Die Handelinge van die Apostels: Reaksies op Paulus se preek (Hand 13:42-52) – Francois Malan

13:42 Die vorige verse dui nie aan wat die mense se reaksie op Paulus se prediking was nie, maar vers 42 wys egter dat daar groot belangstelling onder die singogegangers was. ‘Toe hulle uitgegaan het (uit die sinagoge) het hulle daarop aangedring dat hulle die volgende Sabbat (weer) oor die dinge toegespreek word.’  Die mense wil nog ’n keer en meer oor die dinge weet wat Paulus aan hulle meegedeel het oor Jesus, sy opstanding, die vergifnis van hulle sonde en die regmaak van hulle verhouding met God (13:37-39).

13:43 Benewens die gemeente se versoek oor die volgende Sabbat, was daar ’n groot groep wat ná die sinagogediens (letterlik na die sinagogediens verdaag/opgebreek het) saam met Paulus en Barnabas gegaan het (letterlik: hulle gevolg het). Die groep het bestaan uit baie Jode en godsdienstige proseliete. Paulus en Barnabas het hulle toegespreek en was besig om hulle te oortuig om in die genade van God te bly leef. Cháris ‘genade’ verwys hier na God se onverdiende genadige goedgesindheid, vriendelikheid en liefde wat Hy aanbied. Dit het God bewys met Jesus se liefdesoffer aan die kruis vir die sonde van die wêreld, en dat God mense wat in Jesus as die Seun van God glo, aanneem as sy kinders. Die oproep om in God se genade te bly lewe, impliseer dat die mense wat vir Paulus en Barnabas ná die diens gevolg het, reeds begin glo het in Jesus as hulle Verlosser, deur die oortuigingswerk van die Heilige Gees in hulle harte. 

13:44 Uit die groot skare van byna die hele stad wat vir die volgende sinagogeprediking opgedaag het, is dit duidelik dat die groep wat vir Paulus en Barnabas ná die vorige Sabbatdiens gevolg het en van die ander sinagogegangers, vir hulle familie en vriende in die stad vertel het van die goeie boodskap wat hulle gehoor het. Die groot groep wat bygekom het was duidelik meestal heidene, want die meeste Jode en proseliete was reeds die vorige Sabbat daar. So werk die Here nie net deur die apostels nie, maar deur al die gelowiges.

13:45  Toe die Jode egter die skare heidene sien wat daar in die sinagoge saamgedrom het om na die woord van God te luister, was hulle met afguns vervul. Hulle was gegrief oor die oorname van hulle sinagoge deur die massa heidene en jaloers op Paulus wat so ’n groot skare getrek het (vgl. Rom 11:11,14: die verlossing het na die nie-Jode gekom om die Jode jaloers te maak sodat sommige van hulle tot verlossing kan kom). Hulle het die evangelie wat Paulus aan die gehoor verkondig het, teengespreek.

Paulus se prediking het gegaan oor die Jode wat Jesus onskuldig laat doodmaak het (13:28), dat God Hom egter uit die dood opgewek het (13:30), dat vergewing van hulle sondes deur Jesus verkondig word (13:38); dat elkeen wat in Jesus glo se verhouding tot God deur Jesus reggemaak word. Dit terwyl alles wat hulle volgens die wet van Moses doen, soos dit hier in die sinagoge verkondig word, hulle nie voor God regverdig kan maak nie (13:39-40). Paulus verwerp die boodskap wat die Jode al vir eeue glo, ten spyte van die profete se uitsprake oor ’n Messias wat kom ly om ons sonde te dra (Jes 53:4-5,8). Paulus stel Jesus voor as die Verlosser van die wêreld, ook van die heidene. Die Jode se teenspreking van Paulus se boodskap was ’n voortgaande belastering van Paulus en Jesus, en dit omdat Paulus vir Jesus verkondig as God wat sondes vergewe. Vir die Jode was dit die hoogste vorm van godslastering dat iemand homself met God gelykstel (vgl. Lev 24:16 gebied die doodstraf vir wie die Naam van die Here oneerbiedig gebruik; Luk 5:21: die skrifkenners en Fariseërs veroordeel Jesus wat vir die verlamde man gesê het sy sondes is vergewe; Matt 26:65: Jesus word weens godslastering tot die dood veroordeel omdat Hy gesê het Hy gaan aan die regterhand van God sit).

13:46 Paulus en Barnabas het egter met vrymoedigheid openlik voor die hele stad se mense gesê: ‘Dit was nodig om die woord van God eerste aan julle Jode te verkondig’ want God het sy verbondsbeloftes aan Israel nie vergeet nie (so het Petrus ook gesê volgens Hand 3:26). Dit het Barnabas en Saulus ook in die Joodse sinagoges in Salamis gedoen (Hand 13:5; vgl. Rom 1:16; 2:9-10; 3:1). Maar hierdie bevoorregting het die Jode verspeel deur te weier om na die evangelie te luister (apōthéomai weier om te luister, verwerp). Daarmee het hulle Hom, Jesus as hulle Verlosser verwerp en hulleself  onwaardig vir die ewige lewe veroordeel. [Die ryk maghebber het vir Jesus gevra wat hy moet doen sodat hy die ewige lewe kan beërf. Jesus se antwoord was ‘Volg My!’ om in die bedeling wat kom die ewige lewe te ontvang (Luk 18:18,22,30)]. Die Jode soek om die ewige lewe met wetswerke te verkry. Maar hulle het God se woord dat dit deur Jesus bewerk is, verwerp. Omdat hulle Jesus verwerp het, sê Paulus en Barnabas: ‘Kyk! Ons draai ons weg (van julle in Antiogië se sinagoge, en gaan) na die heidene.’ 

