Die Handelinge van die Apostels: Paulus se verdere lewe (Hand 28:30-31) – Francois Malan
28:30 Vir twee volle jare het Paulus in sy eie gehuurde huis in Rome gebly, steeds onder bewaking van ’n soldaat (28:16). In sy brief aan die Filippense wat hy tydens hierdie gevangenskap geskryf het (Flp 1:14,17) meld Paulus dat sy gevangenskap tot bevordering van die evangelie gelei het. Sodoende het dit by die hele keiserlike lyfwag bekend geword dat hy ter wille van Christus in gevangenskap verkeer. Elke wagbeurt het ’n ander soldaat vir 3 uur gedurende die nag en elke 6 uur gedurende die dag by Paulus kom sit en moes hy na die evangelie luister. Die gemeente in Filippi het ook ruim bydraes vir hom gestuur en selfs vir Epafroditus gestuur om hom te gaan versorg (Flp 2:25-30; 4:18-19).
Gedurende die twee jaar het hy almal verwelkom wat hom kom besoek het. Toe Paulus nie meer in sinagoges, bymekaarkomplekke van gelowiges, op strate en markpleine van Jesus kon getuig nie, het die Here ’n stroom mense na hom toe gestuur, Romeinse soldate, gelowiges, Jode en heidene (vgl. Flp 4:21-22). Hy kon die briewe aan die Efesiërs, Filippense, Kolossense en Filemon skryf, en het moontlik saam met Lukas aan die Evangelie volgens Lukas en Handelinge gewerk.
Moontlik het Lukas ook by hom gebly (vgl. die ‘ons’ in Hand 28:16; Kol 1:1; 4:14; Flm 1:1,24 ), en ook Aristargus (vgl. Kol 4:10). Tydens sy verblyf in Rome het sy ander medewerkers in die ander lande ook by hom kom kuier en oor hulle bediening kom vertel, soos uit sy briewe uit sy gevangenskap getuig: Epafroditus (Flp 2:25; 4:10-11), Timotheus (Kol 1:1); Epafras (Kol 1:7-8), Tigikus (Ef 6:21; Kol 4:7-8), Onesimus (Kol 4:9), Markus (Kol 4:10), Jesus Justus (Kol 4:11), Demas (Kol 4:14).
28:31 Wat Paulus gedurende die twee jaar gedoen het word saamgevat met twee woorde: hy het die koningskap van God verkondig en onderrig gegee oor die dinge van die Here Jesus Christus (die dinge verwys na Jesus se Persoon, sy woorde en dade soos sy wonders, sterwe, opstanding, regering as Koning in God se koninkryk; ‘Here’ verwys na Hom as God en Regeerder, ‘Jesus’ na Hom as Verlosser, ‘Christus’ as God se Gesalfde Priester wat Homself geoffer het, Profeet wat God aan ons kom openbaar, Koning wat regeer oor die hele skepping (1 Kor 8:6; Kol 1:12-20). Paulus het gepreek en onderrig gegee ‘met alle vrymoedigheid,’ sy innerlike gesteldheid was vrede met God, met sy medemense en met homself, en dit het hy ‘ongehinderd’ deur die Romeinse regering gedoen, wat hom die vryheid gegee het om in sy eie huis te bly en mense vryelik te ontvang. Moontlik impliseer ‘ongehinderd’ ook sy vrylating na twee jaar wat hy onskuldig in afwagting op die verhoor van sy appél gewag het terwyl hy vrugbaar oor die Here getuig het en aan die gemeentes geskryf het (vgl. sy kommer oor al die gemeentes wat daagliks op hom druk, 2 Kor 11:28, en sy gebede vir die gemeentes aan wie hy tydens sy verblyf in Rome geskryf het, Ef 1:16; Flp 1:3-4; 9-1l; Kol 1:9-11; Flm 4,6; en 2 Tim 1:3)
Handelinge vertel hoe die verhoogde Christus deur sy getuies, onder leiding van die Heilige Gees, die boodskap van God se verlossingsplan met Jesus se lyding, sterwe, opstanding en hemelvaart uitgedra het tot in Rome (vgl. Hand 1:8) en dat dit ’n onfeilbare verlossing is (vgl. Luk 1:4).
Wat van Paulus na Handelinge 28:31 geword het, is onseker. Lukas het Handelinge afgesluit sonder om verder te vertel. By Paulus was daar egter die hoop dat hy vrygelaat sou word. Hy skryf sy brief aan die Filippense nog as gevangene (Flp 1:13,17) waarskynlik tydens die twee jaar onder bewaking in sy gehuurde huis in Rome. Hy weet nie of hy Christus met sy lewe of sy dood gaan verheerlik nie (Flp 1:20). Hoewel dit vir hom verreweg die beste sou wees om heen te gaan en met Chritsus te wees (Flp 1:23) is dit ter wille van hulle noodsaakliker dat hy in die liggaam bly lewe (Flp 1:24). As hy weer by hulle kan wees, sal hulle baie meer in Christus Jesus oor hom kan roem (Flp 1:26). Hy vertrou op die Here dat hy self gou na hulle toe sal kom (Flp 2:24).
