Mense is die sending

 

The raging of … fools tends toward the suppression of the Christian faith, the denying of the divine word, and the blaspheming of the Divine Majesty. — Martin Luther

 

Mense is die sending

Hy is moeg na ‘n dag in die veld – soos elke ander dag. Hy moet harder werk, want sy broer is weg. Hy is verantwoordelik vir die familieplaas. Sy pa is nie van veel hulp nie, want hy staar die hele dag na die horison – hy dink meer aan die verlede as die huidige. Toe hy naby die huis kom hoor hy die musiek en die singery. Wie het nou tyd vir ‘n partytjie? Hy roep een van die bediendes nader en vra vir hom wat aan die gang is. Die bediende se antwoord ontstel hom: U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.

 

Dit is die verhaal van die verlore seun soos ons dit in Lukas 15 kry. Hier lees ons die verhaal van ‘n verlore seun, ‘n vader wat vergewe en ‘n broer wat veroordeel. In ons gemeente kry ons ook ouer broers – mense wat meer hartseer as vreugde het as ‘n sondaar tot bekering kom en terugkeer. Hulle is die mense wat glo dat God se barmhartigheid net so ver as tot by hulle strek – niks verder nie.

 

Die gees van die ouer broers vorm die laer, beskerm die status quo en beskerm die binnekant eerder as die buitekant. Dit is ‘n gevaarlike kanker wat enige genade wat jy aan mense wat Christus nie ken nie, wegvreet. Die boodskap van die evangelie stop nie by die verlore seun nie. Jesus het gesê dat die evangelie nie net vir diegene met ‘n goddelose lewenstyl is nie, maar vir diegene met ‘n bose hart. Val ons nie almal in die kategorie van of die jonger of die ouer broer nie? Soms is ons sommer beide terselfdertyd. Maak nie saak wie ons is nie die Vader se genade kan ons bereik. As ons mense wil mobiliseer om vir die verlore skape om te gee, kry ons in die verhaal van die verlore seun drie lesse.

 

  1. Ouer broers moet geleer word van genade

Die ouer broer het vergeet en daarom herinner sy vader hom: Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. Die geboorte in die familie en die liefde van die vader gee aan hom die reg om seun genoem te word. Hy het sy posisie vergeet – daarom kom hy in opstand. Baie lidmate wat maar voortsleep, dink nie dat hulle genade vergeet het nie. As hulle nie na ‘n buitestaander uitreik nie, is dit ons taak om hulle daaraan te herinner.

 

  1. Ouer broers moet genade ontvang

Dit is ‘n versoeking om te droom oor hoe die gemeente kan wees as ons ontslae kan raak van al die “ouer broers.”  Dit is nie wat die vader doen nie. Hy wil die ouer broers se hart verander. Die vader sluit in; hy maak plek aan die tafel vir die wat weggedwaal het en vir die wat gebly het. Mense gee net genade uit as hulle dit eers ontvang het.

 

  1. Ouer broers moet aan die visie herinner word

Ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry. Ons is so besig om kerk “te doen” dat ons skoon vergeet van die vreugde om kerk te wees.” Jesus het ons nie geroep om vissers van komitees te wees nie.

 

Iewers langs die pad het baie van ons die pad byster geraak. Ons fokus so op die binnemure van die kerk dat ons skoon van die mense buite die mure vergeet het. Mense is die sending en ons moet bly wees as hulle terugkeer. Dit is wat ons moet doen. Mense beteken alle mense. Jesus het nie vir ons opsies gegee oor na watter mense ons moet uitreik nie.

 

 




Hoe oorwin ek Satan se versoekings?

 

It is difficult to express how ingenious almost all men are in counterfeiting a love which they do not really possess (Calvyn).

 

Hoe oorwin ek Satan se versoekings?

Geen generaal sal die oorlog ingaan sonder ‘n plan nie. Hy ken sy sterk- en swakpunte, sy taktiek en veral sy vyand. As hy dit nie doen nie, sal selfs sy beste bedoelings nie keer dat hy vernietig word nie. As ons teen versoekings veg, glo ons dat goeie bedoelings voldoende is. Maar as Satan kom, val ons gou weer terug in ons ou sondige gewoontes. Ons is verbaas oor hoe min weerstand ons gebied het.

 

Solank as wat ons leef, sal ons met versoekings te doen kry. En ons gaan struikel. Ons moenie ons hande in die lug gooi en oorgee nie. As ons iets van Satan se taktiek weet, kan ons met vertroue optree as hy toeslaan.

