God luister na ons gebede (verhoring van gebede)

God luister na ons gebede (verhoring van gebede)

God verhoor altyd gebede, al voel dit partymaal vir ons of Hy ons nie antwoord nie. Hy antwoord ons wel, maar ons kom dit net nie agter nie.

Jou ma antwoord jou nie altyd op dieselfde manier nie. As jy vra of jy skottelgoed kan was, sê sy sommer dadelik “ja”. As jy vra of jy ʼn nuwe fiets kan kry, is daar eers stilte en miskien na ʼn dag of twee kom die antwoord. Net so antwoord God ons op verskillende maniere.

  • God is nie ons slaaf wat alles moet doen wat ons vra nie. Soms antwoord Hy ons op maniere wat ons nie verwag nie. Ons wag nog dat Hy doen wat ons gesê het, dan het Hy lankal op ʼn ander manier geantwoord. Ons moet dus wakker wees. Ons geestelike ore en oë moet oop wees om te kan hoor as God antwoord. Hy weet wat vir ons die beste is en sal dus soms op maniere antwoord wat ons nie verwag nie.
  • God antwoord baie keer gebede deur jou. As jy bid vir jou vriend wat hartseer is, is die kanse baie groot dat die Here sy hand op jou skouer gaan kom sit en vra dat jy namens Hom jou vriend gaan help. Jy sal dan moet tyd afstaan om te luister, raad te gee, te help en te troos. Of as jy bid vir mense wat swaarkry of nie kos het nie, mag die Here juis van jou vra om daarmee te help. As jy dan nie bereid is om na die Here te luister nie, sal jou gebed nie verhoor word nie. En dit is nie die Here se skuld nie.
  • Die Here kan ook partymaal “nee” sê. Ons kry baie sulke voorbeelde in die Bybel. Dit is gewoonlik as ons verhouding met die Here nie so goed is nie. Dan sê die Here moet eerste dinge eerste kom. Voor Hy verder na ons gebede luister moet ons eers ons verhouding met Hom regmaak.
  • Ons moet ook nie verbaas wees as die Here ons partymaal verras met iets wat baie groter is as waarvoor ons gebid het nie.

Gebed en vertroue op die Here gaan saam. As jy bid, vertrou dat die Here jou hoor en die beste vir jou wil hê.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Ons gee om vir mekaar, veral vir die wat swaarkry (Barmhartigheid)

Ons gee om vir mekaar, veral vir die wat swaarkry (Barmhartigheid)

Nie alle mense gee vir mekaar om nie. In die Bybelse tyd het die Grieke en Romeine nie eintlik mense gehelp wat in die nood was nie. Hulle families moes vir hulle sorg en as dit nie gebeur het nie, moes hulle maar self sien en kom klaar. Jy moes weet: niemand gaan jou probeer help nie.

Met die Christene was dit anders. Hulle het geweet God het alle mense gemaak, want Hy is die Skepper. Daarom moes jy, as sy kind, alle mense help wat jou hulp nodig het. Jy moet sommer daar begin waar jy elke dag leef… Jy moet veral baie goed kyk of een van jou mede-Christene nie jou hulp nodig het nie. As so iemand op jou knoppie druk, moet jy dáár wees vir hom of haar. Maar jy moet nie vergeet van ander mense nie, selfs al is hulle nie Christene nie. Jy moet hulle ook help so ver jy kan.

Hierdie bereidheid om mense te help wat hulp nodig het, is eie aan Christene. Die woord “barmhartigheid” word gewoonlik in kerklike taal daarvoor gebruik. Dit is een van die belangrikste dinge wat van ʼn gelowige verwag word. Daar is ʼn spesiale groep mense in die gemeente, die diakens, wat moet seker maak dat Christene mense wat swaarkry help.