13:47 Die rede waarom hulle na die heidene toe gaan word verduidelik met ’n aanhaling uit Jesaja oor die dienaar van die Here, wat hulle toepas as die Here se opdrag aan hulle twee apostels (vgl Jes 49:6: ‘Ek het jou aangewys as ’n lig vir die nasies dat jy tot verlossing kan wees tot aan die uiteindes van die aarde’). Die Here het immers vir Paulus gesê: ‘Gaan, want Ek wil jou ver weg stuur na die heidene’ (Hand 22:21).

Die ou Simeon by die tempel het God geloof met ’n aanhaling van dieselfde teks uit Jesaja, wat hy vervul gesien het in die baba Jesus wat hy in sy arms geneem het (Lukas 2:30-32). Dié Here vir wie Simeon in sy arms geneem het, het nou dat Hy die Jesaja-profesie vervul het (Joh 8:12 ‘Ek is die lig vir die wêreld’), die verdere uitvoering daarvan opgedra aan die twee apostels wat die boodskap oor die ware lig wat elke mens verlig (Joh 1:9) moet uitdra na die nasies.  Dié Jesus het ook aan sy dissipels gesê: ‘Julle is die lig vir die wêreld,’  soos ’n lamp op ’n staander wat almal in die huis verlig, deurdat hulle goeie werke deur die mense gesien kan word, en hulle Vader wat in die hemel is, kan verheerlik (Matt 5:14-16; vgl. 2 Kor 4:3-6).

Die opdrag aan die dienaar van die Here in Jesaja om ’n lig vir die nasies te wees, word hier deur die Here self aan sy volgelinge opgedra om die lig vir die heidene en die heil vir die wêreld te wees. Die wêreldwye sendingopdrag van Jesaja 46 word deur die opgestane Jesus, wat sy verlossingswerk uit die hemel voortsit, aan sy boodskappers opgedra. Hulle tree op namens hulle Here: 2 Kor 5:20-21: ‘Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus asof God self deur ons ’n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons, sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God regverdig (vrygespreek) kon word.’   

13:48 Toe die groot skare heidene van die stad wat daar in die sinagoge was, hoor dat die lig van God ook vir die nie-Jode (ta ethnê heidene/ nie-Jode) bedoel is, was hulle baie bly en het hulle die Here geloof (doksázō prys, verheerlik), hulle het uitgejubel dat die woord van God wonderlik is! Hulle jubel is die uiterlike teken dat hulle die woord oor die Here Jesus se verlossing aangeneem het. Dit is die enigste teks in die Bybel wat vertel van jubeling oor die woord van die Here. Diegene van hulle, wat deur God vir die ewige lewe aangewys is (vgl. Hand 2:39: almal wat die Here ons God na Hom toe roep), het gelowig geword. Gelowiges word deel van die opstandingslewe van Christus. Die bestemming deur God is deur Jesus beklemtoon, volgens Johannes 6:37 ‘Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom;’ Joh 6:44 ‘Niemand kan na My kom as die Vader hom nie na My toe trek nie;’ Joh 6:65 ‘Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie;’ Joh 10:29 ‘Die Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie;’ Joh 17:6-7 ‘Ek het U Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord gehoorsaam.’ So skryf Paulus ook in sy brief aan die Romeine  in  Rom 8:29-30.

13:49 Die woord van die Here – oor Jesus se opstanding, vergifnis van sonde en die ewige lewe wat verkry word deur verbondenheid aan Jesus – het deur die hele landstreek rondom Antiogië versprei (diafero om iets deur ’n gebied te dra). Die gelowiges het draers van die goeie boodskap in hulle omgewing geword. So het die Here die mense van die omgewing na Hom toe gelei.

13:50 Teenoor die verspreiding van die goeie nuus word die afguns en woede van die Jode groter en organiseer hulle teen die uitbreiding van die evangelie. Hulle het gesiene godsdienstige vroue opgerui, waarskynlik godvresende en proseliete vroue in die sinagoge en ook ander belangrike mans, leier-mans van die stad. Saam het hulle ’n vervolging teen Paulus en Barnabas begin en hulle uit die gebied verdryf.

13:51 Volgens Lukas 9:5 het Jesus aan die twaalf apostels wat Hy uitgestuur het om die koninkryk van God te verkondig en siekes gesond te maak, opdrag gegee: ‘Wie ook al julle nie verwelkom nie – wanneer julle daardie dorp verlaat, skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle,’  vgl. ook Lukas 10:10-12. Paulus en Barnabas doen dit so toe hulle Antiogië verlaat en na Ikonium vertrek. Hulle gebaar was teen die Jode en leiersfigure van die stad gemik. Met hulle terugreis gaan hulle weer by Antiogië aan om die dissipels van Jesus daar te versterk, vir hulle ouderlinge te laat kies deur die gemeente se opsteek van hande, en die ouderlinge ná gebed en vas aan die Here op te dra (Hand 14:21-23).

