Die Handelinge van die Apostels: Barnabas en Saulus op Siprus (Hand 13:4-12) – Francois Malan

13:4 Na die sending (apolúō) deur die handoplegging van die gemeente in Antiogië, onderstreep Lukas dat hulle deur die Heilige Gees uitgestuur is (ekpémpō). Hulle het van Antiogië 25 kilometer afgereis na die hawestad Seleusië, wat deur Seleukus Nikator (die ‘oorwinnaar,’ wat Sirië na die dood van Alexander die Grote gekry het) in 300 v.C. opgerig is en nog steeds die hawe van die huidige Turkse stad Antakya is. Daarvandaan het hulle die 96 km. na Siprus geseil, na die geboorte-eiland van Barnabas (Hand 4:36). Die eiland is 240 km. lank en 100 km. op sy breedste gedeelte, bekend vir sy kopermyne, wingerde en olyfboorde. Die evangelie is reeds vroeër daar aan Jode verkondig (Hand 11:19).

13:5  Hulle kom in Salamis aan, die hawestad aan die Ooste, ook die grootste stad op die eiland, met ’n aansienlike getal Joodse inwoners, en verkondig die woord van God in die verskillende Joodse sinagoges in die stad. Volgens Romeine 1:16 en 2:9-10 beskou Paulus die evangelie as eerstens vir die Jood en ook vir die Griek. In sy sendingwerk het Paulus die orde toegepas. Die Jode in die verstrooiing moet ook die evangelie van Christus hoor en in die sinagoges tref hulle gewoonlik ook die godvresendes aan, wat die mees vatbares vir die evangelie was. Die jong Johannes Markus is hulle helper in die evangelieverkondiging (vgl. by Hand. 12:12,25). Later neem Paulus ook die jong Timotheus met hom saam op sy reise (Hand 16:3). In die sinagoges is ook van ‘helpers’ (hupêrétês) gebruik gemaak (Luk 4:20); vgl. ook die jong Samuel in die tempel (1 Sam 2:11; 3:15). 

13:6 Hulle het die hele eiland deur gereis (diérchomai impliseer dat hulle dit uitgebreid van plek tot plek en deeglik deurgegaan het) tot hulle by die hoofstad Pafos gekom het. Die nuwe Pafos, ’n hawestad, was geleë aan die westekant van die eiland. Die ou Pafos, 11 km vanaf die huidige Pafos, is in 15 v.C. deur ’n aardbewing verwoes. Pafos was die offisiële hoofstad van die provinsie en sentrum van die diens aan Afrodite, die Griekse godin van skoonheid en liefde, wat hier uit die see gebore sou wees. Haar tempel het nog in die ou Pafos gestaan.

Die twee sendelinge tref ’n sekere man aan met die naam Barjesus (‘seun van Joshua’- Jahweh is Verlosser). Hy is ’n towenaar, ‘n valse Joodse profeet, wat aanspraak maak dat hy ’n profeet van God is maar nie die woord van die Here verkondig nie,  Soos die towenaar Simon in Samaria (Hand 8:9), het Barjesus die oosterse bygeloof as towenaar, mágos, probeer kombineer met ’n sterk Joodse inslag as profeet van God. Dit is iets wat in Egipte en die Midde-Ooste en ook in Siprus baie voorgekom het. Dit word deur die Here o.a. in Jeremia 14:14 verbied.   