“Barmhartigheid” is ʼn liefdesdiens. Dit is ʼn manier waarop gelowiges vir mekaar wys hulle het mekaar lief. Maar meer nog, dit is die manier waarop gelowiges vir God dankie sê vir wat Hy vir hulle gedoen het. Christene erken dat God vir hulle gegee het wat hulle het en daarom huiwer hulle nie om ʼn stukkie van daardie “godsliefde” vir iemand anders ook te gee nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die Here het vir my ʼn spesiale werk (Amp(te))

Die Here het vir my ʼn spesiale werk (Amp(te))

Die tipiese kerkwoord “amp” word gebruik vir ʼn spesiale posisie wat iemand in die kerk het met die oog op spesifieke dinge wat gedoen moet word.

Die “ampte” verskil van kerk tot kerk. So kry ʼn mens byvoorbeeld dominees/pastore, priesters, diakens, ouderlinge, biskoppe, en so aan. In van die protestantse kerke word die “ampte” gewoonlik beperk tot drie, naamlik ouderlinge, diakens en dominees/pastore. Dominees moet sorg dat die Woord van God gereeld en reg verkondig word. Ouderlinge moet kyk dat alles in die gemeente reg en goed gebeur. Hulle moet regmaak as daar iets verkeerd gaan. Diakens moet die materiële sake van die gemeente bestuur, byvoorbeeld deur geld in te samel en om die armes te help.

Daar is deesdae die gevoel dat daar meer “ampte” as net drie in ʼn gemeente moet wees. Elke ding wat in die gemeente gebeur, is tog belangrik en daarom moet ʼn mens nie die een meer belangrik as die ander laat lyk deur die een “‘n amp” te maak en die ander nie. Daar is tog baie meer as drie take in die gemeente, byvoorbeeld, daar is mense wat die jongmense oplei (kategete), of ʼn ou of meisie wat leiding neem onder die jongmense van die gemeente. Hulle beklee mos ook spesifieke posisies in die gemeente en doen spesifieke dinge vir die Here. Hulle werk is tog nie minder belangrik as die ouderling of diaken s’n nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Dinge wat vir jou belangriker word as God (Afgodery)

Dinge wat vir jou belangriker word as God (Afgodery)

Daar is net een God en as God eis Hy ons absolute lojaliteit. Hy wil ons nie met ander gode deel nie. Dit is ook dom om ander gode te probeer aanbid. Wat help dit om iets te aanbid wat nie eers bestaan nie?

Die Bybel spot ‘n bietjie met afgode, veral as hulle met die lewende God vergelyk word. Daar word byvoorbeeld vertel hoe ʼn houtwerker deur die bos stap, hout bymekaar maak, vir hom self iets uit die houtstomp maak en dan ʼn beeldjie uit die oorskiet kerf. Dan aanbid hy sowaar dieselfde beeldjie asof daar goddelike krag in die beeldjie is. Maar hy het ʼn probleem. Hy sukkel om die beeldjie te laat regopstaan, want die ding val gedurig om. Ja-nee, daardie gode het maar ʼn bietjie hulp nodig. In ander gevalle word daar van “sogenaamde” gode gepraat (1 Korintiërs 8). Dit is gode wat net in ons praat bestaan. Hulle is nie regtig daar nie, maar omdat mense oor hulle praat glo almal dit en aanbid dit daarom ook sommer.

Afgode kan ook gevaarlik wees. Groepsdruk kan ons baie keer forseer om dinge te doen wat ons weet nie reg is nie. Almal doen dit, hoekom nie ek nie? Almal praat oor daardie god en dien hom, daarom moet dit seker reg wees, en dan buig ek my knie ook. Hoewel ons nie meer beeldjies vir afgode maak nie, is daar baie dinge wat ons maar op ons manier aanbid. Dit is dinge wat ons as belangriker as God ag en daarom meer tyd en lojaliteit gee as aan God. Ja, die oomblik wat ons ons energie en tyd, wat God s’n is, aan iets of iemand anders gee, is ons besig met afgodsdiens. Baie dinge kan ons aandag van God aftrek, byvoorbeeld, ideale of sukses, geld of plesier. Tot jyself kan jou eie afgod word.

Alles wat vir jou belangriker word as God, word vir jou ʼn afgod. Bly weg van afgode af.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy