Die Christendom as Geskiedenis

 

Growth begins when we start to accept our own weakness – Jean Vanier

 

Die Christendom as Geskiedenis

Greg Gilbert het onlangs ‘n belangrike boek geskryf: “Why Trust the Bible?” Hierdie is vandag ‘n algemene probleem: Mense vertrou nie meer die Bybel nie. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

As ons die boeke waaruit die Nuwe Testament bestaan, benader as historiese dokumente en nie as die woord van God nie, kan ons tot die gevolgtrekking kom dat Jesus uit die dood opgestaan het? Die Nuwe Testamentiese dokumente maak self daarop aanspraak dat hulle historiese dokumente is. Lukas begin sy evangelie met: Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf.

 

Natuurlik het die manier van geskiedskrywing in die antieke tyd verskil van ons metode, maar die basiese idee is dieselfde: die skrywers skryf verslae van gebeure wat hulle geglo het werklik gebeur het. Die Christelike geloof is nie ‘n lys van etiese onderrig of filosofiese nadenke of geheime “waarhede” nie. Die Christelike geloof is ‘n aanspraak dat iets buitengewoons gebeur het – iets konkreet en werklik en histories.

 

‘n Verdere vraag: Is die NT dokumente betroubare as historiese getuies? Kan ons hulle vertrou om goeie, betroubare inligting te gee oor die gebeure in Jesus se lewe, veral in verband met sy opstanding. Ons eindig met vyf groot vrae:

  1. Is die vertaling van die Bybel uit sy oorspronklike taal betroubaar? Sê dit nie dinge wat ons nie in die oorspronklike gekry het nie?
  2. Het kopieerders die oorspronklike skrywe akkuraat oorgeskryf? Het hulle nie doelbewus dinge bygevoeg of weggelaat of verander, sodat wat ons vandag het verskil van die oorspronklike nie?
  3. Kyk ons na die regte versameling boeke? Is daar nie boeke weggelaat wat ‘n ander perspektief op Jesus sou gee nie?
  4. Was die oorspronklike skrywers betroubaar? Was hulle oorspronklike bedoeling om ‘n akkurate verslag van gebeure te gee of wou hulle mense mislei?
  5. Kan ons seker wees dat wat die skrywers neergeskryf het werklik plaasgevind het?

 

Eers as ons op al hierdie vrae kan antwoord, het ons ‘n sterk aanspraak op die betroubaarheid van die gebeure. Dan het ons ‘n soliede fondament om die Bybel as histories betroubaar te sien. Eers dan kan ons die Bybelse verslag van Jesus se opstanding uit die dood aanvaar – dit het werklik gebeur.

 

Voordat ons na hierdie vyf vrae kyk, is daar ‘n paar gedagtes ter agtergrond wat ons eers moet bespreek.

 




Psalm 29 (2)

 

In the end, the most important thing is not to do things for people who are poor and in distress, but to enter into relationship with them, to be with them and help them find confidence in themselves and discover their own gifts – Jean Vanier

 

Psalm 29 (2)

 

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

29:3 – 4

3Die stem van die Here, oor die waters,

die God van majesteit laat dreun,

Die Here, bo die magtige waters,

 4Die stem van die Here is kragtig,

die stem van die Here is glansryk.

Hier kry ons die rede vir en die inhoud van die pryslied aan die Here. Hier kry ons die rede waarom ander hemelinge die Here ook moet prys. Dit gaan oor die Here se stem op aarde en in die hemel. Hy is die God van majesteit; sy stem dreun. Maar ons lees ook van die magtige waters. Die waters staan vir onstuimige kragte wat dreig om die normale lewensorde omver te werp – soos ‘n vloed mense en stede omver kan werp. By die skepping, toe die Here gepraat het, het die kragte wat so uitgesproke was, stilgebly. In die verhale van Israel se tydgenote het die goddelike wesens dikwels probleme ondervind om hulle gesag af te dwing oor die primitiewe entiteite. Hierdie psalm vra die hemelinge om die Here te prys, want Hy het nie sulke probleme gehad nie.

 

29:5 – 9b:

5Die stem van die Here breek seders,

die Here verspinter die seders van die Libanon.

6Hy laat hulle bokspring soos ‘n kalf, Libanon en Sirjon soos jong buffels.

7Die stem van die Here kap klippe met vlamme.

 8Die stem van die Here laat die woestyn bewe,

die Here laat die Kadeswoestyn bewe.