 

  1. Satan sit vraagtekens in jou lewe waar God punte geplaas het

Toe Satan vir Jesus versoek het, begin hy met: As U die Seun van God is … (Matteus 4:3). Net ‘n paar verse voor dit is Jesus gedoop en God verklaar uit die hemel: Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My (Matteus 3:17). Satan begin selde met leuens – hy begin met gevaarlike vrae. Hy neem wat God verklaar het en laat ons daaraan twyfel. Hy plaas vraagtekens in jou lewe waar God punte geplaas het.

 

Dikwels gaan hy verder en bevraagteken nie net God se waarheid nie, maar ontken dit. Satan vra vir Eva: Het God waarlik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie (Genesis 3). Hy oortuig hulle dat God nie hulle beste belange op die hart dra nie. Die laaste ding wat Satan wil hê, is dat ons oor God se woord moet dink. Sy vrae is nie om ‘n gesprek te open nie, maar om ons aandag af te trek.

 

  1. Ons oorwin Satan se versoekings deur die beloftes van God aan ons in die evangelie te ken

As Satan se belangrikste aanvalstrategie is om ons aandag van God se woord af te trek, is die primêre manier om Satan se versoekings te oorwin deur ons in God se woord te verdiep. Is dit waar? Baie mense glo as hulle na Jesus se versoeking kyk, is die manier om Satan te oorwin deur meer van God se woord te weet as wat hy weet. Daar is net een probleem hiermee: Satan ken meer Bybelverse as wat ons ken. Hy oefen al eeue lank.

 

Daar is iets spesifiek oor God se woord  wat elke vers wat Hy aanhaal rugsteun. Selfs Satan kan dit nie erken nie – sy identiteit is in sy Vader geleë. Hy is seker in die wete wie Hy voor God is. Satan het probeer om Jesus te oortuig om God se plan en sy teenwoordigheid te bevraagteken. As Jesus kon twyfel aan God se goedheid, sal die res in plek val.

 

Dit is ons belangrikste versoeking: om ons identiteit in iets anders as God se verklaring van wie Jesus Christus is, te plaas. Ons baklei nie teen Satan deur iets wat ons doen nie, maar deur iets wat Jesus Christus gedoen het. Hy het Satan se leuens oorwin toe ons nie kon nie. Ons oorwin die Satan deur te vertrou op die werk wat Christus afgehandel het en toe te laat dat die Gees versoekings oorwin deur ons.

 

Satan wil hê dat ons ons identiteit moet bou op hoe ons leef. Hy wil ons aandag aftrek van die evangelie dat Christus Homself as plaasvervanger vir ons aangebied het. Hy het reeds alles gedoen wat nodig is vir ons verlossing. Ons meet God se deernis deur die kruis; ons meet God se krag deur die opstanding. Dan kan ons vol vertroue soos Martin Luther sê:

“The prince of darkness grim, we tremble not for him!

One little word [the word of the gospel!] shall fell him.”

 

 

 

 




Psalm 28 (2)

 

“May your choices reflect your hopes, not your fears.” – Nelson Mandela

 

Psalm 28 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

28:3 – 4: ‘n Gebed om vergelding van die goddelose.

Die psalmis gaan voort met sy pleidooi. Nou verwys hy na die aard van die optrede waarna hy uitsien.

3Moet my nie wegvoer saam met goddelose mense nie, mense wat onreg pleeg,

wat oor vrede praat met hulle naaste terwyl daar kwaad in hulle harte is.

Die psalmis begin deur te sê dat die goodeloses weggevoer moet word – waarskynlik na hulle dood. Hy definieer hierdie goddelose mense as mense wat onreg pleeg. Hy verduidelik nou hoekom hulle goddeloos is en hoe hulle onreg pleeg. Hulle praat oor vrede met hulle naaste – hulle praat asof hulle in vrede met hulle wil lewe en asof hulle die welstand van hulle naaste soek. Maar in hulle harte is daar kwaad. Kwaad is die teenoorgestelde van vrede. Hulle beplan dat iets sleg met hulle naaste sal gebeur. In hulle harte beteken hulle dink en beplan wat verkeerd is terwyl hulle oor goeie dinge praat. Die psalmis aanvaar dat die gemeenskap op eerlikheid berus – hart en woord moet ooreenstem. Hy kla dat hierdie gesindheid tekortskiet by die mense. Die bidder is bang dat daar geen onderskeid tussen hom en die goddeloses sal wees as hy nou moet sterf nie. As hy saam met goddeloses omkom, is die bidder van God afgesny. As regverdige pleit hy by God om hom anders te behandel as die mense wat onreg doen

 

4Vergeld hulle ooreenkomstig hulle dade, hulle bose optrede;

vergeld hulle vir hulle handewerk, laat hulle kry wat hulle verdien.