13:7 Barjesus was saam met die prokonsul Sergius Paulus, ’n verstandige man – ’n prokonsul was deur die Romeinse senaat aangestel om namens hulle oor ‘n provinsie te regeer (’n Legaat of onderbevelhebber was direk deur die keiser aangestel om hom te verteenwoordig, veral in moeilike provinsies). Barjesus was blykbaar ’n soort hoftowenaar/profeet soos die farao se waarsêers en raadgewers in Josef se tyd (Gen 41:8) en in Moses se tyd (Eks 7:11). Die sterrekenners met Jesus se geboorte is ook mágoi genoem omdat hulle voorspellings uit die stand van sterre gemaak het (Matt 2:1). Sergius Paulus was ‘verstandig,’ suníêmi, iemand wat kan verstaan en ’n saak kan beoordeel. Saulus se eerste bekeerling uit die heidendom het hulle laat roep, soos Kornelius, Petrus se eerste bekeerling uit die heidendom vir Petrus laat roep het (Hand 10:7-8). Die Heilige Gees het duidelik met Sergius Paulus gewerk dat hy daarna gesoek het (epidzêtéō soek om uit te vind) om die woord van God te hoor.  Hy het waarskynlik gehoor van Barnabas en Saulus se werk in Pafos en dat mense werklik God se woord by hulle gehoor het.

13:8 Die Joodse towenaar Barjesus is in Grieks Elimas genoem. Hy het die twee apostels teengestaan omdat hy die prokonsul van die geloof wou laat wegdraai (diastréfō laat wegdraai, weglei). Hy het gesien waarheen dit loop toe die prokonsul die twee manne laat roep het, en wil ten alle koste sy invloed in die stad as die prokonsul se raadgewer behou. Daarom stel hierdie valse profeet homself teen die twee profete van God met ’n bitter teenstand teen die verkondigers van God se woord om daarmee die prokonsul van hulle boodskap af weg te lei.

13:9 Maar Saulus, dit is ook Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom stip aangekyk. Hier stel Lukas sy lesers vir die eerste keer aan Saulus se Latynse naam Paulus voor. Die Joodse naam Saul (van God ‘gevra’), soos Jesus hom op die pad na Damaskus aangespreek het (Hand 9:4), se Griekse en Latynse vorm is Saulus. Sy Latynse naam Paulus beteken ‘klein/gering’ (vgl. 1 Kor 15:9 ‘Ek is die geringste van die apostels…’  en Ef 3:8). Na hierdie konfrontasie met Elimas neem Paulus ook die leiding tydens die sendingreise by Barnabas oor en gebruik Lukas konsekwent die naam Paulus. In 11:30; 12:25 en 13:2 was Barnabas eerste genoem. In 13:43,46,50, ens. word Paulus eerste genoem. Die Heilige Gees het Paulus deur die hele konfrontasie gelei en Paulus ook aangewys as die leier van die Here Jesus se voortgesette arbeid vanuit die hemel as sy instrument onder die nasies, konings en Israel (vgl. by Hand 1:1; 9:15; 26:16-18). Met Paulus se deurdringende kyk en woorde is hierdie towenaar ontmasker. Dat Paulus met die Heilige Gees vervul was vir die konfrontasie wys na sy onderwerping vir sy taak aan die leiding en krag van die Heilige Gees, soos die Heilige Gees op Jesus neergedaal het met sy doop vir die begin van sy openbare bediening (Luk 3:21-22; Joh 1:33). Reeds met Paulus se bekering is hy met die Heilige Gees vervul vir sy verkondiging dat Jesus die Seun van God is (Hand 9:17,20). Vervul met die Heilige Gees beteken dat hy homself aan die leiding van die Gees oorgegee het soos by sy bekering toe hy gevra het: ‘Wat moet ek doen, Here?’ (Hand 22:10).

13:10  Onder leiding van die Heilige Gees herken Paulus sy teenstander vir wat hy is en noem hom sonder verskoning  wat hy eintlik is. Elimas wat homself as ’n ware profeet aangebied het, is in werklikheid vol elke soort bedrog (dólos om met allerlei kullery en valsheid te bedrieg) en elke soort kwaaddoen (rhadiourgía wat morele beginsels verkrag deur gewetenloos en beginselloos op te tree). Hy wat as Barjesus paradeer (in Aramees: Bar-Jehoshua, kind van die Here se verlossing), is in werklikheid kind van die duiwel, in diens van die duiwel (diabólos lasteraar, skinderbek, kwaadspreker, boosdoener). As vyand van alles wat reg/goed is (Letterlik: vyand van alle geregtigheid) verdraai hy sonder ophou die reguit paaie van die Here; ‘verdraai,’ letterlik mislei of weglei (diastréfō 13:8), soos hy die prokonsul probeer weglei het van die woord van God.

13:11 ‘En nou, kyk!’ Daarmee word Elimas en Sergius Paulus en almal teenwoordig en die leser opgeroep om op te let na wat nou gaan gebeur. Vir Elimas, wat die prokonsul van die geloof wou weglei, beteken dit dat hy nie meer sal kan sien nie. Hy sal wel die straffende hand/mag van die Here belewe (soos die hand van die Here straffend op die Filistyne was, in 1 Samuel 7:13), net soos Paulus toe hy voortgewoed het om dissipels van die Here in Damaskus se sinagoges met geweld te gaan arresteer (Hand 9:1-2). Vir Elimas sê Paulus ‘Jy sal blind wees en die son nie sien nie tot ‘n tyd’ (áchri kairou) wat God sal bepaal. Die moontlikheid van herstel indien hy tot besinning kom, word oopgelaat, maar Lukas vertel nie wat later met Elimas gebeur het nie. ‘En op daardie oomblik het hy blind geword (letterlik word blind word met ’n idioom beskryf: mistigheid soos een wat blind word en duisternis van ’n blinde het op hom geval) en hy het rondgesoek na gidse’ (cheiragōgoús, persone wat ander aan die hand lei, soos vir Paulus in Hand 9:8; vgl. die strawwe van die Here op ongehoorsames in Deutr 28:28-29). Paulus se eerste wonderwerk wat Lukas beskryf is ’n kopie van wat met hom gebeur het. Die halfheidense Elimas se geestelike blindheid is ’n spieëlbeeld van Saulus die Joodse Fariseër se geestelike blindheid om Jesus as die Seun van God te erken. Die strafwonder is egter die inleiding tot die Here se bereiking van sy doel met Saulus as sy uitverkore instrument om sy Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel (Hand 9:15), wat in die res van Handelinge beskryf word, en uit Paulus se 13 briewe in ons Bybel blyk.

13:12 Die wyse prokonsul wat graag die woord van God wou hoor (13:7), het gesien wat gebeur het. Hy het toe die goeie nuus oor Jesus Christus geglo (pisteúō) en ’n volgeling van Jesus geword. Hy was verstom (ekplêssomai so verbaas dat hy oorweldig is) oor die leer van die Here. Deur die werking van die Heilige Gees aanvaar hierdie Romeinse goewerneur die leer omtrent die Here Jesus, nie as ’n woord van mense nie, maar as die woord van God.

Die evangelie het nou reeds skares Jode bereik, ook Samaritane, ‘n man uit Afrika, ’n Romeinse offisier oor 100 soldate, ’n gemeente van mense uit die heidendom in Antiogië, en nou die goewerneur van ’n hele Romeinse provinsie. Gamaliël het die Joodse Raad gewaarsku: ‘as hierdie plan of onderneming die werk van mense is, sal dit tot niet gaan; maar as dit van God af kom, sal julle hulle nie kan keer nie…’ (Hand 5:38-39).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die begin van die sendingreise (Hand 13) – Francois Malan

Die fokus van Handelinge verskuif nou na die voortgaande werk van Jesus deur die bediening van Saulus/Paulus onder leiding van die Heilige Gees. Die voortgang van die storie word verbind aan die sentrums waarheen Saulus deur die Heilige Gees gelei word. Die drie dominante temas in die meeste van die verslae oor die sendingreise wat met hoofstuk 13 begin is: 1 die belangstelling van die heidene en veral godvresendes onder hulle in die boodskap van die evangelie; 2 die teenstand en vervolging van die gelowiges deur die Jode; 3 die groeiende sukses van Paulus se bediening in die stigting van gemeentes in die Romeinse ryk (tydens sy reise word al Paulus se briewe geskryf as riglyne vir die gemeentes, veral oor probleme en vrae van die gemeentes).

Barnabas en Saulus word uitgestuur (Hand 13:1-3)

13:1 Die verskillende dienaars wat leiding geneem het in die Antiogië-gemeente (ekklêsia verwys hier na die plaaslike gemeente) word hier vermeld. Die werk van die profete en leermeesters kan nie skerp onderskei word nie. In die tyd voordat die Nuwe Testament ontstaan het, het die Heilige Gees deur die Nuwe Testamentiese profete die wil van die Here in die gemeentes se verskillende omstandighede aangewys. Hulle het veral die goeie nuus in die gemeentes gepreek. Die leermeesters (didáskaloi word net een maal in Handelinge genoem) het die gemeente onderrig in die geloof in God en die lewenswyse van kinders van God. Albei dienste is deur die Heilige Gees gebruik om die gemeentelede op te bou.

Onder die leiers van die gemeente word enkeles genoem: Barnabas uit Siprus, wat moontlik die leiding geneem het saam met ’n Simeon genoem Niger, wat hom onderskei van die ander Simons in Handelinge. Die bynaam Niger verwys na die Latynse woord vir swart of donker. Hy was waarskynlik ’n afstammeling van godvresendes in Afrika, wat gelowige geword het. Lucius uit Sirene in Noord-Afrika word ook in Romeine 16:21 genoem as ’n volksgenoot van Paulus, wat saam met hom in Korinthe is, vanwaar Paulus Romeine skryf. Manaen, (’n vorm van Menahem, 2 Kon 15:17) was ’n jeugvriend van Herodes Antipas, wat later oor Galilea en Perea regeer het ná sy pa, Herodes die Grote, se dood. Saulus uit Tarsus word laaste genoem in die lys wat met Barnabas begin. Waarskynlik was Barnabas die oudste en Saulus die jongste van die profete en leermeesters in die Antiogië gemeente, wat hier genoem word. Vier van die vyf wat genoem word kom uit die buiteland (diaspora, Israel se verstrooiing) en slegs Manaen uit Palestina.

13:2 Dit is nie duidelik of die ‘hulle’ wat besig was om die Here te dien en te vas, verwys òf na die gemeente van Antiogië òf na die groep profete en leermeesters, wat albei in vers 1 genoem word nie. Die woord vir ‘dien’ is tot ’n mate ’n ongewone woord leitourgéō, wat in die alledaagse Grieks gebruik is vir onbetaalde diens aan die staat. In die Bybel word dit gebruik om spesifieke godsdienstige handelinge uit te voer as deel van jou rol of verantwoordelikhede (Luk 1:23 vir Sagaria se diensbeurt; in Hebr 10:11 vir die priesters se daaglikse offers; in Rom 15:27 vir die gemeentes se barmhartigheidsdiens met die kollekte vir die gemeente in Jerusalem; teenoor latreúō as deel van jou godsdienstige handeling in aanbidding en toewyding in diens van die Here, Rom 1:9; Flp 3:3). Terwyl hulle besig was met diens aan die Here en gevas het, het die Heilige Gees gesê (waarskynlik deur een van die profete): ‘Sonder nou vir My Barnabas en Saulus af vir die werk waarvoor Ek hulle reeds spesifiek geroep het en waarvan hulle nou die verantwoordelikhede moet opneem – dié aspekte lê in die perfektum vorm van die werkwoord proskaléomai. Die betekenis van Josef se bynaam Barnabas is in Hand 4:36 verduidelik as ‘Seun van Vertroosting.’ Waarvoor die Here vir Saulus uitgekies het is reeds in Handlinge 9:15 uitgespel. Die meer as 14 jaar na sy bekering was ’n tyd van voorbereiding vir Saulus se taak waarvoor die Here hom oorspronklik geroep het.

