Psalm 28 (4)

 

“What counts in life is not the mere fact that we have lived, it is the difference we have made to the lives of others that will determine the significance of the life we lead.” –Nelson Mandela

 

Psalm 28 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

Teologiese Implikasies

In die lig van Jesus se opdrag om ons vyande te vergewe, kyk Christene skeef op na mense wat vir die straf van ander bid. Die psalm sê dat ons versigtig moet wees dat die gewilligheid om die verkeerde wat aan ons gedoen is, te vergewe nie aanleiding moet gee tot onverskilligheid vir die verkeerde optrede van ander nie. Die korrekte standpunt is dat verkeere optrede gestraf moet word. In die gelykenis van die weduwee en die regter (Lukas 18:1 – 8) sê Jesus: Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?

 

Om ‘n begeerte uit te spreek dat die verkeerde gestraf moet word, impliseer ‘n toewyding van jou kant om die regte ding te doen –  jou van die goddeloses los te maak. Maar dit impliseer ook dat ons die straf aan God moet oorlaat en nie sake in ons eie hande moet neem nie. In die kennis dat God die verkeerde sal straf, kan gelowiges God aanbid en vertrou.

 

Ek roep ook dikwels na God om hulp. Ek het ook dikwels rede tot lof en dank. Maar dit is nie meer nodig om te vra dat die goddelose vergeld word vir sy oortredings nie. God se oordeel breek eers in die hiernamaals aan. God se Seun, die ware Gesalfde, is self soos ‘n misdadiger behandel en het soos een gesterf. Maar juis daarom hoef ek nie langer die straf te kry wat ek verdien nie; daarom kan ek in die oomblik van nood steeds getuig: Die Here is my sterkte en my beskermer. Hy red en seën dié wat aan Hom behoort, want Hy het my lief en het my van my sondes verlos.

 

 

 




Ek het seergekry in die kerk

 

The fear of the Lord tends to take away all other fears. —Sinclair Ferguson

 

Ek het seergekry in die kerk

Metodes van evangelisasie het met verloop van jare verander. Ons woon in ‘n kultuur wat toenemend vyandig teenoor die evangelie is. Die aantal mense sonder enige godsdiensbande neem toe. Daar is egter ‘n betekenisvolle groep mense wat nog nie bereik is nie en wat desperaat die evangelie nodig het. Van hierdie is daar ‘n groep wat in die kerk seergekry het.

 

Hulle pynlike ervarings het hindernisse tussen hulle en die evangelie opgerig.  Daar is een belangrike les wat ons hieruit moet leer: kerkleiers moet hulle mense net soos die Skrif uitlê. Dit beteken hulle moet verskillende vlakke van seerkry in die kerk hanteer. Hierdie mense het nie ‘n gebrek aan geloof nie, maar ‘n gebrek aan vertroue. Hoe herbou ons vertroue? Hoe oorkom jy dat mense wat in die kerk seerkry ‘n hindernis tot evangelisasie word? Ons kan dit doen – Jesus wys vir ons hoe in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Lukas 10)

 

  1. Stop die bloeding

Ons is geneig om net op die Samaritaan te fokus. Wat van die man wat langs die pad lê? Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê. ‘n Priester en Leviet loop by hom verby. Ons weet nie hoeveel tyd verloop het voor die aankoms van die Samaritaan nie. Hier was twee godsdienstige leier wat ‘n geleentheid laat verbygaan het. Hulle afsydigheid het beslis nie die arme man se toestand verbeter nie – hy bloei steeds.

 

Toe kom die Samaritaan daar aan. Hy het een ding wat die priester en die Leviet nie gehad het nie – deernis. Wonde veroorsaak bloeding. As ons met mense wat in die kerk seergekry het werk, moet ons eerste die bloeding stop. Doen ons dit nie, verloor ons die geleentheid om geestelike wonde te hanteer. Maar om die bloeding te stop, vereis deernis. Deernis gaan oor luister en evalueer. Erken hulle pyn. Mense wat in die kerk seergekry het, wil gehoor en erken word. Christus is volmaak; sy bruid is nie volmaak nie. Ons moet enigeen wat in die kerk seergekry het tyd gee om die pyn te verwerk. Dit help om ‘n opregte verhouding te bou.

 

  1. Verbind die wonde

Die Samaritaan gebruik wat hy het om die man se wonde te behandel. Hy behandel sy wonde met olie en wyn en verbind hulle. Hy besef egter ook sy beperkings. Hy neem die man na ‘n herberg waar hulle hom verder kon versorg. Mense wat in die kerk seergekry het se wonde moet ook verbind word. Ons mag dalk nie die regte hulpbronne hê nie, maar dan moet ons ander wat beter as ons toegerus is, betrek. Ons hoef nie self al die kennis en kundigheid te hê nie. Ons moet hulle net by die regte plek kry waar hulle hulp kan kry.

 

  1. Verbind die hart

Die Samaritaan verbind die man se wonde, maar ook sy hart. Hy help hom op sy rydier, neem hom na die herberg en versorg hom daar verder. Daarna los hy geld by die eienaar van die herberg om die man verder te versorg. Dit het tyd geneem om die man te beweeg van halfdood na lewend. Maar dit was ‘n ondervinding wat die man nooit sou vergeet nie. As dit kom by mense wat in die kerk seergekry het, moet die hart ook verbind word. Dit beteken ons moet naby hulle bly totdat hulle genees is. Ons het tyd nodig om al die stukke weer bymekaar te kry. Ons het hierdie belegging nodig om mense te help om oor die hindernis van seerkry in die kerk te kom. Dit is die moeite werd om te sien hoe die persoon na Jesus terugkeer.