Ikonium lê ongeveer 140 km van Antiogië af op die grootpad, die Via Sebaste (die pad van die keiser), die pad deur die provinsie Pisidië wat keiser Augustus in 6 v.C. laat maak het om die vrede in die provinsie te beskerm teen die Taurus stamme. Die mense in Ikonium het Frigies gepraat. Die stad was op die karavaanroetes (o.a. na die Eufraat). Die mense van verskillende tale in die Romeinse ryk het met mekaar in Grieks gekommunikeer. Alexander die Grote het in 300 v.C. die hele wêreld van Griekeland tot in Indië oorwin en vergrieks. Die algemene (koinê) Grieks is die taal van die Nuwe Testament. [Ikonium is die huidige Konya in Turkye, wat die sentrum is van Islam se Derwishers, wat materiële armoede, liefde en diens verkondig, en met swaaiende danse in lang jurke in ’n beswyming raak om God te bereik.]

 13;52 Die dissipels wat agtergebly het in Antiogië, die jong gemeente, is egter met vreugde oor die evangelie vervul, en is vervul met die Heilige Gees; hulle het hulle aan die leiding en versterking deur die Heilige Gees oorgegee. Hulle gaan vreugdevol voort sonder die leiding van die apostels, omdat die Heilige Gees hulle lei.

Lukas het die optrede van Paulus in die sinagoge in Antiogië breedvoerig beskryf, wat nie elders gedoen word nie. Lukas het daarmee ’n voorbeeld gegee van Paulus se gewone prediking aan Jode in die sinagoges waar hy gekom het. Ook die optrede van die Jode is tipies van wat telkens gebeur met Paulus se prediking in die sinagoges; hulle verwerp Jesus as die Christus. Dan gaan Paulus met die evangelie na die heidene. Die kerk word deur Jesus gelei om van ’n Joodse kerk soos dit in Jerusalem begin het, na ’n wêreldkerk vir alle volke en tale en nasies te ontwikkel (Dan 7:14).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus se preek (deel 2; Hand 13:26-41) – Francois Malan

13:26-41 Hierdie tweede deel van Paulus se preek bevat opsommings van dele van die geskiedenis van Jesus se veroordeling, nie in kronologiese orde nie, met ’n aantal aanhalings uit die Ou Testament wat op die gemeente in die Antiogië-sinagoge van toepassing is.

13:26 Die gemeente word aangespreek as ‘broers,’ om Paulus se verbondenheid aan die twee groepe te beklemtoon: ‘kinders uit die geslag van Abraham en dié mense tussen julle wat God vrees,’ laasgenoemde  verwys na heidene wat hulle afgode gelos het en die God van die Jode aanbid en dien, maar nog nie ten volle Jode geword het deur die besnydenis nie (vgl. 13:16). ‘Aan ons,’ aan julle almal en ons twee saam, ‘is die boodskap (logos) van hierdie verlossing gestuur’ – die passiewe werkwoord verwys na God wat die boodskap gestuur het. Hierdie verlossing verwys na die man na wie Johannes die Doper verwys het, Jesus, die ‘Ek is.’ Hy is die Verlosser en die verlossing wat God dwarsdeur elke eeu aan elke mens stuur. Johannes 1:1,12,14 noem Hom ‘die Woord’ (ho lógos) wat by God was en self God was en mens geword het om elkeen wat in sy Naam glo, kind van God te maak.

13:27  Die Jode in Jerusalem en hulle leiers, na wie hierdie ‘boodskap’ eerste gestuur is, ‘het egter gefaal om Hom te verstaan (agnoéō).’ ‘Hulle het die stemme (fōnás) van die profete wat elke Sabbat (in die sinagoge) hardop voorgelees is, vervul deur hulle voorspelde Messias te veroordeel.’ Hulle het hulle Redder en sy redding nie verstaan nie, ten spyte daarvan dat hulle dit moes verstaan het uit die luide stemme van die profete wat hulle elke Sabbat uit die Skrif aangespreek het. Onbewus en sonder dat hulle dit gewil het, het die Jode elke aanwysing deur die profete oor Jesus se dood, vervul. Hulle was nie bewus daarvan dat hulle die Seun van God, self God, hulle Verlosser, tot die dood aan die kruis veroordeel het nie (Mark 15:13-14; Matt 27:22-23; Joh 19:6,15). Die vervulling van die profete se woorde bewys dat Jesus die verwagte Messias van die Jode is.

 13:28 Hierdie vers sê hoe die Jode die profete se woorde oor Jesus vervul het. Hoewel hulle, die Jode in Jerusalem en hulle leiers, geen (steekhoudende) rede vir (Jesus se) dood kon vind nie, het hulle vir Pilatus gevra om Hom te laat doodmaak. Pilatus se uitspraak was: ‘Ek vind geen skuld in hierdie man nie’ (Luk 23:4). Die Jode se valse aanklagte teen Jesus voor Pilatus, as sou Hy die volk op ‘n dwaalweg lei om nie aan die keiser belasting te betaal nie, en dat Hy beweer dat Hy ’n gesalfde koning is, is deur Pilatus in hulle teenwoordigheid ondersoek en as ongegrond bevind (Luk 23:2-4,14). Maar ten spyte daarvan het hulle aanhou skreeu: ‘Kruisig, kruisig Hom!’ (Luk 23:21,23). Hiermee wys Paulus vir die Jode in Antiogië hoe onbetroubaar die leiers in Jerusalem se verstaan van die profete se woorde oor Jesus is en dat sy gehoor in Antiogië die profete van die Ou Testament se voorspellings oor Jesus behoort te aanvaar.

