Het dit gebeur?

 

What shall be said of us, who have seen so many good hours, yet are not willing to endure evil for a single hour – Martin Luther

 

Het dit gebeur?

Greg Gilbert het onlangs ‘n belangrike boek geskryf: “Why Trust the Bible?” Hierdie is vandag ‘n algemene probleem: Mense vertrou nie meer die Bybel nie. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Mense is dikwels baie seker oor iets en tog is hulle verkeerd. Het die Bybelskrywers iets neergeskryf wat hulle gevoel het werklik gebeur het, maar hulle was verkeerd? Was hulle reg in wat hulle neergeskryf het? Was dit wat hulle gedink het gebeur het en dit wat werklik gebeur het twee dinge? Ons mag dalk nie wiskundige sekerheid bereik nie, maar ons kan darem geskiedkundige betroubaarheid bereik. Geskiedenis werk ongelukkig nie met wiskundige sekerheid nie.

 

Die probleem van wonderwerke

Sodra ‘n geskiedkundige bron dinge soos mense wat op die water loop of water in wyn verander vertel, word ons skepties. Hoekom? Mense wat skepties is oor wonderwerke is mense wat hulle nog nooit ondervind het nie. Almal van ons sukkel om dinge wat buite ons ondervinding lê, te glo. Ons begin dus met die aanname dat daardie dinge nie gebeur het nie en nie kan gebeur nie. Maar net omdat ons hulle nie ondervind het nie, beteken nie dat hulle nie gebeur het nie. Ons kan nie sê dat die Bybel nie geloofwaardig is net op grond van ons eie ondervinding nie. Ander mense het ander ondervindings gehad. As ons sê dat wonderwerke nie aanvaarbaar is nie, moet ons ‘n rede hê om dit te sê.

 

Kom ons kyk na ‘n paar argumente teen wonderwerke

  1. Die wetenskaplike beswaar

Mense het wonderwerke as onwaarskynlik, selfs onmoontlik, beskryf. Hulle gebruik veral hierdie argument. Wetenskaplike vooruitgang bewys dat wonderwerke onmoontlik is. Mense glo net in wonderwerke, sê hulle, omdat hulle nie verstaan hoe die wêreld werk nie en daarom was hulle geneig om die bonatuurlike te glo. Hulle het die gapings in hulle kennis met wonderwerke gevul. Die wetenskap het baie van hierdie gapings oorbrug en daarom is wonderwerke onnodig. Dit is nie so eenvoudig nie. Die antieke mense het geweet jy kan nie op water loop nie – jy sink. Die antieke mense het geweet dooie mense kan nie weer lewe nie. Tog sê die Bybel dat dit gebeur het. Die wetenskap het nie hierdie gebeure minder verbasend gemaak nie. Die wetenskap kan nie die wonderwerke wat in die Bybel beskryf word, verklaar nie. Hoe meer ons ontdek, hoe meer besef ons hoe min ons werklik weet. Die vraag of wonderwerke moontlik is, kom neer op ‘n groter vraag: Is daar ‘n God? Die wetenskap het nie ‘n toets om vas te stel of God bestaan nie.

 

  1. Die filosofiese beswaar

Dit sê dat al kan die wetenskap nie die onmoontlikheid van wonderwerke bewys nie, moet ons tog die waarskynlkheid van ‘n wonderwerk as baie klein beskou. Daarom moet ons nie glo dat wonderwerke moontlik is nie. Ons moet onthou dat die dissipels self verbaas was dat Jesus op die water geloop het. Daarom het hulle dit neergeskryf. Die wetenskap het nie aan ons die rede gegee waarom die wonderwerke plaasgevind het nie en het beslis nie bewys dat hierdie wonderwerke onmoontlik is nie.

 

Is die Bybelse wonderwerke aanvaarbaar?  Die Bybelskrywers sê dat hulle buitengewone dinge gesien het en ons het geen rede om te sê dat daardie dinge inherent onmoontlik is nie. Maar ook die Babiloniërs, die Romeine en die Grieke vertel stories van wonderlike dinge wat gebeur het. Hoekom is die Bybelskrywers se stories meer aanvaarbaar? In ander wonderstories  gaan dit nie oor ooggetuies wat verslag lewer van historiese gebeure nie. Ons het hier te doen met legendes of mites wat onstaan  en oor eeue gegroei het of ons het te doen met gewone historiese gebeure wat met verloop van tyd met bonatuurlike dele aangevul is. Die wonderwerke in hierdie stories is nie noodsaaklik vir die storie self nie. Hierdie wondertekens is net later bygevoeg vir hulle effek. Hulle is beslis nie die stories van ooggetuies nie.