9Die stem van die Here laat terebinte sidder,

dit stroop bosse kaal.

[Woestyn verwys na ‘n onbewoonde, onherbergsame gebied waar skape en bokke soms gewei het. Terrebinte verwys na ‘n Palestynse boom met geveerde blare wat bladwisselend is en rooi bessies dra. Dit word ongeveer vyf meter hoog. Sirjon is ‘n ander naam vir Hermon.]

Die psalm beweeg nou van die verlede na die hede. Dit maak dit duidelik dat die psalm nie net oor die oorspronklike skepping of van die hemel praat nie. Die psalmis wil hê dat die hemelinge, en sy mede-Israeliete, die Here se  heerskappy ernstig moet opneem. Hierdie gedeelte nooi die mense uit om in hulle verbeelding ‘n woeste donderstorm te sien As donder deur die natuurlike wêreld weergalm, is dit ‘n weerklank van God se stem wat in die hemel weergalm soos donderweer. Dit is ook ‘n naskok van die Here wat soos donderweerr by die skepping weergalm het. Die donder en weerlig wat die Here veroorsaak,versterk ons oortuiging dat die Here by die skepping sy oppermag oor die waters uitgeoefen het. ‘n Donderstorm kan groot bome laat val of hulle van hulle blare stroop. Dit kan voel asof die grond sidder. Dit kan die donkerte verlig; dit kan diere paniekerig maak. Die psalm hoor die stem van die Here  in die donder, maar sien ook die hele drama as ‘n weerspieëling van God se krag uitgeoefen by die skepping.

 

Die seders van die Libanon was indrukwekkende bome. Die woestyn is die plek waar weerligte uitslaan en die grond bewe. Beide is die gevolg van die stem van die Here. Hier het ons ‘n struktuur wat soos trappe lyk:

Bome (vers 5)

Diere (vers 6)

Woestyn (vers 7 – 8)

Diere (vers 9a)

Bome (vers 9b)

 

Die grond vir die opdragte is die tekens van God se skeppingsmag in die natuur. Die stem van die Here in die Ou Testament is dikwels die brul van die storm wat oor die heuwels weergalm. Die gedig begin, soos Genesis, met die waters. Soos in die verlede, openbaar die Here Homself in die natuur. Die onweer, weerlig, reën en watervloed word gesien as God se heilige verskyning, wat almal met ontsag vir Hom vervul. Hy laat sy stem hoor; Hy praat; Hy vertel hoe geweldig Hy is. Die stem van die Here bring al die natuurelemente weer in balans.

 

Die uitwerking van sy verskyning word oor ‘n wye terrein opgemerk: berge, die Libanon en Sirjon (= Hermon), diere, groot seders, die Kadeswoestyn bewe en die wildsbokke ruk soos hulle vir die groot onweer skrik. So ver as die onweer trek, van noordwes na suidwes, kom almal onder die indruk van die Here se groot mag. In die hemel waar God sy paleis het, getuig almal daarvan, want sy almag is so duidelik sigbaar. Die weerlig wat die bome kloof, is nie die spies van ‘n afgod, soos die buurvolke geglo het nie, maar dit is die magtige stem van die Here.

 

29:9c – 10:

Sy hele paleis sê: “Majesteit!”

10Die Here troon oor die vloed, ja, die Here troon as koning vir ewig.

Weer verander die toneel en keer terug na die hemel. Die Here se paleis is in die hemel bo die waters oor wie Hy sy oppermag uitoefen. Die hele paleis beteken al die hemelinge. Hulle doen nou wat hulle in vers 1 – 2 gevra is om te doen.

Die lyk asof die hemelinge hulle eer aan die Here bring op grond van wat hulle gesien het wat op aarde gebeur. Die Here is koning – Hy sit op die troon. Hy oefen ook sy mag oor die magte – die vloed – wat sy oppermag uitgedaag het, uit. Hierdie uitoefening van die Here se mag duur vir ewig.

 

29:11

11Die Here gee krag aan sy volk,

die Here seën sy volk met vrede.

Dit is die hemelinge wat sê dat die Here krag vir sy mense moet gee. Dit wys dat  die Here krag het en in staat is om dit te gee. As lede van die hemelse hof dra hulle by tot die taak om besluite te neem oor gebeure op aarde en met die implementering van daardie besluite.

