God het ons geroep om vredemakers en nie vredebewaarders te wees nie

 

Three things there are which men never ought to trifle with: a little poison, a little false doctrine, and a little sin. —J.C. Ryle 

 

God het ons geroep om vredemakers en nie vredebewaarders te wees nie

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word (Matteus 5:9)

Vredemakers streef daarna om vrede te skep en probeer om dinge en mense wat van mekaar verskil, te versoen.

Vredebewaarders aan die ander kant, probeer om ten alle koste vrede te bewaar.

Wie sy oë vir die waarheid sluit, veroorsaak smart (Spreuke 10:10). Vredebewaarders, wat dit wat verkeerd is ignoreer net om die vrede te bewaar, sluit hulle oë vir die waarheid.

 

Vredebewaarders in die kerk onderdruk die uitdaging om te verander – hulle probeer ten alle koste die status quo handhaaf net om die vrede te bewaar. Een van die redes waarom kerke agteruitgaan is omdat ons nie ons gedagtes, bekommernisse, menings en twyfel met mekaar deel nie. So behou ons ‘n vals gevoel van vrede. Dan raak lidmate ontsteld, want hulle voel hulle het geen seggenskap nie.

 

Hier is drie maniere om vrede te maak in plaas van die vrede te bewaar.

 

  1. Sê wat jy dink en deel jou passie

Vredebewaarders wil nie ongemak veroorsaak deur die vrede te verstoor nie. Nie alle seerkry is skadelik nie. Die dissipels moes eers die vrede ontwrig voordat hulle ‘n groter vrede kon maak. As hulle die vrede wou bewaar sou hulle nooit weer die Naam van Jesus genoem het nie.

 

  1. Deel ongemak, pyn en seerkry

Mense is sosiale wesens. Vredemakers voel dikwels dat hulle behoeftes, gedagtes, pyn en klagtes nie saak maak nie. Daarom laat hulle alles net opbou. Hulle hou alles vir hulleself en verloor hulle stem. Ons moet ‘n spasie in ons gemeenskap en kerk skep waar ander kan deel wat hulle werklik voel sonder vrees van ‘n teenreaksie. In die begin is dit moeilik, maar uiteindelik lei dit tot ware betrokkenheid.

 

  1. Raak betrokke by mense wat verskil ten opsigte van ouderdom, ras, godsdiens, ens

Ons is geneig om mense wat van ons verskil te vermy – om die vrede te bewaar. Dit is belangrik om vrede met mekaar te maak. ‘n Vals gevoel van vrede vermom dikwels vooroordeel, vrees em dweepsug.

 

Wat verbasend is, is dat in ‘n poging om die vrede te bewaar ons mense van die kerk afskrik. Daar is niks goed daarin om die waarheid te ontken en dit net om die vrede te bewaar nie. Dit is tyd dat gelowiges weer vredemakers word in plaas van vredebewaarders.

 

 




Psalm 31 (1)

All theology, when separated from Christ, is not only vain and confused, but is also mad, deceitful, and spurious. – John Calvin

 

Psalm 31 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 Hierdie psalm kan in ‘n paar opsigte met Psalm 22 vergelyk word. Hierdie psalm is ‘n gebed wat voortspruit uit ‘n dringende behoefte. Dit pleit vir verlossing, maar tussen sy pleidooie weef hy verklarings van vertroue in die Here en klaagliedere oor die huidige situasie in. Voor die einde van die psalm kry ons ‘n duidelike oorgang wat sê dat die gebed reeds beantwoord is.

 

Vers 2 – 9 is ‘n gebed wat in homself volledig kan wees. Daar is pleidooie vir God om te luister en te verlos, stellings van vertroue en toewyding, verklarings dat God gereageer het en ‘n verwagting van ‘n blye reaksie daarop. Vers 10 – 25 gaan dit alles weer deur, maar met ‘n ander profiel.  Dit begin met ‘n pleidooi wat oorgaan in ‘n klaaglied (vers 10 – 14). Dit word deur verdere pleidooie waarin stellings van vertroue ingeweef is, gevolg  (vers15 – 21). Die sluit af met aanbidding en oproepe gegrond op die Here wat gehoor en gereageer het (vers 22 – 25).