13:3 Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle die hande op Barnabas en Saulus gelê en hulle gestuur – ‘as instrumente om Jesus se Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel’ (Hand 9:15). Hulle het gevas en gebid om die seën van die Here af te smeek oor die werk waarvoor die Heilige Gees Barnabas en Saulus afgesonder het. Die handoplegging deur die gemeente is om hulle aan die Heilige Gees oor te gee om hulle te lei en te gebruik in die Naam van die Here Jesus, met die ondersteuning van die gemeente se voortgesette gebede vir hulle. Antiogië word deur die Heilige Gees gebruik as die sendende gemeente van die sendingreise wat hierop volg. In 14:27 word die hele gemeente byeengeroep vir die verslag van Barnabas en Paulus oor alles wat God met hulle gedoen het en dat Hy ’n deur tot die geloof vir die heidene oopgemaak het.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die dood van Herodes Agrippa I (Hand 12:20-25) – Francois Malan

12:20  Die bergagtige Fenisië met sy twee groot stede Sidon en Tirus het nie eintlik plek vir landbou nie. Hulle was vir hulle voedsel afhanklik van hulle bure en het graan per skip na hulle hawens vervoer (vgl. 1 Kon 5:9; Esra 3:7; Eseg 27:17). Herodes was in ’n woedende vete (thumomachō – thumós woede; máchomai baklei, veg) met Fenisië gewikkel, waarskynlik oor die landsgrens, want die Fenisiërs wou baie graag die vlakte noord van Karmel bekom en het soms die gebied geannekseer. Herodes het waarskynlik daaroor hulle voedseltoevoer stopgesit. Die twee stede het saam na Herodes toe gekom om oor vrede te onderhandel, om sy verbod op hulle voedselvoorsiening op te hef. Hulle benader Herodes deur sy hoofamptenaar wat oor sy ‘slaapkamer’ (koinōn) aangestel is. Hy sal waarskynlik die hoof oor die koning se harem wees, ’n ontmande, wat die koning se persoonlike sake reël. Die Fenisiese afvaardiging het vir Blastus oorgehaal deur hom te oortuig van hulle egtheid en erns (peithō om iemand te oortuig om iets te glo en op te tree op grond van wat aanbeveel is). Moontlik het hulle aan hom ’n geskenk daarvoor gegee.

12:21 Op die dag waarop ooreengekom is (tussen Herodes en die afvaardiging deur Blastus se voorspraak) het Herodes koninklike klere aangetrek (Josefus Ant 19:8:2 sê die kleed was heeltemal van silwer gemaak wat in die son geglinster het), op die troon gaan sit en hulle formeel toegespreek (dêmêgoreō op ’n formele plek met formele woorde toespreek). Herodes wou duidelik ’n indruk maak op die gehoor.

12:22 By die aanskoue van die skouspel en aanhoor van die formele toespraak het die mense (dêmos) wat daar byeen was, uitgeskreeu (epefōne imperfektum – hulle het dit aanhoudend geskreeu): ‘die stem van ’n god en nie van ’n mens nie!’ (Josefus vertel ook van die vergoddeliking van Herodes deur die mense). Onder die heidene was hulle konings en keisers maklik as gode vereer.

12:23 Onmiddellik het ’n engel van die Here hom neergevel (soos vir Ananias en Saffira, 5:5,10) omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Hy het met ander woorde die eer vir homself toegeëien en hom so skuldig gemaak aan trots en heiligskennis. Die manier waarop die engel hom neergevel het word aangedui as ‘verteer deur wurms het hy gesterf.’  Die dood deur interne wurms is deur skrywers in die antieke tyd toegeken aan uiterste bose mense en vir selfvergoddeliking. Herodes se selfverheffing is deur die Here verander in diepe vernedering.