 

Die digter sluit sy loflied af met twee stellings:

  1. Die getuienis van die natuur dui net op een saak: God is koning vir altyd. Niemand kan Hom onttroon nie.
  2. Die Here sal dié wat aan Hom behoort, sterk maak en seën. Daarom mag sy volk staatmaak op sy hulp en op sy oop hand – Hy seën hulle met die goeie uit die natuur. Die hemel getuig van sy groot mag en sy volk geniet die vrug daarvan.

 

 




Moenie alles wat jy lees, glo nie

 

All of us have a secret desire to be seen as saints, heroes, martyrs. We are afraid to be children, to be ourselves – Jean Vanier

 

Moenie alles wat jy lees, glo nie

Greg Gilbert het onlangs ‘n belangrike boek geskryf: “Why Trust the Bible?” Hierdie is vandag ‘n algemene probleem: Mense vertrou nie meer die Bybel nie. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Veral vandag met die Internet sal net ‘n dwaas alles wat hy lees, glo. ‘n Waardevolle vaardigheid is om die verskil tussen feit en fiksie, tussen waarheid en versinsel te kan onderskei. Wat ons lees, moet ons toets: is dit betroubaar?

 

‘n Man, Jesus, is 2000 jaar gelede uit ‘n maagd gebore; Hy maak daarop aanspraak dat Hy God is; Hy doen wonderwerke soos deur op water te loop; Hy word gekruisig; Hy staan op uit die dood; Hy vaar op na die hemel waar Hy nou as Koning van die heelal heers. Laat ons eerlik wees: meeste mense in ons kultuur dink dit is vreemd dat mense hierdie storie ernstig kan opneem.

 

Christene vertrou die Bybel. Dit dien as die fondament van hulle lewens. Maar, daar is baie Christene wat nie werklik kan verduidelik waarom hulle die Bybel glo nie. Hulle mag baie redes gee: Die Heilige Gees het my oortuig; dit het in ons lewens gewerk; argeologie bevestig sommige van die Bybelse stellings; ons aanvaar dit in geloof … Natuurlik is hulle wettige redes vir Christene om die Bybel te vertrou, maar as ons eerlik wil wees, gaan hulle nie sommer iemand wat nie die Bybel vertrou, oortuig nie. Dit mag selfs hulle twyfel versterk.

 

Hoe sal jy vir iemand wat nie in die Bybel glo nie, oortuig dat hy die Bybel kan vertrou? Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe (1 Petrus 3:15). Lank voor ons by vrae soos wie is Jesus of wat is die evangelie kom, moet ons eers antwoord waarom ons die Bybel vertrou. Die antwoord is: Omdat ek glo dat Jesus uit die dood opgestaan het. As ek dit glo, sal ek die Bybel vertrou. As Jesus uit die dood opgewek is, is Hy waarlik die Een waarop Hy aanspraak gemaak het. Dan is Hy waarlik die Seun van God. Dan moet ons na Hom luister.

 

Jesus het in die Bybel geglo. Herhaaldelik in sy onderrig haal Hy uit die Ou Testament aan en bevestig die waarheid daarvan. Die Nuwe Testament was eers jare na sy dood op skrif gestel, maar dit bevestig wat Hy gedoen en gesê het. Om deel van die Bybel te wees, moes sy apostels die waarheid daarvan bevestig.

 

Maar hoe kan ons glo dat Jesus werklik uit die dood uit opgestaan het? Ons kan nie net sê dat die Bybel dit sê nie. Ons gaan nie ongelowiges daarmee oortuig nie. Kom ons begin ons pad om te wys dat ons die Bybel kan vertrou deur die Nuwe Testamentiese boeke as historiese dokumente te benader.

 




Die Psalms – ‘n herlewing?

 

We have to remind ourselves constantly that we are not saviours. We are simply a tiny sign, among thousands of others, that love is possible, that the world is not condemned to a struggle between oppressors and oppressed, that class and racial warfare is not inevitable – Jean Vanier

 

Die Psalms – ‘n herlewing?

Duisende nuwe Christelike liedere kom elke jaar by, maar tog lyk dit asof die Psalms op sommige plekke ‘n herlewing belewe. Hoekom? Waarskynlik as gevolg van hulle terapeutiese waarde. In ‘n dag waar baie gelowiges se emosies maar deurmekaar is, ontdek hulle dat die psalms kragtig tot hulle emosionele lewens praat.

