leer om God meer as enigiets anders lief te hê, sal jou bron van vreugde, tevredenheid, hoop en waarde nooit van jou af weggeneem kan word nie. Moenie iets minder liefhê nie; leer net om God meer lief te hê.

 

Die hart van die Christelike geloof is die eenvoudige boodskap van die evangelie – die boodskap van sonde en genade. Die kennis van ons sonde versag ons harte; die kennis van sy genade ontvlam ons harte.

Attachment to God amplifies and deepens enjoyment of the world – Miroslav Volf

 

 

 




Die gewete

 

As the cuture around us shifts away from the gospel, our response should not be outrage but outreach. —Phillip Bethancourt

 

Die gewete

In ons individualistiese en sekulêre kultuur is daar verwarring oor die betekenis van “gewete.” Sommige mense glo dit is ‘n subjektiewe gevoel: “Ek voel nie sleg oor wat ek doen nie.” Ander gee gesag en oppermag aan die individuele gewete – meer as aan morele beginsels. Die gevolg is ‘n konsep van wat reg en wat verkeerd is wat toelaat dat mense kan doen net wat hulle wil, en nie wat hulle behoort te doen nie. Mense glo vandag dat hulle begeertes die norm vir reg en verkeerd is.

 

Die oorsprong van die Engelse conscience is die Latynse conscientia. [Con = met en scire = ken, weet. Dit beteken dus met kennis.] Die kennis waarna hier verwys word, is spesifiek die kennis van objektiewe morele waarhede. Dit is meer as net intellektuele kennis – dit is die stem van die Heilige Gees in ons hart. My gewete is nie my menings, gevoelens of persoonlike wil nie.

 

My morele gewete is ‘n oordeel wat my in staat stel om die goeie en nie die goddelose te doen nie. Dit beoordeel ook sekere keuses: dit bevestig die wat goed is en verwerp die wat goddeloos is. Dit getuig van die gesag van God se waarheid. Die gewete is die oriëntasie van die menslike hart en denke, ons menslike natuur na dit wat goed en reg is.

 

As ons ons persoonlike vooroordele wat ons hart vir die waarheid mag sluit opsy kan sit, dan maak ons die regte keuses. Dan is ons gewete reg. Dan kan die persoon bereik wat hy veronderstel is om te bereik: die kennis van God se ontwerp en sy wil.

 

Dit is goed en wel om in ons ‘n sterk stem te hê wat ons aanspoor om die goeie te doen en die goddelose te vermy, maar as dit by spesifieke optredes kom, het ons ook inligting nodig. In ‘n gevalle wêreld word mense maklik mislei deur stemme anders as dié van God. Daarom het ons gewete vorming nodig as dit waarlik God se plan vir ons gaan weerspieël – ons moet geleer word wat is goed en  wat is sleg, wat is verkeerd en wat is reg. Waar kry ons hierdie leiding?

 

In ons soeke na objektiewe norme om ons gewete in te lig, gaan ons na God se woord. Jesus het mens geword en onder ons kom woon en ons onderrig. Toe Hy na die hemel opgevaar het, laat Hy die Heilige Gees wat ons in die waarheid lei. In die lewende kerk kan ons die onderrig van Jesus hoor soos dit op ons situasie, omstandighede en behoeftes van toepassing is.

 

 

 




Psalm 31 (5)

 

Worry, like a rocking chair, will give you something to do, but it won’t get you anywhere. —Vance Havner

 

Psalm 31 (5)

 

31:15 – 20: Maar ek vertrou op U, Here

Na die klaaglied volg ‘n verklaring van vertroue (vers 15 – 16a).

 

15Maar ek, ek vertrou net op U, Here! Ek sê: “U is my God

 ek sê: U is my God.

16My tye is in u hand.” 

Ek is baie prominent in hierdie beginstelling van vertroue. Sy duidelike uitspreek van sy vertroue in die Here weerlê die aanklag dat hy by ander gode hulp gesoek het. Hierdie verklaring van vertroue in die Here en in niemand anders nie word verder ontwikkel. Die psalmis bevestig dat tye van druk steeds onder die beheer van die Here is.

 

Red my van my vyande, van hulle wat my agtervolg.

17Laat die lig van u teenwoordigheid oor u dienskneg skyn; verlos my in u troue liefde.

Die psalmis verklaar sy vertroue en volg dit op met ‘n pleidooi dat die Here hom sal verlos van sy agtervolgers.

 

18Here, moenie dat ek beskaamd staan nie, want ek roep na U; laat die goddelose mense beskaamd staan, laat hulle die doderyk treurend binnegaan.

Skaamte mag hier na die vyand se optrede verwys. Hulle beskuldig die psalmis van skaamtelose dade – soos om ‘n ander god te aanbid. Die psalmis vra verlossing van daardie skaamte wat dreig. Om na die Here te roep en as die Here reageer, sal dit die teenstanders se aanklagte verwerp – die Here sal tog nie reageer as die psalmis werklik afgode aanbid het nie. Iemand gaan beskaamd staan.

 

19Laat die bedrieglike lippe swyg, hulle wat uit die hoogte en met minagting onbeskaamd oor die regverdiges praat.

Die pleidooie teen die vyande word nou verder geneem. Die pleidooi is dat die leuens moet ophou. Die onderwerp is diegene wat uit die hoogte praat. Die vyande se woorde is vals, oordrewe, hooghartig en minagtend. Die woorde gee nie om vir die psalmis of die gemeenskap wat mislei word nie.

 

20Hoe groot is u goedheid wat U bewaar vir dié wat vir U ontsag het, wat U voorberei vir dié wat by U skuil, terwyl die mense toekyk.

Hier kry ons ‘n oorgang na ‘n verdere stelling van vertroue. Aanvanklik skuif die fokus na God se dade in die verlede. In die verlede was die Here nog altyd goed vir diegene wat vir Hom ontsag het. Almal kon die Here se goedheid sien.

 

21U verberg hulle in die beskutting van u teenwoordigheid teen die sameswering van mense; teen twisgierige tonge steek U hulle weg in ‘n skuiling.

Die psalmis gebruik die Here se optrede in die verlede as betroubare leidrade van hoe Hy nou gaan optree. God keer Hom na die mense in nood.