 

In ons evangelisasiepoging moet ons nie diegene wat in die kerk seergekry het, vergeet nie. Ons het ‘n spesiale metodologie nodig vir hulle. Ons kan nie mense langs ‘n pad lei as hulle nie gereed is om te gaan nie. Voordat ons vir hulle allerhande vrae vra oor hulle geloof, is daar eers ander dinge wat ons aandag nodig het – hulle wonde. Mettertyd kan ons hulle na gesprekke oor die evangelie lei. Die metode verskil, maar die goeie nuus van die evangelie bly vas staan.

 

 




Ek is mismoedig

 

The Lord is a friend who never changes. There is no fickleness about Him: those whom He loves, He loves unto the end. —J.C. Ryle

 

Ek is mismoedig

Baie van ons is soms mismoedig. Hoe lig jy jou weer op? Dit is moeilik. Maar ons moet baklei en daardeur kom. Hoe?

  1. Vertel vir God waar jy is

Ons praat dikwels met ander mense oor ons mismoedigheid  Begin deur jou oë op God te rig en met Hom te praat. Vertel vir Hom daarvan. Doen jy dit nie sal jy net meer mismoedig word. Om nie alles voor God te lê nie, is ‘n fout.

 

  1. Hou jou oë op Jesus

Jesus stel nie teleur nie; mense kan teleurstel. Hy is altyd met jou.

 

  1. Vergifnis

Jy sal baie dinge ondervind en alle soorte mense teenkom. Dit sal jou uitdaag, veral as jy teleurgesteld is. Bediening is moeilik, maar om nog bitterheid en ‘n gebrek aan vergifnis saam te dra is net te veel.

 

  1. Beweeg vorentoe

Ek sal nooit mismoedigheid oorwin deur dit te ignoreer of toe te laat dat dit my verlam nie. Jy kan nie vorentoe in jou bediening en lewe gaan as jy die hele tyd terugkyk nie. Jy moet weet dat mense wat jou in die lewe seermaak, is mense wat self seergekry het in hulle lewens. Moenie toelaat dat jou seerkry die manier waarop jy ander mense behandel beïnvloed nie.

 

Dit maak nie saak wie wat aan jou gedoen het nie. Wat belangrik is, is hoe jy daarop gaan reageer. Gaan vorentoe in vergifnis.

 




Wat verlang jongmense van die kerk?

 

Jesus Christ knows you completely. Wny would you ever run from someone who knows everything about you and still loves you? —Colin Smith

 

Wat verlang jongmense van die kerk?

Die Fuller Youth Institute van die Fuller Theological Seminary het ‘n vierjarige ondersoek in 250 gemeentes van meer as 20 verskillende denominasies gedoen. Hulle het na jongmense 15 – 29 jaar oud gekyk. Hierdie ouderdomsgroep is 22% van die volwasse bevolking, maar minder as 10% van kerkgangers.

 

Daar was ‘n paar ligpunte, maar oor die algemeen is die landskap maar teneerdrukkend. Maar as ons kyk na die suksesverhale sien ons dat sukses beslis elders herhaal kan word. Uit die navorsing is dit duidelik dat daar agt dinge is wat nie juis ‘n verskil maak nie:

  • ‘n Spesifieke denominasie
  • ‘n “Kultuur-relevante” pastorale preekstyl en kleredrag
  • ‘n Spesifieke plasing in die land
  • Die grootte. Hulle kry geen statistiese bewys tussen groote van die gemeente en die vermoë om jongmense te trek nie
  • Die ouderdom van die gemeente
  • ‘n Groot begroting. Gemeentes met min hulpbronne kan jong mense op ‘n kreatiewe wyse ondersteun. Verhoudings is belangrikr as begrotings.
  • Kontemporêre aanbidding. Daar is nie een regte aanbiddingstyl onder tieners nie.
  • ‘n Groot moderne gebou. Sommige suksesvolle gemeentes besit nie eers hulle eie geboue nie – hulle vergader in skoolsale, ens. Hulle droom is ook nie groot kerkgeboue nie, maar gemeenskapsentra.

 

Daar is een tema wat dwarsdeur hierdie suksesvolle gemeentes loop: hulle wil die beste moontlike bure in hulle gemeenskap wees. Hulle is betrokke in die gemeenskap en betrek jongmense in die proses. Hierdie jongmense vra: “Wie nooi jy uit vir ete? Is daar mense aan jou tafel wat van jou verskil?” Dit is waar en wanneer lewensverandering plaasvind.

 

Hierdie gemeentes skram weg van enige leierskapsmodel wat persoonlike charisma en gesentraliseerde beheer bevorder. Die betrokkenheid van senior leiers speel ‘n belangrike rol om jongmense doeltreffend betrokke te kry. Hierdie leiers gee dikwels die sleutels van leierskap oor aan jongmense. Jongmense is betrokke by besluite wat die hele gemeete raak. Hierdie jongmense is nie die toekoms van die gemeente nie – hulle is die gemeente. In plaas dat hulle net goedere en dienste wat vir hulle voorgesit word, gebruik, speel hulle ‘n belangrike rol in die gemeente.

 

Hierdie is ‘n Amerikaanse studie. Tog glo ek dat dit nie veel verskil van ons eie omstandighede nie.