  1. Die Psalms balanseer God se openbaring en die mens se emosies

Baie nuwe Christelike liedere roer ons emosioneel, maar hulle teologiese inhoud is maar min. Die hart is betrokke, maar nie die denke nie. In oorreaksie hierop het ander liedere gekomponeer wat vol teologiese feite is, maar nie die sanger se gevoelens betrek nie. Hulle is soos preke wat ons sing. In die psalms kry ons ‘n balans tussen teologie en lofprysing. Herhaaldelik kry ons “Loof die Here vir …” gevolg deur redes en motivering vir hierdie lof. God word verklaar en bespreek, maar altyd met die doel om ons harte aan te roer en om interaksie met Hom te hê deur sy selfopenbaring.

 

  1. Die Psalms is ‘n uitdrukking van die volle reeks van menslike emosies

Die psalms bevat ‘n overgelykbare mengsel van verskillende emosies: hartseer en blydskap; twyfel en vertroue; eensaamheid en gemeenskap; wanhoop en hoop; vrees en moed; klagte en lof; ens. Calvyn verwys na die psalms as “’n anatomie van alle dele van die siel.” Hy sê daar is geen emosie waarvan iemand bewus kan wees wat nie verteenwoordig word soos in ‘n spieël nie.

 

  1. Die Psalms skilder ‘n realistiese beeld van Christelike emosies

Die psalms skilder nie die Christelike lewe as die een oorwinning na die ander nie. Baie van die huidige aanbidding is positief, maar dit mag verskil van die Christen se ondervindings die res van die week. Dit mag lei tot sinisisme en onsekerheid. In die psalms kry ons eerlikheid. Die sterk uitdrukkings van die werklikheid mag ons aanvanklik skok, maar ons is verlig om mense te kry wat soos ons voel en dink in hulle daaglikse lewe

 

  1. Die Pslams is ‘n welkome uitlaat vir ons pynlike emosies

Het jy al van versekering gesing terwyl jy twyfel? Het jy al van vreugde gesing terwyl jy terneergedruk is? Aaklig. Hoekom kan ek nie sing wat ek werklik voel nie? Met die psalms kan jy. Sommige laat ons toe om twyfel, selfs wanhoop, uit te druk (byvoorbeeld Psalm 88); sommige laat ons toe om ons stryd met voorsiening uit te druk (voorbeeld Psalm 73); sommige help ons om ons stryd met depressie te verduidelik (Voorbeeld Psalm 42).

 

Die psalms open die drukklep van ons harte en sê vir ons hoe om ons pynlike emosies te artikuleer. Ons hoef hulle nie te ontken of net vir onsself te hou nie. God gee aan ons liedere om hulle te erken en om aan hulle uitlating te gee.

 

  1. Die Psalms vra vir die transformasie van ons emosies

Die psalms laat ons nie net toe om ons emosies uit te spreek nie, maar vra ook vir hulle transformasie. Ons hoef nie in ons emosies rond te rol nie, maar ons word gewys hoe om van vrees na moed, van hartseer na vreugde, van kwaadwees na vrede, van wanhoop na hoop te beweeg. Die pynlike beginpunt is ‘n werklikheid, maar dit is net die beginpunt. Die eindpunt is emosionele heling. Met behulp van die psalms se leiding moet ons na die eindpunt beweeg.

 

  1. Die Psalms roep ons op na simpatieke emosies

Hoekom sing van hartseer as ek gelukkig is? Waarom sing van vreugde as ek depressief is? As God ons verlos, begin ons verder as onsself kyk en ek besef dat al voel ek nie hierdie dinge nie, is daar ander wat dit wel voel. Die psalms wil hê dat ek moet huil met dié wat huil, dat ek moet bly wees met dié wat bly is al voel ek presies die teenoorgestelde. Die psalms herinner my aan die emosionele diversiteit in die liggaam van Christus en nooi my uit om die swaarky en suksesse van ander te deel.

 

  1. Die Psalms voorsien ‘n emosionele stimulus vir ‘n lewe van geregtigheid

Ons het na die emosionele betrokkenheid en stimulus van die psalms gekyk, maar die psalms gebruik die emosionele energie wat uit hulle kom om praktiese gehoorsaamheid te stimuleer. Kyk net na die aantal wysheidspsalms versprei deur die psalms. Hulle wys die pad van gehoorsaamheid vir die aanbidder vol energie. Emosionele transformasie moet lei na lewenstransformasie.
Miskien is dit weer tyd om na die psalms te kyk.