Psalm 29 (1)

 

Love doesn’t mean doing extraordinary or heroic things. It means knowing how to do ordinary things with tenderness – Jean Vanier

 

Psalm 29 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Hier kry ons ‘n vraag wat ons ook in van die ander psalms kry: Wie praat hier en met wie praat hy? Die spreker is waarskynlik ‘n priester en profeet. Indirek praat hy moonhtlik met die Here en vertel Hom van die gemeenskap se toewyding. Die geografiese verwysings in die psalm is na die noorde van Kanaän. Daarom dat party teoloë dink dat hierdie psalm ‘n aanpassing van ‘n Kanaänitiese lied is.

 

Na alle waarskynlikheid is hierdie ‘n verwerking van ‘n ou Kanaänitiese onweerspsalm waarmee die reëngod vereer is. As deel van Israel se “sendingwerk” onder hierdie heidense bure in Kanaän is hierdie psalm verwerk ooreenkomstig Israel se geloofsopvatting soos vertolk in die naam waarmee hulle die Verbondsgod aangespreek het: die Here, die Almagtige. Hierdie is ‘n natuurgedig, maar soos met alles, moet die lof gaan aan die Here van die natuur. In hierdie psalm word bely dat dit die Here is wat reën gee. In die dreuning van die weer hoor die vroom Israeliet nie ‘n natuurkrag nie, maar die stem van sy God, die Here.

 

29:1 – 2: Vier opdragte

Die psalm begin met ‘n oproep om die Here te erken.

’n Psalm van Dawid.

Prys die Here, julle hemelinge! Prys die Here om sy eer en mag!

[Hemelinge verwys na figure uit die hemelse hofhouding.] Eer en mag moet aan die Here bewys word. Die versoeking is dat ons verknogtheid aan ons eie eer en krag ons teensinnig maak om die Here se eer en mag te erken – ons eien die Here se eer en mag vir onsself toe. Nog ‘n versoeking is dat ons eer en mag aan ander dinge en nie aan die Here toeskryf nie. Maar die oproep hier word nie aan mense nie, maar aan hemelinge gerig. Hulle is waarskynlik lede van die Here se huishouding en ondersteun Hom op verskillende maniere om te bepaal wat op aarde gebeur. Hulle is ondergeskik aan die Here. Die Ou Testament vertel ons nie van waar hierdie hemelinge kom nie. Volgens Psalm 82 kan hulle, soos mense, sterf. Alhoewel Psalm 29 aan hierdie hemelinge gerig word, is die ware gehoor waarskynlik Israeliete wat ander gode aanbid – iets wat algemeen in die tyd van die Ou Testament was.

 

2Prys die Here om die eer van sy Naam!

Buig voor die Here by sy heilige verskyning!

Ons moet die eer van die Here se Naam erken. Die Naam van die Here wys vir ons wie Hy is. Om die Here te prys is aanbidding; om te buig voor die Here is ‘n simboliese optrede wat net so belangrik is as om Hom te prys. Heilige verskyning verwys na die Here se heilige majesteit.

 

Hier kry ons vier opdragte aan die hemelinge:

  1. Hulle word opgeroep om die Here te prys.
  2. Hulle word opgeroep om die Here se almag te besing.
  3. Hulle moet die Here prys om die eer van sy Naam.
  4. Hulle moet voor die Here buig as Hy in sy heiligheid verskyn.

 




Ek spring van gemeente tot gemeente

 

No error is so gross, that it may not appear most plausible, if you consider it with the reason alone without the aid of the Word. — Martin Luther

 

Ek spring van gemeente tot gemeente

Daar is ‘n nuwe neiging veral onder jongmense – om van die een gemeente na die ander te spring. Hulle word dikwels beskou as oppervlakkige godsdiensverbruikers. Hulle vlieg dikwels onder die radar en hulle ondervind die kerk op hulle eie manier. Daar is ‘n paar baie belangrike dinge wat ons moet besef.