12:24 Dit is die vyfde opsomming van die lewe van die kerk se uitbreiding wat Lukas gee (vgl. 2:47; 6:7; 9:31 en 11:21; vgl. ook 19:20). Die vers kyk terug na wat die Here reeds gedoen het deur sy volgelinge, en open die volgende groot deel van Handelinge oor die voortsetting van die uitbreiding onder leiding van die Heilige Gees. Ten spyte van Herodes Agrippa se vervolging van die kerk tot sy dood in 44 n.C., het die woord van God grootliks gegroei en die getal gelowiges het al meer toegeneem. Herodes het nie sy doel bereik nie. Met ‘die woord van God’ word verwys na die sendingprediking van die kerk onder Jode en heidene. Eers in Jerusalem en Judea, toe is die Samaritane bereik, daarna die man van Afrika, en toe die Romeinse wêreld. Van hoofstuk 13 tot 28 versprei die evangelie deur die Romeinse ryk, telkens deur die ingrype van die Here om sy kerk se oë oop te maak vir die pad waarop Hy hulle lei (vgl. Jesus se opdrag in Hand 1:8).

12:25 Die naam van Saulus duik weer op, soos in hoofstukke 7:58; 8:1; 9:1-30; 11:30. In 11:20 was Barnabas en Saulus die draers van die bydraes van die gemeente in Antiogië vir die broers in Judea. Judea was in ’n greep van droogte en hongersnood, in die tyd van keiser Claudius (regeer van 41-54 n.C.). Nadat hulle dié diens in Jerusalem verrig het, het Barnabas en Saulus na hulle basis in  Antiogië teruggekeer. Hulle het Johannes, bekend met sy Latynse naam Markus, Barnabas se nefie, met hulle saamgeneem as hulpkrag om te help in hulle diens (vgl. ’n bespreking van Markus hierbo in die kommentaar oor Hand 12:12).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Handelinge van die Apostels: Nadraai van Petrus se vrylating (Hand 12:17-19) – Francois Malan

12:17 ‘Nadat Petrus vir hulle met die hand ’n teken gegee het om stil te wees het hy in besonderhede vertel (diêgéomai) hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het.’ Hulle moes nie in vreugde begin jubel en skreeu en die hele omgewing wakker maak met hulle groot vreugde sodat die wagte sal kom ondersoek instel oor wat aangaan nie.

Die groep kry die opdrag om die hele storie aan ‘Jakobus en die broers/gemeente’ te vertel. Hierdie Jakobus is die broer van Jesus (Mark 6:3). Sy broers het eers nie in Jesus geglo nie (Joh 7:1-5). Maar na Jesus se hemelvaart sê Handelinge 1:14 dat sy broers deel was van die groep wat die tien dae tot die uitstorting van die Heilige Gees in gebed volhard het. In Galasiërs 2:9 sê Paulus dat Jakobus en Sefas en Johannes as die pilare (in die kerk) gereken is. In Hand 15:13-21 is Jakobus die leier wat die besluit van die vergadering in ’n besluit saamvat en Amos 9:11-12 aanhaal as Skrifgrond vir die besluit. Volgens Handelinge 21:17-25 is Jakobus duidelik die leier in die Jerusalem-gemeente. Volgens Galasiërs 2:11-13 is Petrus en Barnabas bang om aanstoot te gee aan die mense wat van Jakobus af gekom het as hulle sou voortgaan om saam met die heiden-Christene te eet. Dit skep die gedagte dat Jakobus streng volgens die wet bly lewe het en nog gereeld die tempel- en sinagoge-dienste bygewoon het nadat hy gelowig geword het, daarom in guns was by die Jode en kon aanbly in Jerusalem toe die ander apostels ook vir hulle lewe moes vlug. Hierdie Jakobus is ook die skrywer van die Brief van Jakobus, wat hy voor sy marteldood in 62 n.C. geskryf het (vgl. daaroor die aantekeninge by Hand 1:13-14). 

[Josefus, die Joodse geskiedskrywer, vertel in Ant 20:9:1 (gepubliseer in 93/94 n.C) dat die hoëpriester Ananus die Joodse Raad byeengeroep het, ’n klag van oortreding van die wet gelê het teen Jesus Christus se broer Jakobus en ’n paar van sy metgeselle, en hulle laat stenig het.]

