Lees die kultuur
For all things that God made are very good, but they are not acknowledged as very good by all – Martin Luther
Lees die kultuur
Kevin Vanhoozer (Everyday Theology) kla oor wat hy the Great Ommision noem – Christene wat nie die tekens van die tye lees nie. Hy kla veral oor ons onvermoë om die kultuur te lees. Hy doen ‘n beroep op Christene om meer “kultuur geletterd” te word sodat hulle toepaslik by die wêreld betrokke kan raak. Maar hy gaan verder: Christene moet ‘n onderskeidende merk op die wêreld maak – hulle moet die kultuur skryf.
Die klassieke werk oor die verhouding tussen die Christendom en die kultuur is H. Richard Nieburh se Christ and Culture (1951). Dit vorm steeds die manier waarop ons oor die kultuur dink al het die konteks sedertdien betekenisvol verander. Hy identifiseer vyf maniere waarop die Christendom op die kultuur gereageer het.
- Christus teen die kultuur – hier is die wêreld en die kerk in opposisie. Die kerk onttrek hom aan wêreldse sake. Hierdie lei dikwels tot ‘n geestelikheid wat minimale impak op die wêreld het.
- Christus in die kultuur – die heilige word in die kultuur ontdek. Die gevaar is dat dit wat wêrelds en dit wat heilig is, kan saamsmelt. Die bewustheid van dit wat heilig is, gaan verlore. Gewoonlike beteken dit dat kompromië oor wat Christene as noodsaaklik beskou, aangegaan moet word.
- Christus bo die kultuur – dit wat heilig en dit wat wêrelds is, word in afsonderlike kompartemente ingepas. Christus is vir die kerk; die kultuur is vir besigheid. Dit beteken dat sleutelareas van die lewe nie deur Christus uitgedaag word nie.
- Christus en kultuur in paradoks – die korrupte aard van die kultuur word erken, maar erken dit is die konteks waarin ons ingebed is en waaruit ons nie kan loskom nie. Ons leef in ‘n tyd waar daar ‘n stryd tussen geloof en ongeloof is. Daar is altyd hierdie dualistiese spanning waarmee ons sukkel.
- Christus die transformeerder van die kultuur – alles is deurdrenk met die nabyheid van God in die wêreld. In plaas daarvan dat ons die kultuur verwerp of daarby aanpas, moet ons die kultuur transformeer.
Wat van Vanhoozer se idee van die kultuur skryf? Waarskynlik is die toon wat ons anneem krities belangrik. Vir te lank glo ons as Christene dat ons die fontein van alle kennis en wysheid is en wat ons sê, is reg. Wat ander sê is sondig en moet verwerp word. Die gevolg is woede en gekrenktheid in die wyer gemeenskap. Die gevoel is dat die kerk in die besigheid van vertel en nie luister is nie. As ons kultuur in hierdie voorskriftelike en onderdukkende toon skryf, bou ons ‘n selfvoldane Christelike ghetto. Ons hoor geen stemme wat van ons verskil nie, want die mure is te hoog – geen alternatiewe mening kan indring nie. Dit het in die verlede gebeur en daarom verkies sommige Christene om hulle aan hierdie idee van die kultuur skryf, te onttrek. Dit klink vir hulle te militant en eksklusief. Is dit reg?
Ons moet skryf soos mense wat by die kultuur betrokke is – baie bewus van wat ander sê en dink en hoekom hulle die onderwerp so benader soos hulle dit doen. Elke geslag het sy eie pyn en angs. Ons moet daarna luister. Wat ons skrywe, hoef nie ‘n teenvoeter van die skrywe van ons geslag te wees nie, maar ‘n uitbreiding daarvan. Dit beteken ‘n nuwe vlak waarop ons met idees stoei. Op hierdie vlak twyfel ons oor maklike antwoorde en die selfvoldane antwoorde wat veronderstel is om ingewikkelde probleme op te los. Ons bydrae moet dikwels wees om ‘n gesprek te verdiep eerder as om dit ongeldig te verklaar.
Ons moet alternatiewe ondersoek: Hoekom kan ons nie … probeer nie? Dit is beter as ‘n “jy moet” toon. Baie sal versigtig hierdie nuwe gebied betree en kyk wat aangaan. Hulle wil rustig nadink in die bekende omgewing van die hoofstroom kultuur.
Wat word vereis om die kultuur vanuit ‘n Christelike perspektief te skryf? Dit moet deur diep nadenke oor die betekenis van Jesus se lewe, dood opstanding en uiteindelike terugkeer gepaard gaan. As ons deelneem as mense op wie Jesus se storie ‘n impak gehad het, sal ons ontdek dat die storie wat ons gevorm het ons woorde gee om te skryf. Dit mag woorde wees wat uitdaag, maar dikwels is dit woorde wat bemoedig.