 

  1. Kerk gaan oor verhoudings

Die “kerk” is mense; dit is God se mense. Dit is nie gebeurtenis of diens soos ons gewoonlik daaraan dink nie. Dit is die mense wat graag bymekaar wil kom. Ons moet aan kerk in terme van verhoudings en nie in terme van geboue of style dink nie. Die regte reaksie van God se mense is om lief te hê – maak nie saak hoe dikwels die persoon ‘n erediens bywoon nie. Om van gemeente na gemeente te spring sonder enige verbinding is ‘n ondiens aan wat die gemeente alles vir ons bied. Daar is vryheid en diepte as jy jouself by ‘n geloofsgemeenskap aansluit. Die regte vraag is: Het jy ‘n gemeenskap wat jou ken, jou liefhet, jou uitdaag? Dan maak dit nie saak waar jy Sondae die eredienste bywoon nie.

 

  1. Dit sal wees wat jy daarvan maak

As jy van gemeente na gemeente spring om diversiteit te ondervind, sal jy waarskynlik kry wat jy soek. As jy net wil verbruik of as jy nie in verhoudings belangstel nie, sal jy waarskynlik ook slaag. Ons motiewe en waardes dryf ons in al die besluite wat ons neem. Jy moet verstaan waarom jy van gemeente tot gemeente spring.

 

  1. Oppas vir die swaai van die pendulum

Ons streef na balans – ook as dit by kerkkultuur kom. Gelowiges raak geheg aan ‘n sekere manier van “kerk doen.” Almal van ons het al seergekry en is gewond – soms in die kerk. Ons eerste reaksie is om so ver as moontlik weg te hardloop. Om jou aan ‘n ander gemeente toe te wy, klink na ‘n waagstuk – daarom spring jy maar van gemeente tot gemeente. Balans is goed, maar wees versigtig vir die pendulum wat swaai. Verstaan waarom jy van gemeente tot gemeente spring.

 

  1. Kerk maak ons nie heiliger nie

Die praktyke van die gemeente maak ons nie heiliger nie. As kinders van God is ons heilig en geregverdig deur Christus. As ons dit besef, kan ons mekaar liefhê en gesonde verhoudings binne ‘n gesonde gemeentelewe ontwikkel.

 

Ons moet ophou om met mekaag te baklei oor wat reg en wat verkeerd is. Volg in Jesus se voetspore en leef in liefde met mekaar – Sondae en elke ander dag van die week.

 




Raak ontslae van die spanning in jou lewe.

 

God’s wrath is the hope of his children and the despair of his enemies. —David Powlison

 

Raak ontslae van die spanning in jou lewe.

Jongmense hoor gereeld dat hulle die geslag wat die beste verbind is, is. Maar hoekom voel ons altyd gespanne? Angstoestande word by 18% van die Amerikaanse bevolking gediagnoseer (National Institute of Mental Health). Chroniese spanning kan jou gesondheid nadelig beïnvloed. Hoe kan ons die faktore wat spanning veroorsaak ontknoop.

  1. Wees doelgerig

Ons moet aktief daaraan werk om die spanning in ons lewens te verminder. Hierdie is nie ‘n oornag oplossing nie. Om gewoontes en patrone te verander vereis ‘n doelgerigte poging van ons kant. Gaan sit en kyk na jou lewe.

 

  1. Indentifiseer dit wat spanning in jou lewe veroorsaak

Watter spanning beïnvloed jou lewe negatief. Soms help spanning ons. Ons ken almal mense wat beter onder spanning werk as wanneer daar geen druk op hulle is nie. Spanning is ‘n reaksie op ons omgewing met ‘n funksie in ons lewens. Korttermyn spanning kan dien as motiveerder en ons help om ons doelwitte te bereik. Maar die chroniese spanning wat baie mense ondervind, is die gevolg van ‘n haastige leefstyl. Dit mag ‘n negatiewe effek op ons gesondheid hê. Die vader van die studie van stres was die Kanadese fisioloog, Hans Selye. Hy sê dat die optimum vlak van stres is een waar ons dinge bereik en tog die lewe kan geniet sonder die negatiewe aspekte van stres. Hy gebruik die kitaar as analogie. As die snare nie styf genoeg is nie, maak dit nie musiek nie; as die snare te styf is, breek hulle.