Ook aan Filemon skryf hy uit die gevangenis (verse 9,24) ‘Maak die gastekamer vir my gereed, want ek verwag om deur julle gebede aan julle geskenk te word’ (vers 22).
Die drie Pastorale briewe van Paulus, 1&2 Timotheus en Titus wat bedoel is om pastorale leiding te gee aan die leiersfigure in sekere gemeentes, pas nie mooi in in die geskiedenis van Paulus wat in Handelinge opgeteken is nie. As Paulus na sy vrylating uit die twee jaar huisarres die briewe geskryf het, ontvou nog ’n stukkie geskiedenis van Paulus se bediening.
Volgens Titus 1:5 het Paulus en Titus saam op die eiland Kreta gewerk. Met sy vertrek uit Kreta het hy Titus daar laat agterbly dat hy hulle onafgehandelde sake daar kan afhandel, naamlik om ouderlinge in elke dorp aan te stel. Dit veronderstel ’n hele tyd se werksaamheid van hulle twee op die eiland na sy vrylating uit sy tweejaarlange huisarres in Rome.
Volgens 1 Timotheus 1:3 het Paulus na Masedonië vertrek en vandaar aan Timotheus geskryf om in Efese te bly omdat die kerklike situasie daar Timotheus se dringende aandag nodig het. Voordat hy uit Efese vertrek het, kon hy sy belofte aan Filemon toe hy nog in huisarres in Rome was, uitgevoer uit (Flm 24). Filemon het in Kolosse gebly, wat nie te ver van Efese af was nie.
Paulus het Titus en 1 Timotheus waarskynlik vanuit Masedonië geskryf, of dit nou uit Filippi of Thessalonika of Berea was, kan nie gesê word nie. Dit was waarskynlik tussen die jare 62-63 n.C., na sy huisarres in Rome wat van Maart 59-61 n.C. geduur het. Volgens Titus 3:12 sou Paulus vir Titus op Kreta vervang met Artemas of Tigikus, en dan moes Titus hom haas om na Paulus te kom in Nikopolis aan die weskus van Masedonië, want hy het besluit om daar te oorwinter. Of hy daarvandaan wou teruggaan Rome toe om deur hulle na Spanje gestuur te word (Rom 15:24,28), is nie seker nie. Hy het dit geskryf voordat hy ’n gevangene geword het in Jerusalem.
Toe hy 2 Timotheus geskryf het was Paulus, volgens die tradisie, weer in Rome in die gevangenis (2 Tim 1:8,16-17). Hy skryf vir oulaas aan sy ‘geliefde seun’ (2 Tim 1:2) en sê sy einde is naby (2 Tim 4:6). Hy gee kort voor sy dood in 64 n.C. sy laaste opdragte aan Timotheus oor sy bediening as leier van die gemeente, waarskynlik in Efese (vgl. 1 Tim 1:3; 2 Tim 1:18). In 2 Tim 4:16-17 verwys Paulus na sy eerste verdediging toe niemand hom bygestaan het nie, maar die Here hom uit die bek van die leeu verlos het – die kerkvaders het dit geïnterpreteer as sy verlossing uit die kloue van keiser Nero, aan die einde van sy twee jaar in huisarres (Eus. 311 n.C. Hist.Eccl. 2.12.2-6).
Terwyl Seneca en Burrus die adviseurs van die jong Nero was, wat op 17 keiser geword het en van 54-69 n.C. regeer het, het dit redelik goed gegaan in die Romeinse ryk. In 62 n.C. het Burrus gesterf en Seneca is gedwing om af te tree. Toe het Nero van sy vrou Octavia geskei en met sy vriend se mooi maar beginsellose vrou Popaea getrou met wie hy al ’n tydjie saamgeleef het. Op haar advies het Nero die skuld vir die weeklange brand wat die helfte van die stad Rome in 64 n.C. verwoes het (van Vrydag 20-Woensdag25 Julie 64 n.C.), op die Christene gelê. Popaea was ’n bekeerling tot die Jodendom, en toe die Jode verdink was van die brandstigting het sy aan Nero voorgestel dat die Christene dit gedoen het om die Jode van die blaam te onthef. Tacitus (Annale 15:44) het vertel dat Nero, omdat die mense begin dink het dat hy die brand gestig of laat stig het, die blaam op die Christene gelê. Paulus se dood word in dieselfde jaar 64 n.C. gestel, maar nie noodwendig na die brand nie. Eusebius 311n.C. Hist.Eccl. 2.22.2-6 en 25.25.2-6 vertel dat Paulus in Rome tydens Nero se slagting van die apostels, onthoof is (waarskynlik met ’n swaard omdat hy ’n Romeinse burger was) en Petrus gekruisig is.
So sterf Paulus (kleintjie), die geringste van die apostels omdat hy die gemeente van God vervolg het maar deur die genade van God wat met hom was, baie harder gewerk het as al die ander (1 Kor 15:9-10), as getuie mártus martelaar bloedgetuie van sy Here, Jesus Christus. Hy het saam met Jesus gely om saam met Hom verheerlik te word (Rom 8:17).
Skrywer: Prof Francois Malan