13:29 Toe die Jode alles vervul het wat oor Hom (deur die profete) geskryf is, het hulle (sy volgelinge onder die Raadslede: Josef en Nikodemus, Luk 23:50-53; Joh 19:38-40) Hom van die kruis afgehaal (ksúlon hout, boom, word figuurlik gebruik vir kruis) en Hom in ’n graf geplaas – om die realiteit van God se dood as sy diepste vernedering te bevestig. Dood is God se straf op die sonde (Gen 2:16). Die Seun van God het ons doodstraf op Hom geneem.  Sy dood en begrafnis is reeds deur die profeet in Jesaja 53:8-10 voorspel, dat Hy sy lewe as ’n skuldoffer gee sodat die Here daarmee sy doel bereik om Self vir die mens verlossing te bewerk.

13:30 Teenoor die mense se behandeling van Jesus staan God. Maar God het Hom uit die dood opgewek. Dit is God se verklaring dat Hy die skuldoffer van sy Seun vir die sonde van die wêreld aanvaar het en sy straf op die mens se sonde ophef (vgl. Ps 103:12 ‘So ver as wat die ooste verwyder is van die weste, verwyder Hy ons oortredinge van ons’). Dit is die hart van Paulus se boodskap, en word in verse 31-31 uitgebrei en bevestig. Van Jesus se opstanding uit die dood is Paulus oortuig, nadat Jesus uit die hemel aan hom verskyn het op die pad na Damaskus.

13:31 Paulus onderskei tussen twee groepe getuies van die opstanding van Jesus. In vers 31 verwys hy na die mense wat Jesus gevolg het dwarsdeur sy hele bediening van Galilea af tot in Jerusalem, veral die apostels en ’n aantal vroue (vgl. Luk 23:49; 1 Kor 15:5-7 o.a. aan meer as 500 broers tegelyk). Aan hulle het Jesus gedurende verskeie dae verskyn as bevestiging dat Hy uit die dood opgestaan het. Hierdie ooggetuies van sy opstanding, is sy eerste getuies daarvan voor die volk (laos verbondsvolk van God). Die evangelie word eerste aan die Jode verkondig, maar God se verbondsvolk kry nou ook ’n wyer betekenis om alle gelowiges in te sluit. Toe Paulus later aan die Galasiërs, wat Antiogië insluit, skryf, sê hy: besnedenheid of onbesnedenheid beteken niks nie, maar wel die nuwe skepping, die Israel van God, wat volgens die beginsel van die kruis van ons Here Jesus Christus leef in vrede en barmhartigheid  (Gal 6:14-16).

13:32-33 Die tweede groep getuies is ‘en ons,’ Paulus en Barnabas, wat die goeie boodskap verkondig (euangelízomai). Die goeie boodskap is dat God Jesus laat opstaan het uit die dood. Daarmee het Hy sy belofte aan die voorvaders ‘vir ons,’ (die Jode) wat hulle kinders is, vervul. Ons verkondig die goeie boodskap aan julle in Antiogië. Die implikasie is dat dié van julle wat glo in die opstanding van Jesus deel word van die geestelike kinders van die voorvaders, die nuwe Israel van God.

Die opstanding van Jesus lei tot die ewige lewe, dit lei die nuwe skepping in waarna Ps 2:7 verwys: ‘Jy is my Seun, Ek het jou vandag verwek (die perfektum van die werkwoord gennáō beteken dat die gevolge van die verwekking voortgaan). Jesus het met ’n nuwe liggaam uit die dood opgestaan, onverganklik, onsterflik, as voorloper vir almal wat in Hom glo (1 Kor 15:52-53; Rom 1:6 ‘julle wat deur Jesus Christus geroep is’).

13:34 God het vir Jesus uit die dood opgewek as ’n nuwe skepping, sodat Hy nooit weer na ontbinding terugkeer nie. Dit is anders as Lasarus wat uit die dood opgewek is en tog weer gesterf het. Jesus is onsterflik uit die dood opgewek en het dit ook op ons van toepassing gemaak. Die Griekse Septuaginta in Jesaja 55:3 word hier aangehaal: ‘Ek sal aan julle die heilige en betroubare beloftes vervul,’ wat aan Dawid in Ps 2:7 en in 2 Sam 7:12,16 gegee is. Dit beteken dat almal wat in die opstanding van Jesus glo, saam met Hom as die Seun van Dawid vir ewig sal lewe (vgl. Dan 7:14; Joh 6:27,39-40,44,47,51,54,58; 10:28; 11:26; 17:2-3; 20:31; 1 Joh 2:17,25; 5:11,13,20; 2 Joh 2).