 

  1. Versorg jou fisiese self

As ek myself versorg, kan dit spanning verlig. Om minder te slaap of minder te eet of minder oefening te doen, vererger alles. Gereelde oefening is noodsaaklik. Gesonde eetgewoontes – baie vrugte en groente en minder koolhidrate en suikers – verminder ook spanning.

 

  1. Stel grense

Ons moet leer om “nee” te sê en ruimte te laat vir dit wat onverwags in ons lewens gebeur. Dit is ‘n lewensvaardigheid wat ons moet leer. Hier speel tegnologie ‘n rol. Baie van ons spanning is die gevolg daarvan dat ons gedurig aan ons selfone, e-posse, sosiale media, ens vas is. Besluit wanneer jy jou gaan losmaak van hierdie tegnologie.

 

  1. Identifiseer “lewegewende” aktiwiteite en prioritiseer hulle

As jou beroep spanning veroorsaak, pas dit jou gawes? Is daar tyd vir stokperdjies? Ons moet aktiwiteite kry wat ons batterye herlaai. Musiek of stap is vir baie mense noodsaaklik. Hulle verfris jou emosioneel. Elke persoon moet uitvind wat vir hom/haar werk.

 

  1. Kontroleer jou geestelike lewe

Is ons verhouding met Jesus Christus vir ons ‘n prioriteit? Die Here sê dat ons ons laste vir Hom moet gee. Ons moet ons na Hom toe draai; ons moet wyse besluite neem oor die tyd wat Hy aan ons, sy rentmeesters, gegee het. Vir baie van ons het ons verhouding met God net nog ‘n taak in ‘n baie besige wêreld geword. Mense begin dat dikwels dit wat vir hulle lewe gee, vermy – ons verhouding met God in Christus. Maak tyd saam met God sonder ‘n agenda – geen Bybel, geen musiek, geen dagstukkies nie. Al wat jy moet doen, is om te luister.

 

  1. Jaag gesonde verhoudings na

Ons interaksie met ander kan ‘n betekenisvolle impak op ons emosies hê. Ons moet egter ontslae raak van ongesonde verhoudings. Vermy “een rigting” verhoudings waar jy gedurig gee, maar niks terug kry nie. Natuurlik moet ons ander se laste dra, maar daar moet ook verhoudings wees wat ons nie net leegsuig nie. Daar moet verhoudings wees waar ander jou bemoedig, rigting gee en hoop gee. Almal van ons het Christen raadgewers nodig.

 




Gary Player se tien gebooie

 

All death can do to Christians is make their lives infinitely better. —Tim Keller 

 

Gary Player se tien gebooie

Kyk ons na Gary Player se webblad sien ons sy tien gebooie. Dat Player ‘n toegewyde Christen is, sien ons uit die waardes wat hy bevorder.

  1. Verandering is die prys van oorlewing.
  2. Alles in besigheid is onderhandelbaar – behalwe gehalte.
  3. ‘n Belofte gemaak, is skuld aangegaan.
  4. Vir alles wat ons in die lewe neem, moet ons betaal.
  5. Volharding en gesonde verstand is belangriker as intelligensie.
  6. Die jakkals is nie bang vir die man wat saans spog nie, maar vir die man wat soggens vroeg opstaan.
  7. Aanvaar die raad van die man wat jou liefhet, al hou jy nie nou daarvan nie.
  8. Vertrou jou instink al kan jy geen rede gee nie.
  9. Die hoogtes wat groot mense bereik en behou het, was nie as gevolg van ‘n skielike vlug nie, maar dat terwyl hulle maats geslaap het, het hulle in die nag gewerk.
  10. Daar is geen plaasvervanger vir persoonlike kontak nie.

 

Wat treffend is, is dat diegene wat hoë hoogtes bereik het grondbeginsels het wat hulle lei. Sonder ‘n stel vaste oortuigings is dit onwaarskynlik dat ons iets sal bereik.