 

Die klaaglied in vers 10 – 14 beklemtoon hoe lank die psalmis se beproewing al geduur het. Die beskrywing van die situasie sluit onder andere benoud, verdriet, kwelling, bespotting, wegkwyn, verskrikking, kwaadpratery en skrikbewind in.

 

Opskrif

Vir die musiekleier. ’n Psalm. Van Dawid.

Hierdie psalm word dikwels gekoppel aan 1 Samuel 23:26 waar Dawid ontsteld was omdat Saul hom agtervolg het. Die Here het hom gered

 

 

 




Wat is goeie werke?

 

C.S. Lewis beskryf die kerk as “the only organization that exists primarily for the benefit of non-members.”

 

Wat is goeie werke?

As ons gevra word om een woord te kies om die Christelike lewe te beskryf, watter een sal jy kies? Geloof, want geloof is die fondament van die Christelike geloof. Maar die Christen se lewe moet ook deur goeie werke gekenmerk word. Ons word nie gered deur iets goeds wat ons gedoen het nie, maar opregte verlossing gaan altyd gepaard met ‘n veranderde lewe – nuwe denke, gesindhede en gedrag.

 

Toe Paulus vir die Tessalonisense skryf loof hy hulle vir die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus (1 Tessalonisense 1:3). Alles wat ons doen moet deur geloof, liefde en hoop wat in Jesus Christus gefundeer is, gemotiveer word.

 

Wat kwalifiseer as goeie werke in die lewe van ‘n Christen? Die Bybel is vol voorbeelde: die versorging van ander, die hantering van behoeftes, die gee van ons tyd en geld en ons betrokkenheid by aktiwiteite soos aanbidding, gebed en Bybelstudie,

 

Charles Stanley sê dat as ons die onderwerp van goeie werke oorweeg daar vier waarhede is wat ons in gedagte moet hou. Anders aanvaar ons dat ons definieer wat goed is, wat gedoen moet word en hoe dit gedoen moet word.

 

  1. God bepaal wat Hy wil hê dat elkeen van ons moet doen

God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:10). Omdat ons aan Jesus Christus behoort – Hy het ons met sy bloed gekoop – het Hy volle gesag oor ons lewens. As ons volgens sy wil lewe is daar spesifieke take wat ons moet doen. As ons dink dat bywoning van eredienste op ‘n Sondag genoeg is, maak ons ‘n groot fout. Christene is die mense deur wie die Heilige Gees God se werk op aarde doen. Hy het Homself as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sondes te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen (Titus 2:14).

 

  1. God rus ons toe vir dit wat ons moet doen

Aan Hom wat deur sy krag in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink (Efesiërs 3:20).In elke geleentheid wat God aan ons gee, het Hy reeds alles voorsien wat ons nodig sal hê vir die taak. Hy het oneindige hulpbronne beskikbaar om ons in staat te stel om die goeie werke te doen. Sy inwonende Heilige Gees gee aan ons rigting en krag om te gehoorsaam, as ook gawes wat ons in staat stel om te dien. Hy gebruik die Skrif om ons in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg e stel en ‘n regte lewenswyse te kweek (2 Timoteus 3:16). Hy gebruik ook ons medegelowiges om ons te motiveer.

 

  1. Ons goeie werke moet God en nie onsself nie, verheerlik

In sy bergrede  sê Jesus dat sy volgelinge die lig vir die wêreld is. Hulle moet hulle lig so voor die mense laat skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matteus 5:14 – 16). Kort daarna sê Hy: Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie (Matteus 6:1). Die verskil is motivering. Ons moet nooit die goedkeuring en lof van ander mense soek deur dit wat ons doen nie, maar ons lewe moet deur goeie werke gekenmerk word. Ons moet egter altyd onthou dat sonder Christus is ons niks nie.