13:35 Hier word Ps 16:10 aangehaal uit die Griekse Septuaginta (Ps 15:10). Daarvolgens sê die Psalmdigter: ‘U sal u Heilige (u Dienskneg wat aan U toegewyd is) nie ontbinding laat beleef nie.’  Dit kon nie van koning Dawid gesê word nie, soos die volgende vers aandui, maar as voorspelling van die Seun van Dawid, Jesus, God se heilige Seun, wat Hy uit die dood opgewek het om vir ewig te lewe. En dit geld ook vir almal wat in die opstanding van Jesus glo, soos die ‘julle’ in vers 34 uitgespel het. In Hand 2:27,31 het Petrus dieselfde tekste aangehaal wat van Jesus se opstanding getuig (vgl. Gal 1:18 toe Paulus en Petrus vir 15 dae saam was en waarskynlik oor Jesus se bediening en opstanding gepraat het, drie jaar na Paulus se bekering).

13:36 ‘Want, nadat hy volgens God se plan sy eie geslag gedien het, het Dawid gesterf, hy is by die vaders begrawe en hy het ontbinding beleef’- sy lyk het ontbind. Dawid was dus nog verganklik. Die profesie in Ps 16:10 dat hy nie ontbinding sal beleef nie, gaan nie oor Dawid nie, want Dawid het (1 000 jaar tevore) gesterf en sy liggaam het in die graf gebly. Maar dit gaan oor Jesus Christus vir wie God (op die derde dag) uit die dood opgewek het. Petrus het dieselfde teks gebruik en bygevoeg dat, hoewel Dawid gesterf het, hy in vooruitskouing oor die opstanding van Christus Ps 16:10 aangehaal het  (Hand 2:29-31).

13:37 Daarteenoor ‘het Hy vir wie God (uit die dood) opgewek het (vir Jesus, u Heilige, wat aan God toegewyd gelewe het), nie ontbinding laat beleef nie.’ Die getuienis oor Jesus se permanente opwekking uit die dood in vers 34 word ondersteun deur die twee aanhalings uit Ps 2 en Ps 16 en word afgesluit met ’n herhaling in vers 37 om dit te beklemtoon. In vers 37 word Jesus se opwekking uit die dood egter gestel as die vervulling van die beloftes van die twee uitsprake. Dat Jesus se permanente opwekking uit die dood vir ons betekenis het, word in die volgende twee verse uitgespel.

13:38-39 Hier kom Paulus by die toepassing van sy preek wat die betekenis van die goeie boodskap oor Jesus se opstanding saamvat. Paulus spreek die hele gehoor van Jode en godvresende mans en vroue in Antiogië se sinagoge aan as ‘my medemense’ (soos ándres adelfoí ‘manne broers’ ook vertaal kan word). Hulle gemeenskaplike band as sondaars voor God word daardeur beklemtoon. ‘Julle moet dit weet dat, deur hierdie een (Jesus), word die vergifnis van sondes aan julle deurlopend aangekondig (katangéllō teenwoordige tyd dui voortduur aan)’ – dit is wat die verhoogde Jesus deur sy getuies deurentyd aankondig en aanbied.

God se opwekking van Jesus uit die dood beteken vir ‘julle’ en vir elkeen wat in Jesus glo die deurlopende vergifnis van jou sondes en bevryding van alles wat die wet van Moses jou nie van kon bevry nie (letterlik: nie kon regverdig nie). Regverdig, dikaioō, kan ook bevry beteken, maar het die bykomende betekenis om ’n verhouding reg te maak. Die passiewe vorm verwys hier veral na jou verhouding met God, wat deur Jesus se dood en opstanding reggemaak is deur die vergifnis van jou sonde. Daar is geen vergewing van sonde te verwag deur op jou eie goeie werke volgens die wet van Moses te vertrou nie, maar alleen deur geloof in Hom wat God uit die dood opgewek het. Die Jode het gedink dat hulle deur die wet van Moses te onderhou geregtigheid kon verwerf. So kan ’n mens se verhouding tot God nie reg gestel word nie, want alle mense bly voor God sondaars. Jesaja 64:6 sê: Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere (vgl. Ps 14:1-3; 53:2-4 wat Paulus in Rom 3:10-12 aanhaal). En tog word ons goedgunstig deur God se genade vrygespreek deur geloof in Jesus Christus (Rom 3:21-26).

13:40 Paulus sluit sy preek af met ’n ernstige waarskuwing aan die mense in Antiogië teen ongeloof, sodat wat in die Profete-boek van die Jode gesê is, nie met hulle gebeur nie. Paulus kom nie met nuwe dinge nie, maar wat lankal deur die Here gesê is. Mag dit wat die profete reeds gesê het, tog nie oor die Jode in Antiogië kom as hulle die evangelie nie aanneem nie.

 13:41 Paulus haal die Griekse vertaling van Habakkuk 1:5 daaroor aan:

            ‘Let op! julle minagtende spotters…’ (katafronêtai iemand wat gewoonlik veragting vir iets of vir ander voel, wat dink dat iets nooit goed is nie en altyd daaroor praat). Habakkuk beskryf die Babiloniërs as bitter en harde mense, ’n nasie wat oor die hele aarde marsjeer en alles en almal voor hulle vernietig (Hab 1:6-11). Maar die Here gaan die Jode op ’n wonderlike manier verlos, waaroor die Jode gespot het, maar hulle eintlik daaroor moes verwonder. Vergelyk die Here se wonderverlossing van Samaria in die tyd van Elisa (2 Kon 7:6-7) en van Jerusalem in die tyd van Hiskia (2 Kon 19:35). Paulus waarsku Antiogië om nie minagtend teenoor Jesus te voel en op te tree nie, en nie oor die Seun van God en God se verlossingsplan te loop en spot nie.

