Etiese oortuigings

When we are crushed like grapes, we cannot think of the wine we will become –Henri Nouwen

 Etiese oortuigings

Meeste mense, godsdienstig of wêrelds, het ‘n stel etiese beginsels oor die aard van die menslike lewe. Hulle is aan vooruitgang en die welstand van die mense, aan die regte van gelykheid en vryheid van elke mens, toegewy. Waar kom hierdie waardes vandaan? Nie een van hierdie standaarde kan empiries bewys word nie, maar hulle volg ook nie logies op die materialistiese wêreldsiening nie. Die antwoord is duidelik: die etiese waardes van die wêreld is nie die gevolg van ‘n wetenskaplike rede nie, maar kom na ons van ouer tye – hulle het ‘n teologiese geskiedenis.

 

Die Christelike geloof is die bron van baie moderne etiese sisteme wat vandag algemeen in die wêreld aanvaar word. Waar kom ons verstaan van menseregte wat vir almal geld vandaan? Waar kom die idee vandaan dat sekere dinge aan mense verskuldig is afgesien van hulle sosiale status, gawes, vermoëns? Die oorsprong kry ons in die Bybel wat duidelik sê dat alle mense na die beeld van God gemaak is.

 

Die Christelike geloof sien die stryd vir deugsaamheid van die mens nie as ‘n stryd tussen denke teenoor die hart (word meer rasioneel) of tussen denke en materie ( word tegnologies meer gevorderd) nie. Die stryd is op wat jy die liefde van jou hart rig – op God en jou naaste of op mag en rykdom. Nou is die hoogste doel van die lewe nie selfbeheer en rasionaliteit nie, maar liefde. Liefde is nodig om die mens van sy selfgesentreerdheid weg te trek na diens aan God en jou naaste.

 

Die Christelike geloof beklemtoon vir die eerste keer die belang van die individu. Dit belowe die ewige lewe as hy deur die genade van God gered is. Verlossing kom vir diegene met ‘n afhanklike geloof daarin dat Jesus hulle gered het – dat Hy gedoen het wat geen mens kan doen nie.

 

Verbasend word hierdie punt deur Friedrich Nietzsche gemaak: As jy sê dat jy nie in God glo nie, maar jy glo in die regte van elke persoon en die vereiste om die swakkes en armes te versorg, hou jy steeds vas aan Christelike oortuigings – of jy dit nou wil erken of nie. As daar geen bosinnige werklikheid na hierdie lewe is nie, is daar geen waarde of sin in enigiets nie.”

The autonomous, self-determining Superman is yet another piece of counterfeit theology – Nietzsche.

 




Kersfees is meer as een dag

 

Once in our world, a stable had something in it that was bigger than our whole world – C. S. Lewis

 

Kersfees is meer as een dag

[Advent = naderende koms van Christus. Ad – na + venire – kom – HAT)

Christene, en selfs nie-Christene, vier Kersfees as Jesus se geboortedag. Of Jesus werklik op 25 Desember gebore is of nie, sy verjaardag bly die grootste fees in die geskiedenis. Maar wat van Advent – die vier weke wat Kersfees voorafgaan? Is dit nodig om hierdie opbou tot Kersfees te vier.

 

As ons na die geboorteverhale in Matteus en Lukas sowel as die proloog in Johannes kyk, sien ons dat die koms van die Messias oor ‘n lang tyd deur veral die profete aangekondig is. Jesus se koms is gretig afgewag deur baie Jode destyds.

 

  1. Antieke verwagting

Die storielyn van die Bybel bou op na die klimaks van die geboorte van die Messias. Adam en Eva het pas van die verbode vrugte geëet of God belowe: Haar nageslag sal jou kop vermorsel (Genesis 3:15). Hierdie Messias sou ‘n nakomeling van Abraham en Dawid wees.

 

  1. Eeue van wag

Voordat dinge beter word, word dit egter eers erger. Die ryk van Israel word verdeel; die volk word in ballingskap weggevoer. Na 70 jaar ballingskap keer van die Israeliete terug na hulle land. Die tempel word herbou. Kenmerkend van hierdie tyd is dat die profetiese stem geleidelik stiller word. Die priesters word meer korrup.

 

  1. Langverwagte geboorte

Die tafel is gedek vir die koms van die Messias. Matteus begin sy evangelie  deur Jesus bekend te stel as die Seun van Dawid, die Seun van Abraham. Lukas sê Jesus is die Seun van Adam en die Seun van God. ‘n Menigte antieke beloftes word vervul. Johannes sê dat Jesus die Woord is wat mens geword het. Kersfees herdenk die lang verwagte geboorte van die Messias, maar daar is meer as net die dag van Jesus se geboorte.

 

  1. Die groter Kersverhaal

Die onderliggende uitgangspunt van Advent is duidelik: Jesus se geboorte het nie in ‘n lugleegte plaasgevind nie. Sy koms was die vervulling van millennia van toenemende verwagting van die koms van die Messias en Verlosser van die mensdom. As ons hierdie groter storie in gedagte hou, verstaan ons die aankondiging van die engele in sy volle Bybelse konteks:

Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! (Lukas 2:10 – 11).

Hierdie was nie ‘n gewone kind nie; hierdie was nie ‘n gewone geboorte nie. Hierdie is die bekendste aankoms in die geskiedenis van die wêreld. Dit is die aardse begin van God se evangelie in persoon wat lei tot verlossing van sonde, lyding en dood. Dit is te groot om in een dag vasgevang te word.