 

  1. God sal eendag ons goeie werke oordeel

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontbang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad (2 Korintiërs 5:10). Ons sal vergoed word vir die goeie werke wat ons in gehoorsaamheid aan God, in sy krag en vir sy heerlikheid gedoen het.

 

Ons weet nie presies wat daardie beloning gaan wees nie, maar een ding is seker: Niks is waardevoller as lof van ons geliefde Verlosser nie. Laat ons dan vir Hom leef.

 

 

 




Ananias en Saffira

 

No man is even capable of administering an elected office properly unless he is a Christian. — Huldrych Zwingli

 

Ananias en Saffira

Ons lees die verhaal van Ananias en Saffira in Handelinge 5. Ten spyte van die vinnige groei, het die vroeë kerk ook oomblikke van swakheid en sonde beleef. Die dood van hierdie twee persone dien steeds as waarkuwing vir die kerk van vandag.

 

  1. In die gemeente is daar twee soorte mense en dit is feitlik onmoontlik om hulle van buite te onderskei.

Ananias en Safirra lyk van buite net soos Barnabas. Barnabas het ook sy eiendom verkoop en die geld na die apostels gebring. Barnabas doen, vir die buitestander, presies dieselfde ding as wat Ananias en Safirra gedoen het. Maar diep in hulle hart was daar by Ananias en Saffira ‘n liefde vir geld. Daarom gee hulle slegs ‘n gedeelte van die geld, maar sê dat dit die volle bedrag is. Dit is radikaal anders as wat Barnabas gedoen het al lyk dit van buite na dieselfde. Ons mag met sulke oneerlikheid vir ‘n tyd lank kan wegkom, maar as iemand van nader kyk, sien hulle die leuens.

 

  1. Jy kan nie van God wegkruip nie

Ons mag sukkel om tussen ware berou en vals berou te onderskei, maar niks is vir God verborge nie. Die Heilige Gees ken selfs ons gedagtes. Geen wonder Ananias en Saffira kon nie hulle geheim wegsteek nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie (Matteus 10:26).

 

  1. Hoe nader ons aan genade is, hoe groter die oortreding van sonde

Nie almal wat jok val onmiddellik dood neer nie. Hoekom het die met Ananias en Saffira gebeur?

  • Hulle dood dien as teken. Ons sien dit veral in Jesus se genesingswonders, maar ook in God se oordeel. Almal wat jok sterf nie onmiddellik nie, maar hierdie verhaal moet ons daaraan herinner dat leuens vir God ‘n ernstige saak is.
  • Ananias en Safirra het die aktiwiteit van die Heilige Gees van naby gesien. Hulle het God se barmhartigheid van naby gesien. Anania se naam beteken “God is barmhartig.”

Moenie heilige dinge ligtelik opneem nie.

 

  1. Vrees is ‘n deel van aanbidding

Hierdie dramatiese sterfte veroorsaak groot vrees (vers 5, 11). Maar net daarna lees ons: Tog is baie mense wat in die Here geglo het … algaande by hulle getal gevoeg (vers 14). Vrees is ‘n integrale deel van aanbidding.  John Newton skryf: This grace has taught my heart to fear. Soos ons vrees vir God toeneem, so neem ons bewustheid van sy liefde ook toe, want ons verstaan beter waarvan Hy ons gered het. Ons word uitgenooi na die intiemste verhouding moontlik met God, maar hierdie intimiteit mag nooit God se majesteit oorskadu nie.

 

  1. Sonde is ‘n baie ernstige saak vir God

Ons moenie vra: “Hoekom het hulle gesterf nie?” Ons moet eerder vra: “Hoekom leef ons nog?” God is geduldig met ons; Hy word nie gou kwaad nie. Ons vergeet egter dat God se geduld veronderstel is om ons na bekering te lei. Hoe sal ons dan ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het? Hebreërs 2:3).