Nadat Petrus van sy ontsnapping uit die tronk vertel het, ‘het hy buitentoe gegaan en na ’n ander plek vertrek.’ Blykbaar het al die apostels wat nog in Jerusalem was, met Petrus se gevangeneming die stad verlaat omdat dit toe duidelik was dat die apostels in Herodes Agrippa se visier was om doodgemaak te word. In Handelinge 15:6-11 kom Petrus weer aan die woord in die vergadering van apostels en ouderlinge. Daarna is daar enkele verwysings na hom in die Bybel: Volgens Galasiërs 2:11 was hy in Antiogië. 1 Petrus 1:1 skep die indruk dat Petrus in Klein-Asië gewerk het in die provinsies Pontus in die noorde van die huidige Turkye, Galasië, Kappadosië, Asië, en terug in Bitinië in die noorde. In Korinthe in Griekeland was daar ’n groep aanhangers van Sefas (1 Kor 1:12). 1 Kor 9:5 impliseer dat Sefas sy vrou op sy reise saamgeneem het. Volgens Gal 2:7-9 het Jakobus, Sefas en Johannes veral na die besnedenes met die evangelie gegaan en Paulus en Barnabas veral na die heidene. Teen die einde van sy lewe sou Petrus ook na Rome in Italië gegaan het. Tydens die vervolging van die Christene onder keiser Nero, veral ná die groot brand wat die helfte van die stad Rome in 64 n.C. afgebrand het, sou hy volgens oorlewering daar gearresteer word en met sy kop na onder gekruisig word. Volgens oorlewering sou die gemeente in Rome vir Markus versoek het om die boodskap oor Jesus Christus, die Seun van God, soos Petrus aan hulle vertel het, op skrif te stel as die eerste Evangelie, wat ons ken as die Evangelie van Markus (vgl. Mark 1:1).

12:18 Met hierdie naspel getuig die wêreld indirek van die wonder wat God laat gebeur het. Eintlik spel die komiese gebeure van die geharde soldate se ‘nie kleine’ verleentheid ’n groue werklikheid. Toe dit dag word was daar onder die soldate ’n vreeslike opskudding (ouk óligos letterlik: ‘geen geringe…nie’ – Lukas is lief vir ‘n litotes en, dié beklemtoning deur die teenoorgestelde, kom 7 maal in Handelinge voor; opskudding tárachos is ’n akute spanning en uiterste angs en verwarring) oor wat tog van Petrus geword het. Die Romeinse wet vir wagte se verantwoordelikheid as borge vir hulle gevangenes was dat hulle die straf kry van die persoon wat uit hulle bewaking weg is (Kodeks Justinianus 9:4:4), en hulle het geweet Petrus sou die doodstraf gekry het (vgl. die vrees van die wagte wat Jesus se graf moes bewaak, Matt 28:11-14).

12:19 Herodes laat Petrus tevergeefs soek omdat die Here hom bewaak. Daarom word sy frustrasie en woede op die wagte uitgehaal. Nadat hy die soldate ondervra het en geen verklaring vir die wonder kon kry nie, het hy beveel dat hulle tereggestel word. Hulle het hulle plig versuim en hom in die verleentheid voor die volk gestel. Sy oupa het die seuntjies van Bethlehem laat doodmaak om enige aanspraakmaker op die troon te elimineer (Matt 2:16). Hierna het hy afgereis van Judea na Sesarea en daar gebly. Judea word hier vir Jerusalem gebruik. Jerusalem lê teen die berge van Judea en Sesarea onder by die see. Maar eintlik was Sesarea die hoofstad van die Romeinse provinsie Judea. Jerusalem was die godsdienstige hoofstad van die Jode, en Sesarea ’n heidense Grieks-Romeinse stad wat Agrippa se oupa gebou het. Herodes verlaat die massa Joodse Paasgangers wat hy wou behaag, en gaan verneder terug na sy Romeinse lewe waar hy verhoog kan word (vgl. Jesus se woorde in Lukas 14:11 en 18:14 ‘elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar hy wat homself verneder, sal verhoog word’).

Skrywer:  Prof Francois Malan