 

Die wonderwerke in die Bybel is nie mites of legendes nie; hulle is nie oor eeue uitgebou nie. Hulle berus op die verslae van ooggetuies en hulle is noodsaaklik vir die stories om hulle. Hulle is ten nouste verbind met die boodskap wat Jesus verkondig het. Jesus genees mense – Hy laat nie ‘n haas uit ‘n hoed verskyn nie. Hy wys vir ons hoe sy werk geestelike lewe uit geestelike dood kan voortbring.

 

Die wonderwerke in die Bybel is nie oortollig nie. Hulle is ingeweef in die stories. Hulle is die verslag van oogetuies van werklike mense wat dit met hulle eie oë gesien het. Ons kan hulle nie sommer as logies onmoontlik verwerp nie. Kan ons ‘n punt bereik waar ons kan sê die wonderwerke is histories moontlik?

 

Ons kan nou elke wonderwerk individueel ontleed of ons kan direk na die een wonderwerk wat onderliggend tot die hele Christelike geloof is, gaan. Dit is die wonderwerk waarop die Christen se oortuiging dat die Bybel die woord van God is, berus. Dit is die opstanding van Jesus. As die opstanding van Jesus plaasgevind het dan val die res van die Christelike geloof in plek. As die Bybelskrywers verkeerd was oor Jesus se opstanding is dit onwaarskynlik dat hulle oor baie ander dinge reg was. As Jesus steeds dood is, is al die ander dinge van geen belang nie.- nie die wonderwerke of Jesus se onderrig of sy aansprake. Al hierdie dinge was om Jesus se identiteit as die Christus te demonstreer. As Hy steeds dood is, is Hy nie Christus nie. Die hele Christelike geloof staan of val by die vraag of Jesus histories uit die dood uit opgestaan het.

 

Die Bybelskrywers sê hulle het dit gesien, gehoor en aangeraak en ondervind het. Hulle wou gehad het dat hulle lesers dit ook moet glo. Hoekom het hulle geglo dat Jesus uit die dood opgestaan het?

 




Psalm 30 (2)

 

Yet we should remember that all love comes from God – Pelagius (354 – 420).

 

Psalm 30 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

30:5 – 6:

Hierdie psalm vier die Here se verlossingskrag, maar ook die doeltreffendheid van spraak – beide woorde in gebed aan God en woorde van lofprysing aan God in danksegging. Die danksegging aan die Here vind in die openbaar plaas waar ander mense dit kan hoor. Dit is dus ‘n getuienis.

 

5Sing vir die Here, julle wat sy getroue volgelinge is,

en loof sy heilige, gevierde Naam,

Dit gaan oor die musikale vorm van uitdrukking en oor die inhoud daarvan. Dit gaan oor die psalmis se toewyding aan die Here. Dan noem die psalmis die onderwerp van hierdie lofsang: die heilige, gevierde Naam van die Here.

 

 6Want sy woede duur ‘n oomblik. Sy goedgesindheid ‘n lewe lank.

In die aand word daar aanhoudend gehuil maar teen die oggend is daar ‘n gejuig.

Hierdie vers verduidelik waarom die Here se optrede teenoor een mens goeie nuus vir ander is. Die Here se verlossing van ‘n individu bewys wie Hy is. Hierdie kennis is betekenisvol vir mense in die algemeen. Die algemene waarhede soos bewys deur sy optrede hou verband met wie Hy is en hoe Hy optree. Want sy woede duur ‘n oomblik. Sy goedgesindheid ‘n lewe lank. Die Here se goedgesindheid is nie iets wat die psalmis verdien het nie. Die oorgang van hartseer na vreugde kan oornag plaasvind. Dit wys vir ons hoe vinnig die Here kan genees.

 

30:7 – 8:

Die psalm kon by vers 6 opgehou het. Vers 7 – 13 herhaal net die storie. Dit wat die Here gedoen het, moet meer as een keer en op meer as een manier vertel word. Hierdie verse vertel hoe dinge was en hoe dinge skeef geloop het.

 

7Ek is die een wat onbesorg gesê het: “Niks sal my ooit laat wankel nie!”

Die psalmis kyk terug toe dinge nog reg was. Dit wil voorkom of daar geen rede is waarom hierdie Godgegewe welstand nie vir altyd kon voortduur nie. Hier is geen rede om te dink daar was vals selfvertroue by die psalmis nie.

 

8Deur u goedgesindheid het U, Here, krag gevestig as my berg.

Verberg U u gesig, is ek verskrik.