            ‘…staan verstom – die Jode en godvresendes in Antiogië moet hulle verbaas oor die evangelie, ‘Want in julle dae is Ek besig om ’n daad te doen, ’n daad wat julle nooit sal glo as iemand dit vir julle ten volle vertel nie’ – naamlik dat Jesus, die Seun van God, se dood en opstanding, die straf op die sonde van die wêreld op Hom geneem en weggedra het.   

            ’…en ‘gaan ten gronde’ (passief van afanizō word vernietig). Hierdie woord in Handelinge kom slegs in die Septuaginta van Habakkuk se teks voor en nie in die Hebreeuse teks van Habakkuk, wat die Afrikaanse vertaling gebruik nie. Vir die Jode en godvresendes van Antiogië beteken dit dat hulle ten gronde sal gaan as hulle nie die evangelie aanvaar nie. (vgl. Joh 16:8, ‘wanneer die Heilige Gees kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde, van geregtigheid en van oordeel’). Die sonde waarvan Hy die mens kom oortuig is eerstens dat hulle nie in Jesus glo nie; geregtigheid verwys na die mens se verhouding met God wat deur Jesus reggestel word. Die mens wat nie God se geskenk van geregtigheid wil aanvaar nie, is reeds saam met die duiwel veroordeel (Joh 16:9-11).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus se preek in die sinagoge (deel 1: Hand 13:17-25) – Francois Malan

13:17 Soos in Stefanus se rede, maar in ’n korter vorm, begin Paulus sy preek met die verlossingsgeskiedenis van die vaders. ’Die God van hierdie volk (laós) Israel het ons voorouers uitverkies.’ Dit het begin met Abraham (Hand 14:26, vgl. Gen 12:1-3). Met Jakob is die verbond bevestig en die Here het vir hom die nuwe naam Israel gegee (Gen 28:13-15; 32:28). Paulus vereenselwig hom met God se uitverkiesing van Israel met sy verwysing na ‘ons voorouers.’ Later sou hy o.a. aan Antiogië skryf dat alle Christusgelowiges aan die ware Israel behoort (vgl. Gal 6:15-16). Tydens Israel se verblyf as vreemdelinge in Egipte het die Here hulle tot sy volk verhef en hulle uit hulle slaweskap bevry (vgl. Hand 7:6,34; Eks 6:5-6; 12:51; Deutr 5:15). Letterlik: ‘hulle met ’n hoë arm daar uitgelei’ ’n Semitiese idioom wat groot krag aandui, en verwys na die 10 plae waarmee die Here Egipte getref het (Deutr 4:34-35). Uit hulle eie was hulle magteloos teen die magtige Egipte, maar in sy vrymagtige genade het die Here, tydens hulle verdrukking, van hulle ’n groot volk gemaak (vgl. Eks 1:20), wat Hy daarna uit Egipte se slawerny verlos het.

13:18 ‘En hulle ongeveer veertig jaar lank in die woestyn verduur het’ (tropoforéō verduur, met uitgebreide geduld te verdra – in Deutr 1:31 word gesê dat die HERE hulle God hulle gedra het (LXX trofoforêō; hoewel Kodeks Vaticanus se LXX ook in Deutr 1:31 tropoforêõ lees. Die Griekse teks wat die 1953-vertaling gebruik het, lees hier in Handelinge ook ‘gedra het’).Volgens die oudste Griekse manuskripte van Handelinge het Paulus egter gesê dat God hulle verduur het. Hulle God het hulle verdra ten spyte van die opstandige en trouelose manier waarop hulle Hom behandel het, vgl. Numeri 14:27,34). Die woord érêmos wat met ‘woestyn’ vertaal is, beskryf ’n onbewoonde plek of gebied, wat ook min plantegroei kan hê (nie ’n sandwoestyn soos die Sahara nie).

13:19 En toe Hy sewe nasies in Kanaän laat uitdelg het, het Hy die nasies se land vir sy volk as ’n kosbare gawe as hulle land laat kry (kataklêronoméō om iemand iets wat baie kosbaar is te laat ontvang as syne; dit word ook vir ’n erfenis gebruik). Die sewe nasies word in Deutr 7:1 genoem. Dat die Here hulle voor Israel verdryf het tot in die tyd van Dawid, is deur Stefanus genoem in Hand 7:45. Dat die Here die land aan Israel as besitting gegee het, word in Jeremia 3:18 genoem. Hier herinner Paulus die Jode in Antiogië daaraan dat alles wat hulle is, deur die genade van God tot stand gekom het. 

13:20 Die proses om Israel tot ‘n groot volk te verhef (13:17) het ongeveer 450 jaar geduur: 400 jaar in Egipte (Gen 15:13; Eks 12:40-41 sê egter 430 jaar), 40 jaar in die woestyn (Num 14:33-34), 10 jaar van die intog in Kanaän tot by Josua se verdeling van die land onder die stamme met aanwysing van die Here deur die lot (Jos 4-14).