 

Advent is dus vier weke van voorbereiding en vreugde. Ons staan in verwondering oor die koms van God self om mense te verlos. Advent se vier weke van eerbied is ‘n goeie plek om te begin.

 




Is Godsdiens gebou op geloof; sekularisme op bewyse?

 

Self-rejection is the greatest enemy of the spiritual life because it contradicts the sacred voice that calls us the ‘beloved’ – Henri Nouwen

 

Is Godsdiens gebou op geloof; sekularisme op bewyse?

Mense wat hulle geloof verloor, noem veral twee redes daarvoor:

  • ‘n Gebrek aan empiriese (proefondervindelike) bewyse vir die aansprake van godsdiens; en
  • Die probleem van goddeloosheid in ‘n wêreld wat deur ‘n goeie en almagtige God beheer word.

Hulle gevolgtrekking is dat mense nie ‘n God nodig het om ‘n goeie lewe te leef en ‘n goeie wêreld vir almal te bou nie. Hierdie is ongeloof as gevolg van ‘n soeke na die waarheid. Hulle voel ‘n verdraagsame oop samelewing is moontlik as ons nie aanhoudend die wêreld in gelowiges en heidene verdeel nie.

 

Daar is egter ‘n dieperliggende storie: godsdienstige mense leef met blinde geloof terwyl ongelowiges se siening berus op bewyse en rede. Hulle glo dat net die rede die waarheid kan vestig. Die wetenskap is die enigste arbiter op dit wat feitelik is; die dinge wat ons kan bewys is al wat ons waarheid kan noem. Godsdiens kan nie bewys dat daar ‘n God en ‘n bonatuurlike terrein is nie.

 

Hierdie sogenaamde “moderne” siening het probleme. Min van ons oortuigings van die waarheid kan wetenskaplik bewys word. Natuurlik is rede belangrik – hoe anders kan ons verskillende oortuigings teen mekaar opweeg? Maar almal van ons glo sekere dine wat ons nie kan bewys nie. Die wetenskap kan nie ondersoek instel of daar meer aan die werklikheid is as hierdie wêreld waarin ons nou lewe nie. Dit word aanvaar – nie bewys nie – dat ‘n God buite ons rede nie kan bestaan nie en daarom kom ons tot die gevolgtrekking dat Hy nie bestaan nie.

 

Die rede het nie die moderne mens se geloof ondermyn nie. Nee, ons ouer geloof is vervang deur ‘n nuwe soort geloof: ons glo nou in die krag van die menslike rede en die vermoë om die diepte van alle dinge te verstaan. Ons rasionele denke staan nie los van geloof nie.

 

Hoe weet ons wat ons dink die waarheid is? Sosiale wetenskaplikes sê deur ‘n kombinasie van onder andere analitiese denke, ondervinding, deernis en intuïsie. Augustinus het verstaan dat geloof en die rede saamwerk Hy sê dat die rede altyd onder die leiding van ‘n voorafgaande geloof werk. Die gelowige gebruik rede en geloof om tot sy oortuigings te kom net soos sy ongelowige buurman rede en geloof gebruik Beide kyk na dieselfde werklikhede in die natuur en die menslike lewe en beide probeer sin maak daaruit deur ‘n proses wat rasioneel, persoonlik, intuïtief en sosiaal is. Rede alleen kan nie werk nie.

 

Moderne sekularisme beteken nie die afwesigheid van geloof nie, maar berus op ‘n stel oortuigings. Dit sluit ‘n aantal aanvegbare aannames in. Om dus te sê dat godsdiens op geloof en sekularisme op bewyse berus, is net eenvoudig nie waar nie.

 

 




Dag 1: Daar is brood in die huis

Dag 1: Daar is brood in die huis

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

160 kilometer. Dit is die afstand wat Josef en die swanger Maria van Nasaret na Betlehem moes reis. Dit was sensustyd. As afstammeling van Dawid moes Josef na Betlehem gereis het om te registreer. Hulle was nie bewus dat hierdie reis die verloop van die wêreld onherroepelik sou verander nie. Betlehem beteken “huis van brood.”

 

Eeue voor Jesus se geboorte was daar ‘n hongersnood in Betlehem. ‘n Man (Elimelek) met sy vrou en twee seuns trek weg na Moab (Rut 1:1 – 3). Hierdie reis het hom sy lewe gekos – net omdat daar geen brood in die huis van brood was nie. Meer as ‘n duisend jaar later onderneem ‘n ander man ‘n reis wat ook sy lewe sou kos. Hy vlug nie uit Betlehem nie – Hy is daar gebore. Dieselfde dorpie waaruit Elimelek moes vlug, huisves nou die kosbaarste gawe in die geskiedenis van die mensdom. In ‘n krip in Betlehem keer die “brood” terug in die persoon van Jesus Christus.

 

Tot op daardie stadium was daar ‘n geestelike hongersnood in die land. By sy geboorte begin Jesus ‘n reis wat by die kruis sou eindig. As die die brood wat uit die hemel gekom het (Johannes 6:41) sou Hy later aan die kruis gebreek word. Hy het dit gedoen om ons geestelike honger te stil en ons met God te versoen. Dit is waarlik goeie nuus. Almal moet dit hoor. As Christene is dit ons plig om hierdie nuus aan ‘n honger wêreld te vertel. Ons moet na die geestelike hongersnood om ons kyk en sê: “Daar is Brood in die huis”. Ek is die brood wat lewe gee (Johannes 6:48).

Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie (Lukas 2:6 – 7