Die psalmis pleit dat hy nie hulle lot sal belewe nie, maar bid dat hulle vergeld sal word. Twee maal lees ons vergeld hulle. Die woorde dade … optrede … handerwerk skilder die goddeloses as mense wat hard werk. Die psalmis wil hê dat hulle daarvoor toepaslik vergeld moet word. Maar die woord bose laat ons verstaan wat hier aangaan. Om moeilikheid te maak, is boos.

 

29:5:

5Omdat hulle nie ag slaan op die Here se dade en op sy handerwerk nie, sal Hy hulle afbreek en nie opbou nie.

Hierdie vers begin met die rede vir die Here se optrede. Daarna verklaar hy dat die Here beslis sal optree. Hier word na die gesindheid van die goddeloses uit ‘n ander hoek gekyk: hulle slaan nie ag op sy dade en handewerk nie.

  • Hulle aanvaar nie die dade van die Here as patroon vir hulle eie dade nie. Ontrou is ‘n gesindheid teen die ander lede van die gemeenskap en teenoor God. Hulle ignoreer hulle verpligtings teenoor die Here en die ander lede van die gemeenskap.
  • Hulle hou nie rekening met hoe die Here teenoor hulle gaan optree nie – dat Hy sal toesien dat hulle vir hulle dade vergeld word nie. Die Here sal inderdaad optree; hulle sal nie wegkom met hulle bose dade nie.

 

Waar daar afgebreek kan word, moet daar ook opgebou kan word. Hierdie mense verdien egter om finaal afgebreek te word. Omdat hulle nie ag slaan nie, sal die Here afbreek. Die feit dat Hy dit doen, wys dat Hy geluister het. Afbreek en opbou is die manier waarop God met mense werk.

 

 




Die afgode van ons tyd

 

No man should be surprised when life collapses if he insists on living it alone (Barclay)

 

Die afgode van ons tyd

Die Bybel praat baie oor afgode en diens aan afgode. Ons word nie hierdeur bedreig nie, want ons glo dat dit niks met ons te doen het nie. Ons sal nie om ‘n goue kalf dans nie! Hoekom het die Israeliete plesier daaruit geput om teen God se opdragte in wel afgode te aanbid? Hoekom was dit vir hulle ‘n versoeking?

 

Miskien het hulle gevoel dat deur afgode te aanbid hulle deel van die hoofstroom geword het. Die die ander godsdienste het minder van hulle verwag. Hulle het jou nie gedurig uitgedaag om gehoorsaam te wees nie. ‘n Besoek aan die plaaslike tempel was dikwels ook ‘n besoek aan die plaaslike bordeel – tempelprostitusie is algemeen beoefen.

 

Die aanbidding van afgode vandag is uitgediend. Beteken dit dat ons vry van afgode is? Standbeelde van Baäl het verdwyn, maar ons bid steeds by alternatiewe altare. Die bekendste is seks, rykdom, mag en ekself – die vier gode van ons tyd. As ons deel van die hoofstroom wil wees, moet ons aanvaar:

  • Seks is ons grootste vreugde. Sou ek iets anders voorstel wonder almal wat met jou verkeerd is.
  • Rykdom is ‘n integrale deel van ons materialistiese kultuur. Ons mag selfs rykdom as God se seën sien. Jesus moes ‘n wonderwerk doen om sy belasting te betaal. Hy was afhanklik van die gawes van ander.
  • Dat mag belangrik is. Ons soek altyd na meer beheer oor die besluite wat ons maak en die rigting van ons lewe. As ons soos Jesus wil wees, mag ons dalk die voete van ander moet was. Om voor ‘n ander te buig en die vuilheid van sy voete af te was, is beslis nie ‘n posisie van mag nie.
  • Dat ons leef in ‘n “jy verdien dit” tyd. Ons vra outomaties: Wat is daarin vir my? Maar kyk na Jesus. Daar is dinge wat Hy wou gehad het – ‘n stil dag van gebed. Hy het dit baie selde gekry. Golgota kan nie as ‘n optrede van selfvervulling beskryf word nie. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.

 

Afgodediens is nie iets van die verlede nie. Daar mag dalk nie meer ‘n goue kalf wees nie, maar die aantrekkingskrag van vals gode is steeds so sterk soos altyd. As ons die versoekings van seks, rykdom, mag en self ondervind, onthou sommige van die waarhede van Jesus: Hy was selibaat, arm, het voete gewas en het Hom vir ander geoffer. As ons Hom volg, mag ons geroep word om ‘n soortgelyke pad te loop.