Daarna het die Here aan hulle rigters gegee tot die tyd van die profeet Samuel. Telkens het die volk van die Here af weggedwaal, het Hy hulle gestraf deur verdrukking deur die buurvolke, en dan het die Here hulle verlos deur iemand te voorsien om hulle te lei. Samuel is ’n oorgangsfiguur, wat ’n leier was wat die koningstyd ingelui het. In sy tyd het die Here weer met Israel begin praat. Die Here het met Samuel gepraat na ’n lang tyd wat die woord van die Here min gehoor is en daar nie dikwels openbarings was nie (1 Sam 3:1).

13:21 Toe Samuel oud geword het, het Israel om ’n koning gevra  (1 Sam 8:5). God het toe vir hulle Saul, die seun van Kis, uit die stam van Benjamin (‘regterhandseun), vir 40 jaar gegee om hulle van hulle vyande te verlos. Die Ou Testament gee nie aan hoe lank Saul regeer het nie (1 100 jaar later, gee die Here vir Saulus, uit die stam van Benjamin, aan die nuwe Israel as leier; Rom 11:1; Flp 3:5).

13:22 ‘En nadat hy verwyder is’ – nadat God Saul as koning verwyder het (1 Sam  15:23. 1 Sam 31:4-5,9; 1 Kron 10:4-5,9 sê hy het self in sy swaard geval en later het die Filistyne sy lyk se kop afgekap en in hulle land rondgestuur) – ‘het Hy vir hulle Dawid as koning voorsien, van wie Hy getuig het: Ek het Dawid, die seun van Isai gevind (Ps 89:21), ’n man na my hart (1 Sam 13:14), wat al my begeertes sal uitvoer (Jes 44:28).’ Die Jode in Antiogië moet besef dat die Here iemand wat nie na sy roepstem luister nie, kan verwerp (1 Sam 15:26).

13:23 Vir Paulus is God se getuienis oor Dawid ‘n voorbeeld van God se verklarings oor Jesus (Luk 3:22: Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My’ (vgl. Jes 42:1; Ps 2:7); Luk 9:35: Dit is my Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom. ‘Uit hierdie man (Dawid) se nageslag (letterlik: sy saad), het God, volgens sy belofte (2 Sam 7:12,19;  22:51; Ps 132:11,17; Jes 11:1-2) vir Israel ’n Verlosser, naamlik Jesus, voortgebring (vgl. Mark 12:35-37). In Jesus word die belofte aan Dawid vervul. Jesus moet deur die lede van die Joodse sinagoge in Antiogië aanvaar word as hulle Verlosser waarvan die Ou Testament getuig. Maar anders as sy voorvader Dawid wat oorlog moes maak om Israel te verlos van hulle vyande, het die Seun van God kom sterf as die Lam van God om die sonde van die wêreld weg te neem (Joh 1:29).

13:24 ‘Voor (Jesus) se intog (eisódos; intrede in sy openbare bediening) was Johannes (die Doper) besig om ter voorbereiding (vir Jesus se bediening van versoening met God en met mekaar) die doop van bekering vir die hele volk van Israel te verkondig (Luk 3:3,7,18). Johannes se voorbereidingswerk voordat die dag van die Here kom, word in die Ou Testament voorspel (Mal 3:1; 4:5-6 ook van die versoening; Matt 11:14, soos Johannes het Elia reeds verkondig dat  die hele volk tot bekering moet kom ter voorbereiding van die koms van die dag van die Here, Mal 3:1; 1 Kon 18:21,39).

Die doop van bekering beteken Johannes het gepreek dat mense moet omdraai, weg van hulle sonde af, en hulle laat doop. Bekering metánoia beteken ’n hele verandering van jou lewenswyse deur ’n volledige verandering van jou denke en houding oor wat sonde is en wat die regte pad is. Die Jode het die doop van bekeerlinge uit die heidendom beskou as ’n afwassing van hulle heidense praktyke, maar gedink dat Jode dit nie nodig het nie. Johannes het egter verkondig dat alle Jode hulle moet bekeer van hulle verkeerde weë en gedoop word met die oog op God se vergifnis van hulle sonde met die koms van hulle verwagte Messias/Christus, God se beloofde Verlosser. ‘Al die Jode’ sluit die Jode van Antiogië in, wat hulle nou op Paulus se prediking moet bekeer om hulle voor te berei om in Jesus Christus te glo.

13:25 ‘Toe Johannes besig was om sy taak/sending (drómos, figuurlik vir sy wedloop) af te rond het hy gesê: wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie! Maar kyk! Hy kom ná my, vir wie ek nie werd is om die sandale van sy voete los te maak nie’ (Luk 3:16). Sandale losmaak was die taak van ’n slaaf vir sy heer, en Johannes sê hy is nie eers werd om Jesus se slaaf te wees nie, so wonderlik groot en anders is Jesus as die Seun van God uit die hemel, en die werk wat Jesus kom doen. Waar Johannes die ‘nie ek is nie’ (hou ouk eimì), nie die verwagte Messias nie, is Jesus ‘die Ek is’ (Egō eimí), die HERE van Eks 3:14 (vgl. Joh 8:24). ’n Hele nuwe bedeling van genade word deur Jesus gebring wat Johannes en die Ou Testamentiese bedeling van die wet afsluit (vgl Luk 7:28), ook vir die Jode en godvresendes van Antiogië.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus-hulle na Pamfilië en Pisidië (Hand 13:13-16 – Francois Malan

13:13 Nadat dié groep onder Paulus se leiding uit Pafos weggevaar het, het hulle in Perge in Pamfilië aangekom. hoi perì Paulon ‘dié rondom Paulus’ wys duidelik dat Paulus die leiding geneem het. Hy word die onbestrede woordvoerder (13:16,45; 14:9,12), wat onder leiding van die Heilige Gees (Hand 13:9; 16:9) die duidelikste insig in die teologie en in sendingstrategie het tussen die apostels (Gal 2:13).