Dit was nie oormatige selfvertroue nie, maar die Here wat gemaak het dat hy onbesorg was. Dit het die Here in sy liefde gedoen. Tog het alles in dui gestort. As die Here sy gesig verberg, is dit skrikwekkend. Dit is nie net geestelik dat God onbereikbaar was nie, maar Hy het ook sy seën en beskerming onttrek. Dit is wat hom in die aand laat huil het.

 

 




Die skrywers was verward

 

Open transgression of God’s law slays its thousands, but wordliness its tens of thousands. —J.C. Ryle 

 

Die skrywers was verward

Party mense sê dat die skrywers vir ons ‘n akkurate beskrywing probeer gee, maar hulle boeke is so verwarrend, teenstrydig en vol foute dat ons hulle beslis nie kan vertrou nie. Die Bybel is onderwerp aan ‘n aanval deur skeptici vir meer as 200 jaar, maar elke aantyging is beantwoord met ‘n geloofwaardige argument. Met geduldige studie word selfs die hardnekkigste probleme opgelos. Ons kan nie sê dat die Bybel teenstrydig en vol foute is as ons nie bereid is om die aanklagte noukeurig te toets nie.

 

Gevolgtrekking: Die Bybel is histories betroubaar. Ons het bepaal dat ons met vertroue kan sê:

  • Ons vertalings van die Bybelse manuskripte is betroubaar.
  • Ons Bybelse manuskripte weerspieël akkuraat wat die oorspronklike dokumente gesê het.
  • Ons kyk inderdaad na die regte en beste dokumente.
  • Die skrywers het nie fiksie geskryf nie, hulle wou nie mislei nie en was self nie mislei nie, maar skryf om ons te vertel wat hulle geglo het, gebeur het.

 

Daar bly nog een belangrike vraag: kan ons vertrou dat dit wat die skrywers geglo het gebeur het?

 




Die laaste woorde van ‘n sterwende gemeente

 

The story of Jesus is to be proclaimed and celebrated. Some will hear and rejoice, some will remain indifferent, some will become hostile. The story of Jesus will not always be accepted, but it must be told – Henri Nouwen

 

Die laaste woorde van ‘n sterwende gemeente

As gemeentes kon praat, wat sou die laaste woorde op hulle sterfbed gewees het? Thom Rainer identifiseer drie sinne.

 

  1. Ons het dit nog nooit vantevore so gedoen nie

Hierdie is die klassieke voorbeeld van ‘n gemeente wat verandering teenstaan. Ons moet nooit die waarhede van God se woord verander nie. Meeste weerstand teen verandering is egter teen metodologieë, voorkeure en begeertes. Hierdie oorloë gaan gewoonlik oor kleinlikhede.

 

  1. Ons leraar besoek nie genoeg nie

Hierdie gemeentes het gewoonlik onredelike verwagtings van hulle leraars. Hy kan lidmate 24/7 besoek en dit sou steeds nie genoeg wees nie. Sommige lidmate vergelyk lengte en frekwensie van pastorale besoeke om te sien wie die meeste aandag van die leraar kry. Hierdie gemeentes fokus na binne en agteruitgang is hulle voorland – en dikwels gaan hulle dood.

 

  1. Mense weet waar ons kerkgebou is as hulle wil kom

Hier is ‘n paar probleme met hierdie stelling:

  • Mense aanvaar die kerk is ‘n gebou – die fisiese kerkgebou is die kerk. Die gemeente wat hierdie verkeerde aanname aanvaar, kan nooit buite sy mure beweeg nie. Hulle glo dat as dit gebeur, is die gemeente nie meer ‘n kerk nie.
  • Die sin is dikwels die verskoning vir gemeentes om in hulle heilge groepe te bly en nie uit te gaan en die gemeenskap te evangeliseer nie.
  • Soms is dit net ‘n rookskerm vir vooroordeel en rasisme. Die gemeenskap buite die gemeente het verander, maar die gemeente is steeds dieselfde. Die lidmate wil nie hê dat hierdie mense hulle fort inval nie.

 

‘n Aantal gemeentes sluit elke dag hulle deure. Die lidmate het nooit verwag dat hierdie hartseer dag ooit sou aanbreek nie. Kyk na die waarskuwingstekens in die gemeente. Is enige van hierdie sinne algemeen in jou gemeente is julle in die moeilikheid. In God se krag kan die gemeente omdraai Ongelukkig is die meeste lidmate in hierdie gemeentes nie bereid om afstand te doen van hulle persoonlike voorkeure, gemak en vooroordele nie. Ongelukkig is dit ‘n sekere pad na die dood van die gemeente.