Pamfilië was ’n arm deel van die Romeinse provinsie Galasië van 25 v.C.tot 43 n.C. en daarna as deel van die provinsie Asië, met ’n paar Griekse stede tussen die Middellandse See en die Taurus bergreeks.  Die stadjie Perge, by die huidige Antalya, met ’n opelugteater en ’n stadion wat elk 20 000 mense kon huisves, lê sowat 15 km van die see af en kon vanaf die hawe Attalia per voet bereik word (vgl. 14:25). Johannes (Markus) het hulle daar verlaat en teruggekeer Jerusalem toe (waar sy ma gebly het). 

13:14a Van Perge het hulle na Antiochië in Pisidië gegaan (weer die werkwoord diérchomai, soos in Hand 8:40; 9:32; 11:19, ens.) wat veronderstel dat hulle die gebied tussen die twee stede deeglik deurgegaan het en met mense oor Jesus gepraat het. Antiogië is 160 km van Perge af, soos die kraai vlieg. Hulle moes oor die Taurus bergreeks tot op die vlakte by Antiogië 1200 meter bo seespieël. Hier word na ’n tweede Antiogië verwys. Die sendingreis het vertrek van Antiogië in die Romeinse provinsie Sirië en het aangekom in Antiogië, wat eintlik in Frigië geleë was, maar op die grens was van Pisidië. Albei die stede is genoem na Antiogus die Grote, opvolger van Seleukus Nikator wat die stad Antiogië in Pisidië opgerig het. Nikator het reeds in 280 v.C. in die provinsies Frigië en Lidië ’n groot aantal Jode hervestig en aan hulle volle Griekse burgerskap toegeken om in die grensgebiede ’n betroubare bevolking te bevestig (vgl. Josephus Ant. 12:3:1). In 25 v.C. het Antiogië in Pisidië saam met Ikonium, Listre en Derbe deel geword van die Romeinse provinsie Galasië (aan wie Paulus se brief aan die Galasiërs waarskynlik geskryf is). Antiogië in Pisidië was die administratiewe sentrum van die suidelike deel van die provinsie Galasië.

13:14b Op die Sabbat het Paulus en Barnabas in die sinagoge ingegaan en gaan sit, soos hulle gewoonte was (vgl. Hand 13:5 in Salamis, 14:1 in Ikonium, ens. in navolging van Jesus (Luk 4:16), om volgens Jesus se opdrag aan Saulus ook aan Israel die evangelie te verkondig (Hand 9:15).

13:15 Die verloop van die  dienste in die sinagoges was soos volg: eers die Joodse geloofsbelydenis, die Shema (‘Luister’) uit Deuteronomium 6:4: ‘Luister Israel, die HERE is ons God, Hy is die enigste Here.’ Daarop volg die gebed met 18 bedes gelei deur die leier; dan word gelees uit die Wet wat die HERE aan Moses gegee het (dit is die eerste vyf boeke van die Bybel); dan volg ’n lesing uit die geskrifte van die profete (die vroeë en later profete); wat gevolg word deur ’n preek deur een van die gemeentelede; die diens word afgesluit met die seën uit Numeri 6:24-26). Die vroeë profete soos o.a. Elia en Elisa verwys na die boeke Josua, Rigters, 1&2 Samuel, 1&2 Konings. Die later profete verwys na die boeke van Jesaja tot Maleagi, sonder Klaagliedere en Daniël.

Ná die voorlesings uit die Skrif het die leiers van die sinagoge een van die leiers na Paulus en Barnabas gestuur met die boodskap: ‘Manne broers (mede Jode), as een van julle ’n woord van bemoediging het vir die volk (laos die HERE se verbondsvolk), spreek!’  So open die Heilige Gees die geleentheid vir Paulus en Barnabas om die evangelie van Jesus te verkondig.

13:16 Paulus neem die leiding, maar anders as gewoonlik in die sinagoge waar die prediker sit (Luk 4:20) en eintlik ’n gespreksleier is wat saam met die gemeentelede praat en hulle vrae of opmerkings verwelkom, staan Paulus op vir ’n lang relaas van vers 17-41. Hy wys met sy hand dat hy ’n woord het en vra daarmee stilte vir sy preek (soos Petrus na sy vrylating in Hand 12:17). Hy spreek die gehoor aan en vra Israeliete en godvresendes om te luister. Daar was duidelik ’n groot getal godvresendes in die sinagoge. Die godvresendes is persone uit die heidendom wat hulle heidense afgode verwerp het, in die God van Israel geglo het, die dienste in die sinagoges bygewoon het, maar nog nie, soos die proseliete, die noodsaaklikheid van die besnydenis en sommige ander Joodse gebruike en wette aanvaar het nie.

Skrywer: Prof Francois Malan